Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Stel perke vir tyd aanlyn
2 Oktober 2019

Ouers is met reg bekommerd oor die magdom negatiewe gevolge van die tyd wat kinders op tegnologie spandeer. Studies waarsku onder meer teen die gevolge van sosiale isolasie, die onvermoë om te kan konsentreer, aanlynboelies, swak taalgebruik en die blootstelling aan pornografie. Waar trek ons die lyn as dit kom by ons kinders wat sosiale media gebruik?

Dis belangrik om altyd ’n oog te hou op jou kind se gebruik van sosiale media, dat hulle dit net in jou teenwoordigheid gebruik – nie in die kamer nie. Só kan jy ook agterkom as jou kind sosiaal geïsoleerd word as gevolg van die tyd wat sy aanlyn in plaas van met vriende deurbring. Jy sal ook kan agterkom of sy tekens van angs toon wanneer daar nie tegnologie beskikbaar is nie, soos as sy gaan kamp en daar is nie selfoonopvangs of Wi-Fi nie.

Reëls oor wanneer kinders tegnologie kan gebruik, moet fokus op sekere tye van die dag, byvoorbeeld geen skerms voor skool, tydens ete of slapenstyd nie. Kenners stem saam: hoe minder tyd aanlyn, hoe minder tyd om onvanpaste inhoud in te neem. Die oplossing is om stelselmatig die blootstellingstyd te verminder. Daar moet ’n “skerm-afsnypunt” wees elke dag, anders word jou kind se slaap versteur.

Sosiale media is ontwerp om ons aandag so ver moontlik te behou. Jy moet jou vergewis van hoeveel slaaptyd jou kind op watter ouderdom nodig het. Werk dan uit wanneer hulle moet slaap en wanneer hulle moet opstaan. Hulle moet ten minste ’n uur voor slapenstyd hul skerms wegsit. Hou voet by stuk – die ergste ding wat jy kan doen, is om jou humeur te verloor. As daar tantrums is, bly kalm en verduidelik aan jou kind hoekom jy doen wat jy doen. As die stryd vererger, neem ’n vyf minute breuk en prys jou kind wanneer sy ophou skree.

Jy moet onthou jou kind reageer só omdat sy vasgevang is in ’n kragtige verslawing. Dit is belangrik dat jy jou kind se gevoelens erken en byvoorbeeld sê: “Ek kan sien jy is ontsteld.” Moenie die selfoon uit haar hande gryp nie – dit maak net die situasie erger.

Herinner jou kind ’n halfuur voor die tyd dat hulle net ’n sekere hoeveelheid skermtyd oorhet. Laat kinders slegs tyd aanlyn toe as ’n beloning vir huiswerk en huistake wat afgehandel is.

Jong mense reageer positief op ouers wat ferm en konsekwent is. Hulle gaan aanvanklik ontsteld wees, maar sal gou daaroor kom en jou grense respekteer. Hoe meer jy met jou kinders praat oor jou redes vir die tydbeperkings op selfoon- en rekenaargebruik, hoe makliker sal dit wees. Hoe vroeër jy begin, hoe beter. Hoe ouer hulle is, hoe moeiliker is dit om grense te stel. Jou kind behoort ook eers ’n selfoon op hoërskool te kry.

Studies het bewys daar is ’n verband tussen ’n “like” op ’n sosiale media post en die afskeiding van dopamien (’n goedvoelhormoon) in die brein.

Baie jong mense gebruik byvoorbeeld Instagram en Snapchat. Kenners dink dié platforms moet verbied word, aangesien dit baie klem plaas op ’n kind se sosiale status. Boonop kan Snapchat ook nog wys waar jou kind haar fisies in die regte wêreld bevind, tensy dit op “ghost mode” gestel is. Kinders gebruik ook YouTube om alles oor omtrent enige onderwerp uit te vind en dikwels is die kommentaar onder ’n post aggressief of ondermynend. Dit kan ook slegte inligting versprei en kinders oor produkte breinspoel.

Kinders wat videospeletjies speel, word blootgestel aan baie geweld en aggressie en dit kan geweld en aggressie in hul werklike lewe laat toeneem. Dit kan verslawend wees en dit laat kinders goed voel, want dit gee hulle sosiale status en erkenning as hulle goed is daarmee. Dit is nie die geval by alle kinders nie en daarom moet jy jou kind monitor en reëls neerlê.

As ouers is dit ons verantwoordelikheid om vir kinders ’n voorbeeld te stel en ook ons eie aanlyntyd te beperk. Jy kan ook apps soos Forest gebruik om jou kind se aanlyntyd te beheer. As ouer moet jy jouself vergewis van die inhoud van die programme en flieks wat jou kinders kyk en besluit wat vanpas is vir hul ouderdom.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.