Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Vroue moet beplan vir balans
22 AUGUSTUS 2018

Ons as vroue voel soms dat ons soos towenaars te veel balle in die lug moet hou. En as daar een val, word ons soms hewig gekritiseer, dikwels deur ander vroue.

Niemand is en was nog ooit perfek nie. Die klem is op balans. As ons wil hê ons lewens moet vlot verloop, moet ons dit in alle lewensareas het. Balans gebeur nie sonder goeie beplanning nie. En dít is die wenresep vir sukses Die verskeie rolle wat die meeste vroue elke dag gelyk moet beklee, is ’n baie moeilike werklikheid om te aanvaar.

Deesdae het ma’s nie die luuksheid om te kan kies tussen by die huis bly en werk nie. Sy word deur finansiële verantwoordelikhede gedruk om ook geld te verdien al werk haar man. Dan is daar natuurlik ook die begeerte om ’n loopbaan van haar eie te hê en om vorentoe te gaan.

Baie mense kla oor tydsbestuur, want in vandag se gejaagde lewe blyk daar net nie genoeg tyd vir alles te wees wat in ’n gesonde huishouding moet gebeur nie. Mans en vroue wat mekaar ondersteun en selfs die nabye familie se ondersteuning is dus baie belangrik om elkeen se geluk te verseker.

’n Goeie voorbeeld van ’n vrou wie se lewe heeltemal ongebalanseerd is, is die oorwerkte besigheidsvrou en ma wat dikwels tussen die twee rolle moet kies en dan noodgedwonge een van die twee afskeep. Die tuisblyma’s kritiseer haar, by die werk is haar werkverslaafde assistent onsimpatiek en daar is mededinging en onbegrip van haar manlike kollegas.

Haar verhouding met haar man ly onder haar werklas en dit veroorsaak spanning in die huis. Op die ou end moet sy tussen haar werk en haar gesin kies en dís waar probleme ontstaan. Maar met die regte strategieë kan sy ’n balans kry. Om by te bly met alles wat in almal se lewens gebeur en om groot gebeurtenisse op ’n kalender aan te teken, probeer elke week of minstens een keer per maand ’n gesinsvergadering te hou.

Balans gebeur nie sonder goeie beplanning nie.

’n Huishouding wat glad verloop, het almal se samewerking nodig. Almal is verantwoordelik vir die welstand van die gesin en selfs klein kinders kan al geleer word hoe om sekere pligte uit te voer. Hulle kan byvoorbeeld hul kamers aan die kant hou, wasgoed in die wasgoedmandjie gooi en troeteldiere versorg.

Al die pligte van alle gesinslede kan ook neergeskryf word en geplak word waar almal dit kan sien. Die yskas is ’n goeie plek. Google gerus watter take kinders op watter ouderdomme behoort te kan doen en bespreek die regverdige toedeling van huistake tydens die gesinsvergadering.

Leer ook jou kinders (seuns en dogters) van so vroeg moontlik af om in die kombuis met take te help en kos te maak. Hulle kan ook verantwoordelikheid aanvaar om hul eie kosblikke elke aand te pak. Om tyd in die week te bespaar en meer tyd met mekaar deur te bring, kan julle oor die naweek kos kook en vries.

’n Groot en onnodige tydvreter is die televisie. Dek eerder gereeld ’n mooi tafel en eet almal saam. Só word gesonde bande gevorm en kan almal saam rustig tyd spandeer en praat oor wat die dag gebeur het. Daar kan ná ete na die volgende dag se gebeure op die gesinskalender gekyk word en veranderinge kan aangebring word soos nodig.

Leer jou kinders al van kleins af dat huiswerk nie net jou en jou man se verantwoordelikheid is nie, maar dat almal saam moet werk om die werk ligter te maak. Dit is baie belangrik dat ouers ook nie perfeksionisties moet wees wanneer dit by die huistake kom wat die kinders moet doen nie.

Laat die kinders toe om hul ouderdomverwante huistake tot die beste van hul vermoë te voltooi en moenie kla nie. Dit is belangriker om ’n ontspanne huisatmosfeer te hê waar almal lekker voel om tyd te spandeer as om ’n blink huis te hê waar almal ongemaklik voel. Toe ek klein was, het ek ’n plakkaat in my pophuis gehad wat gelui het: “My huis is skoon genoeg dat almal gesond bly en vuil genoeg om gelukkig te wees.” Laat jou perfeksionisme by die werk wat vir jou oorlewing verantwoordelik is. Wanneer almal in die gesin bydra tot die huishouding en tyd vir huistake gestruktureerd en geroetineerd is, is dit merkwaardig hoeveel meer vrye tyd saam geniet kan word sonder enige spanning.

As jy meer wil leer oor hoe jy ’n gebalanseerde lewe kan lei, kan jy dr. John. F. Demartini se The breakthrough experience lees (te koop by www.takealot.com en www.amazon.com).

Vir meer inligting, besoek www.salifecoaching.co.za.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Verhoudings  |  Kuier  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.