Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Word só weer kalm
17 September 2020

Ons word soms vinniger kwaad en geïrriteerd met sekere mense meer as met ander. Ons is soms onnodig vinnig en lelik met die mense naaste aan ons, soos ons lewensmaats, ouers en kinders. Tog voel ons gou skuldig en selfs afgehaal dat ons ons geliefde se kop afgebyt het, want hul seer is tog ook ons seer. 

Almal het seker ’n spektrum van narsisme, dat daar diep in jou ’n eie ek is wat gepaai en begryp wil word ten koste van alles en almal. Kan ek net gou ook ’n slag mý sin kry. Dit beteken nie ek is nie lief vir jou nie, maar ek wil net hê dinge moet ’n slag op my manier gedoen word of vir my gebeur. Kan ek net gou dié een ronde kry, wen, verdien? Dis eintlik meer ’n ontevredenheid met jouself en waar jy staan in die lewe as wat dit te doen het met diegene rondom jou. Dis ’n saak wat jy binne jou moet uitwoed, maar na buite reflekteer.

Hierdie kort van draad, geïrriteerde kant wys ons nie sommer vir ons vriende en kollegas nie. Hulle kry die mooi en soms geforseerde bedaarde kant, terwyl jy jou bes probeer om deur te druk, maar binne voel dit asof jy ’n valse weergawe van jouself voorhou. 

Is die rede dat jy so oop, kwesbaar en kort van draad is met mense na aan jou omdat jy veilig voel om net jouself te wees? Sonder enige voorgee, in die wete dat die liefde hier onbeperk en die vergifnis groot is? 

Dikwels is die woorde uit voor jy kan keer. Skerp woorde wat soos ’n dolk steek. Woorde wat ’n tienerhart kan verpletter en een kant van ’n bed kan koud laat. Sodra dit uit is, is jy spyt. Is dit asof jy onmiddellik jou hand wil uitsteek om die woorde terug te trek, om jou geliefde te omarm en sê “ek het dit nie bedoel nie”, maar dan is dit asof iets onsigbaar jou keer. 

Swaarmoedig moet jy die arm laat sak in die wete dat jy gekry het wat jy wou hê. Die skottelgoed is gewas, die kombuis is skoongemaak, die vullis is uitgeneem, maar teen watter prys? 

Hoe hanteer ons hierdie aggressiewe donker monster? Hoe staan jy sterk vir jou gesin in liefde en hoe bly jy die rots vir jou kinders en jou geliefde te midde van verskille en argumente?

Kalmte is die keerpunt van misverstande. Onthou nie elke verskil hoef ’n argument te wees nie. Leer ken jou waarskuwingstekens. Die verandering in jou lyftaal, stemtoon, asemhaling en hartklop. Kies om weg te stap en iets anders te doen wat jou gedagtes gaan aflei en/of kalmeer.

Die sneller wat in ons getrek word, het als met onsself te doen en eintlik min met die ander persoon. Leer ken jou self van vooraf. Ons groei elke dag en moet gereeld stock vat van waar ons is. Elke keer wanneer jy voel jy is op die randjie van ’n uitbarsting, maak ’n bewustelike besluit om terug te staan. Nie om die ander 

persoon te straf met stilswye nie, maar om jouself kans te gee om in die oomblik te reflekteer. Jy kan iets sê soos: “Jammer, ek het tyd nodig. Ons praat later.” Kies ’n rustige omgewing of aktiwiteit vir jou introspeksie. Water het ’n kalmerende uitwerking. Gaan sit by water of drink stadig ’n glas water terwyl jy diep asemhaal. Soek vars lug. Sit net iewers in die natuur of stap kaalvoet in die tuin en drink ’n koppie tee.

Vra jouself vrae soos dié hieronder en laat jouself toe om rustig daaroor te dink voor jy antwoord. Om dit neer te skryf, sal baie help om dit in perspektief te plaas.

•  Wat is dit wat my eintlik pla?

•  Waarom wil ek dit teen alle koste hê?

• Watter verskil gaan dit maak?

• Gaan dit môre nog saak maak? 

•  Wat wil ek hierdeur bereik?

• Hoekom pla dit my só?

• Wat is dit in jou optrede of antwoord wat my só laat voel en hoekom?

Mediteer. Sit net rustig in ’n gemaklike posisie, raak bewus van jou asemhaling en maak jou gedagtes leeg. As jy sukkel hiermee kan jy rustig oor en oor ’n mantra vir jouself sê wat jou kalm maak. Iets soos: “God is groot”, “God is goed”, “emosies vloei na my, deur my en van my”. Jy kan ook net rustig met God gesels oor alles waarvoor jy dankbaar is. 

Wees bewus van die omgewing rondom jou en vloei saam met die geluide. Onthou om te fokus op jou asemhaling. Diep en stadig in deur die neus en stadig uit deur die mond.

Gebruik die 10-reël: As jy elke keer voor ’n groot argument 10 minute vat om te dink of iets oor 10 dae nog gaan saak maak, sal dit groot groei in jou verhouding met self en ander meebring.

Sydene Cloete is ’n geregistreerde selfbeeldafrigter en persoonlike stilis op Stellenbosch. Sy is ’n gewilde motiveringspreker en eienaar van Out of the Closet wat op die bemagtiging van vroue fokus.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.