Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Leer jou kind
11 Julie 2018
Sydney Cloete


Daar is deesdae ’n gesegde wat soveel waarheid spreek dat dit skrikwekkend is: “Jy kry streng kinders en gehoorsame ouers.” Want wat jy sien, is dat tieners in baie huise die septer swaai.

Maar tieners staan nie net eendag op en besluit om buite beheer te raak nie. Kinders, maak nie saak hoe hulle daarteen skop nie, het struktuur en dissipline nodig. Dit gee hulle ’n gevoel van sekuriteit. Hierby bedoel ek nie die bombastiese dissipline van “Ek praat en jy sál luister en maak soos ék sê” nie. Erken hulle as mense. Betrek hulle by belangrike besluite wat hulle raak. Bespreek dinge wat hul lewens beïnvloed met hulle en hoor hul mening en neem dit regtig in ag.

Kinders moet weet hulle het altyd ’n keuse, maar dat keuses ook gevolge het. Wanneer ons die gevolge van hul keuses van hulle weerhou of dit namens hulle wil dra, lei dit later in hul lewe tot swak keuses.

Wanneer jy ’n kind iets belowe, goed of sleg, moet jy by jou belofte hou. Byvoorbeeld as jy sê: “Ek het mooi gepraat en reeds aan jou verduidelik hoekom dit nie mooi of goed is om dit te doen nie. As jy dit nou nog een keer gaan doen, gaan ek jou selfoon/speletjie/rekenaar vir ’n week wegvat.” Hou dan daarby, hoe moeilik dit ook al is. Hulle sal wel leer jy bedoel wat jy sê.

Dieselfde met goeie beloftes. As jy belowe om goeie gedrag te beloon of net om ’n kind op te tel vir die naweek, hou by jou belofte, só bou jy ’n goeie vertrouensverhouding. Dit is belangrik om te onthou die belofte of straf moet die daad regverdig.

Ons doen kinders ook net ’n onreg aan as ons alles vir hulle te maklik maak. Om hul skooltake vir hulle te doen en om maatjies en hul ouers te konfronteer oor gewone kinderlike konflik, gaan hulle nie help nie. Kinders praat lankal weer dan is die ouers nog kwaad. Leer wanneer om in te tree en wanneer om terug te staan.

Ma en pa moet konsensus bereik oor belangrike sake en nie die kind as ’n pawn gebruik of toelaat dat die kind hulle teen mekaar afspeel nie. Veral in ’n geval waar die ouers nie meer saam is nie. Kommunikasie tussen ouers en ook hul nuwe lewensmaats is baie belangrik. Dit is ’n baie groot taak om ’n ouer te wees. Dit is egter ’n ewe groot taak om die lewensmaat van iemand met kinders te wees.

As ouers die kind gebruik as ’n pion om geldelike voordeel te trek uit die ander ouer, of ouers vergoed kinders met geskenke en geld om op te maak vir ’n gebrek aan aandag en tyd, leer kinders dat geld belangriker is as liefde en respek vir hulself en ander.

Tienerjare is die tyd wanneer vriende se opinies vir kinders belangrik word, die groep met wie hulle identifiseer en wie se menings hulle na waarde ag. Wanneer hulle nie geleer het om onafhanklike besluite te maak of dat hulle altyd ’n keuse het en dat jy die nagevolge van jou besluite moet dra nie, gee kinders maklik in onder groepdruk. Deur dekades heen leer ons dat jy aan jou vriende geken word en dit is inderdaad so.

Wanneer ons ’n goeie fondasie vir kinders bou terwyl hulle grootword, sal jy meer onafhanklike tieners het wat gesonde besluite kan neem.

Belangrike dinge om te onthou as ouer of voog:

  • Woorde wek, maar voorbeelde trek.
  • Staan ferm in jou rol as ’n ouer of voog.
  • Kinders is nie ons slawe of slaansakke om ons emosies op te ontlaai nie.
  • ’n Goeie of slegte verhouding word gebou. Jy is die ouer, die bouer, die voorbeeld.
  • Waak daarteen om mekaar in die teenwoordigheid van die kinders af te kraak.
  • Probeer om die eie ek op die agter­grond te skuif en besluite te maak wat kollektief regverdig is.
  • Leer jou kinders die waarde van tyd, belangstelling, omgee, eerlikheid en respek.
  • Maak tyd vir jou kinders en bou aan gelukkige herinneringe met hulle. Kinders is soos klein engeltjies wanneer hulle gebore word. Daar is net goedheid in hulle, maar as jy toelaat dat jou “inner demons” bepaal hoe jy jou kinders grootmaak, gaan jy uitkry wat jy insit. Grootmense moet dikwels eers self met spoke uit hul verlede vrede maak, sodat hulle dit nie op hul kinders uithaal nie.

Sydene Cloete is 'n geregistreerde selfbeeldafrigter en persoonlike stilis op Stellenbosch. Sy is 'n gewilde motiveringspreker en eienaar van Out Of The Closet wat op die bemagtiging van vroue fokus. 
Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.