Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
KuierHoekie Nuus
kuierhoekie, kindermoorde

Suid-Afrikaners het al die punt bereik waar min dinge ons meer verras. Dis hartseer, veral wanneer dit by kindermoorde kom, maar dis die werklikheid.

Die vlaag van kindermoorde op die Kaapse Vlakte is al ’n geruime tyd in die nuus. Maar nou blyk dit die platteland is nie gespaar nie...  Só kon niks die skok en afgryse keer toe die nuus breek dat Delvina Europa (6) van die sendingdorpie Elim, naby Bredasdorp in die Wes-Kaap, verkrag en vermoor is nie. Dít pas nadat Kuier die verdwyning van die agtjarige Jeneva Diergal van Klawer onder die soeklig geplaas het. Sy is al sedert einde Januarie vermis.

Delvina het ook buite gespeel toe sy op Sondag 24 Maart vermis geraak het. Haar  lyk is twee dae later in die bosse agter die plaaslike laerskool ontdek.

’n 35-Jarige man is sowat ’n uur nadat haar lyk gevind is, in Barrydale aangekeer. Hy was na bewering bekend aan die familie. Die verdagte was glo die laaste een saam met wie Delvina lewendig gesien is. Hy is uiteindelik ná amper twee dae van ondervraging van haar moord en verkragting aangekla. Volgens Netwerk24 is die verdagte ’n veroordeelde seksoortreder en het sowat ’n maand voor Delvina se dood uit rehab gekom.

Die Elim-storie is opspraakwekkend juis omdat Elim so ’n klein dorpie is.  Met ’n Kuier-besoek aan die dorp ’n paar jaar gelede vir ’n inspirasiestorie oor ’n suksesvolle plaasboer, het ons self gesien hoe klein die dorp is. Só het ons die boer se beeste gaan afneem aan die een kant van die dorp en toe was dit sommer die einde van die dorp!

In sulke gemeenskappe ken almal werklik almal. Dis hoekom dit so onverstaanbaar is dat Delvina kon verdwyn het sonder dat iemand haar gesien het. Om dus te hoor ’n kind is híér verkrag en vermoor, het ons diep getref.

En ons was nog besig om van die skok van Delvina se moord te herstel, toe die nuus breek dat die lyk van ’n babaseun van Melton Rose, naby Eersterivier in die Kaap, vier dae nadat hy as vermis aangegee is, in ’n drein naby sy ouma se huis gevind is. Orderick Lucas was net 22 maande oud.

’n Familievriend, Melvin Volkwyn, wat glo gereeld na Orderick omgesien het, is van sy moord, ontvoering en dwarsboming van die gereg aangekla.

Ons is al dikwels daarvan beskuldig dat ons mense hertraumatiseer deur oor sulke hartverskeurende gebeure verslag te doen (ook in ons misdaadreeks, Op Seer se Spoor in samewerking met kykNET), maar ons kan nie van die wrede werklikheid weghardloop nie. Dis ons plig om ouers bewus te maak van die gevare wat vir hul kinders lê en wag as hulle nie versigtig is nie.

Kinderverkragtings en -moorde sal ons ook nooit onaangeraak laat nie, ook omdat baie van die Kuier-spanlede self ouers is en hulle elke moord en seerkry aan hul eie harte voel. So die oomblik dat so iets met ’n kind gebeur, voel dit asof dit met húl kinders gebeur het.

Al hierdie gedagtes is eenvoudig net een te veel! Hoeveel te meer wanneer dit wel jou realiteit is? Hoe cope jy, hoe bly jy sterk vir jou kinders?

Dit is absoluut verskriklik dat ons in ’n tyd lewe waar jy in gedagte moet hou dat enigeen (geliefdes, buurmense, kennisse, vreemdelinge) jou kind kan leed aandoen. Jy kan probeer, maar dis onmoontlik om jou kind 24/7 onder oë te hê. Jy moet jou kind die vryheid gee om die wêreld te verken op hul eie tyd en hul eie manier, maar daar is monsters daarbuite wat soos aasvoëls wag vir daardie paar minute wat jy jou oë van jou kind afhaal. En dit net sodat hulle hul vieslike fantasieë kan uitleef.

Al wat ons as gemeenskappe regtig kan doen, is om elke kind soos jou eie te probeer beskerm en te bid soos nog nooit vantevore nie dat die Here ons kinders sal bewaar… 

https://www.facebook.com/kuierinstyl/videos/316520452308373/
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.