Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Verkiesing 2019: Politieke ontleder kyk in sy kristalbal
verkiesing

Dit gebeur klokslag elke vyf jaar.

Dís wanneer die land se politieke laventelhane (én henne) hul bedelaarskleed aantrek en met die spreekwoordelike hoed in die hand na jou kom – vir jou stem.

Dis ook die tyd wanneer kiesers weer die son, maan en sterre belowe word. Kiesers is weer kroonwild onder die politici en word gegoël met allerhande mooiweers-praatjies.

Op 8 Mei maak Suid-Afrika weer só wanneer ons stembus toe gaan om ons kruisies te gaan trek langs die party wat kiesers dink die beste dividend kan oplewer vir hul stem. Dus: ’n Politieke effektebeurs waar jy hoop jou voorkeur-party se aandele val nie deur die dak nie.

Politici dwarsoor die spektrum het veral die laaste maand oor hul voete geval om jou te oorreed om vir sus en só te stem. Altesaam 48 politieke partye gaan aan vanjaar se verkiesing deelneem, maar die oorgrote meerderheid bestaan letterlik net uit die leier, sy vrou, kinders, die buurman, die katjies en hondjies.

Verkiesingsplakkate is gegom en getou aan lamppale en woonbuurte word binnegeval deur politici wat nou kom huisbesoek doen en politieke biduur wil hou. Tereg kan gevra word hoekom hulle so skaars soos hoendertande was die afgelope vyf jaar.

Skielik het politici al die oplossings vir SA (én jou) probleme. Die slaggate in die woonbuurt gaan sommer tjop-tjop reggemaak word, die dak van die hop-huisie wat met die intrekslag begin lek het en mense klappertand in die winter laat, geniet summier die munisipaliteit of stadsraad se onmiddellike aandag. Selfs die bendes wat mense daagliks gevange vasgekeer hou in hul eie wonings word nou skielik die stryd aangesê.

Maar om gerieflikheidshalwe vergeet politici van mense se bitter stryd om net liggaam en siel aanmekaar te hou. Hulle weet nie van die uitsigloosheid in baie huishoudings nie. Die koeëls uit die loop van bendelid se vuurwapen wat dalk enige tyd jou naam kan ophê, dié ken hulle nie, want hulle bly agter hoë heinings en vlymskerp palisades. Hulle is té ver verwyderd van die gewone mense wat die gevare elke dag en nag moet trotseer. Skielik verbeel politici hulle hulle het ’n streepsak vol oplossings vir elke sosiale euwel, maar was nie in die voorste linie toe ’n baba deur haar ma se eks verkrag en toe later vermoor is en in ’n vlak graf naby ’n rommelhoop begrawe is nie.

Nou is hulle hier tussen die mense en só word ons net weer stemvee sodat hulle vir die volgende vyf jaar kan rinkink en fuif op belastingbetalers se geld. Word ons kiesers so maklik geflous deur politici of het die skille maar net nog nie van ons oë afgeval nie? Is ons maar nog siende blind en horende doof?

Politici is mos kulkunstenaars van die eerste water. Een van my voormalige redakteurs het politici ’n latrocinium genoem – ’n struikrowerbende, soos die kerkvader Augustinus na die regering van sy dag verwys het. Die slinksheid van politici manifesteer in hulle op die manier hoe hulle met mense se koppe smokkel (en dit boonop nog regkry ook).

Wat is dit met ons mense dat hulle hul waardigheid en siel verkoop vir ’n diepgebraaide hoenderboudjie en -dy? Ons vryheid is duur gekoop. Oudpres. Nelson Mandela was 27 jaar lank in ’n tronk en saam met ander op ’n eiland toegesluit sodat ons vryheid kon kry. Mense het gesterf sodat mense gelyke burgers van hierdie land kan word. Ons as kiesers kan nie toelaat dat ons duur gekoopte vryheid vir ’n skamele R50 en twee stukkies diepgebraaide hoender verkoop word nie.

Ons durf nie toelaat dat ons stem so maklik van hande verwissel nie. Op stemdag is elkeen van ons wat stemregtig is, op gelyke voet. Jou en my stem weeg ewe swaar. Of jy nou in Bishops Court of Bishop Lavis of in Elsiesrivier of in Ennerdale woon, jou stem is nie minderwaardig teenoor die ander een s’n nie. Daarom moet jou stem as ’n kosbare kleinood gehanteer word. Jou stem is jou goudstaaf, al is jy arm en jou broek en romp al flenters gelap soos die lewe jou al soos ’n brander uitgespoeg het. Maar kom ons loer bietjie in die kristalbal en kyk hoe die wind waai wat betref die politieke partye en hou sake ná die verkiesing kan staan.

Die ANC

Die ANC – breuke, bakleiery en beneuktheid – gaan nog lank in die kussings sit en hierdie land van ons regeer. Net politieke dowes en blindes of verdwaasde idealiste sal egter ontken dat die ANC nie die komende verkiesing gaan wen nie. Die opposisie wat vergesigte van ’n oorwinning in 2019 sien, maak praatjies vir die vaak. Hulle is soos die melaatses wat wag op die engel om die water te roer sodat hulle in die volgende verkiesing aan die bewind kan kom.

Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse demokrasie waar verkiesings elke vyf jaar gehou word en dieselfde party klokslag wen, is besig om hom te voltrek. En dit beteken dat opposisie-partye meestal kwyn tot nulle op ’n kontrak.

Die ANC is meer straatwys as al die opposisiepartye saam, want by die stembus kan hy sy mense onder ’n groot kombers met groot slagspreuke mobiliseer, hoewel hy as regeerder lelik kleitrap. Dié verstrooide party regeer die land. En sal nog baie lank. Sy legitimiteit is dalk onverdiend, maar onbetwis. Hy kan nie weggewens word nie.

Die ANC se wegspring-wekroep – “’n beter lewe vir almal” – lewer 25 jaar later die perverse uitkoms van ’n beter lewe net vir sommige. Die party onder oudpres. Mandela was nog nooit in sy bestaan so ’n magsbehepte organisasie nie, maar op die wagbeurt van Thabo Mbeki en Jacob Zuma het hulle uitgevrete skepsels geword. Dus: Politieke mag het die ANC verander. En hoe groter die mag geword het, hoe arroganter het die ANC geword. Die ANC in sy huidige formaat onder pres. Cyril Ramaphosa (al is hy allesbehalwe die nuwe Madiba) probeer nou om die brokstukke op te tel, maar dit neuk maar.

Ramaphosa is die ANC se grootste troefkaart. Die hele verkiesingstrategie is gebou rondom Ramapahosa. Hy is die gesig van die ANC en hiervoor is daar ’n legitieme rede. Daar is so min ANC-leiers wat nie betrek is by die staatskaping nie of korrupsie nie dat Ramaphosa die deurdagte keuse was. Wie anders kon dit wees?

Die adjunkpresident van die ANC, David Mabuza, is ’n gekompromitteerde politikus en basies die antitese van Ramaphosa. Toe Mabuza die premier van Mpumalanga was, was daar sterk gerugte dat sy hande nie skoon is nie en dat geen teenstand geduld nie. Hy het sy teenstanders polities gefossileer. In senioriteit staan Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, volgende in die ry, maar na aanleiding van ’n opspraakwekkende nuwe boek, Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture, is dit ’n raaisel hoekom hy nog nie agter tralies is nie. Magashule is die hoofbestuurder van die ANC en as die mees senior administratiewe hoof betrek word by die Gupta-skandaal, wys dit eintlik hoe verrot die ANC is.

Selfs die goedige omie, Gwede Mantashe (voorsitter van die ANC), was ’n begunstigde van Bosasa, die maatskappy. Soos hulle sê, ’n vis vrot van sy kop en Mantashe is deel van die ANC-kop.

My prognose is dat die ANC meer as 55% van die stemme gaan trek, maar gaan sukkel om die sielkundige drempel van 60% te haal.

Val die ANC onder die 55%, gaan Ramaphosa saam met sy grandiose ekonomiese planne in die hek duik. Dit gaan nie net ’n terugslag vir die ANC wees nie, maar ook vir die land. Die bloedhonde in die ANC met Magashule en Jessie Duarte aan die spits gaan die lewe dan verskriklik moeilik maak vir Ramaphosa en hy kan uitgedwing word deur die Zuma/Maga-shule-faksie.

Politieke ontleders is van mening dat Ramaphosa ná die verkiesing ’n kabinet gaan saamstel wat die matriks van die ANC sal verteenwoordig. Dit beteken hy sal steeds oënskynlik korrupte ministers in sy kabinet behou – bloot omdat die Zuma-Magashule-faksie in die ANC nog baie invloedryk is. Voor mense egter dalk hul kruisie agter die ANC gaan trek, is dit dalk raadsaam om eers na die volgende ook te loer: Onder wie se bewind het beurtkrag plaasgevind? Op wie se wagbeurt is Suid-Afrikaners gyselaar gehou deur die Guptas en Bosasa? Wie het vir Zuma in die bresse getree toe hy skouspelagtig Suid-Afrika tot by die afgrond gesleep het?

Op al hierdie vrae, is die antwoord: die ANC.

Die DA

As jy soek vir ’n party wat soos ’n besope mens rondval, is dit die DA. Dié party wat op ’n liberaal-demokratiese ideologiese basis gegrond is, is die enigste party wat werklik die ANC in die parlement op hul tone hou. Die DA waar hulle in regering is, doen presies die teenoorgestelde van die ANC. Waar die ANC vrot regeer, is die DA-refrein: skoon regering. Waar die ANC belastingbetalers se geld geil op hulself spandeer, kanaliseer die DA staatsfondse na die regte adresse.

Die kroonjuweel van die DA is die Wes-Kaap. Gemeet aan die dienslewering-prestasies, is hulle die ANC ver voor. Daaroor hoef jy nie eens biduur te hou nie, want die feite spreek vanself. ’n Mens wonder hoe sou Suid-Afrika gelyk het as die DA regeer het, want die Bloues is ‘n uitnemende party. Die DA se probleem is egter hul leierskap. Mmusi Maimane mag ’n goeie redenaar wees, maar polities kort hy intellektuele diepgang. Hy kan die wonderlikste metafore gebruik en het Zuma karnuffel in die parlement, maar sukkel duidelik om hond haar-af te maak noudat Ramaphosa op die troon sit. Maimane kom te veel oor as baasspelerig en omring hom met liberale wysneuse wat dink hulle is die kat se snor.

Ook die DA se amperse obsessie om die politieke mag oor te neem, het daartoe gelei dat dié party in korttermyndenke vasgevang is. Die DA is bereid om met die EFF (waarvan hy ideologies hemelsbreed verskil) ’n samewerkingsooreenkoms aan te gaan, net om te kan regeer. Hierdie bontpratery verwar en vervreem net potensiële DA-kiesers.

Prof. Pieter Labuschagne, ’n emeritusprofessor aan die departement politieke wetenskap van Unisa, het ’n ware ding kwytgeraak toe hy gesê het die strategiese fout wat die opposisiepartye begaan, is dat hulle strategies onrealisties optree, asof hulle die “regering in afwagting is”. Klein partye stel beleidsprogramme op met beloftes hoe hulle beter sal kan regeer, misdaad sal bekamp en werkloosheid sal verminder wanneer hulle aan die bewind kom. Dit is ’n tipiese Westminster-strategiese denkpatroon, wat realisties gesproke nie haalbaar in Suid-Afrika is nie.

So waar gaan die DA eindig? Op sy gewone plek. In die tweede plek naas die ANC, maar hulle gaan ook heelwat minder stemme kry as in die vorige verkiesing. Net soos die ANC nie ’n tuiste vir almal is nie, so is die DA ook nie. My voorspelling is dat hulle 20% van die stemme gaan trek.

Die EFF

Die Rooi-brigade gaan die naald roer in die komende verkiesing. Onthou hulle was maar ’n 6%-party, maar hulle kan maklik dubbelsyfers op 8 Mei behaal. Die EFF se mantra van radikale ekonomiese transformasie het ’n gonswoord in die Suid-Afrikaanse politieke leksikon geword.

Die EFF is in hart en siel populisties en Stalinisties. Die EFF is die ANC se achilleshiel en onthou hulle het as ware die ANC gedwing om grondonteiening sonder vergoeding op die politieke agenda te sit. Dan moet ’n mens ook nie vergeet dat hulle baie politieke punte op die telbord gesit het met hul #feesmustfall-veldtog nie. Dit het die gewenste uitwerking gehad en toe hulle blaf, moes die ANC-regering haastig na hul pype dans.

Die EFF is Julius Malema. En Julius Malema is die EFF. Hy weet net hoe om Suid-Afrikaners se moermeter in die rooi te druk, maar daar is kiesers wat van sy styl hou en hul kruisie agter die EFF sal maak sonder om twee keer te dink.

Voorspelling: Die komende verkiesing gaan goeie vrugte dra vir die EFF. 10% vir die EFF.

ACDP, GOOD, Cope, VF+

Die ACDP sal sy normale kwota-stemme kry, maar dit gaan so min wees dat dit nie eintlik ’n duik in ’n malvalekker sal maak nie. Ja, miskien weer ’n setel of twee, maar enigsins bo dit, sal ’n bonus wees.

Patricia de Lille, leier van Good, is ’n deurwinterde politikus. Sy weet hoe om die politieke viool te speel en behoort – veral in die Wes- en Noord-Kaap – haar plek in die Nasionale Vergadering in te neem, dalk met nog so drie ander. Antie Pat soos sy in die volksmond bekend staan, gaan ’n paar duisend stemme by die DA afrokkel en as sy veral genoeg stemme in die Wes-Kaap op haar kan verenig, kan Good per dalk nog die koningmaker wees.

Die VF+ is ook een van die kleiner politieke partye wat gaan groei. Die VF+ gaan die tuiste word van die DA-verlooptes en daarom gaan dié party ’n opwaartse kurwe toon.

Oor die ander partye? Hoef ons regtig oor hulle te praat? Kom ons kyk maar of hulle uit wegspringblokke kom.

  • Dus: 8 Mei is dit jou keuse. Jou stem. Jou kruis. Laat ons dus die pilare van die demokrasie versterk.
  • Johann Maarman is adjunkredakteur van Die Burger
VERKIESINGSGIDS

Klik vir jou volledige Verkiesing 2019-gids met al die brekende nuus, menings en ontledings, video's, podsendings en uitslae. 

Meer oor:  Da  |  Ff Plus  |  Anc  |  Acdp  |  Good  |  Eff  |  Malema  |  Patricia De ­Lille  |  Mmusi Mai­Mane  |  Julius  |  Cyril Ramaphosa  |  Politieke Beloftes  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.