Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kyk, dís wat jou oë oor jou gesondheid verklap
25 Julie 2018


Baie mense dink jou oë is die vensters tot jou siel, maar kenners glo in sommige gevalle kan dit ook aandui of jy aan ’n siekte ly.

Só het ’n studie deur VSP Vision Care, ’n Amerikaanse versekeringsmaatskappy, bevind ’n oog-ondersoek het al diabetes, hoë bloeddruk en hoë cholesterol by sommige mense aangedui.

Dr. Michael Djan, ’n oogarts (oftalmoloog) en chirurg van Kaapstad, sê die meeste liggaamskwale sal op die een of ander tyd in jou oë manifesteer en daarom kan dit baie belangrike leidrade tot jou liggaam se gesondheid verskaf.

Daar is ook ’n verskil tussen ’n optometris en ’n oogarts. Eersgenoemde se hoofdoel is om jou te help as jy sukkel om te sien (soos om te kyk of jy ’n bril nodig het), terwyl ’n oogarts kyk na die oorkoepelende gesondheid van die oog.

’n Oogarts het gespesialiseerde toerusting en kennis om te help met die diagnose van ’n wye verskeidenheid oogsiektes, insluitend gloukoom en diabetiese oogsiektes.

Michael stel voor jy besoek ’n oogarts minstens twee keer in jou lewe – een keer voor graad R om enige potensiële probleme uit te skakel en weer voordat jy 40 word om enige toekomstige toestande te bespeur.

Vir Jennifer Willemse (48) van Kaapstad is dit nou te laat om haar sig te red. “Ek is al in my kleintyd gediagnoseer met diabetes. Vir my was dit maar net deel van die lewe en nie iets waaroor ek baie gedink het nie,” vertel sy.

Volgens haar het sy nooit haar toestand vreeslik ernstig opgeneem nie en hoewel haar ma haar dieet dopgehou het, het sy skelm geëet wat sy wou. In haar volwasse jare het sy gesonder gelewe, maar nie juis haar gesondheid dopgehou nie. Sy het ook nie ag geslaan op die tekens in haar oë nie.

“Net voor my 34ste verjaardag het ek eendag besef my linkeroog kon nie meer mooi sien nie. Dit was asof daar iets voor my oog was wat my sig wasig gemaak het,” onthou sy. Daar was egter niks wat dokters vir haar kon doen nie en kort voor lank het haar regteroog se sig ook agteruitgegaan. Vandag is Jennifer heeltemal blind, moes uit haar werk bedank en sukkel met depressie. Haar grootste berou is dat sy nie vroeër onraad gemerk het en haarself beter versorg het nie.

In die oog

Daar is ’n hele paar siektes in die res van jou liggaam wat in jou oë raakgesien kan word. Party is relatief skadeloos terwyl ander groot skade kan veroorsaak.

Jy kan hang-oë (sakkerige boonste ooglede) van geboorte af hê of op enige latere stadium in jou lewe ontwikkel as gevolg van ’n hele reeks moontlike oorsake.

Hoewel ouderdom ’n oorsaak kan wees, is ander algemene redes spier-, senuwee- of breinverwant. Michael verduidelik dat spiersiektes wat jou oë laat hang, ook ander organe soos jou hart en keel kan aantas.

Senuwee- en breinverwante toestande soos beroertes, breingewasse en aneurismes kan alles ook hang-oë veroorsaak.

Oogdokters kan ook die eerstes wees om sekere kankersoorte te bespeur, soos okulêre melanome. Die vervaardiging van trane om jou oë vogtig te hou, speel ’n belangrike rol in gemak en duidelik visie, sê Michael.

Wanneer die tipe of hoeveelheid van jou trane verander, veroorsaak dit toenemende oog-ongemak, krapperigheid, oormatige knip en branderigheid. Droë oë kom gereeld voor by vroue as gevolg van ’n hormoonwanbalans wat veroorsaak word deur voorbehoedmiddels met ’n hormoonbasis, hormoonvervangingsterapie of as gevolg van menopouse. Dit is omdat hormone ’n baie belangrike rol speel by die regulering van traanvervaardiging, verduidelik hy.

Verder kan langtermyn oog-allergieë, ’n chemiese oogbesering en sekere outo-imuuntoestande (soos byvoorbeeld Sjögrens-sindroom wat meestal ouer vroue raak) droë oë veroorsaak.

Droë oë kan ook die newe-effekte wees van oormatige rekenaargebruik en sommige medikasie soos slaappille, pynpille en angsmedikasie. Jeukerige, geswolle, rooi oë is gewoonlik ’n algemene leidraad dat iemand sukkel met allergieë.

’n Bloedspatsel op die wit deel van jou oog is eintlik ’n klein, gebarste bloedvat. Volgens Michael kan dit wees as gevolg van vinnige opbou van druk in jou vaskulêre (bloedvat-) stelsel, veroorsaak deur ’n erge hoesbui of harde nies.

Sekere virale ooginfeksies kan ook klein bloedspatsels veroorsaak. Dis meestal skadeloos en verdwyn ná ’n paar dae. Maar wees gewaarsku, rooi kolle in jou oë kan ook ’n teken wees van diabetes.

As jou bloedsuiker te veel opbou, begin die bloedvate blokkeer en opswel. Dit kan die klein bloedvate in jou retina laat bars, wat bloeding veroorsaak. As dit nie behandel word nie, kan dit jou sig belemmer en selfs tot blindheid lei. Almal ken van oogspring.

Michael meen hoewel spanning, kafeïen, rook en moegheid jou oog kan laat spring, is daar ook ander meer dreigende oorsake daarvoor. Wanneer dié spiertrekkings gepaard gaan met gesig- of nekspasmas aan die-selfde kant, kan dit dui op ’n gesigsenuwee-besering van ’n bloedvat of gewas. Michael sê sistemiese toestande soos verspreide sklerose en Parkinson se siekte kan ook oogtrekkings as simptoom hê.

Oud en jonk

’n Wit of grys ring rondom jou oog se iris (reënboogvlies) is normaal by die ouer garde. Dis egter ongewoon by jonger mense en kan dui op ’n kroniese oog-allergie of ’n genetiese vatbaarheid vir hoë bloedlipiede (vetstof) in ’n toestand genaamd hiperlipoproteinemia (onvermoë om vet af te breek).

’n Wit ring om jou oog of geel knoppies op jou ooglede kan ook veroorsaak word deur hoë cholesterol.

Oogvlotters (floaters) is daardie vreemde donker kolletjies of spinnerakke wat jy partymaal sien wanneer jy rondkyk. Vlotters is ’n normale deel van die verouderingsproses van jou oog se jel-kompartement en gebeur met mense in hul laat dertigs en ouer. Jonger mense wat geneig is tot oogbeserings (deur byvoorbeeld kontaksport) of wat bysiende is, kan ook daarmee sukkel. Michael sê vlotters is nie kommerwekkend nie, tensy dit ewe skielik baie toeneem of gebeur saam met ligflitse. Dít kan dui op retinale loslating en/of bloeding in die jel-kompartement. Beide is baie ernstige komplikasies en moet dadelik deur ’n oogarts ondersoek word.

Geel oë is iets wat vreesaanjaend kan lyk en dui gewoonlik geelsug (jaundice) aan. Dit word veroorsaak deur hoë vlakke bilirubien in jou bloed. Daar is verskillende oorsake in volwassenes, kinders en pasgebore babas, maar sluit gewoonlik abnormaliteite van jou bloedselle of lewer in.

Volgens Michael het een uit elke mense ’n klein verskil in die grootte van hul pupille. Oorsake van groter verskille sluit in sekere dwelms, ’n oogbesering en verhoogde druk in jou brein (as gevolg van byvoorbeeld ’n aneurisme of breingewas). Diabetiese en hipertensie-pasiënte (hoë bloeddruk) is ook meer geneig om senuweebeserings op te doen wat lei tot asimmetriese pupille.

Dowwe (blurry) visie kan veroorsaak word deur ’n hele rits oogtoestande, maar as jy reeds sukkel met hoë bloeddruk, is dit ’n teken dat jy onmiddellik mediese hulp moet kry. As jou visie beïnvloed word deur hipertensie, moet jy dadelik behandel word omdat jou sig en baie meer op die spel is.

Party mense het groot oë. Maar wanneer jou oogballe skielik oordadig uitbol, of dit lyk of jou oë groter en groter word, word daarna verwys as oogproptose of “bug eyes”. Hierdie toestand plaas die oogsenuwees stelselmatig onder meer druk en maak dat jou ooglede nie behoorlik kan toemaak nie. Dit kan lei tot oog-uitdroging en ettering. Die mees algemene oorsaak hiervan is skildklier-probleme.

Milandie Gerber* (37) van Goodwood onthou sy het in haar laat twintigs baie gewig opgetel. In hierdie tyd het haar oë ook “groter” geword. Sy het ’n spesialis besoek, maar hy het niks onraad vermoed nie en sy het aanvaar dis maar deel van haar gewigsprobleem. Dit was eers maande later, toe sy met griep gesukkel het en haar huisdokter besoek het dat die probleem ontdek is. “My dokter was baie besorgd oor my oë en het dadelik klomp toetse bestel.

Dit was toe die hele tyd ’n skildklier-probleem wat verantwoordelik was vir my ekstra vetjies én my groter oë,” vertel Milandie. Sy het onmiddellik met behandeling begin. Voorkoming is beter as genesing en die meeste van hierdie siektes kan vroegtydig gediagnoseer en behandel word voordat dit probleme begin veroorsaak.

*Skuilnaam

HET JY GEWEET?
Jou oë bly jou hele lewe dieselfde grootte. Jou oë groei nie. Jou neus en ore hou egter nooit op groei nie.

Illustrasie: Ryan Carolisen


Die artikel verskyn in die 25 Julie-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Gesondheid  |  Ooggesondheid  |  Kuier  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.