Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
KYK: Will en Jada se huwelik wys krake
6 augustus 2020


Die term “entanglement” het die laaste paar paar weke die ganse vermaakwêreld op hol gehad en die hashtag #entanglement het soos ’n veldbrand versprei en kort voor lank het dit getrend op al wat ’n sosiale media-platform is.

As jy nie “entanglement” die laaste ruk iewers in die koerante of op die internet raakgelees het nie, weet jy seker ook nie dat die sanger August Alsina (27) in die akteur Will Smith (51) se slaai gekrap het nie.

August Alsina

Wyd en syd het mense mond uitgespoel oor Jada Pinkett Smith en Will se huwelik en die buite-egtelike verhouding (lees entanglement) waarby Jada vier jaar gelede betrokke was. Mense kon nie glo dié oënskynlike gelukkige glanspaartjie ervaar ook dieselfde probleme as ons “gewone” mense nie.

Vir jare was dié paartjie op ’n pedestal so hoog geplaas dat ons nooit eens sou kon dink dat hulle eendag daar sou afval nie. En dié val was hard en skielik . . . Vroeg in Julie het Jada (48), die bekende gasvrou van Red Table Talk, haarself na die tafel gebring ná gerugte die rondte begin doen het dat sy ’n entanglement saam met August gehad het.

Haar man was dié keer die een wat die vrae gevra het en Jada die een wat die waarheid met die wêreld moes deel. Jada het voor die onderhoud August se bewerings ontken dat hulle intiem was, en gesê dis “absoluut onwaar ”. Sy het ook ontken dat Will sy seën gegee het vir die verhouding. Die verhouding en besonderhede daarvan het egter op die lappe gekom en die Smith-paartjie kon nie anders as om uit te kom met die waarheid nie.

Jada het erken: “Ongeveer vier en ’n half jaar gelede het ek ’n vriendskap met August begin. Dit het alles begin met hom wat hulp nodig gehad het. Ek wou hom help met sy gesondheid en ook sy geestesgesondheid.”

Dit was in ’n tyd waar die Smith-paartjie self deur diep waters gegaan het, soos enige paartjie maar doen. Jada het met die sak patats vorendag kom en verklaar sy het in ’n “entanglement” met August betrokke geraak.

“Dit was ’n verhouding. Ek het pyn gehad en was gebroke. In die proses van daardie verhouding het ek beslis besef dat jy nie geluk buite jouself kan vind nie. Gelukkig het ek en jy ook ’n proses van genesing op ’n baie ander manier deurgemaak,” het sy in hul Red Table Talk aan Will gesê.

Die paartjie gaan dan voort om hul verhouding te bespreek en hoe die hele situasie gehelp het om nie net ’n beter verstandhouding tussen hulle te skep nie, maar ook hul band baie sterker gemaak het. Ná die onderhoud het die tonge op sosiale media geklap. En ’n mens kan nie anders as om te wonder hoekom mense so gefassineerd is met bekendes se verhoudings nie.

Volgens dr. Marlene Wasserman, ’n kliniese seksuoloog bekend as Dr. Eve, is mense spesifiek geïnteresseerd in die Smith’s se huwelik omdat hulle as die “perfekte” paartjie gesien was. “In Hollywood waar die egskeidingsyfers deur die dak skiet, was Will en Jada altyd daai paartjie na wie mense opgekyk het. Die paartjie wat mense op ’n pedestal geplaas het. Dié beeld is egter deur die #entanglement-bewerings vernietig.”

Wasserman is van mening dat mense ook gefassineer kan wees omdat dit hul eie vrese oor hul eie verhoudings weerspieël. “Paartjies kan nou dink, wel as Will en Jada dit deurgemaak het, wie is ons om dit nie te verwag nie? Dit is ook daai ding van jou inleef in ander mense se lewens sodat jy vir ’n tydjie van jou eie kan vergeet. Ek is mal oor die woord ‘entanglement’, want dit is presies wat dit is. Mense raak verstrengel in mekaar se lewens en dit kan morsig raak, maar jy moet jouself daarvan afsny om daarvan los te kom. Jy moet jouself untangle van die entanglement.”

Sy sê voorts as paartjies deur so iets was, is dit nodig dat hulle hulself tyd gee om te genees. “Ontrouheid in ’n verhouding is ’n baie moeilike proses en ek raai altyd aan dat mense hulp soek. As hulle nie die nodige hulp kry of die situasie reg benader nie, gaan daar altyd verwyte wees. Daar gaan altyd daai gevoel wees dat jy nie nie jou maar vertrou nie. Om dit te oorkom, moet julle albei mekaar ten volle ondersteun en vertrou.”

Ek is mal oor die woord ‘entanglement, want dit is presies wat dit is, maar dit het hul beeld as die perfekte paartjie vernietig.
Dr. Eve

Kry hulp

Leandie Buys, ’n verhoudingsterapeut en seksuoloog van Port Elizabeth, sê mense moet ophou geluk soek buite hulself. “Jy sal nooit iemand vind om jou te ‘voltooi’ nie. Jy moenie op iemand staatmaak of iemand vertrou om jou waardig of waardevol te laat voel nie. Soek iemand wat jou help om jou drome te verwesenlik en jou potensiaal uit te leef, maar moenie daardie persoon toevertrou met jou uiteindelike geluk nie.”

Sy maan dat mense nie buite hul verhouding na die gevoel van “verliefdheid” moet soek nie. “Jy sal dit waarskynlik vind, maar dit sal eindig in seer en frustrasie. Ek sê nie dat die gevoel van verliefdheid nie wonderlik is nie, maar dis tydelik. Die sleutel tot langtermynverhoudinge lê nie in die vind van die ‘perfekte’ persoon nie. Dit lê daarin om lief te wees vir die persoon wat jy gevind het en om jouself lief te hê.”

Volgens Leandie verg ’n suksesvolle verhouding toewyding en compromise. “Dit verg baie werk, maar op die ou end is dit uiters vervullend. Daar is ook baie maniere hoe paartjies die vonk kan terugbring in hul verhoudings en net omdat daar ’n val was, beteken dit nie dat julle nie weer kan opstaan en afstof nie.” Mark Mini, ’n pastoor by die Christian Revival Church in Kuilsrivier in die Kaap, sê ‘entanglement’ word in ons gemeenskappe as verneuk gesien en in die kerkgemeen-skap as adultery.

“In my ervaring met berading van dié paartjies is die oorweldigende gevoel wat mense ervaar, dié van ’n verlies van vertroue. Die een wat verneuk is, voel dikwels dat hy of sy toegewyd gebly het, terwyl hul maat dit nie gedoen het nie, en dit maak dit baie persoonlik vir die een wat verraai voel. ‘Waarom het jy dit gedoen?’ is die eerste vraag wat gereeld gevra word.

Dit is ’n gelaaide vraag omdat dit beteken: ‘Waarom het jy dit aan my gedoen? Waarom het jy dit aan óns gedoen? Waarom het jy daardie persoon gekies? Is daar iets verkeerd met my?’ En al hierdie vrae in een, maak die pyn net erger en word die muur van vertroue des te meer afgebreek.” Volgens Mark het entanglements die vermoë om onherstelbare skade aan die huwelik te berokken, afhangende van die persoonlikhede binne die huwelik. “Deur middel van Bybelse berading het ek al beslis gesien hoe meer huwelike herstel is as dié wat nie doen nie. Daar is geen ‘verlore gevalle’ nie en elke berg kan oorkom word met die regte hulp en leiding.”

Meer oor:  Verhoudings  |  Kuier  |  Will Smith  |  Jada Pinkett Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.