Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Lag-lag laat sy mense van hul sorge vergeet
25 Julie 2018

Die tonge klap omtrent oor die storieverteller, Danneline Ramsden, wat mense lag-lag van hul sorge laat vergeet. Dié gebore Namakwalander beskou lagterapie as haar roeping en dit het alles begin toe sy kleintyd in die grootmense se geselskap gesit het.

Hulle sê dalk kinders moenie grootmense se tande tel nie, maar Danneline kan vandag nie help om te wonder hoe haar lewe sou uitdraai as sy nie in haar kinderjare aan die lippe van haar oorle’ oumas, Eva en Mathilda, asook ouers, Japie en Densie, gehang het nie.

In haar grootwordwêreld, Komaggas in Namakwaland, was daar nie juis veel anders om te doen nie.

Trouens, die Ramsden-kloggoed het al gewerk toe hulle vir die eerste keer TV in hul eie voorhuis gekyk het. Die enigste ander vermaak was die kinderstories op die draadloos en al die stukke wat die grootmense gesny het. “Ek het my so ingeleef in die stories,” sê Danneline (44), wat nou groot naam maak as ’n storieverteller en woordkunstenaar.

“Dit was asof ek dit (die stories) voor my sien afspeel het. Soms het dit gevoel ek is deel van dit. Die stories het my in ’n ander wêreld ingevat . . .”

Dié kaalvoetkind se verbeelwêreld was ver weg van die Noord-Kaap se stofstrate. Sy het gedroom van ’n verhoog waarop sy mense lag-lag kon inspireer en van hul sorge laat vergeet, en vandag is dit presies wat sy landwyd doen.

Haar debuutproduksie, Xhoulag, was verlede jaar ’n wegholsukses, en sedertdien het sy al by verskeie feeste opgetree, insluitend die KKNK, Suidoosterfees en Woordfees. Danneline het ook skouers geskuur met die bekende storievertellers Andries Vermeulen en Pietman Geldenhuys van Oppiestoep-faam op kykNET.

Daar is ook nou sprake van ’n ander TV-program waarin sy die stories van Namakwalanders, haar hartsmense, kan deel. Sy dink met heimwee terug aan haar grootwordplek: “Vandag nog is daar seker net een straat wat in Komaggas geteer is. Ek het baie gerol in die dorp se stof; groot-groot nog. Mamma-goed het al geskel, maar dit was die lekkerste ding om in die sand te speel; om ook kaalvoet in die plasse water te speel. Dís waar ek begin droom het.” Vir haar is storievertel ’n roeping. “Ek’t van kleintyd af geweet die Here het ’n groot plan met my lewe. Maar ek het nie aan storievertel gedink nie . . . Ek wou ’n sangeres word. Die skoolhoof op Steinkopf het altyd gesê: ‘Daar gaan die nagtegaal’, want ek was vreeslik lief vir sing.”

Danneline in aksie op die verhoog tydens haar verhoogstuk, Xhoulag.

Die gogga byt

Die storievertel-gogga het egter die hardste gebyt – veral omdat sy ook as kind deur wyle Tolla van der Merwe en die destydse Maak ’n las-manne se Afrikaanse grappe geïnspireer is. “As mense by ons huis gekuier het, het ek sommer die besem en die vullis net so in die gang gelos. Ek wou niks misloop nie. Ek’t platgesit om hulle se stories te hoor. Baie keer het ek vir die gaste gesê: ‘Vertel weer daai storie.’ O, ek was darem lief vir die grootmense se stories. Ek’t nou nog ’n hart vir hulle.”

Sy het haarself ná skool as voorskoolse juffrou gekwalifiseer en op Komaggas, Steinkopf en later in Kuilsrivier in die Kaap klasgegee. “My pa het geglo dat ek as onderwyseres altyd sal werk hê, maar ek’t in my hart geweet dat ek dit nie vir die res van my lewe wou doen nie. Namakwaland het my op ’n stadium gedruk. Ek’t gevoel ek moet daar wegkom en uitkom. Daar was drome wat ek eenvoudig moes uitleef. As die Here my nie op daai stadium uit Namakwaland gevat het nie, weet ek nie wat van my lewe sou geword het nie.”

Dit is juis in dié stadium van haar lewe wat haar pad met die Verenigende Christen-studentevereniging (VCSV) gekruis het – ’n ervaring wat sy as lewensveranderd beskryf. Danneline was deel van die Diensjaar vir Christus-jeugspan wat oral in Suider-Afrika leierskapontwikkeling en sendingwerk gedoen het.

Vandag nog – jare later – is sy lief vir die VCSV waar sy ook as ontvangsdame en administratiewe assistent by die Stellenbosse kantoor werk. Volgens Danneline vind soveel mense by haar aanklank omdat sy ná soveel jare in die Kaap steeds op ’n eg Namakwalandse manier praat. Baie keer moet sy ’n ding in ’n geselskap herhaal omdat almal nie altyd die Namakwalandse sêgoed verstaan nie.

“Die Kaapse aksent klink steeds vir my vreemd. Ons Namakwalanders noem dit (hoe Kapenaars praat) ‘hoog praat’. Mense kyk my soms snaaks aan en lag meeste van die kere as ek net my mond oopmaak. Hulle sê ek sing-praat en hulle kan hulle omtrent aan my verluister,” sê sy.

Dis juis om dié rede dat sy ’n punt daarvan maak om in haar vertonings dinge op ’n Namakwalandse manier te sê. Byvoorbeeld, in dié geweste maak hulle nie tee of koffie nie. Nee, hulle “brou”. Hulle lag nie bloot hardop nie. Hulle “xhoulag”. As iemand jou slegsê het sy jou eintlik “gewas, gestryk, netjies opgevou en weggepak”.

Baie mense ervaar haar stories en vertonings as terapeuties, vertel Danneline. “Wanneer ek my stories vertel en mense lag, genees hulle van binne. Ek word self bevry van enigiets wat seermaak of moontlik stres kan veroorsaak. Mense kom ná die tyd na my toe om te sê hulle voel stukke beter. Hulle raak vir ’n oomblik ontslae van alle seer, stres en selfs depressie.”

Stories met waarheid

Sy vertel graag stories van dinge wat regtig in haar lewe gebeur het, hoewel sy soms die karakters wat nog lewe se name moet verander om hul identiteit te beskerm. Dit sluit stories oor haar oumas en eie familielede in, asook ware lewensverhale wat in die kerk, kombuis en selfs hospitaal afgespeel het.

Danneline sê: “Ouma Eva was baie reguit en eerlik, nes my ma. Ouma Mathilda was weer saggeaard. Hulle het altyd die wonderlikste stories vertel. Maar dit is in ons bloed. My oudste broer, Leon (46), het ’n droë sin vir humor en my jonger broer, Martin (40), is weer lief om mense na te maak. Hy’t al amper pak gekry. My suster, Eva (34), vertel ook smaaklik stories, hoewel sy soms vooruit vir haar eie stories lag.” Hul ouers het hulle streng grootgemaak – iets waaroor al die Ramsden-kinders vandag baie dankbaar is.

“Pa Japie en ma Densie het die reëls neergelê en het verwag ons moet dit volg. Indien ons oortree het, was my ma se bekende woorde: ‘Jou pak slae lê en loer jou’. Dit was eintlik jou waarskuwing. Hulle strengheid het my nogtans veilig laat voel.”

Ná jare in die Kaap kan Danneline nie anders as om dankbaar te wees vir die amper outydse manier waarop Namakwalanders steeds hul kinders grootmaak nie. “Ja, Namakwalandse ouers is dalk nog streng en eng, hoewel hulle al bietjie meer buigsaam ook is. Maar ons kinders is meer gehoorsaam. Dis ook so dat baie jong mense ondanks hulle streng opvoeding verkeerde keuses maak.”

Ondanks haar borrelende persoonlikheid het Danneline ook al in die lewe seergekry; seer waaroor sy nie juis meer praat nie omdat sy dit lank reeds vir die Here gegee het. “My verhouding met die Here is vir my die belangrikste verhouding ooit. Daaruit leer ek hoe my verhoudinge met mense moet wees. Die Here se genade is elke dag vir my genoeg. Die Here het my gedra deur my seer en pyn. Hy seën my elke dag in oorvloed.”


Die artikel verskyn in die 25 Julie-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Foto’s: Karen Bergh en Idolan Cloete

Meer oor:  Kuier  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.