Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Boodskap: Leer dié lesse
7 Augustus 2019
Foto: Verskaf

Om een of ander rede het ek altyd gedink die vroue uit die Bybel is patetiese randfigure. Diegene wat die kos en water moes aandra, agter almal moes skoonmaak en as hulle gelukkig was, was hulle gekies om deel uit te maak van een of ander ryk man se harem. Hoe verkeerd was ek nie!

As radio-omroeper gesels ek gereeld met vroue op my program. Die diverse persoonlikhede en temperamente fassineer my. Daar is die voorlopers en die volgers. Dié wat hard en uitbundig lag en dié wat te grand is om te hard te lag. Daar is vroue wat nie kan ophou praat as jy hulle ’n vraag gevra het nie en dan weer dié wat jy behoorlik moet aanpor om aan die gang te kom. Daar is vroue wat dink die wêreld draai om hulle en ander wat hul laaste kos weggee om te verseker dat die bure se kinders nie honger hoef te gaan slaap nie. Ons land het sterk vroue. Ystervroue!

Net só was daar sterk vroue in die Bybelse tyd. In die lig van Vrouemaand fokus ek op vier lesse wat ons van Bybelse vroue kan leer:

Daar is genade

Regdeur die Bybel lees ons van vroue wat God se genade gesmaak het. Maria Magdalena was vol demoniese magte voordat Jesus haar vrygemaak het. Soveel so dat sy die eerste persoon geword het wat Hom lewend gesien het ná sy opstanding. Ragab is ook só ’n vrou. Sy was ’n prostituut in Jerigo. Tog het God haar gebruik om die spioene te help ontsnap. Met die latere inval van Jerigo het God haar en haar familie se lewens gespaar.

Die les: Nie een van ons is te ver of te vuil dat God ons kan gebruik as sy instrument nie. Sy begeerte is dat ons oop genoeg sal wees om sy genade te beleef.

Soms neem dit tyd

Daar is niks wat ons geloof soveel toets as wanneer ons vir ’n deurbraak bid en dit voel asof dit wegbly nie – die herstel van jou huwelik, ’n baba van jou eie, finansiële verligting of selfs fisiese genesing. Sara was 90 jaar oud toe sy eindelik geboorte geskenk het aan haar seun, Isak – ’n belofte wat dekades vooraf reeds aan haar en haar man, Abraham, gemaak is. Hanna het ook jare lank gebid vir ’n baba voordat sy haar seun, Samuel, gehad het.

Die les: God se tydsberekening en planne is perfek. Kom ons vra minder vrae en vertrou Hom meer.

Gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid het gevolge

Ons gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid aan God het direkte gevolge. Lot se vrou het in ’n soutpilaar verander omdat sy ongehoorsaam was aan God se opdrag om nie om te draai en na Sodom en Gomorra te kyk nie. Ook Eva se ongehoorsaamheid deur die eet van die verbode vrug het veroorsaak dat sy en Adam uit die paradys verban is.

Net soos die ongehoorsaamheid, het gehoorsaamheid ook gevolge. Nadat Rut se man gesterf het, het sy aanvaar sy moes na haar skoonma omsien. Dit moes verseker met tye ongerieflik wees. Tog, omdat sy gehoorsaam was, het sy die ryk man Boas ontmoet. Hy het haar nie net op die hande gedra nie, maar uit hul nageslag is Jesus Christus gebore.

Die les: God sien alles en Hy eer gehoorsaamheid.

Verhouding eerder as net werke

Ons as vroue word maklik werkerbye. Ons wil die huis skoonhou en almal rondom ons versorg. Tog, van Marta en Maria leer ons dat God verkies dat ons soms net stil kom sit by Hom. Dit gaan dus nie oor hoeveel pannekoeke jy by die kerkbasaar gebak het of hoeveel sopkombuise jy hou nie – daardie goed is wonderlik – maar God wil graag ’n verhouding met ons hê en nie net goeie werke nie.

Die les: Kom ons prioritiseer tyd saam met God.

Wat maak 'n vrou sterk?

Is dit haar vermoë om voor te stap en swaar laste te dra? Dalk haar vermoë om lewens aan te raak en te verbeter sonder om ooit daaroor te praat? Of is dit dalk haar vermoë om terug te bons as die lewe haar probeer platslaan?

Mag ons hierdie Vrouemaand die vroue rondom ons vier. En mag ons onthou dat die vroue in Suid-Afrika nie patetiese randfigure hoef te wees nie. Dit is oukei om sterk te wees, soms hard te lag en elke dag groot veranderings teweeg te bring sonder dat enigiemand dit ooit oor ’n megafoon hoef aan te kondig!

• Benescke Janse van Rensburg is die aanbieder van die program Brunch met Benescke (09:00 – 12:00) op Radio Tygerberg 104FM. Vir meer inligting oor haar boeke en skryfwerk, besoek www.benescke.co.za.

Meer oor:  Kuier  |  Boodskap  |  Lewenslesse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.