Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Leer speel-speel
09 Januarie 2019
kleuterskool

kleuterskool
Voorskoolse opvoeding kan 'n duur storie wees. Foto: Elsje Waldeck

Voorskoolse opvoeding word al hoe meer geag as die belangrikste fase van ’n kind se opvoeding in ons samelewing, en afhangend van waar jou kind crèche, dagsorg of pre-school loop, kan ouers getuig dat dit nie altyd ’n goedkoop storie is nie.

Maar of jy duisende rande of ’n paar honderd rand per maand betaal, moet ouers hulself afvra of hul kind optimaal gestimuleer word en of dit ’n geval is van kinders wat heeldag speel en nie eintlik iets leer nie.

Die doel van jou kind by ’n voorskoolse instansie inskryf, is om hulle skoolgereed te kry sodat hulle nie skool met ’n agterstand begin nie. Maar watter ontwikkeling moet voorskoolse kinders kry en waarvoor moet ouers uitkyk?

Esther Lewis, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkelling, sê voorskoolse opleiding is noodsaaklik om kinders die geleentheid te bied om op emosionele, sosiale en fisiese vlakke te ontwikkel. Sy sê ouers moet in ag neem dat kinders se ontwikkeling so vroeg as die dag van hul geboorte begin.

“Die eerste 1 000 dae van ’n kind se lewe (van bevrugting tot die tweede verjaardag) is die unieke en kritiese geleentheid waarin daar vinnige fisiese en neurologiese ontwikkeling plaasvind,” sê Esther. Juis daarom moet voorskoolse instansies, ongeag die benadering en leergang (soos byvoorbeeld Montessori en Waldorf) die Nasionale Kurrikulum Raamwerk (NKR) vir nul tot vierjariges volg, wat aandui watter leerareas gevolg moet word sodat kinders die regte tipe ontwikkeling vir hul ouderdom kry.

Ashleen Julies van Atlantis in die Wes-Kaap se kleinding, Ashwin (5), is nou by die huis by haar ná hy by drie verskillende crèches was en net nie die vordering gemaak het waarop sy gehoop het nie.

Oorweeg ’n kleuterskool pleks van ’n kinderoppasser vir jou kleinding. Benewens finansiële voordele is daar ook meer gestruktureerde leer van ’n jong ouderdom af. Foto: Pixabay

“Hy is baie geheg aan my en ek het gedog dit gaan met tyd minder raak aangesien hy maatjies gaan maak (by die crèche) en gewoond gaan raak aan die onnies, maar ongelukkig nie. Nog voor sy crèche-dae, was hy al baie lief vir lees, skryf, puzzles bou en met sy speelgoed en maatjies speel, maar niks kon hom by een van die drie crèches hou nie, waar hy basies dieselfde gedoen het. By tye het dit gevoel ek het hom gefaal, maar ná gesprekke met ander ouers, het ek besef dis nie net ek wat met hierdie dilemma sit nie,” vertel Ashleen.

Volgens Ashleen is baie ouers met wie sy gepraat het van mening dat voorskoolse onnies “nie die ekstra myl stap om kinders welkom en tuis te laat voel in die omgewing nie, hulle is nie passievol nie en sodoende daal die kind se toewyding vir die daaglikse opvoeding”. Ash­leen sê voorts Ashwin doen nou dieselfde takies daagliks by die huis wat hy in ’n crèche sou doen, en sy wat onderwys swot, “kan nou baie goeie ontwikkeling in hom sien”.

“Hy sal hopelik volgende jaar by ’n pre-school aansluit, maar ons hou ook tuisskool in gedagte,” sê Ashleen.

onderwysers

Dit laat die vraag ontstaan Z wanneer dit by voorskoolse opvoeding kom Z hoe belangrik is dit dat hierdie onderwysers goed opgelei is aangesien voorskoolse kinders tegnies nie “regte skool” loop nie?

Volgens Esther moet daar hoofsaaklik opgeleide gekwalifiseerde voorskoolse opvoeders by jou kind se instansies wees, maar indien nie, moet die hoof van die instansie ’n gekwalifiseerde praktisyn wees. Volgens die Kinderwet moet voorskoolse opvoeders toepaslike kennis oor vroeë kinderontwikkeling hê; die vermoë het om die kind se vordering en ontwikkelingsbehoeftes te identifiseer; aan te

teken en te rapporteer en om ontwikkelingsgeleenthede en intervensies te identifiseer, verduidelik sy voorts.

Chantel Fourie, ’n ouer van Belhar in die Kaap, is oortuig dat crèches nie opvoeders die nodige opleiding gee nie en dat “enigeen basies ’n voorskoolse opvoeder kan word”.

“Baie Suid-Afrikaners het die verkeerde denke as dit kom by voorskoolse opvoeders. Baie glo hierdie opvoeders is net basies babysitters. Dit kos toegewyde, goed opgeleide opvoeders, saam met ouers wat hulle ondersteun, om hierdie kindertjies te staal vir wat voorlê. Mense meen enigiemand kan dit doen en dat ’n mens nie veeleisende universiteit-opvoeding nodig het om ’n voorskoolse opvoeder te word nie.”

Ouers se verwagtinge is te verstane, veral omdat hulle geld betaal en sekere resultate met hul kind se ontwikkeling verwag. Maar word daar nie te veel druk geplaas op klein kinders om voor skool al “formeel” te leer nie? En kan speel ook ’n manier van leer wees?

Deur te speel, leer kinders om kreatief te dink en probleme op te los.
Bronagh Hammond

speel is belangrik

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van onderwys, sê speel is ’n belangrike manier waarop kinders leer.

“Alle daaglikse aktiwiteite moet speelgebaseerd wees om kinders emosioneel, sosiaal, fisies en kognitief te ontwikkel. Deur te speel, leer kinders om kreatief te dink en probleme op te los.”

Sy sê verder vaardighede soos om probleme kreatief op te los, is vinnig besig om van die sleutelvaardighede te wees wat werkgewers in die werkmag soek. “Ouers en skole word aangemoedig om hierdie vaardighede by die huis en in die skool te ontwikkel. Dit sal jou kind opbou vir die beste moontlike begin in die lewe.”

Die omgewing waarbinne ’n kind leer, is ook belangrik, en moet een wees wat leerders toelaat om holisties te ontwikkel deur die begrip van die wêreld rondom hulle te verken, ervaar en te ontwikkel, meen Bronagh.

“Metodes wat gebruik word, moet leerdergesentreerd wees. Gebruik pret en interaktiewe kommunikasieaktiwiteite soos speletjies, liedjies en stories. Kinders moet betrokke wees by gestruktureerde en vryspelaktiwiteite om te oefen wat hulle geleer het. Elke kind moet individueel aandag kry en groeptyd hê om so­siale vaardighede te ontwikkel,” verduidelik Bronagh.

Sharon Coetzee, hoof van die voorskoolse instansie Little Darlings in Kaapstad, sê sy sorg elke dag vir verskeie klaskameraktiwiteite wat persoonlike, sosiale, emosionele en fisiese ontwikkeling bevorder asook probleemoplossing, redenering, kennis en begrip van die wêreld en kreatiewe ontwikkeling ondersteun.

Sharon is al meer as 20 jaar ’n crèche-opvoeder en sê wanneer ’n kleintjie haar sorg verlaat, wil sy graag hê dat die kind onafhanklik is, goeie lewensvaardighede het, goed praat, vriendelik is en die regte kennis en vaardighede het om die akademiese wêreld te hanteer. “Respek is alles by ons en ons as opvoeders stel die voorbeeld. Kinders het ook die reg om vrae te stel,” meen sy.

Alle aktiwiteite en programme wat sy aanbied, word in lyn gebring met die NKR en dit geld ook vir alle voorskoolse instansies. Ouers kan ook die NKR kry vanaf die onderwysdepartement om hulself daarmee te vergewis. Ouers moet ook seker maak hul kinders is in die sorg van ’n geregistreerde voorskoolse instansie. Jy het die reg om ’n afskrif van die

registrasiesertifikaat by die departement van maatskaplike dienste te kry as jy jou kind inskryf by ’n voorskoolse instansie. Moenie skaam wees om met die eienaar te bevestig dat die besonderhede wat daarop is, korrek is nie. Ouers kan ook by die departement van onderwys seker maak of die instansie op hul databasis is. ’n Lys van geregistreerde voorskoolse instansies kan ook op hul webtuiste gekry word by www.education.gov.za.

Marinda Schoeman van Tiny Toddlers aan die Kaapse Weskus meen kinders wil weet hulle is in ’n veilige, skoon en vriendelike ruimte waar hulle van alle personeellede liefde ontvang en gerespekteer word.

“Ons slaan nie aan kinders of praat

lelik met hulle nie. Ons buig tot op hul vlak wanneer ons hulle aanspreek. As hulle ongehoorsaam is, spreek ons die gedrag aan en ons label hulle nie met negatiewe woorde nie,” sê Marinda.

Voorskoolse opvoeding kan ’n duur storie wees, maar uit wat kenners sê, is dit definitief ’n goeie keuse om vir jou kind so vroeg moontlik die nodige sorg en opleiding te kry. Alle voorskoolse instansies word onafhanklik besit en bestuur en stel dus hul eie fooistruktuur. Kies die beste crèche wat jy dink is gepas vir jou kind se gewoontes en behoeftes en laat voorskoolse opvoeding jou kleintjie staal vir die lang akademiese lewe wat vir hulle voorlê.

Meer oor:  Kleuterskool  |  Kuier  |  Voorskoolse Opvoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.