Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Lem los letsels
19 September 2018

Lorraine Peterson (39) van Barkly-Wes in die Noord-Kaap was in ’n abusive verhouding en het alles moontlik probeer om haarself te beskerm teen die man vir wie sy eens so innig lief was en wat ’n pa-figuur vir haar drie kinders was. Vir almal wat wou luister, het sy vertel hoe angsbevange sy was; sy was polisie toe, kerk toe – oral waar sy gedink het sy hulp kan kry.

Maar op die ou einde was al haar pogings verniet, want op 26 September 2015 het sy op die koue slaapkamervloer in ’n plas van haar eie bloed gelê. Sy was besig om dood te bloei. In die agtergrond het sy gehoor hoe haar kinders bitterlik en vreesbevange huil, want hulle het gesien hoe haar eks hul ma 48 keer met ’n mes steek. Nie hulle of Lorraine het geweet of sy dit sou maak nie . . .

Maar sy het wonderbaarlik en genadiglik oorleef en is vandag nog hier om haar storie self te vertel. Haar storie is ook ’n wake-up call aan vroue wat hulself in abusive verhoudings bevind en dink “dinge gaan regkom” en dat die man op wie hulle verlief geraak het, maar toe in ’n abusive monster verander het, weer na sy “ou, lieflike self” sal terugkeer.

Albert* (47), Lorraine se eks, is op
24 Augustus vanjaar op parool vrygelaat. (Op Lorraine se versoek word sy regte naam nie gebruik nie.) Hy het ’n skamele twee jaar en agt maande van sy 10 jaar vonnis uitgedien vir ’n daad wat amper haar lewe gekos het. Maar Lorraine het besluit om op te staan uit die bloederige gemors van haar verlede, te vergewe en voluit verder te lewe.

EENS DOLVERLIEF

Jare gelede het Lorraine in Johannesburg as kombuisskoonmaker gewerk. Sy en Albert het mekaar in ’n tavern raakgekuier en was van die eerste oogopslag af dolverlief.

“Ek het probleme by die werk gehad omdat ek te veel gedrink het en hy het aangebied dat ek by hom intrek. Ek was ’n warme kop as ek gedrink het,” erken sy.

Haar werkgewer het haar weggejaag en sy is sak en pak na Albert toe.

“Ek kan deesdae erken ek was ’n alkoholis. Ek het tot die horries gekry so erg het ek gedrink,” onthou sy.

“Albert was altyd verstandig, maar ek het gesoek vir ’n pak slae. Om eerlik te wees, ek het hom gedryf tot baie dinge ter wille van drank.”

Dit het van die begin af vir Lorraine gevoel asof Albert tot binne-in haar diepste wese kan sien, dat hy geweet het wie sy werklik was, ten spyte van haar probleme met drank.

“Hy het altyd die geestelike kant van my gesien wat ek nie eens self kon sien nie,” meen sy. Dit was ’n goeie, standvas­tige verhouding volgens haar, totdat sy ná twee jaar uitgevind het hy gebruik tik. Sy het haar sakke gepak, teruggetrek Barkly-Wes toe en werk as ’n bestuurder by die slaghuis gekry.

“Ek het finaal besluit ek is klaar met hom,” onthou sy. Maar die liefde het nog hoog geloop. Ná ’n emosionele oproep van Albert, het sy ingestem om hom ’n laaste kans te gee en kort voor lank het hy na haar toe getrek en ook by die slaghuis begin werk.

Maar toe sy die Here aangeneem het drie jaar nadat hulle mekaar leer ken het, het dinge begin skeefloop.

Die probleem was dat Lorraine eintlik met ’n ander man getroud was (al het hulle vir jare geen kontak gehad nie en hy in Welkom gebly het) en sy was al hoe meer oortuig dat haar verhouding met Albert verkeerd was in die oë van die Here. Sy het ook in hierdie tyd heeltemal ophou drink.

Lorraine het stadig maar seker emo­sioneel begin losbreek van die verhouding, maar elke keer as sy Albert probeer los het, het hy haar gedreig en gesê hy gaan haar doodmaak as sy hom verlaat, want hy word nie gelos nie. Vir nog ’n jaar nadat sy haar lewe omgekeer het, het sy haar verhouding probeer maak werk. Veral toe Albert ook tot bekering kom. Vandag voel sy dit was nie opreg nie, maar net sy plan om haar te verhoed om hom te los.

OF GOD OF OU

Naderhand, as hy net aan haar gevat het, het dit haar gewalg en uiteindelik het sy geen meer keuse gehad as om te kies tussen haar verhouding met Albert en haar verhouding met God nie. “Dit kon net nie gewerk het nie, want ek was geestelik en Albert was vleestelik,” verduidelik sy ernstig. Sy was bang vir hom, maar het gevoel sy moes op God vertrou om haar te beskerm. Albert kon dit maar net nie aanvaar nie en het haar beskuldig daarvan dat sy met haar evangelis vry. En selfs terwyl hy besig was om haar te steek, kon sy nie vir hom die bevestiging van ’n affair gee wat hy wou gehad het nie, want dit was ’n infame leuen.

Dít terwyl hy vir Lorraine verneuk het tydens hul verhouding. Sy het nooit ’n woord gesê oor sy skandes nie, maar Albert het geweet sy weet en dit het aan hom gevreet. Hy het haar stilte aanvaar as erkenning dat sy ook skuldig was.

Hoewel Albert nooit ’n dronklap was nie, was hy in ’n stadium aan tik verslaaf. En hoewel hy skynbaar gerehabiliteer was, glo Lorraine vas in die weke voor die aanval op haar het hy weer in sy ou gewoontes verval. Twee weke voordat sy gesteek is, het Lorraine onveilig begin voel en ’n interdik teen Albert gekry. Dit het niks gehelp nie. Sy het dag en nag gewag vir Albert om sy dreigement uit te voer, terwyl hy haar 24 uur van die dag dopgehou en gedreig het.

Soos ’n skaduwee het hy haar gevolg – altyd daar. Lorraine raak bewoë wanneer sy oor hierdie tyd van haar lewe praat. Al is dit oor en verby, is die emosionele skade nog nie ongedaan nie. Sy het polisie toe gegaan vir hulp, maar hulle het gesê hulle kan niks doen net omdat hy haar “vuil kyke gee nie”. Wat is kyk dan nou?

Sy het haar familie genader, die kerk geraadpleeg. Vir almal wat wou luister het sy gesê sy is bang, maar niemand het haar ernstig opgeneem nie. “En toe hulle hul oë uitvee, toe lê ek in my bloed,” sê sy peinsend en afgetrokke.

Sy bly vir ’n oomblik stil – asof sy teruggevoer word na daardie amper-noodlottige dag, 26 September 2015, wat die koers van haar lewe verander het.

Van vroegoggend af daardie dag het Lorraine gevoel iets is verkeerd. Haar suster het vir haar ’n boodskap gestuur om te sê Albert het haar familie gewaarsku hoe hulle gaan huil en dat hulle vir Lorraine moet “good bye” sê. In plaas van werk toe gaan, is sy weer polisie toe om vir hulp en beskerming te gaan soek.

Sy het later gehoor Albert het haar by die slaghuis gaan soek – oënskynlik om sy dreigemente ’n realiteit te maak. Hy het deur die gebou gebulder, die baas eenkant toe gegooi en van voor tot agter vir Lorraine gesoek.

“Hy was so sterk vier poeliesmanne kon hom nie in die polisie-van kry daai dag nie,” vertel sy saggies. Hy is toe opgesluit vir 18 dae, waarna hy vrygelaat is op borgtog.

VREESBEVANGE

Intussen het Lorraine geld by die werk geleen en die polisie gesmeek om dit te gebruik vir taxi-geld en vir Albert ver weg te gaan aflaai.

“Ek was bang vir waar hy gaan bly as hy uit die tronk uitkom. Maar hy het die geld voor die polisie vir my teruggegee,” onthou sy.

Die dag wat Albert vrygelaat is, het Lorraine vreesbevange na een van haar anties wat in Kimberley bly, sowat 35 km daarvandaan, gevlug. Haar hart was permanent in haar keel, haar liggaam aan die bewe. Sy kon nie meer helder dink nie en het gaan vrede soek in ’n kerk waar sy niemand geken het nie.

“Tydens die diens staan ’n ou moeder op wat ek van geen kant af ken nie, maak die kerk stil en sê, ‘ek weet nie wat is dit nie, maar as ek jou sien, sien ek my dogter wat 10 gate gesteek is...’” Net daar het die hele kerk vir haar gebid en na afloop van die diens het die pastoor vir haar gesê: “Hy sal kom met ’n mes, maar hy sal niks maak nie.”

In daardie stadium het die woorde niks vir haar beteken nie en sy het dit amper dadelik vergeet. Maar ’n paar dae later in die hospitaal, nadat sy by die dood omgedraai het, het dit na haar toe teruggekom en alles het begin sin maak.

Ek skree, my kinders skree. Dit gebeur in die deur. Die kinders kan nie uithardloop nie. Hy sê hy gaan ons almal vrek maak vanaand.
Lorraine Petersen

Ná die naweek in Kimberley het Lorraine teruggekeer na Barkly-Wes omdat sy weer moes gaan werk. Haar binneste was nog onstuimig, maar sy moes sterk wees vir haar kinders. Gevul met ’n angstige vrees het sy ’n paar dae later vir haar familie gesê sy is lief vir hulle en sy weet nie of sy hulle weer gaan sien nie.

Daardie nag het haar suster by haar oorgeslaap. Haar kinders (toe 11, 12 en 16), kon maar net nie tot ruste kom nie en het uiteindelik in ander beddens as hul gewone beddens aan die slaap geraak.

“Voor bedtyd het ek op my knieë die Onse Vader gebid,” onthou sy, “maar ek het dit so vinnig gebid, want ek wou slaap. En op daai oomblik, toe kom die moordenaar daar aan. Ek het net op my knieë gebly en begin bid asof dit my laaste is. Toe ek sê ‘amen’, toe hoor ek my suster skree.”

Dit was ’n bloedstollende gil van vrees en Lorraine het besef dit waarvoor sy so bang was, het uiteindelik aangebreek.

Albert het by die huis ingestorm en reguit na haar kinders se kamer gegaan. Hy het verwoed die eerste bed begin steek, want hy was gewoond dis waar haar oudste dogter slaap, maar gelukkig was daar net komberse op die bed – die kinders in ’n ander bed. “Hy wou haar eerste doodgemaak het,” snik Lorraine. Was dit dalk nog ’n manier waarop hy haar wou laat ly voordat hy haar lewe ook geneem het?

Daarna is hy na haar kamer toe. Toe hy by die deur instap, bulder hy, “ek het my mind opgemaak. Ek het gekom om jou dood te maak”, en toe gaan sit hy op haar bene en begin haar steek – 48 keer.

“Ek skree, my kinders skree. Dit gebeur in die deur. Die kinders kan nie uithardloop nie. Hy sê hy gaan ons almal vrek maak vanaand.”

Lorraine het daar, in haar bloed, lê en smeek dat hy tog net haar kinders moet spaar. En hulle moes hulpeloos staan en toekyk hoe hul ma herhaaldelik gesteek word deur ’n maniak met ’n mes – ’n man wat nie te lank terug nie vir hulle soos ’n pa was. Sy sal nooit weet watter skade dié nag aan hulle binnestes aangerig het nie. In daardie oomblik het sy ook besef as ’n man ’n ma van haar kinders af wil wegneem, kon daar tog mos nooit regtig liefde gewees het nie.

DIE GRU-AANVAL

In ’n stadium kon sy nie meer terugbaklei nie en het sy net stil gelê en gewag dat hy moet klaarmaak op sy tyd, homself moet uitwoed. Lorraine onthou hy het haar gevra terwyl hy besig was om haar te steek, “bid jy, Sustertjie? Waar is jou Here nou?”.

Net daar het sy krag van êrens gekry en besef sy is nie alleen nie. In haar geestesoog het sy ’n wit duif gesien.

Albert het haar omgedraai om haar keel af te sny – sy bose daad te voltooi, maar hy kon nie en ironies genoeg was dit Albert self wat haar vertel het hoekom hy nie haar keel afgesny het nie.

Volgens Lorraine het Albert haar drie maande ná die voorval gebel en gesê sy het heeltyd geskreeu, “Here Jesus, help my net!”, maar toe hy haar omdraai om haar keel af te sny, toe kom daar ’n dik stem uit haar mond wat sê, “moenie!” en dit het hom laat skrik.

Tevrede dat sy nie die aanval sou oorleef nie, het Albert haar nie verder gesteek nie. Hy het uit die huis uitgestap deur ’n skare bure wat die geraas gehoor het en gesê, “Julle kan nou maar die polisie bel. Ek het klaar gedoen wat ek moes doen,” en toe hardloop hy weg. Die polisie het hom kort daarna gevind waar hy weggekruip het in ’n bossie.

Lorraine doen deesdae gereeld praatjies waar sy haar storie vertel. Sy het onlangs ’n verpleegster raakgeloop wat aan diens was daardie aand toe sy gesteek was. Die verpleegster het vir Lor­raine vertel sy het daardie aand nog die Here aangeneem, want sy kon nie glo dat enigiemand so ’n gewelddadige aanslag op hul lewe kon oorleef nie – dat dit net ’n wonderwerk kon wees. Veral omdat sy net vier dae in die hospitaal moes lê.

In die hofsaak het Albert met allerhande verregaande stories vorendag gekom, soos dat Lorraine sy wettige vrou is, dat hy haar in die bed gevang het met haar pastoor en dat hy, in ’n hartgebroke aanval van jaloesie en skok, haar gesteek het. Tog het die waarheid geseëvier en is hy skuldig bevind en tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Dit het haar egter lank geneem om vrede in haar siel te kry. Vir maande daarna was sy steeds bang, steeds het dit gevoel asof hy in die skadu’s vir haar loer, sit en wag om klaar te maak wat hy daardie aand begin het.

“Mense kon nie agter my geloop het nie, ons kon nie alleen toilet toe gaan nie. Ek en my kinders was bang vir alles en almal,” prewel sy. Eers ’n jaar later, toe sy dit in haar hart kon vind om hom te vergewe, is sy bevry en kon sy begin om die stukke van hul lewe op te tel en weer aan te gaan.

Vandag erken sy sy het nie ’n goeie verlede nie. Sy het foute gemaak. Sy voel die nag van 26 September 2015 is sy, in plaas van vermoor, gered. Anders sou sy dalk nou nog van doellose verhouding tot doellose verhouding geswerf het. Sy het ’n tweede kans ontvang om beter te probeer wees, ’n goeie lewe te lei en ander te inspireer omdat die hand van die Here deesdae onmisbaar is in haar.

*Skuilnaam

Wat sê jy?
Sê vir ons wat jy dink van die storie. Stuur 'n WhatsApp na 0607840589, gevolg deur jou mening.

Meer oor:  Kuier  |  Gru-Aanval  |  Mishandeling  |  Gesinsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.