Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Lewe ná egskeiding: Desiré Gardner straal ná die seer
18 Maart 2020


Niemand trou om te skei nie, maar, soos die ou treffer lui: “sometimes love just ain’t enough”.

Tot nog onlangs het Suidooster-aanhangers vasgenael voor die kassie gesit en kyk hoe Carmen en Rhafiek (gespeel deur Desiré Gardner en Irshaad Ally), se huwelik telkens dreig om uitmekaar te spat.

Tog weet baie min mense dat Desiré (34) self deur haar eie persoonlike hartseer en deurmekaarspul gegaan het toe sy en haar eksman, Chris (37), se paaie verlede jaar geskei het. “Ek is nou op ’n goeie plek. Ek is baie blessed dat ek op die oomblik soveel geleenthede het.”

Tog was dit ’n moeilike paadjie om die stukke van haar hart weer op te tel, sodat sy vandag haar lewe as nuwe enkelma met albei hande kan aangryp. “Hoe moeilik en uitdagend dit ook al mag wees, so wonderlik is dit ook,” glimlag sy. Desiré was nog nooit een wat van verandering gehou het nie en die verbrokkeling van haar huwelik is die grootste omwenteling van haar lewe – groter nog as toe sy getrou en kinders gekry het.

“Maak nie saak wat die redes vir jou egskeiding is, of hoe die pad met jou loop nie, dis nooit maklik nie. Die pyn bly dieselfde. Dis altyd ’n baie moeilike, seer, eensame pad vir albei partye. Maar, so moeilik as wat dit vir my is om verandering te aanvaar, was dit tog vir my so nodig om dit op my eie te doen.” Omdat sy haar kinders wil beskerm en ook te veel respek het vir haar eie familie, haar eksman en sy familie, verkies Desiré om nie die redes vir haar egskeiding te bespreek nie.

“Nie ek of Chris is mense wat mekaar agteraf slegsê nie. Ons is baie privaat en dis ’n baie sensitiewe saak.” Dis die klein dingetjies wat sy aanvanklik die meeste gemis het – die goed wat haar soms in hul verhouding geïrriteer het, waarna sy verlang het.

“Dis wat jou hartseer maak, want jy wil hê dit moet daar wees. Maar dan begin jy gewoond raak aan jou eie spasie, en so moeilik soos dit is, so lekker is dit. Partykeer is die wolk so donker daar is nie ’n silwer lining nie, maar tog, somehow, kom jy daar uit.”

Onttrek haarself

Sy erken sy het aan die begin haarself totaal en al onttrek sodat sy op haar eie deur die prosesse kon gaan. “Elke mens hanteer dit anders. ’n Mens moet dit maar self aanvaar en dan deur die rouprosesse gaan.

Dis amper om die idee van jou huwelik, jou lewe soos jy dit ken, aan die dood af te staan. Dis ’n enorme teleurstelling en verlies en dit is ongelooflik – hoe ’n mens op die vreemdste tye net kan breek en huil,” verduidelik sy ernstig.

Vir Desiré en Chris kom hul kinders eerste. “Op die ou einde van die dag is ons hul ouers, vir altyd. Ons praat omtrent elke dag oor die kinders. Hulle is helfte van die tyd by my en die ander helfte by hom en ons hou mekaar op die hoogte van hoe dit met hulle gaan. Ons probeer mekaar tegemoetkom. Ons is glad nie bakleierig nie, want dít sal niemand baat nie en die kinders sal op die ou einde daaronder ly.”

Dit was egter harde werk om op hierdie punt te kom. “Ons het obviously deur ’n moeilike tyd gegaan aan die begin, omdat ons al twee so baie seer gehad het.” Tog was hulle van die begin af vasbeslote om die moeilike situasie so maklik moontlik vir hul kinders te probeer maak. Om ‘n enkelma te wees is nie vir sissies nie. “Sjoe, dis partykeer so moeilik! Maar somehow doen jy dit net. Jy het nie ’n keuse nie. My ma het een keer vir my gesê ‘jy het nie nou meer die luxury van opgee nie. Jy is nou ’n ma.’ En dis so waar!”

Een van die moeilikste goed vir haar aan die begin van haar nuwe lewe as enkeling, was om die nuus aan ander mense te breek. “Mense sou vra hoe dit gaan of sê hulle gaan by ons kom kuier, en dan weet ek nie wat om te sê nie, want dis nog so rou!” sê Desiré benoud. “Maar behalwe vir dit, is alles baie erg. Jy veroordeel reeds jou keuses en jy dink en jy wonder en jy betwyfel alles . . .

Die moeilike ding is dan om te voel dat ander mense jou kritiseer of judge.” Sy erken niemand het haar ooit in die ope veroordeel nie en dat daar ’n kans was dat sy dalk oorsensitief was, maar dit maak dit nie minder real nie. “Daardeur het ek geleer, want ek is iemand wat glo jy moet selfs in jou moeilikste tye besig wees om te leer, om in my lewe op te hou om ander mense te judge deur my idees op hulle af te dwing nie. Ons weet nie altyd wat in ander mense se lewens aangaan nie.

Niemand weet of verstaan regtig jou situasie totdat hulle in jou skoene was nie, en selfs dan . . . Daarom moet jy altyd mense net 100% liefhê, aanvaar en probeer verstaan. Maar as jy nie verstaan nie, is dit ook oukei. Maar ek het geen reg om oordeel oor ander uit te spreek nie. Jy moet net in dankbaarheid lewe.”

Die afgelope jaar het Desiré haarself van vooraf leer ken.

Nuwe uitdagings

Noudat sy oor die ergste hartseer en teleurstelling is, is die moeilikste deel van haar lewe die admin daarvan. “Dit ís lekker om iemand te hê saam met wie jy kinders grootmaak. Dit is lekker as jy kan sê ‘Pappa, kom sorteer hierdie uit, kom help met die dissipline, ek weet nie meer wat om te doen nie’. So dit is nogal moeilik vir my om partykeer ma-alleen te besluit wat is die regte ding om te doen.” Vir Desiré is dissipline nogal moeilik, veral by jong kinders.

“Hoe ouer my kinders word, hoe meer gemaklik raak ek met hulle, omdat ek ’n praat-mens is. Dis hoekom ek en James (7) nou op so ’n lekker plek is.”

Sy meen sodra ’n kind ’n sin vir humor het, raak dit vir haar makliker. Haar dogtertjie, Robin (3), is nou op daardie stadium waar sy baie “verbaal is oor haar gevoelens”. Vir Desiré is dit soms moeilik om te weet waar om die streep te trek tussen werklike emosie en manipulasie. “Ma-wees, enkel of nie, is maar ’n tricky besigheid!”

Maak nie saak wat die redes vir jou egskeiding is, of hoe die pad met jou loop nie, dis nooit maklik nie. Die pyn bly dieselfde.

Maar so moeilik soos wat dit soms is, is dit vir Desiré ongelooflik om te weet haar kinders is haar rots. “Dis so amazing. Ons doen sulke lekker goed saam. James is so ongelooflik. Die manier hoe hy my met Robin help . . .” gons sy. Vir haar is daar niks meer spesiaal as hulle drie se tyd saam nie. “Dis nou ons normaal, en ons doen ons bes om daarin te floreer.”

Die egskeiding het vir Desiré ook baie van haarself geleer. “Ek dink ons is geneig om te begin wegkyk van jouself as iets gebeur. Maar ek het begin besef dis bitter belangrik om na jouself ook te kyk. ’n Mens moet jouself ken in ’n verhouding – jou swakpunte. Ons is almal so bang om ons vrese te erken – daai goed wat jou vieruur in die nag laat wakker lê . . . Maar deur hierdie hele traumatiese proses het ek myself leer ken. Ek het dinge van myself besef wat ek nooit geweet het nie – soos dat ek baie sterker en aanpasbaar is as wat ek gedink het.”

Sy erken sommige dae weet sy nie hoe sy sekere goed gedoen gaan kry nie, maar dis vir haar belangrik om hard te werk, aan te hou en te probeer positief bly. “Alles wat ek doen, in elke besluit wat ek maak, plaas ek nou my kinders eerste. Ja, ek is steeds mens met my eie drome en passies, maar húlle is nou my prioriteit. Hulle lê elke aand in my kooi, onder my vlerke tot hulle aan die slaap raak. Dit is net vir my só kosbaar.”

Ander ingesteldheid

Vir haar is dit belangrik dat vroue mekaar ondersteun en na hulself kyk.

Desiré het vinnig ná die verbrokkeling van haar huwelik besef sy sal haar ingesteldheid moet verander. “Om die volgende 10, 20 jaar van jou kinders se lewens nóú te probeer micro-manage, is nie moontlik nie. Maar jy kan vandag net jou kinders se hartseer en jou pyn hanteer. Vandag kan jy net probeer asemhaal en aangaan, en dis oukei.”

Sy vertel partykeer moes sy net stilstaan en die pyn ervaar, so seer soos wat dit was. En daar was party dae wat die pyn en teleurstelling gedreig het om haar te verswelg. “Ek dink as aktrise leer ’n mens gelukkig om jou emosies te beheer. Ek het amper ’n manier gehad – en ek sê nie dis die gesondste manier nie – om dit net stil te maak in my binneste, om dit te ervaar, maar om dit te beheer, en dan wanneer my kinders in die aand geslaap het, het ek myself toegelaat om te breek en te huil.”

In daardie stadium was Desiré besig om ’n Turkse telenovella in Afrikaans oor te klank. “Wat so lekker was, was dat ek so diep in die ding in gedompel was, en my werk is my tweede prioriteit, net ná my kinders. En sonder dat ek dit besef het, het dit my so baie gehelp. Party aande wou ek so graag huil, maar ek moes net gou die werk klaarmaak. En dan voor ek my kom kry, het ek so verdiep geraak. Ek sê glad nie dis ’n goeie ding om jou pyn toe te smeer nie. Ek sê jy moet daai wond oopkrap, laat hy bloei en kry dit uit. Maar partykeer was dit té seer . . .En dan het jy amper net tyd nodig om deur daai ergste trauma te kom, want as jy dan jouself daarin laat verdrink gaan die irrasionele angs jou doodmaak.”

Die meeste van die tyd, teen die tyd wat haar werk klaar was en sy haarself tyd gegun het om te huil, was die histerie verby en kon sy rustig haar gevoelens verwerk. Vir haar was dit ongelooflik om te sien hoeveel mense haar eintlik ondersteun. “Jy moet net oop wees daarvoor. En dis belangrik om vir hulp te vra, veral as ’n enkelma, so moeilik soos wat dit mag wees.”

Sal Desiré eendag weer wil trou? Sy bars uit van die lag op dié vraag. “Ek weet glad nie. Ek probeer in my kop ’n antwoord kry wat sin maak. Ek het niks teen trou nie en ek is nie kwaad vir mense wat getroud is nie. Ek dink trou is ’n wonderlike ding en glo steeds daarin. Maar ek weet nie wat die toekoms vir my inhou nie en probeer my bes om nie te veel te worry oor daai vrese van om alleen te wees nie,” verduidelik sy eerlik.

As die jongste van vyf kinders is sy nie gewoond aan alleen wees nie. “Dis ’n aanpassing. Maar ek glo ’n mens word sterker daardeur, deur by goed aan te pas waarvan jy nie noodwendig hou nie.”

Carmen en Rhafiek se troue. Desiré vertolk die rol van Carmen in Suidooster.

Vir haar is dit belangrik dat vroue mekaar meer begin ondersteun, eerder as agteraf afkraak en slegmaak. “Ja, sy is dalk mooier of slimmer of meer suksesvol as jy, maar ons almal het daai inner strength, daai mamma-leeu wat uitkom as die mense vir wie ons liefhet, bedreig word. Ons innerlike vrese, dit wat vir ons belangrik is, is baie dieselfde. So hoekom sal ons teen mekaar wees?”

Desiré het die afgelope jaar geleer vreugde is in die klein dingetjies. Deesdae geniet sy dit weer om haar eie tyd te hê wanneer haar kinders by hul pa is. Dis vir haar lekker om so baie plek in haar kas te hê en om nie altyd saans te moet kook nie. Sy probeer om elke dag te draf en tyd met haarself te spandeer. En sy sien uit na die toekoms, hoe onvoorspelbaar dit ook al mag wees.

My werk is my tweede prioriteit, net ná my kinders. En sonder dat ek dit besef het, het dit my so baie gehelp.

Meer oor:  Kuier  |  Desiré Gardner  |  Egskeiding  |  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.