Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Lewe voluit: Misvormde ledemate keer hom nie
15 Oktober 2020


Byna 30 jaar gelede is ’n baba-seuntjie sonder arms gebore. Dokters het nie gedink hy gaan meer as ses kersies op sy koek kan uitblaas voor hy die tydelike met die ewige verwissel nie. En tog, vandag, versit Lyle Adams (27), tuisbly-pa van Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte, berge.

Lyle laat nie toe dat enigiets hom terughou nie. Hy floreer en gryp uitdagings aan saam met die drie liefdes van sy lewe – sy ma, sy verloofde en sy vierjarige dogtertjie, Storm.

Die handsome ou met ’n skerp sin vir humor wys net weer dis nie die kaarte wat die lewe vir jou uitgedeel het nie, maar hoe jy hulle speel, wat saak maak. Sy pad was van die begin af nie maklik nie. Lyle se ma, Samantha (46), vertel sy het eers op ses maande uitgevind sy is swanger met hom. “Ek het toe reeds geweet, met ’n tipe van sesde sintuig, dat hy anders, spesiaal sou wees,” onthou sy.

Storm, sy dogtertjie, is sy grootste ondersteuner.

Lyle is gebore met fokomelie, ’n uiters seldsame misvorming wat ’n mens se ledemate aantas en veroorsaak dat dit nie behoorlik ontwikkel nie. Lyle is sonder arms gebore en sy hande is direk aan sy skouers geheg en sy bene is heelwat korter as die gemiddelde man s’n. Hy is ongeveer 1,17 m lank. Dokters is nie heeltemal seker wat dit veroorsaak nie en daar is gewoonlik verskeie faktore betrokke.

Die eerste keer wat Samantha haar seuntjie vasgehou het, was sy egter vreesbevange. “Ek was nog jonk en baie bang. Maar ek het my vrese oorkom omdat ek besef het ek moet sterk en standvastig wees om hom groot te maak sodat hy onafhanklik kon wees, en nie bang wees vir die wêreld nie. Ek dink dit is hoekom hy die sterk mens is wat hy vandag is!”

En van die dag van sy geboorte af, bewys Lyle almal verkeerd wat dink hy kan iets nie doen nie. “Hulle het gesê ek gaan dit nie maak nie, maar kyk hoe ver het ek gekom. I’m still doing life, I’m still doing me!” sê hy opgewonde.

Lewe normaal

Lyle se verloofde, Deneline Heynes, se oë skitterblink van die liefde as sy oor hom gesels. “Hy laat nie met hom mors nie. Lyle is hardkoppig en vasbeslote. Hy hou nooit op nie. Hy volhard in alles wat hy doen. Hy gryp alle uitdagings by die horings. Partykeer voel ek lus en slaan hom met ’n hamer omdat hy so hardkoppig is.

Maar dit maak hom net sterker en meer die mens wat hy werklik is. En dít is hoekom ek so verskriklik lief is vir hom, en verlief is op hom,” glimlag sy. Hoewel hy sertifikate behaal het in projekbestuur en bankwese, sukkel hy op die oomblik om ’n werk te kry. Tog maak hy die beste van die saak en gooi sy hele hart in sy huidige rol as tuisbly-pa.

My gebrek hou my nooit terug van enigiets nie omdat my gedagtes en my hart my altyd push na greatness!

“Ek is mal daaroor om tyd met my familie te spandeer en ek kyk op die oomblik na my dogter.” Die paartjie is van plan om een van die dae te trou en Lyle doen alles in sy vermoë om die beste pa en man te wees wat hy kan. Hy spring selfs soms in om die wasgoed te doen, skoon te maak of te kook by die huis. Al het dokters voorspel hy sou al 21 jaar gelede sterf, het Lyle op die oomblik geen issues met sy gesondheid nie.

“Ek vat elke dag soos dit kom in die wete dat ek enig-iets kan doen. My gebrek hou my nooit terug van enigiets nie omdat my gedagtes en my hart my altyd push na greatness!” Lyle se bolyf is gespierd en sterk en hy het fenomenale balans. Deesdae is hy besig om die internet te breek en ’n internetsensasie te word met sy oefenvideo’s en tuisgemaakte gymtoerusting. Hy vertel nederig hy doen dit nie vir snaakse redes nie.

“Ek doen dit om fiks en gesond te bly. Ek mag nie gewig optel nie omdat dit te veel druk op my bene kan plaas, so dit gaan nie oor spiere bou nie, maar om gesond te bly.” Voor lockdown het hy gereeld ge-gym, maar tydens lockdown het hy geleer om sy eie oefeninge tuis te doen. Hy het hierdie video’s op sosiale media begin deel en só mense begin inspireer met hoe voluit hy lewe en hoe hy sy eie manier vind om dinge te doen.

“My lewe is normaal en ek doen die goed wat enige ander mens kan doen. Die enigste probleem is wanneer ek iets moet kry wat hoog is,” verduidelik hy. Vir iemand so selfstandig soos hy is dit dalk nie altyd lekker om vir hulp te vra as hy nie kan bykom nie.

Sterk en passievol

Sy positiewe ingesteldheid ten spyt, erken Lyle sy grootwordjare was soms moeilik. “Ek moes aanpas in die lewe en aanvaar dat daar sekere goed is wat ek nie kan doen nie, soos boomklim of met ’n fiets ry. Aanvanklik was ek soms ’n bietjie depressed, maar my ma het altyd mooi met my gepraat en verduidelik dat die lewe oor meer as net dit gaan. My ma het my geleer ek kan enigiets doen, enigiets bereik, ongeag my gebreke, as my kop net reg is.”

Vandag laat hy nie toe dat enigiets hom onderkry nie. Hy veg net harder. “Ek motiveer myself om elke dag beter te doen, nie net vir myself nie, maar vir my dogter, Storm, ook. Maar ek is bly as ek ander ouens ook kan inspireer.” Hy vertel verder sy dogter is sy grootste bewonderaar en help hom waar sy kan. “As ek nie by goed wat hoog is, kan uitkom nie, tel ek haar sommer op en dan kry sy dit.”

Een van Lyle se groot passies is dans. Hy is deel van die groep Ubuntu B-Boys.

Lyle se passies sluit in hip-hop dancing, krieket, sokker en gholf. Hy behoort aan ’n breakdance-groep, Ubuntu B-Boys, wat die Kaapse Vlakte probeer inspireer. In 2008 het hy aan die Suid-Afrikaanse Gholfvereniging vir Gestremdes se kompetisie deelgeneem en gewen! Verder beoefen hy ook kickboxing, ballroom en Latin dancing. “Ek hou van nuwe goed probeer, nuwe uitdagings.”

Sy droom is om eendag sy eie, self-ontwerpte huis te besit, met judo te begin, aan die Paralimpiese Spele deel te neem en sy eie party vir gestremde mense in die parlement te stig en president te word. “Dit maak nie saak wat jou gebrek, of jou situasie in die lewe is nie. Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein jou probleme is nie. Solank jy God in jou lewe het en glo dat Hy vir jou ’n plan en ’n weg baan, is die lewe ’n reis.”

En met ’n lewensmotto wat lui: “if you can dream it, you can achieve it, so believe it,” is daar nie veel wat vir Lyle Adams kan terughou nie!

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.