Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Liefde in lockdown: Soek só na jou soulmate
28 Mei 2020


Dit kan nogal moeilik wees om single te wees onder normale omstandighede. Mense wat jou alewig vra: “Het jy dan nog niemand nie?” en jou dan so jammerhartig aankyk wanneer jy alleen na ’n funksie toe gaan of op jou eie uiteet. En gewoonlik smile jy maar net, want wanneer jy gelukkig is, pla dit jou nie.

Ander singles lééf weer vir alleenwees – net om verskillende mense te date en hulle wil nie noodwendig vasgevang word in ’n verhouding nie. Maar die lockdown weens die corona-pandemie het nie net sy gewone uitdagings vir almal regoor Suid-Afrika gebring nie; as jy nog single is, het dit nóg meer van ’n tameletjie geword.

Want hoe ontmoet jy nou jou prins as jy heeldag by die huis moet sit, saans ná agt nêrens mag gaan nie, al die klubs en restaurante én selfs kerke toe is? Om nie eens te praat dat handjies hou heeltemal teen die reëls is en daai first kiss met ’n vreemdeling jou in die ongevalle-eenheid kan laat beland nie!

Stoksielalleen

Vir Carryn-Ann Nel (34), teksskrywer en navorser by die televisiekanaal Via, is die lockdown baie moeilik. Sy is single en het ook die lockdown alleen deurgebring in haar klein bachelor-woonstel in die Kaapse middestad. Aan die begin van die lockdown was sy positief en het uitgesien na die tyd alleen.

“Ek het gedink ek het nou al die tyd vir myself gehad en sou series kyk op TV; mense praat met jou op video en jy kan chat en daar is geen inmenging of gaste nie,” vertel sy. Ná ’n rukkie het dié vryheid egter nie meer so lekker geraak nie. “Die keerpunt vir my het gekom toe Cyril die lockdown vir die tweede keer extend. Daardie aand het ek myself aan die slaap gehuil en nie geweet vir hoe lank ek dit sal kan vat nie.” Wat alles vir haar erger gemaak het, is dat sy nie meer kon date nie. “Ek is lief vir dating,” erken sy.

“Nie noodwendig om my trouman te ontmoet nie, maar om soveel nuwe mense te leer ken. Ek het sommer een of twee keer ’n week op ’n date gegaan.” Toe word die kraantjie toegedraai met die dreigende corona-krisis. Die maat-skappy vir wie Carryn-Ann werk, het twee weke voor die amptelike lockdown besluit werknemers moes van die huis af werk. Sy het die Tinder dating app op haar foon delete.

“Ek het gehou van die mistery van dating. Skielik was daar geen toenadering, geen ontmoetings nie, en dit was ’n aanpassing.” Hoewel sy nog nie weer date nie, erken Carryn-Ann sy het hier en daar te veel posts gelike en ’n lang gesprek gehad met iemand met wie sy nie noodwendig voor lockdown sou chat nie.

“Ek het altyd gesê ek gaan op 35 iemand ontmoet, maar ek weet nie of dit nou gaan gebeur nie.”

Enkellopende mense ervaar nie almal dieselfde gevoelens nie; nie weens hul verhoudingstatus nie, maar as gevolg van hul persoonlikheidstipe, verduidelik Shelley Lewin, die stigter en eienaar van The Relationship Architect, wat coaching en berading verskaf. “Verhoudingstatus is nie eintlik die groot hindernis in lockdown nie. Die grootste uitdaging, óf jy enkel is óf ’n paartjie, is vir die ekstroverte socialites. Baie enkellopendes ervaar isolasie as ’n plesier omdat hul introverte persoonlikheid ‘genoeg’ sosialisering kry deur digitale platforms. Ander ly weer verskriklik omdat hulle energie verkry en hul batterye herlaai deur mens-tot-mens-interaksie,” sê sy.

Só is daar ook mense wat alles noukeurig volg van wat ander mense op sosiale media post en dan hulself bejammer of vaskyk teen wat ander mense het en hulle nié het nie. Volgens die webblog blogs.webmd.com verbeel mense wat nie deel is van ’n paartjie nie, hulle dat almal anders gelukkig is in lockdown.

“Die realiteit is minder idillies. Baie mense is single, seperated, geskei, ongelukkig getroud of weduwees. Diegene in gelukkige huwelike het dalk ernstige siektes, mense wat by hulle bly wat hulp nodig het, of hulle het geldprobleme of ander groot konflik in hul families. Dié goed kan nie jou situasie verander nie, maar dit kan jou help om minder geïsoleerd te voel,” lui dié blog.

Doen dit só

Shelley sê singles hoef nie in sak en as te sit nie – jy kán date, maar jy moet dit met groot omsigtigheid doen, gegewe al die risiko’s. “Daar is geen rede hoekom jy nie iemand kan ontmoet en digitaal kan date in lockdown nie. Dit is veilig om potensiële partners uit te sorteer, te screen en te evalueer deur sosiale media en dating sites. Dis ’n perfekte geleentheid om mekaar goed genoeg te leer ken voor julle mekaar in lewende lywe ontmoet. Om die chemistry van nabyheid weg te vat, help om ’n beter emosionele konneksie en intimiteit met iemand te bou.”

En jy kán sien hoe iemand lyk as julle online begin date. Foto’s alleen is nie ’n bewys nie, want die persoon kan jou dalk catfish (voorgee om iemand anders te wees). Die eenvoudigste ding om te doen, is deur video call en indien die persoon weier, is daar ’n slang in die gras. Sy sien nie kans vir dating in dié tyd nie, sê Salomé Arendse (47) van Kraaifontein in die Kaap.

Salomé was lank verloof, maar ná te veel drama en stryery het hulle verlede jaar die verhouding verbreek. “Ek het nogal baie alleen gevoel daarna en sal like om weer iemand te ontmoet. Maar ek het ’n dogter van 16 en om nou in die lockdown met iemand deurmekaar te raak, gaan nie goed wees nie. Ek moet aan ons gesondheid dink. Dís belangriker as vir my om nou ’n man te het.”

Daar is ook paartjies wat die lockdown met groot entoesiasme begin het, maar halfpad deur uitvind dat die volgehoue nabyheid die lelike kant van hul verhouding uitbring. En dan ewe skielik, breek hulle op en bevind hulle single. Dis een ding om op te breek en dan elkeen sy eie single gang te gaan, maar dis ’n perd van ’n ander kleur as julle nog dieselfde huis móét deel. Shelly sê om op te breek in lockdown is nie ideale en ’n wyse besluit nie, want jy is nie in staat om letterlik weg te loop nie.

“In die ergste geval, as julle steeds onder een dak moet bly, wees ordentlik en hoflik met mekaar. Gebruik die tyd om aan te pas om single te wees voor jy jouself weer in die dating wêreld begewe. Aanvaar die werklikheid van die situasie met jou eks in kwarantyn en fokus op harmonie, anders gaan dit ’n rowwe tyd wees.” So as jy single is en steeds jou ridder soek, kan jy hom nog vind, maar eerder in die veilige virtuele omgewing. Want met die corona-krisis wat nog sy hoogtepunt moet bereik, het jy té veel om te verloor.


STATISTIEKE

Sedert lockdown wêreldwyd begin het, het aanlyn dating só toegeneem:

• Op 29 Maart het Tinder meer as 3 biljoen swipes wêreldwyd getoon, meer as enige ander dag in die geskiedenis van die dating app.

• Italianers se chats op Tinder het met 29% toegeneem in hul sewende week van lockdown.

• In Brittanje se vyfde week van lockdown het 12% meer mense daagliks op Tinder gechat.

• Op die app Hinge, het 70% van sy gebruikers gesê hulle sien kans vir virtual dating op Zoom, FaceTime of ander video-platforms.

• Die dating app Bumble, het ’n toename van 35% ondervind en 21% toename in video calls. Die gemiddelde video call het 14 minute geduur op dié app.

Meer oor:  Virtual Dating  |  Kuier  |  Lockdown
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.