Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Liefdesraad deur Antie Val
8 Augustus 2018

Vraag: Man betas glo meisies

Antie Val, ek is al agt jaar getroud. My man het ’n groot probleem. Hy betas glo jong meisies, maar hy ontken dit elke keer. Dink Antie vyf verskillende mense van verskillende plekke kan almal lieg oor dieselfde ding? Ek is raadop. Help asseblief. Ek is op pad skeihof toe. - Keelvol

Antwoord: Beste Keelvol

Oe jinne, Antie kry glad koue rillings tot in haar kleintoontjie . . . Ons lewe in ’n baie siek wêreld en tyd. Waar ’n rokie trek, is daar gewoonlik ’n vuurtjie. Het jy al iets vreemds in sy gedrag agtergekom die afgelope agt jaar?

Jy behoort hom beter as enigiemand anders te ken. Hoe reageer hy wanneer jy met hom praat oor die aantygings teen hom? Een keer is een keer te veel, wat nog van vyf keer! Dié is tronksake. Onthou, as jy iets weet of uitvind en jy sê niks nie, is jy netso skuldig en jy sal vir ewig met jou gewete moet saamleef.

Praat met hom, maar hou jou eie veiligheid in gedagte. ’n Mens weet nooit waartoe sommige mense in staat is as hulle gekonfronteer word met hul slegte dade nie. Jy sal hom met alle mag en krag moet probeer oorreed om vir berading of hulp te gaan. Daar baie sulke instansies wat seksverslaafdes help rehabiliteer. Doen wat jy moet doen en breek weg, want as hy skuldig is, is hy siek. Red jouself en ander onskuldige jong meisies. Sterkte.

Vraag: Vry met buurvrou

Ai, Antie, ek sit met ’n groot probleem. Ek en my man is pensionarisse, maar my man het ’n verhouding met ons buurvrou. Ek het eers verlede jaar daarvan uitgevind, maar dit was toe al twee jaar aan.

Hy het dit toe kamma gelos, maar hy is nog omtrent elke dag tot snags en soms soggens in haar huis. Dan sê hy vir my hy kuier by haar man. Hulle drie drink saam en as hy watter tyd ook al by die huis kom, wil hy baklei. Hy het vir my gesê hy is lief vir haar. Hy wil nie skei nie en ek het nêrens om te gaan nie. Wat doen ek? - Hartseer

Antwoord: Beste Hartseer

Dit lyk vir my asof hy smaak om sy brood alkant gebotter te hê. Die een kant miskien ’n bietjie dikker as die ander kant. Was hy maar al die pad so uit die wil uit? Miskien is dit tyd dat jy jou voet neersit en hom skrik maak. Jy sal hom moet sê jy gaan die vrou se man sê van sy verhouding met sy vrou.

As hy steeds nie wil ophou nie, moet jy oorgaan na die volgende stap. Jy sal miskien by familie of vriende waar jy veillig voel, moet gaan bly. Daar is altyd ’n uitkoms. As jy oorweeg om te skei, is jy geregtig op die helfte van al jul besittings as julle binne gemeenskap van goedere getroud is – huis ingesluit, so jy sal nie op straat sit nie. Dit kan regtig nie so aangaan nie. Jy is nie sy slaaf nie en jy verdien ook geluk.

Vraag: Ongelukkig in eie huis

Wat maak jy as jy in ’n huis bly met drie kinders wat stief is en net twee kinders het matriek? Ek het gaan werk, maar alles wat ek doen, is verkeerd. Hulle is met niks tevrede nie. Hoe maak ek? Ek is bang as ek uittrek gaan dit ’n probleem wees. - Vasgevang

Antwoord: Beste Vasgevang

Ek aanvaar jy praat van jou stiefkinders wat jou so stief behandel en opwerk. Ek hoop jy het al met jou partner of man gepraat oor die kinders se gedrag. Soms word mens ’n vreemdeling in jou eie huis. Die kinders luister en waardeer jou nie.

Vandag se jongspan dink mos hulle ken alles. Jy gaan werk dan nog pligsgetrou vir die huishouding. Net bedorwe brokkies gaan so aan en waardeer niks. Uittrek se voet – jy bly net daar. Jy sal moet sterk wees en ferm optree. Wees vir al die kinders in die huis die beste ma tot die beste van jou vermoë, maar moenie dat hulle oor jou loop nie. Dit het dalk tyd geword vir ’n huisvergadering.

Vra iemand na aan julle (’n broer, suster of die dominee) om as bemiddelaar op te tree. Almal kan ’n gelyke kans kry om te praat. Praat dinge uit totdat die vrede en understanding is soos dit moet wees.

Antie Val is nie ’n mediese dokter of kliniese sielkundige nie. Sy en Kuier is nie verantwoordelik vir probleme wat kan voortspruit uit die raad nie.

Illustrasie: Ryan Carolisen


Die artikel verskyn in die 8 Augustus-uitgawe van Kuier-tydskrif. 


Meer oor:  Antie Val  |  Verhoudings  |  Kuier  |  Liefdesraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.