Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Loopbaan: Embrioloog skep lewe in die lab
19 Februarie 2020


Toe sy klein was, het sy altyd saam met haar ma Bold and the Beautiful gekyk en sy was mal oor Brooke Logan. Sy het daarvan gedroom om eendag, soos Brooke, met ’n spierwit jas in ’n laboratorium te werk. “Ek het nie eintlik geweet wat ek in die lab wou doen nie, net dat dít die plek is vir my,” sê Hughlene Baker (39) van Plumstead in Kaapstad vrolik.

En vandag, jare later, skitter sy in ’n jas van haar eie en bewaarheid sy daagliks ander mense se diepste hartsdrome. Ná skool het Hughlene kliniese tegnologie aan die Technikon Vrystaat (nou Central University of Technology) in Bloemfontein studeer. In haar derde jaar moes sy een van agt spesialis-rigtings kies en die reproduktiewe afdeling het vir Hughlene loshande bo die res uitgestaan.

“Nadat ek die slides met die spermselle wat swem onder die mikroskoop gesien het, was ek baie geïnteresseerd en het besluit om in reproduktiewe biologie te spesialiseer.” Vandag is Hughlene ’n embrioloog by Cape Fertility Clinic (CFC) – die grootste in vitro fertilisasie-kliniek in Suid-Afrika. ’n Embrioloog werk saam met dokters om hul pasiënte te help met voortplanting-issues. “Ons is die mense in die agtergrond wat die babas maak,” verklap sy trots. Hoewel die dokters pasiënte ondersoek en op hul behandeling besluit, is dit Hughlene en haar span wat die delikate proses moet behartig.

Hoe werk dit?

Die embrio’s word deur ’n mikroskoop bestudeer.
Die embrio’s groei vir vyf dae in ’n broeikas.

In die kliniek se wagkamer ervaar jy ’n gevoel van stille optimisme. Dit is vir die meeste van die pasiënte hul laaste kans om hul droom van ’n baba van hul eie te verwesenlik en die fertiliteitspan is amper soos hul wonderwerkers. “As couples na ons toe kom, kan jy maar verseker weet hulle het probleme om self te kan swanger word, so ons help hulle ’n bietjie uit,” verduidelik Hughlene.

Volgens haar is ongeveer 80% van hul pasiënte van oorsee. Dit is nie net omdat CFC ’n wêreldklaskliniek is nie, maar omdat die meeste ander lande nie toelaat dat ’n vrou haar eierselle aan iemand anders skenk nie. Tog word ’n vrou se eierselle, soos sy self, met die jare ouer en dis nie altyd meer moontlik of die beste opsie om haar eiers te bevrug nie. Dis dan wanneer ’n skenker die verskil kan maak. Jy ontvang naamlose profiele met beskrywings van die skenker se voorkoms en kies dan die een wat jy wil hê. In Suid-Afrika is die skenkingsproses – hetsy spermselle of eierselle – heeltemal anoniem.

Volgens die wet mag die pasiënt en die skenker geen kontak hê nie. As jy sukkel om swanger te raak, kan dit ’n emosionele en finansiële tol eis en baie mense kan nie die teleurstelling een keer elke maand verwerk wanneer hulle wéér nie swanger geraak het nie . . . Maar danksy die werk van mense soos Hughlene is daar tog hoop. Só vertel een van CFC se pasiënte op Facebook haar storie.

“Ek het baie issues gehad; agt miskrame en ’n septum. My eiers was nie goed nie en ek het alle hoop verloor. Maar vandag is ek die trotste mamma van ’n pragtige seuntjie. Ek het nooit gedink dit kan gebeur nie! Ek sal volgende jaar terug wees om vir hom ’n boetie of sussie te kry. Soos ek hierdie skryf, stroom die trane van geluk oor my wange.”

By CFC spesialiseer hulle in die ICSI-prosedure (intracytoplasmic sperm injection). Die waarborg op bevrugting is groter as met die ander prosedures. Die vrou ontvang hormoon-behandeling sodat haar liggaam eiers kan maak. “Gewoonlik ovuleer vroue een eier per maand. Met hierdie behandeling stimuleer die dokters die vrou om tussen 15 en 20, of selfs meer eierselle vry te stel,” sê Hughlene.

Daarna word ’n hele paar eierselle in teater, trans-vaginaal (deur die vagina) onttrek van die vrou se eierstokke. In die laboratorium word hierdie eierselle skoongemaak, en dan met gewasde spermselle ingespuit om bevrug te raak. Met in vitro fertilisasie (IVF) word die eiersel en ’n klomp spermselle in ’n petribakkie gelos om self te bevrug. Dit is ook interessant om te weet as een of albei ouers MIV-positief is, kan die baba gesond en sonder die virus gebore word, want die selle is nie infekteer met die virus nie.

Die geboorte moet egter met ’n keisersnee wees sodat die baba nie met soveel van die ma se bloed en liggaamsvloei-stowwe in aanraking kom nie. By ICSI word een spermsel, wat nie met die blote oog gesien kan word nie, in ’n eiersel ingespuit. Alles word met fyn instrumente en ’n mikroskoop gedoen. Die bevrugte embrio’s word dan in ’n broeikas gegroei vir vyf dae en daarna in die vrou se baarmoeder teruggesit of gevries vir toekomstige inplanting. Net die heel beste embrio’s word gebruik en daar word op die meeste twee op ’n slag ingeplant.

Kies die beste embrio

Die gang na die laboratorium is vol vreemde houers – dit lyk amper soos groot staalkegels. Dit is hier waar embrio’s gevries word. Al hierdie houers is vol moontlikhede, drome en hoop. Wanneer jy in die laboratorium instap, is dit moeilik om te glo dít is waar die wonderwerke gebeur. Jy kan jou amper nie indink dat, terwyl jy in hierdie steriele, stil vertrek staan, die masjiene rondom jou besig is om lewe te skep en te kweek nie. Gewoonlik sal net omtrent 60% tot 70% van die eiers bevrug word en 40% tot 60% van die bevrugte embrio’s hou nie tot die vyfde dag nie. Net 5% tot 7% van die embrio’s word op die einde van die dag gebore as ’n baba.

Dis ’n klomp geld en baie keer is dit hul laaste hoop vir ’n babatjie. Jy kan nie bekostig om ’n fout te maak nie.

Volgens Hughlene is daar ook baie etiese en morele kwessies betrokke by hierdie werk. “Die algemene riglyn is byvoorbeeld om maksimum twee embrio’s in te plant, al wil baie pasiënte meer hê.”

Baie vroue is teen die tyd wat hulle by die kliniek aankom, al ouer of het moontlik ’n risky mediese geskiedenis. Daar is ’n 20% kans dat albei embrio’s sal oorleef. Die kommer is of die vrou meer as een baba suksesvol tot geboorte kan dra en indien wel, of sy met twee of meer kinders sal kan regkom. Hulle kan die embrio’s wat nie ingeplant word nie, vries om later te gebruik as dit goeie gehalte is en dit die pasiënt se keuse is.

Baie pasiënte wil graag hê die embrio’s moet getoets word om seker te maak dit het nie sekere oorerflike siektes of genetiese toestande nie. Tydens hierdie toetse kan embrioloë ook die geslag van die embrio sien.

’n Embrioloog mag egter volgens wet glad nie vir die pasiënt sê wat die geslag is nie, want hulle moet ook altyd die beste gehalte embrio gebruik ongeag die geslag. Die moeilikste deel van haar werk is vir Hughlene die intense druk. “Dis ’n klomp geld (ongeveer R69 000) wat mense moet betaal en baie keer is dit hul laaste hoop vir ’n babatjie. Dit rus op jou skouers. Jy kan nie bekostig om ’n fout te maak nie.”

’n Embrioloog mag nie ’n af dag hê nie. Die werk moet áltyd eksie-perfeksie wees. Dit verg intense fokus en akkuraatheid. Tog is die uitdaging om haarself gedurig op te skerp en die nuutste kennis oor haar veld te kry, baie lonend. “Die veld is vir my baie interessant en dit verander en ontwikkel die hele tyd. Dié maand sal ons iets nuuts leer en oor twee maande is dit al weer anders. So jy moet jouself die hele tyd update oor wat aangaan in onse veld wêreldwyd, sodat jy wêreldklas kan bly.”

Maar die kersie op die koek, die beste deel van haar werk, is die wete dat Hugh-lene so ’n groot verskil maak in die lewe van ander. Sy, wat ’n dogter het, weet watter vreugde kinders in jou lewe kan bring. “Baie van die mense wat hier kom, is desperaat. Ons is hulle laaste hoop.”

Vir Hughlene is daar nie eens ’n kwessie oor wanneer lewe begin nie. Die spermsel is lewendig, die eiersel is lewendig en as jy die twee bymekaarbring wanneer bevrugting plaasvind, begin ’n nuwe lewe!

Meer oor:  Embrioloog  |  Kuier  |  Loopbaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.