Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Loopbaan: Enkelma werk met bomme
1 Oktober 2020


As jy bang is vir hoogtes of ’n waterfobie het, bly weg! Só ook as jy glad nie in klein spasies kan wees nie. Dít, sê lt.kol. Daphney Gada, is die basiese vereistes vir iemand wat dit oorweeg om haar tipe werk te doen.

Daphney (41), ’n enkelma met ’n graad in polisiepraktyk, is ’n bomopruimingstegnikus in die plofstofeenheid van die polisie in Pretoria. Dit beteken dat sy haar gereeld op tonele bevind waar ’n OTM so pas opgeblaas is of ’n cash-in-transit-rooftog plaasgevind het. In baie van hierdie gevalle bly lewende plofstof agter wat sy dan as deel van die beveiliging van die toneel onskadelik moet stel.

Uiteraard verg dit nie net hoogs gespesialiseerde opleiding en uiterste konsentrasie nie, maar ook dat sy emosioneel en geestelik sterk moet wees. En dit terwyl sy vir haar eie veiligheid ’n bompak moet dra wat nagenoeg 36 kg weeg!

In kort: In hierdie beroep stel jy jou lewe in gevaar om ander mense veilig te hou. Hoewel dit in groot mate ’n onvoorspelbare werk is, het dit ook sy roetine- en meer voorspelbare take. Die betrokke eenhede reguleer al die plofstowwe in die land, verduidelik Daphney, en wanneer sy soggens by die werk kom, sal sy heel eerste uitvind wat in terme van plofstofbeheer op haar wag.

Gewoonlik behels dit die uitreik van permitte aan mense wat met plofstof werk. Of inspeksiewerk by polisiekantore. Daar kan ook van haar verwag word om plekke en voertuie veilig te verklaar voor VIP-geleenthede of groot sport- en ander byeenkomste. Maar wanneer dit kom by die nagaan van verdagte pakkies in openbare plekke, bomdreigemente of misdaadtonele waar bomme of ander ploftoestelle onskadelik gestel moet word, kan daar nie dagboek gehou word nie.

“Hier kan jy eers intree nadat iets gebeur het.” En jy weet nooit wat vir jou voorlê nie. Die een dag kan van jou verwag word om teen ’n gebou op te klim om plofstof te gaan verwyder, vertel Daphney, en die volgende dag moet jy dit uit ’n rivier of dam gaan haal. Sy is ook opgelei om ’n robot te gebruik, indien nodig.

Lewe en familie

Dat sy gewoonlik snags na misdaadtonele toe moet uitgaan, beteken dat sy te alle tye gereed moet wees. Dis dan wanneer Daphney haar swaar bompak en ander toerusting regkry en vrou-alleen in haar voertuig klim, met haar oudste kind wat haar besorgd afsien, die deur sluit en hul huis se alarm aansit soos sy wegry.

Doen navorsing oor watter loopbane in die polisie beskikbaar is. Daar is baie moontlikhede.

Op 18 is hy die enigste van haar drie kinders wat werklik oud genoeg is om te verstaan wat haar werk behels, en uiteraard is hy maar altyd bekommerd dat sy ma iets sal oorkom. Enigiets kan natuurlik verkeerd loop, sê sy sag. En terwyl sy daar op die toneel besig is, is daar as ma altyd die een gedagte wat oor en oor deur haar kop maal: As iets hierdie keer verkeerd loop, wat gaan van my kinders word? Maar hul opleiding is baie intensief, voeg sy dadelik by.

“Dit is op só ’n manier gestruktureer dat jy presies weet wat jy doen. Jy weet wat die risiko’s is.” Vra ’n mens haar wie die grootste invloed op haar lewe gehad het, kom dit sonder huiwering: “My pa. Hy was in die polisie en het later besigheidsavonture nagejaag. My ma is in 2018 oorlede en hy bly steeds in Krugersdorp, waar ons opgegroei het.”

In haar grootwordjare was haar pa die enigste man tussen vier vroue: haar ma en hulle drie meisies, met haar as die oudste kind. En sy glo hy het ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van haar persoonlikheid. “Hy is ’n sterk persoon met ’n sterk persoonlikheid. Hy het ons nie as meisies grootgemaak nie en seker gemaak dat daar dissipline was. Hy het my baie verantwoordelikheid geleer.”

Lt.kol. Daphney in haar bompak.

Haar pa het hulle nooit geslaan nie, maar hulle gestraf deur sekere regte weg te neem. “As ek byvoorbeeld R5 vir middagete gekry het, sou dit tot R1 verminder word. Of hy sou jou straat-speeltyd verminder of wegneem. En dis iets waarvan ek baie gehou het,” lag sy. Dalk het die manier waarop sy grootgeword het ook daartoe bygedra dat sy nie regtig vriende het nie, voeg Daphney by.

Sy beskryf haarself as ’n werkolis wat haar tyd verdeel tussen haar werk en haar drie kinders van onderskeidelik 18, 7 en 1. Daphney het destyds as buswaardin vir die Interkaap Mainliner-langafstanddiens gewerk toe sy ’n advertensie opmerk waarin die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nuwe rekrute soek. Hoewel sy destyds haar werk geniet het, veral die geselsies met ouer mense, het sy besluit om aansoek te doen omdat sy nog altyd haar land wou dien. Ná ’n mediese ondersoek en psigometriese toets het haar loopbaan in blou in 2004 afgeskop.

Sy het nie van die begin af geweet waarnatoe haar pad in die polisie sou lei nie, maar aan haar werkywer en nuuskierigheid was daar geen keer nie. Daphney het haar van onder af opgewerk en was onder meer drie jaar lank hondehanteerder vir die K9-eenheid – iets wat sy baie geniet het. “Ek sal dit enige tyd weer doen,” sê sy entoesiasties. “Ek is mal oor honde.”

Oor die jare het sy in haar kursusse met plofstof te doen gekry. Dit het haar belangstelling só geprikkel dat sy in 2009 aansoek gedoen het om as bomopruimingstegnikus en plofstofinspekteur opgelei te word. Vele kursusse later en met ’n BA-graad in polisiepraktyk, beklee sy deesdae die rang van luitenant-kolonel en lei sy self kollegas op – iets wat haar tot twee weke van die huis af kan neem.

Gelukkig het sy iemand wat tuis met die kinders help. Hoewel sy effe tred verloor het met getalle, raai sy dat net sowat 15% van alle bomtegnici landwyd tans vroue is. Hoe bly sy geestelik sterk vir so ’n uitdagende werk? “Ek is ’n Christen en ek gaan kerk toe,” kom die bondige antwoord.

Ná 16 jaar in die polisie is haar raad aan jong polisiebeamptes of diegene wat in ’n polisieloopbaan belangstel: “Doen navorsing oor watter loopbane in die polisie beskikbaar is. Daar is baie loopbaanmoont-likhede en jy moet net uitvind waarin jy goed is.”


Word so ’n bomopruimingstegnikus

In Suid-Afrika werk bomopruimers gewoonlik vir die polisie.

Alle polisierekrute ondergaan aanvanklik basiese opleiding van ’n jaar, waarna hulle gewoonlik by ’n polisiekantoor gewone polisiewerk doen soos die hantering van navrae/klagtes, patrolliediens en die inhegtenisneming van verdagtes.

Hulle kan dan besluit of hulle verder wil spesialiseer, en in watter rigting. As jou kop in die rigting van bomopruiming staan, sal dit jou tussen drie en vier jaar neem om al die kursusse te voltooi.

Volgens Willem Els, senior opleidingskoördineerder in teenterrorisme by die Instituut vir Sekerheidstudies – wat die opleiding van alle bomopruimers in Oos-Afrika insluit – is die basiese kursus nagenoeg ses weke lank.

Daarna sal spesialiskursusse in onder meer robotika, elektronika, gevorderde ondersoekwerk op tonele, hazardous materiale asook chemiese, biologiese en radiologiese teenmaatreëls volg.

Maar jou opleiding stop nooit nie. Daarna moet jy elke 24 maande ’n opknappingskursus ondergaan sodat jy die jongste tegnieke geleer kan word.

* Besoek www.saps.gov.za/careers/careers.php as jy in ’n loopbaan in die polisie belangstel.

Meer oor:  Kuier  |  Loopbaan  |  Bomopruimingstegnikus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.