Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ma ontsnap erge mishandeling
19 Februarie 2020


Toe sy maar sewe jaar oud was, het sy een van haar ma se mans wat besig was om haar aan te rand, van die ouer vrou afgestoei. Mishandeling was deel van wie sy was – dit was waaraan sy gewoond was.

En toe Ayla Losper (27) van Ottery in die Kaap jare later self ’n slagoffer word, het sy vir ’n lank tyd gedink sy verdien dit. Maar op ’n dag, nadat die liefde van haar lewe Ayla amper doodgeslaan het, het sy besef haar dogters verdien beter en besluit sy wat Ayla is, gaan die een wees om die kringloop van geweld te verbreek. “Ek en my eksman het ontmoet toe ons lewensredders was. Ek was ’n WP-swemmer en hy was ’n strandlewensredder, so ons het baie in gemeen gehad en dieselfde tipe goed geniet. Ons persoonlikhede was baie dieselfde en ons het netso goed geblend,” onthou Ayla. Haar eksman was ’n senior lewensredder en sy het onder hom gewerk.

“Ons was op dieselfde crazy journey van die lewe ontdek en geniet.” Tog, as sy nou terugkyk, besef Ayla die tekens van sy donker kant was eintlik van die begin af daar – selfs toe hulle nog net vriende was. “ ’n Mens merk nie altyd die waarskuwingstekens op nie, veral nie as jy verlief is nie. Ons het baie keer speel-speel baklei en ek het toe al opgemerk hy gee nie om om ’n vrou te slaan nie – al was dit net vir die grap.” Hul argumente het ook stelselmatig meer fisies begin raak, mekaar gestamp en stoot en haar eerste groot skok was die dag toe hy haar met ’n baksteen wou gooi. Maar dit het eintlik met emosionele mishandeling begin.

Hy het vir Ayla dag vir dag, stukkie vir stukkie afgebreek totdat sy gedink het sy verdien dit om sleg behandel te word. Vir haar wat grootgeword het sonder ’n pa, was haar man haar alles, haar “persoon”, haar vertrooster en beskermer. “Ek het my hele hart en my lewe met hom gedeel. Maar as hy kwaad was, het hy dit teen my gebruik. Hy het ook altyd vir my gesê my gevoelens en opinies maak nie saak nie.”

Ná ’n rukkie het hy haar met kos begin gooi. “As ek iets gemaak het wat nie na sy smaak was nie, het hy met dit gegooi terwyl hy geskree het ek is nie ’n goeie girlfriend nie en ek versorg hom nie mooi nie.” Maar dit was eers ná hul verlowing dat die volslae gewelddadige mishandeling toegeneem het.

Dogter verander niks

Mense kan nooit verstaan hoekom vroue in hierdie tipe verhoudings bly nie. Maar dit gebeur nie oornag nie. Wanneer ie-mand jou breek, net ’n bietjie op ’n slag, verbrokkel jou selfvertroue en selfbeeld totaal en al sonder dat jy dit eens agterkom. En dan, op ’n dag, is jy heeltemal afhanklik van die man wat jou so verniel. “Partykeer, as ek oor hierdie goed praat, kan ek nie glo ek is daardeur nie. Ek kan nie verstaan hoe ek dit toegelaat het nie, en tog . . .” Op hul troudag het die paartjie uitgevind Ayla is swanger.

“My hart en siel het in trane uitgebars! Ons was so gelukkig en opgewonde oor Isabel (nou 3),” onthou sy. En vir ’n ruk lank het die mishandeling opgehou. Dit was asof haar man probeer het om die perfekte eggenoot te wees. “Wat ook al ek nodig gehad het, het hy voor gesorg. Hy het ook besluit ek mag nie meer werk nie, hy sal die broodwinner wees.”

Sy sê dit is êrens in hierdie tyd wat haar man begin tik en kokaïne gebruik het om langer te kan wakker bly en so meer skofte as Uber driver te kan doen. Maar die vrede wat Ayla tydens haar swangerskap ervaar het, het nie lank gehou ná die geboorte nie. Sy vertel kort voor lank was haar man weer besig met sy ou stamp-en-stoot-streke. Ayla vermoed die finansiële spanning van net een pay-pakkie, asook die verantwoordelikhede en chaos wat met ’n nuwe baba gepaard gaan, was snellers wat hom tot die uiterste gedryf het.

“Dit was eers weer net emosioneel, toe begin hy kos rondgooi en toe Isabel ’n maand oud was, was hy weer sy ou self. Hy het begin om my aan my hare te gryp, rond te sleep en teen mure vas te gooi en teen die bors te slaan.” Enigiets kon hom laat ontplof en hulle het oor alles baklei – haar kos, haar kleredrag, haar gedrag . . . Niks, maar niks wat sy gedoen het, was ooit reg of goed genoeg nie en dít het hom woedend gemaak. “Ek het maar net gedink ek is nie goed genoeg vir hom nie.”

Ayla Losper en haar oudste dogter, Isabel, het saam deur hel gegaan toe haar eksman hulle mishandel het. Sy het uiteindelik die moed bymekaargeskraap om hom te los ter wille van haar kinders.

Op daardie stadium was Ayla maar net te dankbaar dat hy nie hul babatjie seermaak nie. Maar selfs dít het nie lank gehou nie. “Sy was seker so agt maande toe hy die eerste keer vir Isabel saam met my by die trappe afgegooi het,” sê Ayla saggies en staar vir ’n rukkie by die venster uit terwyl sy sluk aan haar trane. Dit gaan ’n mens se verstand te bowe dat iemand so ’n klein, onskuldige babatjie – en dit nog jou eie dogter – doelbewus en met soveel haat, herhaaldelik kan seermaak. Vir ’n ma om dit te moet aanskou, is iets waarvan jou hart nooit sal herstel nie. “Hy het nie meer omgegee vir wie of hoe seer hy ons maak nie. Hy sou my geslaan en geskop het. He just lost it . . .”

Wanneer Ayla vir Isabel geborsvoed het, het hy haar daarvan beskuldig dat sy hul baba as ’n skild gebruik. “Hy het geskree hy sal my deur haar lyfie slaan en dit toe ook probeer. Ek sou myself dan om haar vou om haar te beskerm. Baie keer het hy my so hard geslaan dat ek my bewussyn verloor of seizures gekry het,” onthou sy.

Sy glo vas God se engele het vir Isabel bewaar omdat die klein, fyn dogtertjie nooit ernstig seergekry het wanneer haar pa se woede om haar losgebars het nie. Ayla het in ’n angstige waan oorleef. Die vrees was altyd daar. Sy was konstant bang sy sê of doen iets verkeerd wat haar man se woede sal laat uitbars. Net om daaraan terug te dink, laat koue sweet op haar voorkop uitslaan.

Sy vee oor haar oë met bewerige hande terwyl sy hierdie nagmerrie-tyd herroep. “Vandag nog koes ek partykeer steeds vir ’n klap as ek iets doen wat hom daai tyd sou ontstel het,” erken sy. Niemand het geweet van die hel in haar huishouding nie. Ayla het haar blou kolle en seerplekke met klere en slim grimering bedek en met ’n moedige glimlag die wêreld in die oë gestaar.

Op sosiale media het sy pragtige foto’s van haar “perfekte” gesin gesit en niemand het geweet iets skort nie. Maar voor haar klein dogter se oë het Pappa dag ná dag in ’n monster verander. “Dit is Isabel, wat, toe sy maar net ’n jaar oud was, my bloed afgevee het, my trane afgedroog en my vasgedruk het wanneer hy my vermorsel het.” Terwyl Ayla vertel, begin die trane by haar wange afrol.

Isabel, wat in die hoek sit en teken, staan skielik op en kom sit op haar ma se skoot. “It’s okay, Mommy. I’m here,” fluister sy terwyl sy, soos in die verlede, haar ma se gesig afvee. Dit is vir Isabel se onthalwe dat Ayla uiteindelik op haar knieë gegaan en God gesmeek het om haar te help om haar man te verlaat. Sy kon nie toelaat dat haar dogter glo dis oukei vir ’n man om ooit iemand so te mishandel nie. “Partykeer het hy my so geslaan my oë het heeltemal toegeswel.

Dan kon ek net hoor hoe huil my baby vir my, maar ek kon haar nie sien nie. Hy sou dan dreig as ek aan haar raak, hy haar ook gaan bykom, en dan het hy ook. Dit was in híérdie huis. Op híérdie wit teëls. Partykeer as ek deesdae skoonmaak sien ek nog steeds die bloed op die vloere. Flashbacks van wat gebeur het. Teen daardie hoek het hy my soveel kere vasgegooi. By híérdie trappe het hy ons afgestamp . . .” beduie Ayla terwyl sy om haar rondkyk. ’n Paar keer het hy haar so verskriklik geslaan dat sy hospitaal toe moes gaan.

Soek uitweg

Op ’n stadium het hulle by sy ma ingetrek, maar selfs daar was sy en Isabel nie veilig nie. “Eendag het hy my voor sy ma begin slaan. Sy het vir Isabel net daar in die vertrek gelos en weggestap. Selfs toe ek na haar begin gil het, het sy nie kom help nie. Ná die tyd het sy vir my gesê dis my skuld, dat daar niks fout was met haar seun nie,” vertel Ayla afgetrokke.

Dit het vir haar gevoel sy is haar man se gevangene met geen kans om te ontsnap nie. Partykeer (Ayla vermoed die dwelms het dit vererger), het hy wakker geword – besig om haar te verwurg en te slaan. Sy het egter nooit ’n klag gaan lê by die polisie nie, want enersyds was sy lief vir hom en aan die ander kant het sy vir haar en haar kind se lewe gevrees. Ayla het ook gedink sy verdien die straf omdat sy nie goed genoeg was vir hom nie. Die afwaartse spiraal van hul lewe het ’n klimaks bereik die dag wat Ayla uitgevind het sy is swanger met Catherina (nou amper twee). Dit was die dag nadat sy vir God gevra het om haar te help. Nuus wat vir meeste paartjies verblydend sou wees, het haar man oor die afgrond gestuur.

“Ek weet sy het my lewe gered. Ek is so blessed om haar te hê, maar daai dag het hy my letterlik vir ’n paar sekondes doodgemaak,” snik sy. Hy het haar so erg geskop, geslaan en gemartel dat sy nie net haar bewussyn verloor het nie, maar haar hart vir oomblikke stilgestaan het. “Gewoonlik het hy opgehou as ek begin bloei het, maar daardie dag kon hy homself net nie stop nie. Hy het my in die maag geskop om die babatjie dood te maak. Ek het bygekom met hom wat CPR op my doen voordat hy my hospitaal toe gevat het.”

Hoewel hy haar nie daardie dag wou doodmaak nie, glo Ayla vas hy sou dit eendag reggekry het as sy by hom gebly het. “Dis so jammer so baie vroue wag tot in die graf voordat hulle ’n abusive man los.” Die laaste strooi was nie hoe seer hy haar gemaak het nie, maar dat hy vir Isabel (toe 18 maande) by sy tikkop-vriende gelos het om met haar hospitaal toe te jaag.

Hy het geskree hy sal my deur haar lyfie slaan en dit toe probeer. Baie keer het hy my so hard geslaan dat ek my bewussyn verloor of seizures gekry het.

“Ek kan nie oor daai dag dink of praat nie. Dis net te erg. Vir die res van my lewe sal ek moet wonder wat my kind daardie dag moes deurmaak . . .” prewel sy. Dit is daardie dag wat Ayla besluit het om haar man finaal te los, al was sy nog so lief vir hom. Sy en Isabel het by haar ma ingetrek nadat sy uit die hospitaal ontslaan is.

“God het vir my ’n teken gegee wat ek nie langer kon ignoreer nie,” sê sy beslis. Haar grootste vrees was dat haar voorbeeld eendag daartoe sou lei dat haar dogters ook in die bose siklus se strik trap en met ’n mishandelende man trou. “My ma, my oom, my antie . . . Almal wat ek ken, was op ’n stadium mishandel. Dis amper al wat ek geken het toe ek grootgeword het. Ek wil nie hê my dogters moet ooit dink dis oukei nie.”

Terwyl hulle nog getroud was, het Ayla probeer om ’n beskermingsbevel teen haar eks te kry om hom te dwing om op te hou om haar te mishandel. Die dag wat die polisie by hul huis opgedaag het om dit aan hom te oorhandig, het sy vreesbevange by die huis uitgehardloop en die stuk papier weggegooi, vertel sy. Sy is nou twee jaar van hom geskei, maar het onlangs ’n beskermingsbevel teen hom gekry nadat hy haar en haar dogters by die hof gedreig het tydens ’n maintenance-verhoor. Juis hierom verkies Ayla om nie sy naam te noem nie. Wanneer mense deesdae vir Ayla vra hoekom sy so lank by haar man gebly het, is die antwoord eenvoudig.

“Vroue het 110% lief en ek het hom só liefgehad – met my hele hart. Ek het geglo hy sal verander, ’n beter mens word as ek beter doen,” sê sy en haal haar skouers op. Volgens haar is vroue altyd geneig om hulself te blameer as hulle mishandel word. “Maar ek het sedertdien besef dis nie ek nie, dis sý demone. Ek het hom vergewe, want ek weet nie wat hy moes deurmaak in sy lewe om op daardie punt te kom nie.”

Nuwe lewe

En só was Ayla se struggle nog nie verby nie. Hoewel sy uit die kloue van geweld aan die hand van haar man ontsnap het, het ’n diep, donker gat van depressie haar verswelg. “My lewe was aan skerwe. Ek kon net nie meer nie. My hart was net te seer. Ek het eendag vir Isabel by my ma gelos en op die randjie van ’n brug op die R300 gaan staan. Al waaraan ek kon dink, was om te spring. Maar toe skop klein Catherina binne-in my – amper om my te herinner ek het ’n rede om te lewe,” glimlag sy. Sy het van die rand afgeklim, inmekaargesak, haar maag vasgehou en bitterlik begin huil. Haar jongste kind het letterlik haar lewe gered.

“Dit was vir my ’n teken van God dat, alhoewel dit moeilik sou wees, ek dit kon doen.” Ayla het, stukkie-vir-stukkie die legkaart van haar lewe weer begin bou en vandag is dit haar meesterstuk. Deesdae doen Ayla verskeie werke om dinge by die huis aan die gang te hou. Sy is ’n au pair-bestuurder (dis amper soos ’n Uber-bestuurder, maar vir kinders), sy gee musieklesse en neem deeltyds foto’s. Haar pragtige klein dogtertjies doen internasionale modelwerk van tyd tot tyd.

Hierdie geld spaar sy sodat hulle eendag kan universiteit toe gaan. Die lewe is steeds nie maklik nie en die uitdagings as ’n enkelma raak soms effens oorweldigend. Tog is Ayla se optimisme aansteeklik. Sy pak die lewe met passie aan en haar droom is om vir ander mishandelde vroue te wys daar ís hoop vir die toekoms en dis helderder as ’n mens nie vernietig word deur iemand wat veronderstel is om jou lief te hê en te beskerm nie.

“Ek wil so graag hê vroue moet weet hulle is nie alleen nie, al voel dit só. Ek dink een van die redes hoekom ek so lank gebly het, was omdat ek gedink het ek is alleen.” Nadat sy onlangs oor haar ervaring op Facebook geskryf het, het ’n wildvreemde vrou haar uit Paarl gekontak. Ayla het dadelik in haar kar gespring en die vrou gehelp om uit haar huis te ontsnap en na ’n veilige hawe geneem. Haar huis is oop vir vroue wat swaarkry. Sy doen ook motiveringspraatjies. “Dit is belangrik dat vroue mekaar ondersteun en help. Dis ons werk!”

Vir Ayla is haar reis na herstel een wat sy dag vir dag vat. Sy word partykeer nog kwaad of hartseer, maar probeer om gesonde uitlaatkleppe vir haar emosies te kry, soos skryf, karate en musiek. En hoewel sy ná haar eerste huwelik nooit sou kon dink liefde sou haar weer beskore wees nie, het sy haar ridder op die wit perd gevind (toevallig haar laerskool crush!) en hy het aldrie hul harte gesteel. Maar dit is haar onvoorwaardelike liefde vir haar dogters, die onwrikbare band wat hulle deel, wat haar lewe gered het.

GESLAGSGEWELD

Volgens ’n onlangse studie deur die Universiteit van Kaapstad word 15% van swanger vroue deur hul maat mishandel.

Busi Mlombo van die departement van maatskaplike ontwikkeling se geslagsgeweld command centre verduidelik mishandeling verskil van verhouding tot verhouding en verskillende situasies en omstandighede. “Een man behandel dalk sy swanger vrou soos ’n koningin en begin haar eers weer slaan ná die geboorte. ’n Ander gee weer net nie om nie en hou aan ten spyte van die swangerskap.”

Gelukkig is swanger vroue meer geneig om by shelters aan te klop of hulp te kry wanneer hulle die kliniek besoek. As jy ’n slagoffer van geslagsgeweld is, kan jy die departement van maatskaplike ontwikkeling se geslagsgeweld command centre se noodnommer bel.

Die nommer is 0800 428 428. Jy kan ook *120*87867# dial om ’n “please call me” te stuur.

* Bron: https://bit.ly/3826I0c

Foto’s: Dale Fourie, Gallo Images/Getty Images

Meer oor:  Gesinsgeweld  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.