Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Ma se liefde is genoeg
11 Julie 2018


Eleanor skrik vervaard wakker. Ja-nee, dis Nicky wat so skree in die kombuis. Wat is dit nou weer?

Sy wil die duvet oor haar kop trek, maar dis al ná vyf en sy moet regmaak vir nagskof. Die hospitaal wag. Maar eers ’n koppie koffie. Sy kry Herschelle in die kombuis besig om op te was. “Nicky het met alles begin,” sê hy.

Elke keer as Nicky en Herschelle aanmekaar is, wens Eleanor sy kan verplaas word na ’n ander planeet waar alle dogters en hul stiefpa’s goed klaarkom.

“Ek weet dis nie jou skuld nie, Nicky is moeilik die afgelope tyd. Wat is dit nou weer?” wil sy weet.

“Sy wil môre-aand na ’n partytjie toe.”

“Natuurlik kan sy nie gaan nie. Dis in die middel van die week,” sê Eleanor.

Herschelle kyk haar gefrustreerd aan, asof hy wil vra hoekom sy nie meer passievol is nie, maar hy en Nicky se gedurige gestryery maak haar moeg.

“Ek sal met haar praat,” sê sy.

Dit lyk darem nou asof hy ontspan. Hy kom sit by die tafel by haar.

“Ek is seker maar nie goed met kinders nie, Eleanor. Miskien krap ek julle rustige bestaan net meer om,” sy stem bereik ’n nuwe laagtepunt.

“Jy weet dis nie waar nie, Hersch. Waarnatoe is Nicky?” vra sy.

Hy trek sy skouers op.

Sy haat dit om werk toe te gaan en nie te weet waar haar familie is nie.

“Sy is seker by Mammie. Ek sal nou-nou seker maak.”

Ná haar oproep voel sy beter. Nicky is by haar ma met klere en skoolrugsak en al. Sy stuur vir Herschelle ’n boodskap om hom gerus te stel.

Die volgende dag skrik sy eers voor twee die middag in ’n stil huis wakker. Noodgevalle was besonders besig en die nagpersoneel moes dit ontgeld. Haar oog val op haar en Herschelle se troufoto op die bedkassie. Wie het gedink sy sou ooit weer geluk vind ná Nicky se pa? Sy is gelukkig met Herschelle, maar as hy en Nicky net oor die weg kan kom.

Sy moet vir haar ma ’n boodskap stuur en waarsku oor Nicky se planne. Dalk was die stryery en die oorslapery by haar ouma ’n manier om seker te maak sy kom vanaand wel by die partytjie uit. Niks goeds gebeur waar dinge te lekker gaan nie en Nicky is heeltemal te gretig om by daai huis uit te hang. En nou nog ’n partytjie vanaand ook! Sy stuur vir haar ma WhatsApps, maar toe dit nie deurgaan nie, besef sy sy het nie airtime nie. Sy staan maar op en besluit om haar ma voor vanaand te laat weet.

Sy was die wasgoed, anders sal daar nooit ’n beter tyd wees om dit te doen nie. As sy weer na die tyd kyk, is dit Jo-Dean wat eerste by die huis kom.

“Ek het huiswerk waarmee Mammie my moet help,” knip hy sommer enige planne wat sy verder kan maak, kort.

“Ek weet niks van deesdae se skoolwerk meer nie,” probeer sy sy verwagting kortwiek, maar hy is reeds besig om die boeke uit te haal. Dít boonop wiskunde van alle dinge. Maar nie lank nie en hulle al twee is vasgevang in graad vyf-wiskunde. As dit lyk hulle staan einde se kant toe, verras hy haar met ’n vraag.

“Hoekom baklei Daddy en Nicky só?”

Die vraag van haar onkant en sy hou haar kamstig besig met ’n som om tyd te wen. “Hulle baklei nie, man. Hulle sukkel net om mekaar te verstaan,” sê sy.

“Dan is dit hoekom ek en my maatjie, Deon, so baklei. Ons sukkel om mekaar te verstaan,” beaam hy soos iemand wat tot ’n baie groot insig gekom het. Sy spring op en kies koers kombuis toe sodat hy nie haar glimlag kan sien nie.

Die horlosie in die kombuis bevestig dat haar middag daarmee heen is. Sy moet haar alweer regkry vir werk.

By die werk onthou sy eers sy moet haar ma laat weet van Nicky en haar planne om te gaan party. Sy bel haar ma van hul toonbank af. Dit neem nie lank om uit te vind dat Nicky wel na die partytjie is nie en dat haar ma onder die indruk is sy wat Eleanor is, het toestemming gegee vir haar om te gaan. Haar bloed kook. Wat laat Nicky dink sy kan daarmee wegkom? Die suster in bevel gee haar toestemming om die hospitaal vir ’n uur en ’n half op die meeste te verlaat. Miskien moet sy eers vir Herschelle gaan haal, sy weet nie in watter omstandighede Nicky haarself kan bevind nie.

Herschelle werk op sy rekenaar en Jo-Dean slaap. “Gaan saam met my, asseblief. Ek weet jy is besig,” pleit sy as sy verduidelik en hy haar ongeduldig aankyk. Natuurlik is hy nie gretig om vir Nicky te soek nie, nie ná hul onderonsie nie, maar hy staan op gaan maak hul hond, Snuffels, los en tel vir Jo-Dean op.

Sy ry reguit na Nicky se beste vriendin toe. Shannon is by die huis, sê dat sy genooi is na die party by Juandré, maar dat haar ouers haar nie laat gaan het nie.

Nou moet hulle net Juandré-hulle se huis kry waar die partytjie gehou word. As sy nie van beter geweet het nie, het sy gedink Juandré en Nicky het ’n ding aan. Die strate is stil en die harde musiek maak dat hulle vinnig die huis kry. Hulle hou stil en Herschelle kyk nie eens na haar nie. Sy sal alleen haar weg moet vind. Eleanor lui die deurklokkie ’n paar keer en dan swaai die deur skielik oop.

“Hallo, is Nicky hier? Sê vir haar haar ma soek haar,” sê sy ernstig.

Die jong man skree, maar die musiek is so hard niemand hoor hom nie.

“Wag, ek kom in,” druk sy verby hom.

Nicky sit met haar rug na die deur met ’n glas in die hand en Juandré se arm om haar nek. Hy fluister in haar oor. Eleanor raak so ontsteld dat die eerste ding wat sy doen is, om die glas uit haar hand te gryp. Die inhoud stort. Juandré spring op en druk iets in sy sak.

“En wie het nogal vir jou gesê jy kan party hou?” vra sy ontsteld.

Iemand sit die musiek sagter.

“Mammie, wat soek Mammie hier?” spring Nicky op verskrik. Dis asof sy nie eens weet wat by haar mond uitkom nie.

“Ek soek vir jou. Vir wie soek ek dan?”

Sy ruik aan die glas wat sy uit Nicky se hand gegryp het. Coke gemeng met alkohol. Dit ruik soos goedkoop brandy.

“Laat ons eerder huis toe gaan, voor ek jou net hier iets aandoen.”

Nicky loop sonder om ’n woord te sê motor toe. Herschelle wil nog iets sê, maar Eleanor kyk hom stil.

“En jy staan môre-oggend vroeg op en gaan haal jou sak by Ouma, want uit die skool gaan jy nie bly nie,” kry sy nog ’n laaste waarskuwing in, voordat hulle in die huis gaan en sy terug werk toe ry.

Dis toe voorwaar ’n lang aand by die werk. Sy vertel vir suster Mackenzie van Nicky se kwajongstreke, maar dit help maar min om haar beter te laat voel. Sy is besig om haar houvas op Nicky te verloor en sy weet nie hoe om haar in lyn te kry om die regte dinge te doen nie. As sy net op haar pa kon staatmaak, maar hy is te besig met sy eie gesin om nog vir probleme met Nicky kans te sien. Sy weet nie waar dinge verkeerd geloop het nie. Die een oomblik was Nicky nog kinderlik en gehoorsaam en die volgende oomblik is sy 16 en vol streke.

Die volgende dag is Eleanor besig om vir Jo-Dean ’n verjaardagkoek te bak vir die Saterdag toe Nicky uit die skool kom. Eleanor kan haar nie eens aankyk, sy was lanklaas so ontsteld. Enigiets kon met haar gebeur het en dan wat?

Snuffels se gekrap aan die kombuisdeur ruk haar terug. Sy maak die deur oop en jaag hom weg.

Sy is besig om die koek te versier toe sy ’n harde slag hoor. Sy dink onmiddellik dis Jo-Dean wat iets oorgekom het, want hy is nounet by die deur uit. Die mes val uit haar hand en sy en Nicky hardloop mekaar amper uit die pad uit om by die voordeur uit te kom.

Eleanor sug van verligting toe sy sien dis nie Jo-Dean nie. Maar met dit is dit asof ’n storm in haar gemoed loskom toe sy na Snuffels hardloop. Dis te laat, hy is dood en die een wat hom omgestamp het, is weg. Sy huil, maar dis eintlik meer van verligting dat sy nie ’n kind verloor het nie. Nicky staan en kyk magteloos toe. Dan help sy Eleanor om die hond tot op die sypaadjie te dra. Verward gaan sit Eleanor op die trappie op die voordeur en staar met betraande oë voor haar. Nicky kom langs haar sit.

“Ek is jammer oor gisteraand, Mammie. En Mammie was reg om bekommerd te wees. Gisteraand het Juandré gevra of ek wil coke doen. Dis daai tyd toe Mammie daar gekom het. Ek het nee gesê, maar hy wou my oortuig.”

“Ek weet ek is reg, Nicky. Ek het jou gesê daar gaan niks goeds aan nie. maar dis asof jy wil weghardloop van ons af? Wat gaan aan? Hoekom sukkel jy om vir Herschelle te aanvaar? Dis al twee jaar”

Nicky kyk haar ma net aan en die trane dam op in haar oë.

“Jy het my reg gehoor. Nicky, dit was en is nog nooit die geval van jy óf Herschelle nie. Ek is jou ma en sal altyd vir jou lief wees. Ek het vir Herschelle gekies om my lewe te deel omdat ek lief is vir hom. Julle hoef nie met mekaar te kompeteer nie, want ek kan julle albei steeds baie liefhê, sonder om enigeen te verstoot. Jy is nie jou ouma se kind nie, jy is my kind. Jy moet dit maar aanvaar en daarmee saamleef.”

Vir Eleanor voel dit asof ’n groot gewig van haar hart af is.

“Sal jy probeer om hom te aanvaar? Hy wil net die beste vir jou hê.”

“Ek sal probeer, Mammie. Ek is jammer ek ontstel julle só. Ek is net bang ek verloor Mammie. Dan is ek alleen.”

Eleanor trek haar nader en gee haar ’n drukkie, sy glimlag as Nicky haar na ’n paar sekondes probeer loswikkel.

“Ons moet vir Snuffels begrawe,” sê Nicky.

“Gaan ons vir hom ’n regte begrafnis hou?” wil Jo-Dean weet.

“Ja, natuurlik, gaan haal die gesangboek,” sê Eleanor. Toe hy terugkom met die boek, kom Herschelle ook by die huis.

Hulle sing gesange en gooi vir Snuffels toe. Hulle omhels almal mekaar en Herschelle gee vir Nicky ’n soen op die kop.

“Ek is jammer, my kind. Ek sal harder probeer,” sê Herschelle.

Die dood bring altyd bymekaar, al is dit dié van ’n troeteldier.

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.