Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Maak heerlike geregte met beesvleis
20 Augustus 2020

Geroosterde beesrib

Genoeg vir 6 – 8

BESTANDDELE

  • 2 teelepels droë pietersielie
  • 2 teelepels droë origanum
  • 1 mollige knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
  • 2 teelepels mosterdpoeier
  • 2 teelepels sout
  • 1 teelepel varsgemaalde swartpeper
  • 1 eetlepel olie
  • 2,5 kg prime rib

METODE

Meng al die geurmiddels en die olie in ’n bakkie. Vryf die mengsel in die hele rib. Sit die rib op die draadrakkie van ’n oondroosterpan met die beenkant na onder.

Sit in ’n voorverhitte oond van 220 °C vir 20 minute.

Verlaag die temperatuur tot 200 °C en maak vir so 1 uur en 40 minute gaar.

Die vleis behoort nog ’n bietjie pienk in die middel te wees. Haal die rib uit die oond, bedek losweg met foelie en laat 20 minute rus voordat jy dit sny.

WENK:

Skaf gerus vir jou ’n vleistermometer aan. Dis nie baie duur nie en dit haal die raaiwerk uit die rooster van só ’n kosbare stuk vleis.


Oondgebakte frikkadelle in tamatiesous

Oondgebakte frikkadelle in tamatiesous

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

Tamatiesous

  • 3 eetlepels olie
  • 3 middelslaguie, fyngekap
  • 3 mollige knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 2 teelepels droë origanum
  • 2 eetlepels tamatiepuree
  • 2 eetlepels balsemieke asyn
  • 2 x 400 g-blikke tamaties, geskil en gekap
  • 1 teelepel Tabasco-sous
  • 1 teelepel bruinsuiker
  • 1 eetlepel vars of 1 teelepel droë tiemieblaartjies
  • 1 koppie beesvleisaftreksel
  • Sout en swartpeper na smaak

Frikkadelle

  • 200 g swoerdlose strepiespek
  • 800 g beesmaalvleis
  • 1½ koppies vars broodkrummels
  • 2 eetlepels vars of 2 teelepels droë origanum
  • 1 eier, geklits
  • Sout en swartpeper na smaak
  • 2 eetlepels olie
  • 2 koppies mozzarella, gerasper
  • ¼ koppie parmesaan, gerasper

METODE

Tamatiesous:

Verhit die olie in ’n dieperige pan en voeg die uie, knoffel en origanum by. Sit die pan se deksel op en laat oor matige tot lae hitte prut tot sag en effens verkleur.

Skep die helfte van die mengsel uit in ’n mengbak en hou eenkant. Voeg die tamatiepuree en balsemieke asyn by die mengsel wat in die pan agtergebly het en meng goed.

Voeg die tamaties, Tabasco-sous, suiker, tiemie en aftreksel by en geur met sout en peper. Laat dit aanhou liggies prut.

Frikkadelle:

Kap die spek fyn in ’n voedselverwerker. Voeg dit by die uiemengsel wat jy eenkant in die mengbak gehou het. Meng dit met die maalvleis, broodkrummels, origanum, eier, sout en peper na smaak.

Gebruik jou hande en vorm frikkadelle so groot soos tafeltennisballe. Verhit die olie in ’n groot pan en verbruin die frikkadelle alkant in sarsies. Skep dit uit met ’n gaatjieslepel en pak die frikkadelle in die tamatiesous wat prut.

Roer sodat die frikkadelle met die sous bedek is. Laat só onbedek prut vir 10 minute. Skep die sous en frikkadelle in ’n vlakkerige oondvaste bak. Strooi die kase bo-oor en bak in ’n voorverhitte oond van 200 °C vir 15 – 20 minute.


Beesvleispastei met kaas-en- marmitekors

Beesvleispastei met kaas-en- marmitekors

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

Vulsel

  • ¼ koppie koekmeel
  • Sout en swartpeper na smaak
  • 1,5 kg beesskenkel, in stukkies gesny, murgbene eenkant gehou
  • 3 eetlepels olie
  • 1 eetlepel botter
  • 3 middelslaguie, gehalveer en in halfmaanskywe gesny
  • 2 koppies beesvleisaftreksel
  • 1 steranysblommetjie
  • 3 lourierblare (bay leaves)
  • 1 teelepel wondersout (opsioneel)
  • 400 g sampioene, wit en bruin gemeng
  • Pasta gemaak van 1 eetlepel koekmeel en 1 eetlepel botter

Kors

  • 3 1/3 koppies bruismeel (self-raising flour)
  • 100 g botter, in blokkies gesny
  • ½ teelepel sout
  • 1½ koppies cheddar, gerasper
  • 200 ml melk
  • 1 eetlepel Marmite
  • 1 eier, geklits

METODE

Vulsel:

Geur die koekmeel met sout en peper. Rol die vleisstukkies daarin en skud die oortollige meel af. Verhit 2 eetlepels van die olie in ’n swaarboompot wat ook in die oond kan gaan en verbruin die vleis in sarsies daarin. Skep die vleis met ’n gaatjieslepel op ’n bord uit en hou eenkant. Gooi die oorblywende eetlepel olie en die botter in die pot en verhit.

Voeg die uie en murgbene by, geur met sout en peper en braai totdat die uie sag en deurskynend is. Sit die vleis terug in die pot en voeg die aftreksel by. Voeg die steranys, lourierblare en wondersout by en meng goed.

Bedek die pot en sit dit in ’n voorverhitte oond van 150 °C vir 2½ uur. Roer die sampioene by, bedek die pot weer en sit dit terug in die oond vir nog ’n halfuur of totdat die sampioene sag en gaar is. As die sous ’n bietjie aan die dun kant is, kan jy die meel-en-botterpasta byroer.

Skep die mengsel in ’n oondvaste pasteibak. Maak die kors. Meng die bruismeel, botter en sout in die voedselverwerker totdat dit soos broodkrummels lyk. Giet dit in ’n mengbak en roer 1 koppie van die kaas by. Verhit die melk en Marmite saam in ’n klein pot en klits tot goed gemeng.

Laat afkoel tot lou-warm en voeg dié mengsel geleidelik by die meel-en-kaasmengsel totdat jy ’n lekker sagte deeg het. Druk die deeg liggies met jou hande plat op ’n meelbestrooide oppervlak en druk sirkels uit. Rangskik die sirkels op die vulsel en verf met die geklitste eier.

Bak vir 15 minute in ’n voorverhitte oond van 200 °C. Sprinkel die res van die kaas oor en bak ’n verdere 15 – 20 minute of tot uitgerys, goud en deurgaar. As die pastei te bruin na jou sin bak, kan jy ’n stuk foelie lossies bo-op sit. Dit sal keer dat jou pastei verder bruin word. Bedien hierdie pastei warm.


Koreaanse roerbraai-beesvleis

Koreaanse roerbraai-beesvleis

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 4 cm-stuk gemmer, gekap
  • 4 eetlepels sojasous
  • 4 eetlepels mirin (sien wenk)
  • 3 knoffeltoontjies
  • 2 eetlepels fyn pynappel
  • 1 teelepel rissievlokkies
  • 3 eetlepels strooisuiker (castor sugar)
  • 3 eetlepels sesam-olie
  • 500 g sirloin of rump steak, vet verwyder en in repe gesny
  • 1 groot ui, in die helfte deurgesny en in halfmaanskyfies gesny
  • 1 eetlepel sesamsaad, gerooster
  • 3 stingeluie (spring onions), gekap

METODE

Meng die gemmer, sojasous, mirin, knoffel, pynappel, rissievokkies, suiker en 1 teelepel van die sesam-olie. Bedek die vleis met die marinade. Gebruik jou hande. Laat staan vir 20 minute.

Verhit die res van die olie in ’n wok of braaipan tot baie warm.

Roerbraai die ui vir ’n paar minute. Voeg die vleis en marinade by en roerbraai vir 5 minute. Sprinkel die saad oor. Bedien op basmatirys en versier met die stingeluie.

WENK:

As jy nie mirin het nie, kan jy 4 eetlepels appelasyn met 2 teelepels suiker meng en in die plek daarvan gebruik.


Burrito-bakkies met maalvleis en slaai

Burrito-bakkies met maalvleis en slaai

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 1 eetlepel olie, plus ekstra vir die verf van die tortillas
  • 2 rooiuie, in skywe gesny
  • 3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
  • 500 g beesmaalvleis
  • ¾ koppie beesvleisaftreksel
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 4 middelslag-tortilla wraps
  • 2 kleinerige koppies blaarslaai, versnipper
  • ½ komkommer, in blokkies gesny
  • 8 kersietamaties, gehalveer
  • 6 eetlepels ongegeurde volroomjogurt
  • 1 lemmetjie, in skyfies of kwarte gesny
  • Paprika (opsioneel)

METODE

Verhit die olie in ’n swaarboompan en braai die uie daarin vir ’n minuut of twee. Voeg die knoffel en brandrissie by en braai vir nog ’n paar minute saam voordat jy die maalvleis byvoeg en liggies met ’n vurk byroer sodat die vleis nie klonte vorm nie. Braai totdat die vleis verkleur het. Voeg die aftreksel by en geur met sout en peper.

Laat prut vir ongeveer 10 – 15 minute of totdat die vloeistof weggekook het. Verf die tortillas intussen alkant met ’n bietjie olie en druk elkeen versigtig in ’n oondvaste bakkie wat die grootte en vorm het wat jy wil hê (sopbakkies werk goed). Bak vir 5 – 6 minute in ’n voorverhitte oond van 200 °C.

Haal dit uit die oond en uit die bakkies en laat afkoel. Vul elke tortilla-bakkie halfpad met die versnipperde blaarslaai en skep die maalvleis op die een helfte van die blaarslaai.

Rangskik die komkommer en tamaties op die ander helfte. Eindig met ’n skeppie jogurt en ’n skyfie lemmetjie. Sprinkel ’n knippie paprika oor en bedien onmiddellik.


Spek-en-bloukaasburgers

Spek-en-bloukaasburgers

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

Patties

  • 500 g steak maalvleis
  • ½ van 200 g-pak swoerdlose strepiespek
  • ¾ van 100 g wig romerige bloukaas
  • ½ rooiui, fyngekap of gerasper
  • 1 eetlepel Worcestershire-sous
  • ½ teelepel selderysout (sien wenk)
  • ’n Knippie rissievlokkies
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • Olie vir braai

Samestelling

  • 4 hamburger rolls, met botter gesmeer en liggies gerooster
  • Mayonnaise
  • Soetrissiesous
  • Blaarslaai van jou keuse
  • Tamatie, in skyfies gesny
  • Rooiui, in skyfies gesny
  • Ekstra repies brosgebraaide spek (opsioneel)

METODE

Patties:

Meng al die bestanddele vir die patties en vorm 4 patties met jou hande.

Maak ’n effens slootjie in die middel van elke patty. Dit help dat die patty nie ’n bol vorm wanneer jy dit gaarmaak nie. Verhit ’n bietjie olie in ’n swaarboompan en braai die patties alkant bruin totdat dit deurgaar is.

Samestelling:

Smeer ’n bietjie mayonnaise op elke roll en rangskik die blaarslaai, uie- en tamatieskywe, patty en spekrepies soos jy dit verkies. Bedruip met ’n bietjie soetrissiesous en bedek met die boonste helfte van die roll.

WENK:
Maak jou eie selderysout: Meng 1 eetlepel sederysaad met 2 eetlepels sout en maak saam fyn in ’n speserymeultjie. Gebruik wat jy nodig het en bêre die res vir later.
Allerlekkerste broodpoeding

Allerlekkerste broodpoeding

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

  • 3 koppies sagte broodkrummels
  • 4 eetlepels botter
  • 1 blik ingedampte melk (Ideal Milk)
  • ½ koppie melk
  • 4 eiers, geskei
  • ½ koppie suiker
  • Bessiekonfyt
  • Vars bessies en vla vir opdiening

METODE

Gooi die broodkrummels in ’n gesmeerde oondbak. Verhit die botter, ingedampte melk en melk saam in ’n kastrolletjie oor lae hitte. Klits die eiergele met ¼ koppie van die suiker (dit wil sê die helfte) tot lig en romerig.

Voeg versigtig by die melk-en-bottermengsel en giet oor die broodkrummels. Bak vir 30 minute in ’n voorverhitte oond van 170 °C. Klits die eierwitte styf en voeg die res van die suiker lepel vir lepel by.

Klits goed ná elke byvoeging. Haal die poeding uit die oond en smeer die bessiekonfyt liggies bo-oor. Skep die meringuemengsel bo-op en bak tot die me-ringue ’n mooi goudbruin kleur kry. Bedien saam met vla en vars bessies. Dis net so lekker op sy eie.

WENK:

Jy kan appelkoos- of aarbeikonfyt in die plek van bessiekonfyt gebruik. Bedien dit dan saam met ingemaakte appelkose of vars aarbeie

Meer oor:  Kos  |  Kuier  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.