Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Maak my Famous: Ontmoet vir Nicoleen Saal!
15 Oktober 2020


En die wenner van Maak my Famous seisoen twee is . . . Nicoleen Saal (21)! Week ná week het kykers vasgenael gesit voor die televisie om te sien wie uiteindelik as die wenner sou wegstap van hierdie gewilde talentkompetisie op kykNET en kykNET&kie.

Sedert hierdie kompetisie – Emo Adams se breinkind – verlede jaar vir die eerste keer begin het, het dit kykers aangegryp omdat dit soveel anders voel as die talentkompetisies waaraan ons gewoond is. Daar is geen afkrakery van deelnemers wat ’n kans op hul drome wil waag, se voorkoms nie.

Só het Nicoleen gelyk toe sy haar MMF-reis begin het.

Daar is nie ’n uitjouery of ’n gelag wanneer iemand se talent dalk nie genoeg is om hulle in die kompetisie te hou nie. Almal se waardigheid word behou en beskerm en daar is heeltyd motivering vir deelnemers om weer te probeer en hulself uit te daag om nóg beter te doen. Maar die belangrikste van alles is dat talentvolle mense wat dalk uit uitdagende omstandighede kom en andersins nie ’n platform gehad het nie, nou een het om miljoene Suid-Afrikaners se harte te wen.

En dis presies wat Nicoleen van Ocean View in die Kaap reggekry het. Sedert sy die eerste keer haar voete op die Maak my Famous-verhoog gesit het, was kykers vol bewondering vir die sterk stem wat uit dié klein meisie gekom het. Van die skaam en bewerige meisie met die bril en pragtige krullebos was daar niks te bespeur in die eindronde nie.

Inteendeel, die jong vrou wat weggestap het met die titel was ’n selfversekerde ekstrovert wat koningin gekraai het op die verhoog en net weereens bewys het hoekom sy die titel verdien het. Nicoleen was ook die enigste deelnemer, tot die bitter einde, wat nie deur ’n Emo ticket gered was nie.

Werk hard vir titel

Dit is duidelik dat Nicoleen steeds in absolute skok is oor haar oorwinning. Die Colgate-glimlag op haar gesig en die blink van trane in haar oë is ’n duidelike bewys daarvan. Vanuit haar kamer in Ocean View vertel sy dat sy steeds besig is om die wen te verwerk en haar emosies all over the place is. “Sjoe, ek het nie woorde om te beskryf hoe ongelooflik ek voel nie.

Die Here verhoor gebede en dié victory is ’n bewys daarvan.” Sy lag lekker voor sy vertel dat die Nicoleen Saal wat in die Maak my Famous-kompetisie ingestap het, baie anders is as dié een wat nou hierdie onderhoud doen. “Ek was ’n huismens, ’n kerkmuis en wou altyd in beheer wees van alles. My tyd in die Maak my Famous-huis en -kompetisie was ook die langste wat ek al ooit weg was van die huis af, maar ek sou die ervaring eerlikwaar vir niks verruil nie. Dit het my help vorm in die mens wat ek vandag is en het my ook geleer dat ’n mens nie altyd in beheer kan wees van alles nie.”

Die tweede seisoen van Emo Adams se vermaaklikheidsprogram het in April vanjaar afgeskop en sedert die begin was daar geen duidelike wenner nie. Die talente het elke week meegeding vir hul plekkie in die son en het gesorg vir weeklikse naelbytende vermaak. Wat opvallend was, is hoe die talente week ná week meer gemaklik geraak het op die verhoog en al hoe harder gewerk het om as die wenner gekroon te word. Aan die einde van die dag was dit ’n kompetisie waar net een persoon kon wegstap met die titel (en pryse).

Nicoleen verklap daar was nie ’n week wat verbygegaan het dat sy nie gevrees het dat sy uit die kompetisie gaan val nie. “Almal wat meegeding het om die titel was so uniek en talentvol en elkeen van ons het iets anders na die tafel gebring. ’n Mens leer ook vinnig dat jy nooit seker kan wees van hoe die kykers sal stem nie. Al wat jy kan doen, is om hard te werk en jou hart op die verhoog te los.”

Maar wie is die meisie van die Ocean View eintlik? As kind het Nicoleen ’n baie gelukkige lewe gelei in Cape Point-natuurreservaat waar haar pa gewerk het. “Dit is seker van die gelukkigste tye in my lewe. Ek, my tweelingsuster, Nicole, en my twee broers en ouers was dolgelukkig in die idilliese omgewing. My pa het die ligtoring beman. Ek dink dit is ook hoekom ons almal sulke homebodies is – ons het altyd net met mekaar gespeel en gepraat. Ons het nie geken van met ander kinders en ander mense meng nie.” Toe sy 13 jaar oud was, het die lewe egter skielik ’n wilde draai met hul gesin gevat.

“My pa het skielik gesterf en ons moes noodgedwonge na Ocean View verhuis. Dit was moeilik en ek onthou dat ek vir soveel keer die Here bevraagteken het. Ek wou weet hoekom dit met ons moes gebeur. My ma het nie gewerk nie en ons moes met die minimum klaarkom. Ek onthou ook hoe my broers gesukkel het om werk te kry. Om eerlik te wees, het dinge vir lank nog só swaar gegaan, maar die jaar 2020 het vir ons as gesin bewys dat uithouvermoë, harde werk en gebed alles kan verander.” Cape Point en Ocean View is slegs ’n klipgooi weg van mekaar af, maar tussen die twee plekke lê daar ’n wêreld se verskil.

“Ons het die enigste broodwinner in ons familie verloor en nou moes ons aanpas van ’n baie rustige lewe tot dié waar misdaad aan die orde van die dag was. My pa was ’n baie streng man en dit het ons weerhou van baie versoekings. Gelukkig was die fondasie gelê en ons was maar altyd vir onsself. Ek onthou hoe daar dae was dat ek gehuil het vir die Here om my pa terug te bring net sodat dinge 'n bietjie beter kon gaan.”

Emo Adams, mede-aanbieder en ook die brein agter Maak my Famous, en Nicoleen na afloop van die finalé.

Bereik drome

Sy sê sy het egter besef dat God alles vir ’n rede doen. “Om eerlik te wees, as my pa nog gelewe het, sou ek nooit vir die kompetisie ingeskryf het nie. Ek dink nie hy sou wou hê dat ek myself op so ’n groot skaal moet blootstel nie. Wanneer iets met jou gebeur, is jy geneig om God te bevraagteken, maar met tyd leer ’n mens dat Hy besig is met ’n groter plan. ’n Beter plan.”

Dis ’n sielsgelukkige Nicoleen wat sê sy is net dankbaar dat sy nou haar drome kan uitleef. “Ek onthou hoe ek en my suster as kinders in die voorkamer gedans en gesing het op Beyoncé se music videos wat op die TV was. Op 16 het ek by die praise en worship team by die kerk aangesluit en dit is waar ek my stem begin groei het. Waar my liefde vir die Here begin het. Musiek was vir my die plek waar ek healing gevind het, waar ek myself gevind het.” Haar journey op Maak my Famous het ook baie bygedra tot haar selfvertoue.

“Toe ek inskryf, het ek nooit gedink dat Emo my sou kies nie en hier is ek vandag die wenner. Dit is steeds onwerklik en deur vriende te raak met die deelnemers, het dit my weer in ’n ander aspek laat groei. Dit was die eerste kompetisie wat ek ooit ingeskryf het en hiermee het ek geleer dat wanneer ’n deur vir jou is, kan niemand en niks daai deur toemaak in jou gesig wanneer jy daaraan klop nie.”

Nicoleen sê die wen is nie net vir haar nie, maar vir die mense van Ocean View en omliggende gebiede. “Dit is baie min dat ons mense ’n platform kry. Hier is so baie talent, maar niemand druk ons in die regte rigting nie. Niemand motiveer ons om na meer te gaan soek nie. Die wêreld is oop vir ons daarbuite, propvol geleenthede, maar ongelukkig het ons nie die resources en ondersteuning wat ons benodig nie. En dit is wat ek wil terugploeg in die gemeenskap – om ook ander mense te help om hul drome te bereik.”

Nicolene tydens een van haar optredes op Maak my Famous.

Oor die oomblik toe Emo haar naam as die wenner aangekondig het, kan sy nie uitgepraat raak nie. “Alles het so vinnig gebeur. Een oomblik voel ek nog die naar kol op my maag en die volgende oomblik hoor ek almal skree ‘geluk!’ Ek het gedink ek het verkeerd gehoor! Dit was soos ’n out of body experience en toe die realiteit deurdring, was dit selfs nog meer besonders. Om te weet dat ek ontwikkel en gegroei het as mens en kunstenaar is wat so ongelooflik is.”

En die groei is ook duidelik sigbaar, want soos Nicoleen op live televisie verklaar het: “Ek dra nou sulke rokkies!” Sy vertel die transformasie was aanvank-lik vir haar ’n bietjie moeilik. “Die grimering, die hare, die klere – wanneer ’n mens nie gewoond is aan sulke goed nie, kan dit nogal ’n bietjie overwhelming wees, maar wat dit so lekker maak, is dat niemand jou forseer om iets te doen wat jy nie wil doen nie. Met die verloop van tyd raak ’n mens ook gewoond daaraan.”

Emo meen ook dat Nicoleen die meeste groei getoon het regdeur die kompetisie. “Sy het elke week gekom en haar ding gedoen. Niks was ooit vir haar te veel nie en sy het elke week die mentors se raad gevat en dit gevolg. Nicoleen het ook regdeur die kompetisie sterk gestaan en nie ’n Emo ticket nodig gehad om haar in die kompetisie te hou nie. Die wen is welverdiend,” sê hy.

Ná Emo aangekondig het dat Nicoleen die wenner is, het talle mense hulle na sosiale media gehaas om kapsie te maak teen sy besluit. “Die mense kies van die af begin wie hulle in die finalé wil hê. Mense wou hê Reggie B moes wen, maar ek het gevoel Nicoleen moes wen. Somtyds het ’n mens nie nodig om as die wenner weg te stap om ’n wenner te wees nie. My besluit was gebaseer op die feit dat Nicoleen Saal die enigste talent was, van die laaste twee wat gestaan het, wat elke ronde op haar eie geklop het en dit spreek volume. Sy is die mees transformed kunstenaar deur die hele seisoen.”

Toekoms van MMF

Volgens Emo is Maak my Famous gebore uit die idee om mense se lewens te verander en ’n platform te skep aan diegene wat nie gewoonlik êrens anders ’n platform sou kry nie, en dit is presies wat hulle ook met die tweede seisoen vermag het. “Die show is aanvanklik geskep om ander mense se lewens te verbeter, maar op soveel maniere het dit ook my lewe verbeter en beïnvloed.

Om te weet dat ek ontwikkel en gegroei het as mens en kunstenaar is ongelooflik.

“Om te sien hoe die talente groei en voor my oë ontpop in kunstenaars is ongelooflik. Die talente wat deelgeneem het aan die kompetisie is besonders aldus my besluit om aan almal in die top10 kon- trakte aan te bied. Wanneer jy na die talente se stories luister en kyk na hul werks-etiek, kan jy nie anders as om geïnspireer te voel nie. Dit wys jou al het hulle niks om te gee nie, is hulle steeds bereid om alles te gee. En dít is bewonderenswaardig.”

Oor of ons ’n derde seisoen van Maak my Famous kan verwag, vertel Emo eerlik dat daar nog geen inligting rakende ’n seisoen drie is nie. “Wat ek wel kan sê, is dat ons alreeds inskrywings ontvang het en dit is wanneer ’n mens weet iets is suksesvol. Wanneer mense wil deel wees van iets. Ons is nog steeds die enigste platform waar ons die integriteit van die talente behou en dit is die fondasie waarop Maak my Famous gebou is. Die amazing ding van dié platform is dat ons vir ’n jaar ná die kameras steeds met die talente werk.”

Dan sê Emo: “Maak my Famous is net die begin. Na afloop van die show is wanneer die regte werk begin. Dit is wanneer ek en die span begin werk met die talent om hul drome te verwesenlik. Dit is ’n moeilike bedryf, maar met die nodige ondersteuning, harde werk en houding is enige iets oorkombaar. Harde werk werp altyd vrugte af!” En Nicoleen is ’n bewys hiervan. Hou haar dop!

Meer oor:  Kuier  |  Maak My Famous  |  Nicoleen Saal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.