Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Maak My Famous: Rotas en Reggie B maak oop
25 Junie 2020
Reagan Plaatjies (Reggie B) op die Maak my Famous-verhoog.
Rodney Goliath (Rotas The Rapper)

Geld of geleentheid? Dit is die besluit wat Rodney Goliath (19) van die Paarl in ’n emosiebelaaide oomblik van kykNET se Maak my Famous moes neem toe Emo Adams in ’n skokwending op die program besluit het om deelnemers wat deurgestem is na die toptien, te verras met die geld- of geleentheid-segment.

In dié segment is kategorie-wenners van die aand ’n kontantbedrag van R20 000 aangebied. Geld wat hul lewens en dié van hul gemeenskap kan verander.

Hulle moes besluit of hulle die kontant van die hand gaan wys en aanbly in die kompetisie of die kontantbedrag wil vat en hul plek in die kompetisie prysgee.

Die gehoor het met ingehoue asem sit en wag om te hoor wat Rodney, beter bekend as Rotas The Rapper, gaan besluit. Daar was nie ’n droë oog in die teater nie.

Die spanning het soos ’n versmorende kombers in die lug gehang en kykers het op die punt van hul stoele gewag op Rodney se besluit terwyl die trane oor sy gesig begin loop het. En in dié naelbytende oomblik het kykers se trane vrylik gevloei toe Rodney besluit om sy plek in die kompetisie prys te gee en die geld te vat.

Rotas steel harte

Dié Bolandse klong het diep in kykers se harte gekruip, nie net omdat hy oor alledaagse struggles rap nie, maar ook omdat sy storie met dié van soveel ander jong mense resonate. “Ek kan onthou hoe swaar ek grootgeraak het en my ouma wat altyd vir my gesê het: ‘My kind, moenie kla oor die min wat jy het nie, want daar is mense daarbuite met baie minder as jy’. En dít is waarby ek leef.” Rodney is deur sy ma en ouma grootgemaak. Sy pa was nooit teenwoordig in sy lewe nie.

In ’n emosiebelaaide onderhoud vertel Rodney dat ’n mens nie vir ’n kompetisie inskryf om halfpad deur uit te val of op te gee nie. “Toe ek Maak my Famous enter, het ek ingeskryf om te wen. Dit was alles baie intense vir my – ’n klomp emosies en dit was moeilik. Ek was so vasbeslote en het so ’n sterk gevoel gehad dat ek dit nog baie ver gaan maak in die kompetisie, want niemand skryf ’n kompetisie in om in tweede of derde plek te kom nie.” Vir Rodney was Maak my Famous die kans waarop hy al so lank gewag het – sy deurbraak.

“Ek het so baie vertroue gehad in myself en dat ek die kompetisie sal wen, maar dit was nie die case nie. Wanneer ek stilsit en dink daaroor, wonder ek steeds of ek die regte besluit gemaak het. Ek worstel steeds, maar in my hart weet ek dat dit die beste besluit was. Vir nou.” Hy kan die trane nie meer keer nie en vertel dat hy wel die besluit goed moes deurdink het.

“Daar is mense in my familie wat nog net kon droom van universiteit. My suster, my ma, my nefies. En hier het ek die geleentheid gekry deur die genade van God. Ek is besig om ander mense se droom uit te leef. Hulle kan deur my leef en ervaar. Hoe kon ek net opgee? Ek moes my studies voortsit.” Rodney is tans ’n eerstejaarstudent by Universiteit Stellenbosch waar hy drama- en teaterstudies studeer met behulp van ’n beurs. “Daar was ’n moontlikheid dat ek my beurs kon verloor en ek kon dit nie waag nie. Ek moet my papiere kry sodat ek iets kan hê om op terug te val. ’n Mens gaan nie deur die lewe sonder ’n plan nie.”

Reggie B

Met dié dat Rodney besluit het om die geld te vat, is sy plek outomaties gevul deur ’n ander rapper, Reagan Plaatjies (24) van Rawsonville, oftewel Reggie B. Vir hierdie jong man was die lewe ook nie altyd maklik nie.

Op sewejarige ouderdom het Reagan ontdek dat sy ouers nie sy biologiese ouers is nie. “Ek het dus altyd gevoel of ek meer moet gee en meer moet doen. Nie omdat ek moes nie, maar omdat ek wou.”

Reagan se ma het hom op ses maande by sy aanneemma gelos. “Sy het hier (Rawsonville) gebly en het gaan werk in die Kaap ná my geboorte. Sy het elke maand geld huis toe gestuur en kom kuier, maar ná ses maande het sy nooit weer gekom nie. Ek weet nie hoekom en waarom nie, maar sy is weg. Sy is nou nog weg. Niemand weet wat haar redes was nie.”

Sy droom om ’n rapper te word, het op 17 begin. “Musiek was vir my ’n plek waar ek myself gevind het, waar ek myself kon wees en dit is hoe ek begin het om te skryf en musiek te maak.” Hy sê sy journey op Maak my Famous is een van onsekerheid en onvoorspelbaarheid. “ ’n Mens weet nooit wat om te verwag nie, maar dit is ongelooflik. Jy leer so baie by gesoute mense in die bedryf en kan nie anders as om net die oomblik in te neem en alles daaruit te vat wat jy moontlik kan nie.”

Dankbaar

Reggie B se eerste performance op die Maak my Famous-verhoog het die gehoor op hul voete gehad. Die opname van sy performance “Kolletjie i” is ook wyd op sosiale media gedeel. Sy tweede optrede was ook goed ontvang.

“Ek het altyd vir myself gesê dat ek net myself wil wees. Ek wil nie klink soos ’n Early B of ’n ander rapper wat reeds in die mark is nie. Ek moet iets uniek en eie aan myself na die tafel bring.” En hoewel Reggie B sy hart op die verhoog gelos het, kon die gehoor net vir een rapper stem om deur te dring na die toptien. Rodney het meer stemme as Reggie B gekry.

“Ek het steeds hoop gehad dat Emo dalk sy Emo-ticket op my sal gebruik. Om te sê dat ek nie gedink het dit is die einde van my journey nie, sal ’n leuen wees. Ek was bekommerd. Platgeslaan.”

Toe kondig Emo “geld of geleentheid” aan. “Ons het nie geweet waarmee Rodney worstel en watter besluit hy gaan maak nie en toe hy uiteindelik sy besluit maak, het ek ge-freeze. Ek dink nie ek het in daai oomblik besef dat ek dan nou outomaties deurgedring het na die toptien nie.” Reggie B vertel openhartig dat hy dankbaar is vir die geleentheid hoewel hy weet dat Rodney se besluit nie maklik kon wees nie.

Met die aankondiging dat Reggie B deurdring na die toptien het hy op die verhoog gekom en hy en Rodney het mekaar stewig omhels. Die emosie was tasbaar. “Ons al twee weet waarvandaan ons kom en hoe moeilik dit vir rymkletsers is om in die bedryf te survive, maar ons sien kans daarvoor omdat ons weet wat dit is om te survive. Ek het groot respek vir Rodney en sy kuns,” sê Reagan.

En ter afsluiting sê Rodney, met ’n wysheid ver bo sy 19 jaar: “Die Here sal nie iets op jou pad sit as jy dit nie kan baasraak nie. Bly op jou knieë en vra die Here vir leiding. Beter raad sal jy nêrens anders kry nie. Bly geanker in jou geloof en glo in jouself. En wanneer mense vir jou uitlag omdat jy anders is en groter droom as hulle – bewys hulle verkeerd.

Gebruik jou kuns om die lewe net ’n klein bietjie beter te maak. Een dag op ’n slag, een persoon op ’n slag . . .”

• Kyk Maak my Famous Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 21:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). Weens die Covid-19-pandemie vat Maak my Famous ’n produksiebreek tot 5 Augustus. Dis terug op 12 Augustus met die toptien en ’n formaatverandering.

Meer oor:  Rotas Die Rapper  |  Kuier  |  Maak My Famous  |  Reggie B
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.