Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Maak 'n plan
11 Julie 2018
Michelle Bloem

Hoe is jou uitkyk op die lewe?

Kom ons verduidelik dit só:

Daar is drie soorte mense op hierdie aarde.

Die eerste noem ons die ysterstawe. Dié mense se lewensuitkyk is rigied en onbuigbaar. Vir hulle is dit altyd: “My way or the highway”. Hierdie ysters het ’n geweldige begeerte om alles en almal om hulle te beheer, maar wanneer die ware lewenstorms om hulle woed, knak hulle omdat hulle nie buigbaar genoeg is om aanpassings te maak om te oorleef in ’n krisis nie. Hierdie mense hou daarvan om hul siening oor alles te regverdig.

Die tweede soort mens, kan ons die riet of die tolbos noem. Hierdie mense word geken aan hul alewige slagofferstatus. Hulle is slagoffers van hul omstandighede en alles gebeur net met hulle. Hulle word soos tolbosse en riete deur die wind van die lewe gewaai en het nooit beheer oor enige aspek van hul lewens nie. Hulle word geken aan die manier waarop hulle altyd ander vir hul omstandighede blameer, byvoorbeeld:” As my ouers ryker was, sou dit finansieel beter met my gegaan het”, of “Ek het nie genoeg spaartyd om ’n stokperdjie te beoefen nie, want my baas laat my lang ure werk”.

Die derde soort, kan ons die planmakers noem. Hulle is die mense wat in elke lewensarea verantwoordelikheid neem en hul gesegde is: “As dit moet wees, is dit op my aangewese om dit te laat gebeur.” Planmakers kla selde, want hulle weet hul sukses hang van hulself af. Hierdie is die mense wat proaktief planne maak en stappe neem om te bereik wat hulle in die lewe wil hê. In plaas van om hul situasie te regverdig of skuld op ander te plaas, neem hulle beheer van hul lewens. Hulle is mense wat ander motiveer en sê dinge soos: ”Ek het met niks begin nie, maar het geleenthede gesoek en gebruik om te wees waar ek vandag is.”

Wanneer daar niks anders oor is nie, het jy nog altyd beheer oor jou gesindheid.
Michelle Bloem

Planmakers sien oplossings en geleenthede waar ander probleme sien. Wanneer die lewensstorms woed, weet hulle dat hulle buigbaar en aanpasbaar moet wees om dit te oorkom. Hulle weet hulle kan nie altyd die hand kies wat vir hulle gedeel is nie, maar dat dit hul verantwoordelikheid is om die spel so goed moontlik te speel. Planmakers weet dat swaarkry karakter kweek en ’n motivering is om omstandighede beter te maak vir hulself en ander. Dit is gewoonlik juis die struikelblokke in hul pad wat hulle laat groei.

Tree só op

Verantwoordelikheid is niks anders as om altyd gepas op te tree in enige situasie nie. Planmakers weet daar is twee maniere om in elke situasie op te tree: Jy kan óf impulsief reageer óf ’n reaksie hê wat goed deurdink is. Wanneer daar reaktief opgetree word Z met ander woorde impulsief en emosioneel Z sonder om te dink, is daar altyd negatiewe gevolge. Wanneer jy egter denkend optree, is dit ’n neutrale en objektiewe aksie wat gewoonlik goeie gevolge het.

Planmakers weet deur altyd verantwoordelik op te tree, neem jy beheer oor jou eie lewe en lot en só kan jy jou selfwaarde en krag behou. Wanneer jy onverantwoordelik optree, wanneer jy iets probeer regverdig of ander blameer, gee jy jou eie mag en beheer oor jou lewe aan omstandighede of ander mense oor.

Dit is dus raadsaam om altyd te sorg dat jy verantwoordelikheid neem vir elke aspek van jou lewe, maak nie saak hoe donker die dinge om jou lyk wat jy nie kan beheer nie. Wanneer daar niks anders oor is nie, het jy nog altyd beheer oor jou gesindheid en hoe jy gaan optree te midde van omstandighede.

Om die gehalte van elke aspek van jou lewe te beheer, moet jy gehaltevrae vra sodat jy ’n oplossing vir jou situasie kan kry. In plaas van beperkende vrae soos: “Hoekom vaar ek sleg in elke toets wat ek skryf?” of “Hoekom kry ek altyd die moeilikste take by die werk?”, vra eerder wat-is-moontlik-vrae. Byvoorbeeld “Is daar ’n doeltreffende leermetode wat ek kan aanleer om beter te vaar in my toetse?” of “Hoe help die moeilike take my om te vorder en te groei?”.

Wanneer jy dít kan doen, sal jy enige struikelblok met selfvertroue kan aanpak en dit deursien.

Net jy kan jouself help, so moenie in jou eie pad staan nie.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.