Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Maklike disse: Kook saam met Marinda!
1 Oktober 2020
Krummeltjops
Marinda Engelbrecht

Die eksentrieke Marinda Engelbrecht gee elke Woensdag op haar kosprogram, Maklik met Marinda (VIA, DStv-kanaal 147), kitsklasse vir bekendes wat sukkel in die kombuis. Hier deel sy ’n paar heerlike resepte met ons lesers.  

Krummeltjops

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 2 pakkies bruin uiesoppoeier
  • 3 eiers, geklits
  • 500 ml krummels
  • 125 ml parmesaankaas
  • 100 ml pietersielie, fyngekap
  • 30 ml roosmaryn, fyngekap
  • 8 lamstjops
  • 100 ml Engelse mosterd

METODE

Kry drie plat bakkies gereed. In een is die uiesoppoeier, in die tweede een die eiers en in die derde een die krummels, parmesaan, pietersielie en roosmaryn. Klad die tjops mooi droog en smeer weerskante met die mosterd.

Druk dit in die soppoeier, dan in die eier en dan in die krummels. Bak dit in vlak olie sodat dit mooi bruin is aan albei kante. Sit dit op ’n bakplaat en bak vir 20 minute teen 180 °C.


Sinkplaat-aartappels

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 800 g baba-aartappels, afgespoel
  • 80 ml knoffelbotter
  • 4 sprietuie (spring onions), fyngekerf met groen stingel en al
  • 15 ml repies suurlemoenskil
  • 45 ml suurlemoensap
  • Sout en peper na smaak
  • 2 – 3 wiele fetakaas, in 2 cm-blokke gesny of gebreek

METODE

Kook die aartappels in soutwater tot lekker sag. Dreineer en sit terug in die pot. Sit die knoffelbotter en sprietuie by en laat die botter oor hoë hitte smelt. Braai tot die sprietuie effens glaserig raak.

Sit die suurlemoenrepies en -sap by en breek met ’n vurk die aartappels grofweg op. Geur na smaak met sout en peper en roer die feta liggies deur (jy wil hê die kaas moet groterige stukke bly.) Skep in ’n mooi bak en bedien.


Komkommerblokkieslaai

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 1 pak suurlemoenjellie
  • 250 ml kookwater
  • 125 ml roomkaas
  • 125 ml mayonnaise
  • 500 ml komkommer, fyngerasper en gedreineer
  • 1 klein ui, gerasper
  • Sout en peper

METODE

Maak die jellie aan met die kookwater. Roer die roomkaas en mayo by die jellie in.

Voeg die komkommer, ui, sout en peper by. Gooi in ’n vierkantige glasbak wat uitgespoel is met yswater. Sit in die yskas om te stol. Bedien in blokkies gesny.

WENK: Skep die slaai in ’n ysbakkie se holtes, stol dit in die yskas en elkeen het sy eie porsie.

Geurige dikrib-bredie

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 1,5 kg beesdikrib, opgesny in stukke
  • 4 naeltjies
  • 250 ml water
  • 2 uie, in ringe gesny
  • 6 wortels, in ringetjies gesny
  • 4 selderystele, in ringetjies gesny
  • 1 blikkie tamatiepuree
  • 30 ml suiker
  • 15 ml gerookte paprika
  • 1 pakkie bruin uiesop
  • 100 ml Worcestershire-sous
  • 100 ml blatjang
  • 100 ml tamatiesous
  • 125 ml rooiwyn
  • 4 groot aartappels, middeldeur gesny
  • Sout en peper na smaak
  • 1 knoffelbol

METODE

Kook die beesrib met die naeltjies en water in ’n drukkoker vir 40 minute. Pak die uie en wortels in ’n oondbak. Pak die halfgaar dikrib bo-op. Meng die res van die bestanddele en giet dit oor die vleis.

Sny die knoffelbol in die middel deur en sit dit ook in die bak. Maak die bak toe en bak in die oond vir 60 minute teen 180 °C.

Haal die bak uit die oond en voeg die aartappels by. Bak vir nog 90 minute sonder die deksel. Die vleis moet sag wees en liggies van die been af loskom.

WENK: Die rib kan vervang word met enige voorkwartvleis. Dis lekker as dit die vorige dag gemaak word.

Frikkies in kerriepiesangsous

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

Frikkies (Frikkadelle)

  • 2 snye brood geweek in 250 ml melk
  • 1 eier
  • 5 ml fyn neutmuskaat (nutmeg)
  • 1,25 ml fyn naeltjies
  • 1,25 ml fyn gemmer
  • 5 ml rissiepoeier
  • Sout en peper na smaak
  • Meel
  • 1 kg beesmaalvleis

Sous

  • 3 middelslag-uie, fyngekap
  • Olie
  • 15 ml meelblom (Maizena)
  • 375 ml asyn
  • 250 ml water
  • 20 ml kerriepoeier
  • 10 ml borrie
  • 40 ml appelkooskonfyt
  • 6 piesangs, fyngesny
  • 15 ml suiker
  • Sout en peper na smaak
  • Klapper

METODE

Frikkies: Voorverhit die oond tot 180 °C. Verkrummel die brood en meng al die bestanddele (behalwe die meel) en die vleis. Vorm die frikkadelle en rol dit in die meelblom. Smeer ’n oondskottel met botter en pak die frikkadelle daarin.

Sous: Braai die uie ligbruin in olie. Roer die meelblom in. Roer die asyn en die water stadig by. Voeg die kerriepoeier, borrie, konfyt, suiker, sout, peper en piesangs by. Laat dit vir 5 minute kook. Gooi die sous oor die frikkadelle en strooi klapper oor. Bak vir ongeveer 1 uur. Sit voor met jogurtbrood en gekroekte sambal.  

Groenslaai metjogurtsous

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 1 ui, fyngekap
  • 4 sprietuie (spring onions), fyngekap
  • Een pak gemengde slaaiblare 
  • ½ komkommer, in blokkies gesny
  • 1 avokado, in blokkies gesny
  • 90 ml geroosterde sonneblomsade

Slaaisous

  • 250 ml Griekse jogurt
  • 2 knoffeltoontjies, fyngekap
  • 60 ml vars suurlemoensap
  • 30 ml olyfolie
  • 5 ml sout
  • 5 ml vars gemaalde swartpeper
  • 100 ml dille, fyngekap

METODE

Meng alles saam in ’n mooi slaaibak.

Slaaisous: Meng al die bestanddele en roer laastens die dille deur. Giet oor die slaai.

Skelvisgebak

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 600 g skelvis
  • 1 ui, in ringe gesny
  • 2 lourierblare (bay leaves)
  • 6 peperkorrels
  • 400 melk
  • 650 g aartappels, in dikskywe gesny
  • 500 g babaspinasie
  • 1 pakkie kitskaassouspoeier
  • 1 pakkie gekoopte kaassous 
  • 125 ml Emmentalerkaas, gerasper
  • 125 ml cheddarkaas, gerasper
  • ’n Knippie neutmuskaat (nutmeg)

METODE

Kook die skelvis met die uie, lourierblare, peperkorrels en melk vir 10 minute in ’n kastrol op die stoof. Dreineer die melk in ’n beker en vlok die vis. Raak ontslae van die vel en enige grate, maar hou die melk.

Kook die aartappelskywe in warm water tot net sag. Blansjeer die spinasie vinnig. Dreineer goed en pak in ’n enkellaag in ’n groot, gesmeerde oondbak.

Verhit die melk en klits die kitskaaspoeier in. As dit dik raak, voeg die gekoopte kaassous, die gerasperde kase en die knippie neutmuskaat by. Roer tot die kase gesmelt is en verwyder van die hitte. Pak nou die vis en dan die aartappels op die spinasie in die bak. Gooi die kaassous oor die aartappels.

Bak vir 20 minute by 200 °C.

WENK: Jy kan maklik die aartappels met patats vervang.

Suurlemoensmeer-Pavlova

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 90 g botter
  • 150 g strooisuiker (castor sugar)
  • 100 ml vars suurlemoensap
  • Skil van een suurlemoen, fyngerasper
  • 4 eiergele
  • ’n Knippie sout 
  • 250 ml room
  • Bessies van jou keuse 
  • Mintblare en blommetjies
  • ’n Gekoopte pavlova-dop gekoop

METODE

Sit ’n kastrol met kookwater op die stoof en sit ’n glasbak bo-op die kastrol. Die bak moenie aan die water raak nie. Die water moet liggies kook. Smelt die botter in die glasbak en haal van die stoof af.

Klits die res van die bestanddele (behalwe dít vir die versiering en die room) by die botter in en sit weer die glasbak op die kastrol. Nou klits jy vir omtrent 12 minute totdat dit begin dik raak. Gebruik ’n ballonklitser.

As jy ’n lepel indruk en met jou vinger ’n strepie trek en dit gaan nie toe nie, is jou smeer reg. Gooi dit in ’n botteltjie of flessie. Sit in die yskas. Klits 250 ml room tot sagtepuntstadium. Roer die suurlemoensmeer deur die geklitste room.

Smeer dit oor die basis van die pavlova. Pak die bessies van jou keuse en mintblare op die suurlemoenvulsel en sit dadelik voor.

Meer oor:  Kos  |  Kuier  |  Resepte  |  Maklik Met Marinda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.