Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Man maak fliek oor Kaapse Vlakte
22 Januarie 2020


Nadat hy noodgedwonge op 17 skool moes verlaat om sy familie te onderhou, het hy tot selfoon-covers en sonbrille op straat verkoop. Dinge was donker en moeilik en hy moes van dag tot dag lewe. Mark Matroos (35) van Mitchells Plain het toe nie gedink hy sou eendag sy drome kan uitleef nie. Maar hy het sy besigheidsvaardighede gebruik om een plan ná die ander te probeer om homself deur die jare op te bou. En hy het nooit ophou droom nie . . . Trouens, dié musikant-pa van twee het einde verlede jaar sy eie fliek geskryf en vervaardig.

Sy fliek, Meisie VaniLavis, speel af op die Kaapse Vlakte en dis eintlik heel gepas vir Mark wat al sy hele lewe lank op die Kaapse Vlakte woon. Hy het as kind in Eersterivier grootgeword, voordat hulle na Elsiesrivier, Bishop Lavis en later Mitchells Plain getrek het. Mark beskryf sy kinderjare as ’n avontuur van onsekerheid omdat hulle nooit ’n vaste blyplek gehad het nie.

Toe Mark ’n kleuter was, het sy pa sy werk verloor en kon hy nooit, ten spyte van verskeie werkgeleenthede, weer sy voete vind nie. Toe hulle nie meer hul huur kon bekostig nie, moes die gesin dikwels rondtrek opsoek na ’n permanente werk of een wat beter betaal. Hy onthou twee spesifieke plekke waar hulle op ’n stadium moes bly.

Een was die verhoog van ’n kerksaal en oor naweke was daar nie tyd vir laat slaap nie, want as die kerk iets aan gehad het, moes hulle van die verhoog af. Die tweede plek was ’n karavaan wat hy gedink het baie pret was. Op 17 het hy die Hoërskool Malibu in Eersterivier verlaat om by ’n diamantmyn te gaan werk.

Ná ’n paar jaar het hy sy werk gelos en ’n paar besighede begin, onder meer om selfoon-covers en brille te verkoop en ’n haarsalon. waaroor gaan dit?
Al sy ervarings het uiteindelik gelei tot die stigting van sy band, Afrikaans Ruk. Hulle het eers net by gemeenskapfunksies gespeel, maar later is hul tuisgemaakte musiekvideo’s op kykNET se musiekprogramme speel.

Toe Mark sien die video’s werk, het hy besluit dis tyd om ’n fliek te probeer. “Die fliek gaan oor ’n jong meisie, Veruscha, wat in Bishop Lavis grootgeword het. Sy is goedgemanierd en kom uit ’n kerklike agtergrond. Sy is deur haar enkelma, antie Mainie, grootgemaak. Die lewe is moeilik en soms kan hulle nie kos bekostig nie.

Dié hegte band tussen ma en dogter ontrafel vinnig en alles verander wanneer Veruscha met die verkeerde vriende begin uithang. Een van hulle is Menta, wat by ’n paar bendelede en ander elemente in die gemeenskap betrokke is. “Veruscha se wêreld val uitmekaar terwyl haar ma haar probeer waarsku teen die gevare van met die verkeerde vriende uithang, maar sy weier om te luister en moet ’n duur les leer. Baie van ons het al dinge in ons lewe deurgemaak en dan agterna gesê, ‘as ek maar net geluister het’.

Daar is selfs mense wat in die tronk beland en dit is wat ons probeer uitbeeld.” Volgens Mark wou hy lankal iets doen vir bewusmaking oor sy gemeenskap, maar hy was nie seker wat die beste manier sou wees nie. “Ek wou die verhale van mense uit ons gemeenskappe op die Kaapse Vlakte vertel, maar so rou en outentiek moontlik. Regte mense en regte goed waarmee ons mense elke dag mee moet worstel. Geen filter, geen verskonings nie, net soos dit is. Iets wat ek vir die mense, veral jong mense, kon wys, wat hulle sou laat dink. Toe besluit ek op ’n fliek omdat dit mense se aandag aangryp. Dit is net my klein bydrae tot bewusmaking van die lewe op die Kaapse Vlakte en die elemente wat ons gemeenskappe gevange hou.”

Mark praat uit ervaring, want hy het al self deurgeloop. “Elke dag is maar ’n game of survival hier op die Kaapse Vlakte en natuurlik was ek al deur skelms en dwelmmisbruikers gejaag en aangerand. Daar is ook by my huis en besigheid ingebreek, maar deur die Here se genade het ek nog nie ’n geliefde aan die dood as gevolg daarvan afgestaan nie. Dit beteken nie dat ek nie ander se pyn en hartseer gesien en beleef het nie. Elke dag is daar iemand in die buurt wat ’n geliefde weens ’n rooftog, skietery of misdaadverwante insident verloor. Dit is hartseer en dit moet stop. Ons vroue en kinders is nie veilig nie, eintlik is nie een van ons veilig nie.”

Uitdagings

Wat was die moeilikste deel van die verfilmingsproses? “As jy nie ’n groot span of professionele klank- en kameramanne het nie, kan dit nogal moeilik wees om befondsing te kry. Ek wou nie wag nie en het my eie geld gebruik en mense wat ek ken gevra om my te help. Dit is deel van die rede hoekom daar net een bekende akteur (Melissa de Vries Joseph) betrokke is. Ek kon nie (bekende) akteurs bekostig nie, maar ek is bly dit het so uitgewerk sodat hierdie talentvolle kinders in die fliek ook ’n kans kry om hul werk te wys.

“Dit was ook moeilik om in red zones te skiet, want ons almal weet dit gaan maar rof in Bishop Lavis met die bendes. Ons moes ons kameras en al ons bewegings fyn dophou. In die een toneel het ons ’n ontvoering verfilm en die kinders wat buite gespeel het, het so bang geword hulle het hul ouers gaan roep.

Die anties het boerboele vir ons gaan haal en ons moes verduidelik dat dit nie regtig gebeur nie, dit is net ’n fliek. Maar toe verduidelik hulle dit is hoe hul lewens elke dag is. Dit het my al hoe meer laat besef hierdie projek en bewusmaking is belangrik.” En wat hou die toekoms vir dié belowende man in? “Dis ’n fliek wat ons na die gemeenskap toe neem met screenings op die Kaapse Vlakte omdat ons weet mense nie almal geld het vir cinema en vervoer nie. Ek hoop om in die toekoms nog te maak en meer mense betrokke te kry. Die response wat ons ontvang, is ongelooflik en ek hoop regtig dit help minstens een jong mens om hul lewe te verander.”

Vir meer inligting oor vertoningdatums en om kaartjies te bespreek, kontak vir Mark by 071 474 3144.

Meer oor:  Kuier  |  Kaapse Vlakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.