Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Man skryf om uiting te gee aan trauma
2 Oktober 2019


Hy kon nie daarmee deal dat sy broer sy ma vermoor het nie, toe word skryf sy uitlaatklep.  

Ná die skielike dood van sy pa en die grusame moord van sy ma ’n jaar later, moes Karel Esau (31) ’n manier vind om sy seer, woede en skok te verwerk. Want al was hulle nooit ’n ryk of perfekte gesin nie, was hulle lief vir mekaar. Dis juis daarom dat sy ma se dood Karel nóg dieper getref het, want nie net is sy ma vermoor nie; Karel moes ook uitvind dat sy jonger broer daarvoor verantwoordelik is . . .

Skryf het toe sy uitlaatklep en redding geword en hy weet nou jy kan nie toelaat dat die verlede jou toekoms vernietig nie. Die lewe het regtig al ’n paar traumatiese draaie met Karel gevat. Hy is oorspronk-lik van Stilbaai, maar woon deesdae in Wynberg in die suidelike voorstede van Kaapstad.

Volgens hom het mense verwag dat hy sy broer, Hendrick (toe 20, nou 27), sou afskryf nadat hy hul ma, Anna (in haar vyftigs), een aand in 2013 met ’n byl doodgekap het, maar Karel sê dit was vir hom amper erger toe sy enigste broer gevonnis en tronk toe gestuur word. “Dit was erg om my ma te begrawe, veral omdat sy so onverwags van ons af weggeneem is, maar die dag toe hulle my broer vonnis en hom tronk toe vat, het my hart weer in stukke gebreek.

Al het my broer so ’n vreeslike ding gedoen en dít aan ons eie ma, het ek geweet dit is nie die tipe mens wat hy is nie en dat hy nie vir die tronk gemaak is nie,” vertel Karel.

“Ek was kwaad dat hy sy lewe in ’n oogwink opgemors het en ek was bekommerd oor wat op hom gewag het. Ek het regtig nie gedink hy sou dit in die tronk kon oorleef nie. Dit was moeilik en ’n vreemde gevoel om aan die een kant bekommerd te wees oor my broer, terwyl ons harte nog seer was oor Mamma se dood, maar soms is dinge net uit jou hande uit.”

Familietragedie

Karel is ná ses jaar nog baie emosioneel oor die tragedie.

As ’n manier om te deal met die trauma wat in sy binneste woed, het Karel boeke oor sy lewe begin skryf. Sy eerste boek, As ek nie geglo het nie, het in 2016 die lig gesien en sy tweede boek, I Speak Peace, in 2018.

Albei boeke het baie suksesvol verkoop en al is daar nie baie beskikbaar nie, voel Karel dit is net die begin. Dis egter die ondenkbare familietragedie wat hom by hierdie punt in sy lewe uitgebring het. Dit het begin vorm aanneem nadat Karel in 2011 Kaap toe getrek het om ’n beter toekoms vir homself te skep. Karel was net ’n ruk in die Kaap toe sy pa, ook Karel, in 2012 aan tuberkulose sterf. Volgens Karel was sy ma nie dieselfde ná sy pa se dood nie.

Karel kan nie sy ouers se presiese ouderdomme onthou nie, maar weet hulle was in hul vyftigs, daarom het hy nie verwag hulle sal so vroeg sterf nie. Op die plaas waar hulle grootgeword het, was sy pa ’n tuinier en sy ma het die plaaseienaars se huis skoongemaak. Hulle het met min grootgeword en sy ouers het albei soms te veel gedrink, maar hulle het altyd probeer sorg dat die kinders warm en gevoed is. Daar was altyd liefde in hul huis, onthou Karel. Volgens hom het sy ma ná sy pa se dood al hoe meer begin drink.

Hy vermoed die vermisting was vir haar te veel, veral omdat sy altyd vir hulle gesê het sy hoop sy sterf nie voor haar man nie. As hy nou daaraan terugdink, sê Karel moes dit vir sy broer moeilik en frustrerend gewees het om alleen saam met hul ma te woon. Maar op daardie stadium van sy lewe het Karel gevoel hy wou graag meer dinge ervaar en beter werkgeleenthede hê.

Al het my broer so ’n vreeslike ding gedoen en dít aan ons eie ma, het ek geweet dit is nie die tipe mens wat hy is nie en dat hy nie vir die tronk gemaak is nie.

Op Stilbaai het hy geweet sou dit nie kan gebeur nie. Ongelukkig het sy broer agtergebly. Karel kan nie help as om te wonder of dinge dalk anders vir sy familie sou uitgedraai het as hy by die huis gebly het nie . . . “Alles gebeur vir ’n rede en net die Here sal weet hoekom hierdie tragiese ding met ons familie moes gebeur. Ek onthou die oomblik toe ek van my broer hoor en hy vir my sê my ma is dood.

“Dit was seker so negeuur toe my broer my kontak. My foon (se boodskaptoon) het afgegaan, maar ek het gedink ag dit is seker weer net my broer wat my pla en ek het toe maar nog TV gekyk,” vertel hy. Toe Karel uiteindelik sy boodskappe lees, het sy broer net geskryf: “Jy moet huis toe kom, jou ma is dood”. Hy het hom boeglam geskrik, maar nie gedink dit is die waarheid nie. Maar het dadelik gevoel iets is nie reg nie.

“Hoekom verwys my broer na ‘my ma’ en nie ‘ons ma’ of Mamma nie?” Hy het die volgende dag toe hy in Stilbaai kom, uitgevind sy broer het homself aan die polisie oorgegee. Karel begin huil wanneer hy vertel hoe verpletterd hy was en hoe hy dit nie oor sy hart kon kry toe hy sy broer met bebloede klere in ’n tronksel sien sit nie. Hendrick is tot sewe jaar gevonnis vir die moord op sy ma.

Volgens Karel het die versagtende omstandighede, soos sy ma se drinkery en gedrag, sowel as die feit dat Hendrick so jonk was en dit sy eerste oortreding was, waarskynlik baie in sy guns getel met vonnisoplegging. “Ek was so kwaad en onthou net dat ek vir hom gevra het hoe hy dit aan homself kon doen? Ek wou hom nie in die tronk sien nie en ek het sleg gevoel dat ek nie my boetie of my ma beskerm het nie. Maar hy is vandag by die huis (uit op parool) en hy het ’n tweede kans. En hoewel ’n mens dit nooit sal kan vergeet nie, wil ek graag hê hy moet homself kan vergewe en gebruik maak van die tweede kans wat aan hom gegee is.”

Volgens Karel het sy broer in die hof beken dat hy sy ma met ’n byl gekap het, maar wanneer dit by die details van daardie aand kom, wil hy nie sy broer druk nie en het hulle geleer hoe om met die verlede saam te leef al is dit steeds moeilik. “Toe ons my ma se lyk wou sien, wou die patoloog nie vir ons wys nie, want hy werk al vir jare met lyke, maar hy het nog nooit iemand se gesig so erg gesien nie. Haar kop was in die helfte gekap en toe weer skuins gekap,” kry Karel van die gru herinneringe uit.

Sy boeke

Karel sê die laaste paar jaar was moeilik vir hulle as gesin, maar hulle probeer die stukke optel en deur die genade van God kon hy sy gevoelens neerskryf en “die wêreld vertel God leef en maak ons sterk”.

“Ek het ’n boek geskryf en dit aan verskillende uitgewers gestuur. Ek het ook inspirerende kolomme vir ’n plaaslike koerant in die Suid-Kaap geskryf. Ek het dit gedoen om die lesers aan my skryfwerk bloot te stel. Skryf het my gehelp om van my seer, vrae, kwaad en frustrasie ontslae te raak. Dit het my gehelp om vrede te vind en dit het my nader aan God gebring. Nou hoop ek om dieselfde vir ander te kan doen, maak nie saak watter seer of situasie hulle deurmaak nie.”

Meer oor:  Kuier  |  Trauma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.