Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Mandy op 'n missie
25 Junie 2020


Die snelweg is vanaand so eindeloos. Is dit die reën of die donker nag? Mandy is tog gewoond aan die pad, dit is deel van haar daaglikse roetine. Sy werk tot vieruur toe en dan gaan help sy uit by die hospitaal. Miskien is alles toe te skryf aan die vae onrus in haar. Sy kry nie rus vir haar siel as sy aan die kankerpasiënte dink nie. Sy is gelukkig om vir Randall by die huis te hê. Elke aand is daar ’n blyheid in haar om by hom te wees. Hulle is al lank saam, haar geesgenoot, haar liefde.

En ná haar kankerstryd is hulle selfs nader aan mekaar, al het hulle op ’n tyd gedink dit gaan hulle uitmekaarskeur. Hy het so baie omgee in hom, haar probleme of vrae word soveel minder wanneer hy luister en raad gee.

Die laaste paar dae bespeur sy ’n andersheid in hom. ’n Onrustigheid, ’n twyfel. Is daar probleme by sy werk wat baie geheimhouding behels? Dis asof hy heeltyd op sy nerves is. Uiteindelik die afdraai na hul huis.

Die laning bome vorm ’n digte soom langs die pad, amper soos ’n tonnel. Aan die einde kan sy die lamppaallig sien skyn. Miskien is daar so ’n stukkie simboliek, want aan die einde van ’n tonnel is daar altyd ’n lig. In die lamppaallig lyk alles so rustig en kalm. Wat ’n voorreg om elke aand na die veilige hawe in haar lewe terug te kom.

Sy hou onder die afdak stil en klim met die trappies na bo. Ore is nie daar met sy welkome blaffie nie. Randall wat gewoonlik uitkom as sy stilhou, is ook nie vanaand daar nie. Daar is ’n andersheid in die bekende omgewing. Daar is geen musiek soos gewoonlik nie. Randall speel altyd een van haar geliefkoosde melodieë.

Miskien is daar te veel verbeelding vanaand in haar. Die week was te lank en te deurmekaar. Hy is seker besig met ’n oproep. Die buitelig bokant die voordeur is nie soos gewoonlik aangeskakel nie. Sy stap onseker in die rigting van die voordeur. Waar is Ore met sy wollerige sagte lyf? ’n Ongekende vrees oorheers haar denke. Dis asof een of ander mag hier oorgeneem het.

Die voordeur is nie gesluit nie. Die portaal is donker en doodstil. Al wat sy hoor is die tik-tik van die staanhorlosie. Dit vererger die teenwoordigheid van iets. “Randall?” roep sy. “Waar is julle so stil?” In die sitkamer brand ’n flou lig. Alles lyk soos gewoonlik, maar die atmosfeer voel vreemd en dik. Sy trap op iets en kyk af, sy buk en sien die kluissleutel. “Huh?” Waar kom dit nou vandaan? “Ore, Ore,” roep sy saggies. Vinnig tel sy die sleutels op en sit dit in haar broeksak. Sy beweeg om die bank.

’n Stoel is omgegooi en kussings lê gestrooi. Het julle twee weer gewrestle? Dink sy. “Ai, tog,” sê sy en tel die kussings op. Sy trap in haar spore vas toe sy ’n bloedkol op die mat sien. Haar asem slaan weg en ’n koue rilling vat haar lyf oor. Is dit Randall se bloed? Ore s’n?

Iets is nie reg nie. Wie sou die aanvaller wees? Gaan dit oor geld wat in die kluis is? Wie sal dit aan hulle doen? Worstel sy met vrae. Randall is weg. “Aaaaa, neee,” ’n snik skeur uit haar uit. Sy stel haar voor hoe sy lyk lê waar ook al sy hom gaan kry.

Sy kan nie die prent uit haar kop kry nie. Skielik word sy bewus van die roering van die gordyne, dit kan nie die wind wees nie, dis windstil buite. Met die beweging van die gordyne ruik sy ’n soet geur. ’n Geur wat haar vasdruk en oorweldig. ’n Naskeermiddel. Dit is ’n bekende geur. Het sy dit by die werk of êrens geruik? As iemand haar in elk geval kom soek het of iemand kom kuier het, sou Randall haar laat weet het. Sy dink weer aan die bloedkol en hoe die hele prentjie lyk.

Sy sal moet wegkom. Sy kan met haar kar ry, maar iemand kan haar daar inwag. Sy moet nou vinnig besluit. In die huis is daar geen wegkruipplek nie, die enigste uitweg is om uit die huis te kom. Sy glip by die kombuisdeur uit en sluit dit agter haar. Sy begin na die bure toe te loop. Af in die paadjie voel dit asof die aarde onder haar padgee.

Sy val vorentoe, voel die harde grond en takke wat krap. Sy het in ’n gat geval. Sy probeer opstaan, maar ’n oorweldigende pyn in haar enkel boikot haar. Sy kyk op. Die wolke is nie meer ’n skerm voor die maan nie, enige oomblik gaan ’n volle ligbaan op haar skyn wat van haar ’n duidelike teiken gaan maak. Hierdie stilte om haar is ’n onwerklikheid.

Die blare roer nie, speel dit saam of teen haar? Skielik is daar ’n geluid, ’n fyn geritsel van droë blare. Die fyn geritsel word harder, nee dit is voetstappe. Iemand het haar gekry. Die vrees druk haar vas, sy ruik weer die bekende geur, sy hoor iemand. Sy kyk op, ’n man toring bo-oor haar. Sy stem is hard in die stilte.

“Mandy, jy het seker nie gedink jy kan wegkom nie. Ek het vir Randall lights out geslaan en in die toilet toegesluit. Daai brak van julle wat nie sy bek kan hou nie het ek sommer stilgemaak,” sê hy. Dis Kevin, Randall se nuwe kollega. Hy het net laasweek kom braai by hulle. “Kevin, is dit jy?” vra Mandy verbaas, maar versigtig.

“Waar is die kluis se sleutel wat ek by Randall afgevat het? Ek het dit verloor, teruggekom om dit te soek, maar dis weg, so dis net jý wat dit kan het. Ek wil dit nou hê!” bulder hy. Hy buk oor haar en gryp haar voor die bors en ruk haar uit die gat. Hy pluk haar hardhandig heen en weer.

Die vrees in haar is oorweldigend, maar sy sê: “Ek gee jou een kans om my te los en te loop anders slaan ek jou in jou hel in!” Al haar training van haar verdedigingsklasse wat hulle laasjaar by die werk gekry het, sypel terug. “Jy? Vir my? Jy is mal, ja. Gee die sleutel en ek sal daaroor dink om jou in een stuk te los.”

Sy druk haar arms tussen syne in waar hy haar voor die bors vashou. Sy slaan die mikke van sy elmboë so hard as wat sy kan en sy greep verslap. Sy skop hom tussen die bene en hy vou vooroor. Sy hinkepink weg, maar dis goed genoeg. Kevin herstel nog. Sy sal ’n wapen moet kry, want sy dreigemente klink nie leeg nie. Sy gaan haal die krieketbat in hul kamer.

Sy stamp die toiletdeur oop. “Mandy! Dankie tog jy is hier. Is jy okay?” vra Randall. “Dis Kevin. Ons moet gou maak. Hy kom.” Hulle stel ’n strik vir Kevin. Mandy gaan sit by die kombuistafel met haar hande in haar hare en Randall staan langs die oop deur met die bat. “Jou gemors!” skree Kevin toe hy haar sien. Toe hy sy neus by die deur insteek, slaan Randall hom so hard met die bat dat hy agteroorsteier.

Die volgende dag toe hulle weer behoorlik kon asemhaal en al die polisiegoed uitgesorteer is, vra Mandy vir Randall wat Kevin se storie was. “Jy, my vrou, het die man gered wat ’n cure vir kanker gekry het.” “Wat! Dis amazing! Dit beteken ons kan soveel lewens red. Niemand hoef ons seer deur te maak nie.”

“Hy wou die cure aan iemand oorsee verkoop. Dis glo ’n groot farmaseutiese maatskappy wat dit weer wou vernietig.” “Maar hy het dan net eers onlangs by julle begin werk. Is dit ’n inside job?”

“Moet wees. Want hoe hy geweet het ons het iets beet, weet ek nie. Iets was fishy daar toe bring ek die goed huis toe. En om te keer dat enigeen weer klomp geld wil maak van mense wat siek is, het ek die inligting op die internet gelaai.

Niémand gaan weer siek mens tax vir die laaste pennie wat hulle het nie.” “Jy is my held. Almal s’n,” sê Mandy vir Randall. “En jy myne én almal s’n,” sê Randall en druk sy vrou styf vas

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.