Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Marc Lottering en Autie Merle op hul stukke
13 November 2019


November is ’n tyd om te begin ontspan, ’n bietjie terug te sit en die afgelope jaar te vier. Vir die komediant Marc Lottering (51) is dit ’n gunstelingtyd van die jaar.

So, if the festive season was a person . . . Dan is dit Marc Lottering! “Ek sal jok as ek sê daar is iets waarvan ek nie in dié seisoen hou nie. It lends itself to my personality! Die musiek, die crowds, die chaos, die lekker weer . . . Dit voer my siel en my kreatiwiteit. Dis baie deel van wie ek is om mense rondom my te hê.”

My eerste herinneringe van die strand is die foto's wat geneem is.

Vir hom is dit werklik the most wonderful time van die jaar, wanneer hy op sy gelukkigste is. “ ’n Mens moet ’n blaaskans vat, ’n bietjie uitasem. Jy moet daarna kyk soos jy kyk na die lewe,” verduidelik hy ernstig. “Daar kom ’n tyd – in alles wat jy doen – wat jy sê ‘it is what it is.’ Want jy besef jy het dit jou beste shot gegee en hier is ons nou. Dit is wat dit is.

Jy het jou nuwejaarsvoorneme in Januarie gemaak. En teen November moet jy nou maar aanvaar – jy rook steeds, jy drink nog altyd sweet rosé voor ’n vergadering, jy het nie op die treadmill geklim soos jy jouself belowe het nie, jy het nie meer boeke per maand gelees nie . . .

Dis November. Dit gaan nie gebeur nie. Ontspan en aanvaar dit!” lag hy dat die trane rol. Maar vir hom is dit ook belangrik dat mense nie te hard op hulself moet wees nie. “Miskien was dit ’n tawwe jaar en jy het nie genoeg tyd gehad om te lees nie. Die verkeer was rof en jy kon nie by die gym uitkom én jou kinders betyds by die skool kry nie. Dit was hulle opvoeding teenoor gym . . .

Die keuse is obvious – jou kinders is mos belangrik. Maar ten minste het jy dit tot hier gemaak. Geniet nou maar die laaste paar dae.” Vir Marc is dit belangrik om in die feestyd gehaltetyd te spandeer met die mense vir wie hy lief is en hy geniet dit veral om rustig op Sondae saam met sy familie te braai. “Dis belangrik sodat jy jou voete op die grond kan hou.

Deesdae, met goed soos Instagram, glo ’n mens amper self hoe fabulous jy is as jy deur jou foto’s gaan. Maar jy sit vir twee na drie ure om die foto só fabulous te maak (en ek praat nou van myself), want dit moet net reg lyk. Maar dis nie realiteit nie.

En wanneer jy die mense sien wat jou ken, van toe jy klein was en op die strand gehuil het omdat jou ouers weggeloop het, anker hulle jou in wie jy regtig is, eerder as die #funfabuloustimes #bestdayever van die internet.”

Aunty Merle is Marc se gewildste karakter.

Onthou sy wortels

Hoewel hy daaroor skerts, is dit vir Marc belangrik om te onthou waarvandaan hy kom en om na aan sy familie te bly. “Elke Suid-Afrikaanse familie het daai een huis waar almal welkom is en kan kom en gaan. My ma en pa was daai huis. Ek voel hulle wil hê ek moet nou daai huis wees.”

Juis daarom het hy hierdie jaar sy hele familie van amper 60 genooi vir sy antie se 70ste verjaardag. As kind, verklap Marc, het hy die strand met ’n passie gehaat. “My eerste herinneringe van die strand is die foto’s wat geneem is. Ek was nog klein, dan gaan sit my ouers my voor die see neer en stap weg om met daai ou kameras ’n kiekie te vat. Ek het altyd gedog hul idee was om my daar te los omdat hulle my nie meer wou gehad het nie. Dit het gevoel hulle kon nie besluit nie, want dit het elke keer gebeur. En dan kom haal hulle my maar weer.”

Op al die foto’s van Marc se gesin se stranddae, skree hy histeries op die foto’s, terwyl sy broer soos ’n model poseer. “Ek was blykbaar in elk geval ’n baie suur kind. Almal sê so. Ek het nooit gelag nie en my broer was almal se gunsteling, altyd vol grappies en met ’n glimlag.” Hoewel Marc nou mal is oor swem, is sy tweede herinnering van die strand amper net so traumaties soos die eerste een.

“Ons het baie keer saam met die kerk strand toe gegaan, want my pa was ’n pastoor. Ek het van toe af al nie gehou van sulke georganiseerde goed vol reëls en struktuur nie. En ek het eers in my vroeë twintigs besef dit hoef nie ’n plek te wees waar iemand jou optel, klein soos jy is, en in die see ingooi nie.”

Wanneer hulle saam met die kerk strand toe gegaan het, was daar blykbaar altyd iemand wat hom in die see ingegooi het, óf hy nou kon swem óf nie. “So, eers wou my ouers my op die strand los en toe het mense aangehou om my in die water in te gooi, verstaan jy my trauma?” lag hy.

Aunty Merle, een van Marc se bekendste karakters, is een van daai mense wat saam met die kerk sal strand toe gaan. “Sy is altyd baie georganiseerd, met haar piekniekmandjie en maak seker almal eet op die regte tye en gaan swem nie direk daarna nie om krampe te vermy.

En haar man, Dennis, het mos connections met gazebo’s – dieselfde ou wat hulle gehelp het met die Kaapse Klopse. Sy sal nooit swem nie. Maar met haar geblomde rok wat verby haar knieë hang, groot hoed en Joan Collins-sonbril, sit sy haar voete in die water,” vertel Marc met ’n ondeunde glimlag.

Op die strand

Soos die jare aanstap, raak Marc net snaakser en gelukkiger.

Eintlik geniet hy deesdae die strand vrees-lik baie, maar op sy terms. “Ek het besef die strand is eintlik ’n sexy plek. Jy kan daar gaan uithang vir sundowners (sonder om te vloek en te drink, natuurlik), in die natuurskoon.”

Daar is egter ’n paar dinge wat hom irriteer, soos kinders wat rondhardloop en amok maak, terwyl hul ouers hul eie ding doen. “Dit freak my uit, want ek kan nie ophou om my te bekommer nie, veral nie as hulle in die water in hardloop nie. Ek probeer heeltyd uitwerk watter kind pas by watter mense.” Daar is nog ’n ding wat hom baie bekommer as hy op die strand kom.

“Waar hou mense hul waatlemoene koel, want ek sien dit nie meer in die water nie?” vra Marc ernstig. “In my tyd was dit die kinders se job. Jy moet strategies wees en dit naby ’n rots sit sodat dit nie wegdryf nie en dan moet jy seker maak niemand steel dit nie. En jy kry jou pak as daai ding weg is. Maar times have changed en ek sien nie meer waatlemoene nie. Dit laat my frons en wonder ‘wat het gebeur met al die waatlemoene?’ ”

Iets wat hom gelukkig maak, is hoe kreatief mense deesdae is met hul swembroeke. “Dis nie net entertaining nie, dit fassineer my, want daar is nou geen meer verskonings nie. Daar is ’n ontwerp vir elke figuur en almal het opsies van watter swemdrag jy wil dra. En op die strand kan jy amper beleef hoe ander mense hulself sien, en hoe anders dit is van hoe ons hulle sien . . .” lag hy. Baie mense gló hulle het modellywe, maar die realiteit is soms ’n bietjie anders.

“In jou kop is jy een van die Kardashian-susters, met dié seisoen se gewildste swembroek. Ongelukkig lyk dit nie so lekker op Muizenberg-strand nie.” Hy waardeer dit ook dat die meeste mense nie musiek op die strand speel nie, want dan kan jy die uitbundige klanke van pure genot hoor.

“Kinders skree gewoonlik as hulle die see sien – óf dit nou van opgewondenheid, óf vrees is dat iemand jou gaan ingooi, óf dat jou ouers jou op die strand gaan los . . . Mense lag en gesels. Daar is soveel vreugde. As die strand ’n woord moes hê vir klank, sal dit ‘joy’ wees. En maak nie saak hoe cool jy probeer wees nie, ek dink dit is ’n baie belangrike deel van ons hartsnare. Dis so goed vir die siel.”

Vir hom is die beste om met sy voete in die sand te sit saam met mense met wie hy daar wíl wees en net die strand-gevoel te absorbeer. Ongelukkig kan die strand ook ’n plek wees van strawwe self-oordeel. “Want party mense het gewéét somer kom weer hierdie jaar en het gebly by ’n strawwe dieet van quinoa en lentils. Hulle het geweet hierdie dag sal kom en het voorberei daarop. Maar nie djý nie. Djy vriet croissants en chocolates . . .,” lag Marc terwyl hy lustig aan ’n happie van sy ontbyt-croissant smul.

“Dís wanneer jy maar in jou handdoek sit en wag vir hooggety . . . Daai judgementdag.” Met die Stad Kaapstad wat mense wil verbied om op sy strande te vloek, is mense maar ’n bietjie huiwerig om hul piekniekmandjies en gazebo’s te pak hierdie vakansie. Jy wil mos nie gearresteer word as jy per ongeluk jou mond verby praat nie. Maar Marc is glad nie bekommerd nie.

“Ek en my mense gaan al lankal nie meer strand toe nie – sedert hulle drank daar verbied het! – maar as hulle dít (die verbod op vloekery) inbring, sal niemand wat ek ken, ooit weer kan gaan nie.”

Aunty Merle

Hierdie is Marc se 21ste jaar in die vermaakbedryf . . . So hy is nou uiteindelik ’n adult entertainer! En as deel van die feesvieringe kan Marc sy lag nie hou van opgewondenheid oor sy nuwe show, Aunty Merle – It’s a girl! nie. Dit is die opvolg op sy wegholsukses van verlede jaar, Aunty Merle – The musical.

Hierdie keer is Aunty Merle se dogter swanger en dit lei tot allerlei drama, soos net Aunty Merle kan veroorsaak. Die show is skreeusnaaks, maar met ’n diepte en deernis wat jou lank sal bybly. “Ek is so dankbaar dat mense nog ná al die jare steeds consis-tently kaartjies koop vir my shows. It’s the stuff that dreams are made of. Sonder húlle is daar geen punt om aan te gaan nie,” vertel hy.

Aunty Merle – It’s a girl! is van die 22ste November tot einde Februarie te siene by die Baxter-teater in Kaapstad. Een van die lesse wat hy hierdie jaar geleer het, is hoe beter jy jou tyd bestuur, hoe meer tyd het jy af. “Hierdie besigheid van heeltyd vure probeer doodslaan, maar dat jy eintlik só begin lewe en dan raak jou lewe chaos.”

Ek het besef die strand is eintlik ’n sexy plek. Jy kan daar gaan uithang vir sundowners in die natuurskoon.

Deesdae probeer hy om dinge genoeg tyd te gee, maar ook om ‘nee’ te sê. Veral in hierdie tyd waar hy amper elke aand tot die einde Februarie op die planke as Aunty Merle moet pryk, is dit vir hom belangrik om streng te wees met sy tyd en prioriteite. “Maar dis moeilik as iemand ná ’n show na jou toe kom, ’n foto wil neem en ’n shooter saam met jou drink. ‘Sluk dit net vir die foto!’, maar jy kan mos nie die ding onsluk ná die foto nie,” lag hy.

Tog hou hy, die toneelgeselskap en al die gaste ná die vertoning op die 31ste Desember lekker partytjie by die Baxter tot in die Nuwejaar in. So ’n groot deel is dié antie van Marc se lewe dat hy haar naam op sy arm laat tatoeëer het. Hy het na ’n tatoeëer-kunstenaar gegaan wat hy nie geken het nie en soos die meeste dinge in Marc se lewe, het dit tot ’n lagwekkende konsternasie gelei. (Vroeër die oggend, met Kuier se fotosessie, het ’n vreemdeling verbygeloop en verbaas gesê “jy is die spitting image van Marc Lottering!” waarop hy heel onskuldig geantwoord het “ja, ek kry dit nogal baie.”)

“Die plek waar ek die tattoo laat doen het, was baie ‘cool’. Ek dink die ou, Matt, het soortvan gedink ek lyk bekend, maar hy kon my nie plaas nie,” vertel Marc laggend. Toe die tatoeëer-kunstenaar hom vra wat hy wil hê en Marc antwoord nonchalant ‘Aunty Merle’, kon jy die man met ’n veer omtik. “Askies tog?” het Matt heel ordentlik gevra.

“Aunty Merle,” het Marc ’n bietjie huiwerig herhaal. Matt vra toe vir Marc om die woorde op papier neer te skryf en verdwyn in die kantoor in. “Nou dink ek dié ou dink seker dis ’n gang in Lavender Hill of iets, want wie sal dan nou sy eie antie se naam op sy arm wil hê?” skaterlag Marc met onthou.

“Ek het ’n straight face gehou, maar vinnig besef ek het my nie mentally voorberei vir hierdie oomblik nie. Ek het nie alles deurdink nie! Ek moes eintlik vir hom sê ek is ’n komediant en sy is ’n karakter. Maar toe gaan ek mos die back way round . . .”

Marc het later uitgevind Matt het vir die kantoormense gaan vra of ‘Aunty Merle’ ’n gang is, want dit is teen die wet om bendenaam-tattoos te doen. “Wel, daar is nou ’n wit jong man wat beslis weet wie Aunty Merle is!”

Wen kaartjies!

Vyf gelukkige lesers kan elk ’n stel dubbelkaartjies wen om Aunty Merle – It’s a girl! om 19:30 op Woensdag 4 Desember in die Baxter-teater in Kaapstad te gaan kyk.

Om in te skryf, SMS KUIER MARC na 42508 voor Vrydag 22 November 2019.

Elke SMS kos R1,50. Die wenners sal telefonies ingelig word.

* Foto’s: Dale Fourie en Lindsey Appolis

* Klere & skoene: Marc se eie

Meer oor:  Kuier  |  Marc Lottering  |  Auntie Merle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.