Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Marc op sy stukke!
14 November 2018
marc lottering

Dis middel-November en Kersfees is om die draai. Winkelsentrums is lankal opgedollie met versierings en Kersliedjies word by elke luidspreker uitgebasuin. Só is ons ook almal besig om reg te maak vir die feestyd.

Een groot aanhanger van die seisoen, is ons eie Marc Lottering (50). Sy lus vir die lewe is deesdae onblusbaar en hy sê die afgelope drie jaar was van die bestes van sy lewe. Hy voel sy lewe verloop volgens God se plan. “Ek het begin werk (as komediant) toe ek 30 was en ek voel vandag steeds 30,” lag hy.

Voor hy ’n grapmaker was, het hy by ’n advertensie-maatskappy gewerk. Sy baas daar het hom altyd aangemoedig om trots te wees op sy eie stem, sy storie en waar hy vandaan kom.

Mense gee hom hoop

Marc is mal oor die Kerstyd.
KuierLindsey Appolis

Marc het nie airs of fieterjasies nie. Dit is vandag steeds vir hom baie belangrik om sy roots, die lewe en Suid-Afrikaans-wees te vier in sy werk. Maar vir hom is die huidige atmosfeer in die land kommerwekkend. “Dit voel of al die groepe weer terugbeweeg in hul eie hoekies en of die verdeeldheid groter word,” verduidelik hy.

Maar dis die gewone, hardwerkende Suid-Afrikaners wat hom weer hoop gee, want wanneer hulle na sy shows toe kom, is mense vir ’n paar ure weer een, ongeag kleur en geslag. “Dit laat jou besef wat jy in die koerante lees en op die nuus sien, nie noodwendig is hoe gewone mense voel en dink nie. Dis die mense in die parliament wat baklei, nie ons nie. Ek weet daar is meer mense wat wil hê die land moet werk as dié wat dit nie wil hê nie. Dít gee my hoop!”

Marc vertel hy het alles wat hy weet van menseverhoudinge by sy ouers (wat ’n paar jaar gelede oorlede is) geleer. Sy pa, ’n pastoor, was baie charismaties en het Bybelstories van die preekstoel af vertel. Sy ma aan die ander kant, het heeldag stories vertel, selfs vir wildvreemdelinge! Sy het ook baie goed geluister en mense het altyd hul harte met haar gedeel. Marc vertel laggend Trevor Noah het hom eendag gevra of enigiemand in sy gesin preek, want dis hoe hy wat Marc is, klink as hy praat. Hy hou daarvan, want op sy eie manier versprei hy ook die goeie nuus – deur mense te laat lag en goed voel.

Een van sy grootste vrese, selfs ná 20 jaar in die bedryf, is steeds dat mense hom gaan uitvang. “Elke keer as ek van die verhoog afstap en mense gaan mal, dan dink ek ek sal nooit weer so snaaks kan wees nie. Jy lewe jou hele lewe in vrees dat mense jou gaan uitvang dat jy nie regtig snaaks is nie,” verklap hy.

Marc vertel een van die beste dinge wat minstens weekliks met hom gebeur, is dat fans hom êrens vir ’n geselsie en ’n selfie stop en dan sê, “Dankie, Soli (Philander), ons is baie lief vir jou!”.

Hy sal nooit die eerste grappie waarmee hy gehore laat lag het, vergeet nie. Sy pa was vir jare ’n pastoor in die Pentecostal kerk in Retreat, wat elke jaar ’n groot nativity play tydens Kersfees opgevoer het. Een van die belangrikste dinge van die opvoering, was dat Maria en Josef reguit hare moes hê, vertel hy.

“Een jaar was daar niemand in die Sondagskool wat die rolle kon vertolk nie en toe het hulle maar ’n paartjie gaan ‘leen’ by die Moslem-skool langsaan. Hulle kon glad nie in die toneelstuk praat nie, want hulle het niks van die Bybel geken nie. Hulle was net daar om mooi te lyk!” lag hy. Dit was dieselfde vir troues in daardie tyd – as jy nie ’n blommemeisie met reguit hare in jou familie gehad het nie, het jy ’n vreemde kind gaan “leen” sodat die foto’s mooi kon lyk.

Sy ‘spesiale’ hare

Sy grootste kenmerk – sy hare – gee hom groot plesier. “Almal het goeie en slegte hair days – met my hare kan ’n mens nie eintlik die verskil sien nie,” skerts hy. As kind het sy ma altyd sy hare kort geskeer. Sy het vir hom gejok en gesê hy kan nie sy hare laat groei nie, want hy het ’n blonde krul wat oor sy linkeroog hang. Omtrent twintig jaar gelede het hy begin nuuskierig raak oor hoe hy sal lyk met langer hare en het dit laat groei. “Op daardie stadium in Kaapstad was daar ’n groot ding oor reguit hare en kroes hare, so ek kon baie komedie doen daaroor en met myself gekskeer,” onthou hy.

Die boskaas het hom laat uitstaan van die res en tot vandag toe nog, amper soos vir Simson van die Bybel of Raponsie van die feëverhaal, gee dit amper vir hom spesiale magte. ’n Paar jaar gelede het hy dit afgeskeer vir ’n kanker-inisiatief, maar erken dit was baie rof totdat dit weer teruggegroei het. “Mense het my nie herken nie. Vir die eerste week was dit great, want ek kon goed doen. Maar daarna was dit nie meer so great nie. Mense het my soos ’n normale Coloured begin behandel. Ek moes in rye wag en kon nie meer tafels by vol restaurante sonder ’n bespreking kry nie,” lag hy.

Ná hierdie ervaring sal hy nie sommer weer oorweeg om sy hare te sny nie.

“Daar is ’n connection tussen ek en my hare, tussen die hare en die funny. Voordat ek nog eens ’n woord gesê het op die verhoog, lag mense al vir die hare.”

Deesdae is Marc pal op die planke met Aunty Merle – The Musical. Dit is te sien vanaf 3 Desember in die Baxter-teater in Kaapstad en vir die eerste keer ooit in Johannesburg te siene vanaf 1 Februarie 2019 in die Joburg-teater. Dit is die laaste seisoen, so moet dit nie misloop nie. Die vertoning het al vier gesogte Fleur du Cap-benoemings ontvang en het reeds twee seisoene uitverkoop. Die drama sal jou jou laat breek van die lag wanneer Merle se dogter, Abigail, verloof raak aan ’n wit knaap van Bantry Bay. Al die karakters van wie Merle altyd vertel het, is uiteindelik in lewende lywe te sien in dié musical. En Merle is steeds Merle en hoewel sy in Athlone bly, dink sy sy is baie bourgeois, want haar man is ’n plumber en hulle sukkel nie. Dit lei tot skreeusnaakse scenario’s wat jou sal laat lê van die lag.

Marc vertel nadat die idee by hom opgekom het, het hy sy woonstel in die mark gesit en sy kar probeer verkoop om die musical te finansier omdat hy geen borge kon kry nie. “Dit was my droom en dit was nog voor dagga wettig was,” skerts hy.

Elke keer as ek van die verhoog afstap en mense gaan mal, dan dink ek ek sal nooit weer so snaaks kan wees nie
Marc Lottering

Anwar, sy lewensmaat, het hom soos gewoonlik, ten volle ondersteun. Agt dae nadat die besprekings oopgemaak het, het die Baxter hom gebel om te sê hy kan maar sy woonstel van die mark afhaal en dat hulle salarisse sal kan betaal. En ná twee seisoene wat heeltemal uitverkoop het, het hulle nog nie weer teruggekyk nie.

Karakters met siel

Pastor Brandon
Aunty Merle
Colleen
Smiley
Galatia
Travis

Van al sy karakters is dit vir hom die lekkerste om Smiley se keppie op te sit. Dié kêrel het begin as ’n taxi-guardjie, maar bestuur deesdae ’n Uber Black. Marc geniet hom vreeslik baie omdat Smiley kan sê wat hy wil, wanneer hy wil.

“Dis amper my ’release’ en die gehoor geniet hom so baie. Smiley weet goed oor die lewe en hy het altyd iets te sê,” verduidelik hy.

Die karakter wat egter naaste aan sy hart lê, sal seker altyd Aunty Merle wees. Almal ken ’n Aunty Merle. “Sy is gebore in eerlikheid. Sy kom beslis van die Cape Flats af en woon in ’n freestanding huis.” Seker die grootste inspirasie vir Aunty Merle, is Marc se eie ma, terwyl haar lag dié van een van haar vriendinne is.

“Sy kon so lekker lag, maar hoe lekkerder sy gelag het, hoe minder klank het daar by haar mond uitgekom,” onthou hy. En vir Aunty Merle is Kersfees baie belangrik. “Die hele familie kom oor na haar huis toe, want sy het ’n groot huis en hulle het aangebou. Nie enigiemand kan bekostig om die hele familie te nooi nie, maar sy kan, want haar man is ’n suksesvolle plumber. Hulle het ook ’n swembad vir die kinders (die eerste een in die straat),” vertel Marc. Hulle het ook ’n lekker lapa met ’n braai-area, so hul huis is ideaal geskik vir groot familie-geleenthede. Op die familie-WhatsApp-groep het almal klaar besluit wie bring wat, maar Aunty Merle het altyd ’n back-up vir al die disse, net vir ingeval iemand s’n nie op standaard is nie (wat gewoonlik ook die geval is, in haar opinie). Sy voel eintlik bietjie sleg om net haar kos te bedien, maar sy het nie ’n keuse nie, want haar gaste verdien net die beste. Vieruur is dit tyd vir die poedingtafel wat kreun onder al die trifle, koek en lemon meringue (uitgespreek ‘mirenguoo’, want dis fancy). Dis ’n dag van kos, kos, kos!

Marc en Aunty Merle is dit eens: Kersfees is nie Kersfees sonder curry, tong, roast lamb, hoender en ’n hele paar slaaie nie. Daar moet iets van alles wees en mense moenie kan loop ná ete nie, so vol moet hulle wees, anders was dit nie ’n behoorlike Kersfees nie.

Marc se signature dish is breyani, al het hy dit nog nooit in sy lewe gemaak nie. “Ek bedien dit altyd, maar ek vat my potte na een van my gunstelingrestaurante toe dan maak hulle dit,” verklap hy. Dit sou makliker wees om eerder êrens te gaan eet, maar dan mis ’n mens uit op een van die belangrikste elemente van die Kersmaal – die leftovers die volgende dag. Daar is ook altyd daai een antie wat kom met ’n kar-boot vol Tupperware en foil. Sy het altyd eers skelm ingepak, maar oor die jare het almal haar maar begin help inskep, want dis nou al so deel van Kersfees.

Marc terg oor Aunty Merle en haar idees, maar erken hy is eintlik net soos sy wanneer dit by die feestyd kom. Vir hom is tyd saam met die familie ook baie belangrik en hy nooi elke paar jaar ook sy hele familie (maklik 40) oor na sy huis toe. Vir hom is dit heerlik om almal saam te hê, selfs die familielede wat nie met mekaar praat nie. Hy maak altyd ’n punt daarvan om hulle weer bymekaar te bring, selfs al begin dit net met ’n selfie, want dis Kersfees en familie is belangrik.

“Een jaar was my hart gebroke, want ek het die yskasdeur oopgelos en toe gaan die breyani af. Toe ek dit agterkom, roep ek my niggie in die kombuis in en laat haar proe. Sy het dadelik gesê dis af, maar toe ons die gesels uit die vol eetkamer hoor, sê sy ‘miskien kan mens dit net proe as jy weet’, ” verklap hy. Die twee het besluit om in elk geval die kos voor te sit en tot vandag toe nog terg sy familie hom daaroor. “Ek was die grap van die jaar en was sedertdien bietjie huiwerig om my huis aan te bied! Die herinnering aan daardie breyani sting steeds,” lag hy.

Kersfees

Hierdie jaar gaan hy nie die familie vir Kersfees huisves nie, want dan kan hy, in Anwar se woorde, die Kersfees-skrapnel vryspring. “Dit is wanneer jy ná die tyd kla oor iets wat die antie gesê het en daai kind wat die Kreepy Krauly gebreek het en kan jy glo wat hy gedoen het – ek word eintlik Aunty Merle oor Kersfees,” giggel hy.

Party jare spandeer hy en Anwar ’n spesiale Kersdag alleen en kuier dan later saam met vriende. Dit is al die afgelope twintig jaar hul tradisie. “Jy weet mos, wanneer dit by jou lewensmaat kom, neem julle mekaar in ag. Ek neem altyd deel aan sy Eid-vieringe en hy aan my Kersfees,” verduidelik Marc.

Vir geskenke koop hy altyd ’n klomp luukse sepe, rome en bubble baths vir die familie. “Ons koop nooit vir onsself sexy seep nie en mense is mal daaroor om dit te kry.” As kind was die toegedraaide geskenke onder die boom, die afwagting daarvan, altyd vir hom die heel lekkerste ding van Kersfees. Die ander ding wat hom opgewonde gemaak het, was die nuwe klere wat hy elke jaar gekry het vir die Kersdag-kerkdiens. “Vir tien dae het daai suit in jou kamer gehang en jy kon nie wag om dit aan te trek nie. Selfs al was dit 38°C in die koelte soek jy net daai nuwe suit. Want nuwe klere ruik nuut en dis baie spesiaal,” onthou hy.

Om homself te bederf, koop hy lekkerruikgoed. “Ek stap in by Jo Malone en dan maak ek of ek niks skuld het nie. Dan splash ek op cologne en sê vir myself ‘hene, Marc Lottering, kyk vir jou, hoe ver is jy van Discom af!” lag hy kliphard.

Tog voel hy, hoewel dit belangrik is om Kersfees magical te maak vir kinders, ons nie moet vergeet dat dit werklik oor familie gaan, eerder as om ’n klomp skuld te maak vir net een dag nie. “ ’n Mens sal nooit spyt wees oor goeie herinneringe saam met vriende en familie nie, maar spyt kom altyd te laat wanneer dit kom by skuld,” sê hy ernstig.

Hoe voel hy oor die winkelsentrums wat reeds vol versierings en Kersliedjies is? “Ek sal baie graag wil sê ek is te cool daarvoor, maar as ek Boney M hoor, koop ek sommer ekstra KitKats. Dit doen steeds iets vir my, die vibe laat my glimlag! En ek kan nie bestaan sonder my Mariah Krismismusiek nie,” erken hy. Dis amper sy guns-telingdeel van die seisoen.

Hy is ook mal daaroor om sy Kersboom op te slaan – nog ’n tradisie wat hy en Anwar oor die jare ontwikkel het en die meeste van die tyd is hy die laaste een in sy vriendekring om dit weer weg te sit. Dis ’n tyd vir hom om tyd te spandeer met mense vir wie hy lief is, want die jaar is gewoonlik so ’n harwar en in hierdie tyd is ’n mens geneig om meer moeite te maak om mekaar te sien.

Wen
VYF dubbelkaartjies na Aunty Merle Z The Musical op Woensdag 19 Desember om 19:30 by die Baxter-teater! SMS Kuier Aunty Merle na 42508 (R1,50/SMS) voor Vrydag 23 November 2018 om in te skryf. Wenners sal telefonies in kennis gestel word.
Meer oor:  Kuier  |  Marc Lottering  |  Aunty Merle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.