Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Matriekklas-onnie tops deur sy seer
15 Oktober 2020


Net soos wat gesondheidswerkers midde die Covid-19-pandemie mense se lewens in hul hande het, netso het veral matriek-onderwysers opnuut besef hulle het die toekoms van derduisende jong mense in hul hande.

Opvoeding ontsluit deure na ’n beter toekoms en dis met hierdie gesindheid dat die groep onderwysers wat deel is van die Kuier Rapport Matriekklas 2020-projek, ten spyte van die vrees vir hul eie lewe en gesondheid, opgedaag het om hul deel vir die matrikulante van 2020 te doen. Kuier, wat al sedert 2017 die Winter-skoolprogram (’n bootcamp vir matrieks) aanbied, vat vanjaar hande saam met die Rapport Onderwysfonds (ROF), Netwerk24 en kykNET om broodnodige matrieklesse na elke matrikulant te neem met aanlyn klasse in videovorm op Netwerk24.

Teen druktyd het die totale views van hierdie videoklasse op 12 900 gestaan en die aantal ure wat daar na die lesse gekyk was, op 701 ure.

Onnies is helde

As ons kyk na die 200 matrikulante wat Kuier jaarliks met die tradisionele winterskool bereik het, is hierdie syfers sover fantasties, maar ons wil selfs meer matrikulante bereik! Ons sou egter nie hierdie projek in onstuimige tye soos nou kon aanpak sonder die besonderse groep onderwysers wat hulle hande vir dié job opgesteek het nie. Rhuwayda Mitchell, koördineerder van die projek, ag die 16 onderwysers wat vanjaar deel is van die projek as helde. “In die middel van die grendeltyd toe almal vir hul gesondheid gevrees het, was hulle bereid om te help.

Die onnies kom uit skole met verskillende kontekste – privaat skole, eks-model C-skole, gewone staat-skole – en elkeen van hulle weet presies wat ons matrikulante vir die spesifieke vak benodig,” verduidelik sy. Volgens haar ken onnies wat in “minder-gegoede” skole en -gebiede onderrig “ons kinders se frustrasies, vrese en tekortkominge, hindernisse en tekort aan genoegsame bronne. Ons kon met hierdie lesse vir elke kind in die spesifieke vakgebiede ‘padkos’ gee vir die eindeksamen”.

Stephen Adams (33), ’n wiskunde-onderwyser by Hoërskool Curro Durbanville, ’n voormalige ROF Prestige-wenner en wat ook sedert 2017 by die projek betrokke is, is een van dié onderwyshelde. Stephen van Kuilsrivier in die noordelike voorstede van Kaapstad, het vanjaar een van die seerste sere wat die lewe jou kan toedien, beleef, toe hy en sy vrou, Shinain, hul eersteling, Jesse, op 11 April verloor het.

Dit was ses dae voordat Jesse drie maande oud sou word. Hy het nooit die hospitaal ná sy geboorte op 17 Januarie verlaat nie. Klein Jesse was voor geboorte met ’n diafragmabreuk (CDH – congenital diaphragmatic hernia) gediagnoseer. Volgens die webtuiste www.chop.edu veroorsaak die toestand in die voorgeboorteproses dat daar ’n gat of opening in die baba se diafragma is en die ander organe in die borsarea gaan sit. Dit affekteer die ontwikkeling van die longe en hart.

“Op 26 weke het ’n spesialis Jesse se diagnose bevestig, maar hom ’n 87% kans gegee om die geboorte te oorleef. Ons moes besluit om te aborteer of nie. Maar lewe en dood laat ons in God se Hande en die feit dat Jesse geleef het, is vir ons die groot wonderwerk,” vertel Stephen. Hy en sy vrou het gesukkel om swanger te word, daarom is dit so verpletterend dat hulle hom verloor het.

“Jesse was aan soveel masjiene gekoppel . . . Hy het swaargekry en het net voordat hy drie maande sou word in die hospitaal gesterf,” voeg Stephen sag by. “Wanneer so iets met jou gebeur, waardeer jy die lewe soveel meer. Ons weet God plaas jou nie in ’n situasie en help jou nie daardeur nie. God dra ons.”

In hierdie moeilike tyd, help sy passie vir wiskunde en die onderwys hom om steeds elke dag aan te gaan en sy beste te lewer vir die leerders wat hy opvoed. Stephen het in die grendeltydperk en op die eerste Saterdag waarop die videoklasse verfilm is, ook die nuus gekry dat ’n goeie vriendin van hom afgesterf het. Dit was reg voordat hy sy wiskundeles moes gaan verfilm en drie maande ná Jesse se dood.

Twee groot verliese binne ’n baie kort tyd, maar toe die kameras begin rol, was Stephen op sy pos. “Covid-19 laat ’n mens besef die lewe is kort, maar dat ek steeds iets vir kinders kan beteken. Die dag as jy sterf, gaan mense praat oor wat jy gedoen het. Jy werk nou al aan jou legacy. Moenie jou gawe begrawe omdat jy kwaad is vir die Here oor iets wat nie uitgewerk het soos wat jy dit wou hê nie,” sê hy.

Maak ’n verskil

Stephen se passie vir die onderwys en wiskunde het hom in 2015 en 2016 onderwystoekennings laat wen en ook in 2016 ’n ROF Prestige-wenner gemaak. Hy is vir laasgenoemde saam met ’n groep ander wenners Nederland toe waar hulle ’n kursus vir tien dae bygewoon het in Utrecht. Hy was toe departementshoof by Hoër-skool Bernadino Heights in Kraaifontein.

“In ons gemeenskappe sukkel ouers self met wiskunde en het nie tyd om met hul kind te sit nie. En kom die kind op skool, is die wiskunde-onnie gewoonlik moeilik; ons klasse is groot en daar is nie geld om ekstra klasse te doen nie. Dis moeilik om al hierdie barriers te oorkom en daarom vat sommige wiskundige geletterdheid wat die makliker opsie is,’” voeg Stephen by.

Dis hoekom hy sal aanhou om wiskunde met passie aan te bied sodat kinders hul punte kan opstoot en geleenthede kan kry om iets te studeer, wat vir hulle ’n beter lewe kan gee.

Ernusta Maralack en die groep onderwysers wat deel is van vanjaar se Matriekklas-projek.

DOEN AANSOEK VIR BEURSE

As Kuier se vennoot op hierdie aanlyn matriekhersieningsprojek, is die Rapport Onderwysfonds (ROF) baie opgewonde om drie ROF-leningsbeurse aan te kondig vir drie matrikulante wat die Kuier-Rapport-videoklasse op Netwerk24 bywoon. ROF is ’n nie-winsgewende organisasie wat finansiële ondersteuning gee aan tersiêre onderwysstudente.

Die fonds bestaan al sedert November 2003 en het oor die jare reeds honderde studente gehelp om hul droom om ’n onderwyser te word, te bewaarheid. ROF nooi nou matrikulante uit om ’n lekker geselsbrief te skryf wat die volgende insluit: Waar kom jy vandaan en vertel ons iets van jou familie.

Waarom wil jy onderwys studeer? Waarom het jy ’n behoefte aan finansiële ondersteuning? Hoe het die aanlyn klasse jou gehelp met jou matriek?

Stuur jou geselsbriefie na admin@rof.org.za met die opskrif “ROF-KOMPETISIE”. Die keuring sal in Februarie 2021 gedoen word en die wenners sal einde Februarie 2021 aangekondig word. (Let wel, jy moet jou matriek slaag en ’n bewys van jou B.Ed.-registrasie by ’n geakkrediteerde universiteit kan toon, sou jy gekies word as een van die wenners.)

Besoek www.rof.org.za vir meer inligting en bepalings en voorwaardes. Kuier gaan ook vyf beurse van R10 000 elk aan vyf verdienstelike studente toeken wat reeds aanvaar is om volgende jaar by ’n tersiêre instelling te studeer. Dit kan in enige studierigting wees. Hierdie beurs gaan nie jou hele kursus dek nie; dis net ’n hulpmiddel vir enigiets anders wat jy dalk benodig.

Die beurse is nie noodwendig vir die sterkste akademiese kandidate nie, maar daardie jong mense wat ’n besonderse storie van deursettingsvermoë en dryfkrag het om ten spyte van hul omstandighede uit te styg.

Stuur jou storie van 500 woorde oor hoekom jy een van hierdie beurse moet wen na matriekklas@kuier.co.za.

Die sluitingsdatum is 22 Desember 2020. Gebruik die sleutelwoorde “KUIER MATRIEKKLAS-BEURS 2021” in die onderwerpveld en maak seker jou kontakbesonderhede is onderaan jou e-pos. As jy ’n beurs gewen het, sal Kuier jou kontak oor watter ondersteunende dokumente jy moet aanstuur. Waarvoor wag julle, skryf in!

* Foto’s: Dale Fourie en Dirkie van der Merwe

Meer oor:  Aanlynklasse  |  Kuier  |  Matriekklas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.