Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mening: Meer as net 'n ekstra
4 September 2019
julian jansen


Kuier het sonder twyfel ’n opwindende era vir lesers in bruin gemeenskappe ingelui.

Baie bruin mense was oor die voorafgaande dekades nogal getroue lesers van die bestaande Afrikaanse gesinstydskrifte en -koerante. Hoewel dié produkte destyds hoofsaaklik onbeskaamd wit was, het bruin mense tog die artikels en stories daarin met groot aptyt, maar in ’n mate ook onkrities gelees.

Inligting is deur dié soort sosialisering onbewustelik deel van hul bewussyn ge-maak. Onder meer het bruin mense die taalgebruik in dié tydskrifte deel van hul woordeskat gemaak en ook soms soos die figure daarin begin dink en optree. Hoewel bruin mense in hul kop, figuurlik, in daardie ruimte geleef het, was hulle in werklikheid nié deel van daardie gemeenskappe nie. Brakpan was nie Mitchells Plain nie, nog minder was Brackenfell Eersterivier.

MetroBurger
MetroBurger

Afrikaanse tydskrifte was destyds beslis nie goedkoop nie, maar bruin mense het hul geld getrou opsy gesit daarvoor. Voorsiening is later in die hoofstroommedia gemaak vir nuus oor die “Kaapse Kleurlinge”, met koerante soos Rapport Ekstra, Die Burger Ekstra (later MetroBurger) en Cape Herald. Ons het ons nuus apart gekry en ook minder figureer in die andersins oorheersend “wit” koerante.

Onbekende wêrelde

Op voetsoolvlak en in praktyk was bruin mense se lees- en leefruimtes dus wêrelde uitmekaar, want hulle het beslis nie hul eie sosio-ekonomiese kwessies in tydskrifte raakgelees nie. Baie van die kwessies waar-

oor wel berig was, was half utopies en volksvreemd – dit was nie sigbaar en konsekwent in bruin gemeenskappe nie.

Rolmodelle in ander tydskrifte was daar-om ook nie realisties nie, want dit was nie mense uit bruin gemeenskappe nie.

Dié tydskrifte kon ook ’n ontmagtigende impak op bruin lesers gehad het, juis om-

dat dit nie die behoeftes van dié lesers regtig aangespreek het nie en hulle ontnugterd gelaat het, soms onbewustelik.

Intussen is ons kinders deur ’n skoolstelsel effektief gesosialiseer om derderangse burgers te word, wat as volwassenes derderangse loopbane in die samelewing sou hê. Dit sou dekades neem voordat bruin mense ’n tydskrif kon koop waarvan die inhoud ’n mens kinderlik opgewonde sou kon maak én waarin jy op elke bladsy met die mense kon identifiseer.

Het die tydskrifte van ouds noemenswaardige gemeenskapstrots en ook patriotisme by hul lesers aangewakker? Ek twyfel, want het dit nie eerder bruin lesers onbewustelik minderwaardig laat voel – dat hy of sy nie eintlik by daardie wêreld, soos in die tydskrif uitgebeeld is, inpas nie?

Daar was nie suksesverhale van bruin mense in nie en feitlik almal in die tydskrif was wit. Hier sit ek en jy. Wie is ons rolmodelle? Ek onthou hoe algemeen was die opmerking destyds: Jy hou jou wit.

So, daar was ’n duidelike diskrepansie tussen wie en wat ons was en wat ons gelees en vir ure mee ontspan het.

Die inligting in die ouer tydskrifte was ook nie werkbare inligting nie. Neem byvoorbeeld die advertensies: sommige van die produkte daarin sou destyds nie noodwendig vir alle bruin mense van waarde wees nie, byvoorbeeld die miljoenêrshuis in die advertensie vir eiendomme, die luukse motor, die vakansie na ’n eksotiese eiland.

Toe kom Kuier.

Kuier was van meet af bekostigbaar, maar meer: dit het stories en artikels ingehad wat spreek tot bruin gemeenskappe. Met die intrapslag kon lesers sien dat die aanbieding eerlik, reguit en opvoedend is. Onbeskaamd op die bruin mark gemik. Vir die eerste keer kon bruin mense ’n tydskrif in die hand hou waarin die mense wat op elke bladsy is, lyk soos die bure, soos jou familie, die dinge doen soos die leser doen, sosiale waardes deel soos dié van die leser.

Vir die eerste keer kon lesers hulle vereenselwig met die stories en artikels. Nog meer, lesers kon sien en lees van suksesstories van mense wat soos hulle is, in hul buurte bly en werke soos hulself doen.

Verryk mense

So wat het Kuier oor die afgelope 10 jaar vir bruin gemeenskappe beteken?

Ons leef en beef in gemeenskappe waar die “normale” gesin van twee ouers en kinders nie oral bestaan nie. Ons het gebroke gesinne, afwesige pa’s, enkelouers, gesinne waar grootouers kinders moet grootmaak, selfs waar kinders hul sibbe moet grootmaak. Vir baie van dié gesinne is armoede, werkloosheid, lae geskooldheid, armoedige woonomstandighede en uitsigloosheid een groot uitdaging.

Kuier het hoop kom gee in bruin gemeenskappe. Kuier het gemeenskappe oor die land kom verbind en hulle kon met mekaar se issues vereenselwig.

Die somtotaal van die intrinsieke waarde van al die vorige Kuier-uitgawes oor die afgelope dekade, is opgeneem in die daaglikse doen en late van duisende lesers.

In kort: lesers se lewens is oor die jare kwalitatief deur Kuier verryk – daar is waarde toegevoeg. Maar meer: duisende lesers is nie net vermaak en ingelig nie, maar gemeenskappe is bemagtig en hulle leef met groter vertroue en hoop.

Wat uitstaan van Kuier is die eksponensiële waarde van die tydskrif vir bruin gemeenskappe. In die tydskrif word openlik gepraat oor brandende sosio-ekonomiese kwessies in die bruin gemeenskappe. ’n Brandende onderwerp sal altyd vir my, as oudonderwyser, dié van die inisiasie van jong mans as waardevolle bydraers in gemeenskappe wees.

Indien gemeenskappe hierin faal, is bendes die doring in hul vlees.

’n Bendelid is vir my een van die bewysstukke van wat gebeur as ’n gemeenskap ’n kind faal. Want as ons die tienerseun nie in daardie kwesbare oorgangstyd van kind na tiener en van tiener na volwassene bystaan en nurture nie, sal hy terugkom en die gemeenskap met vengeance aan die hakskeen byt. En ja, ons word omtrent gehap.

Ons gemeenskappe op veral die Kaapse Vlakte strompel bebloed. So, dis veral in dié gemeenskappe wat Kuier vir lesers hoop bring. Ons het al nuuskierig gelees van manne groen van die tattoos wat uit die bendewêreld kon ontsnap en weer ’n sinvolle lewe lei deur ander kwesbare seuns te leer dat daar ’n beter alternatief is.

Hoewel Kuier onbeskaamd gemik is op bruin vroue, word daar ook oor mans in dié gemeenskappe geskryf. Daar word oor die afwesige pa geskryf, oor gesinne wat deur grootouers of kinders gelei word, ja ook suksesvolle pa’s. 

Kuier het gemeenskappe oor die land verbind en hulle kon met mekaar se issues vereenselwig.

Daar word oor mense met terminale siektes geskryf, oor hul heldhaftige pogings om ten spyte van ’n verkorte lewensverwagting steeds die lewe aan te gryp en ander te inspireer. Kuier se taalgebruik is gemaklik en skoon, glad nie die kras ponie-tipe nie. Dit betoon respek en waardering vir elke rolspeler op watter bladsy hy of sy ook al mag verskyn.

Die tydskrif bewys net weer dat jy nie hoef smetterig te wees om aandag te trek of te skok om lesers te lok nie. Kuier is ook anders as die voorspelde ploegperd, dis ’n renperd in die tyd-skrifkategorie van Afrikaans-media.

Kuier het ’n tydskrif kom word wat die lief en leed van die breë gemeenskap deel en só bring dit hoop in ’n land wat nog strompel met die nalatenskap van apartheid, maar ook hoe om suksesvolle medewerkers van die reënboognasie te wees.

Kuier het gewis die groot honde in die tydskrif-afdeling ore met verkope kom aansit en so sonder groot bravade op ’n manier aangekondig dat daar van haar note gevat moet word.

My persoonlike ervaring is dat Kuier deur lesers in alle gemeenskappe gelees en geniet word. Bruin, wit, swart, Indiër. En dít maak my baie opgewonde vir die toekoms – dat die tydskrif vir alle landsburgers wat Afrikaans liefhet en ook besig, sal bedien.

Kuier het lesers gewys dat hulle op alle maniere ook glamorous kan wees.

Die tydskrif bedien reeds lesers oor al die godsdiensgrense, inkomstegroepe, seksuele oriëntasie en ouderdomsgroepe. Dis ’n tydskrif vir almal.

Die artikels is gebalanseerd en só verpak, dat die inhoud lesers verdraagsaamheid leer ongeag hul verskille. Dit wek en stimuleer liefde vir en trots op jou diversiteit.

Die groter wens is dat Kuier vorentoe benewens selftrots, nog meer nasietrots sal stimuleer. Dat lesers kan sien die krag wat in diversiteit leef.

Lesers moet al hoe meer geïnspireer word om rolmodelle, presteerders, leiers in hul gemeenskappe te identifiseer en te help dat hul stories ook vertel word.

Van onbeskaamd ’n tydskrif vir bruin vroue, sal Kuier al hoe meer ’n tydskrif vir alle vroue, ongeag velkleur en eerste taal, word. Dit is immers alreeds só.

Kuier is ’n suksesverhaal, ’n moderne tydskrif-sprokie. Ek is ’n trotse en gereelde leser van Kuier, die tydskrifte met my ma se naam op die voorblad geskryf.
Meer oor:  Kuier  |  Kuier10  |  Julian Jansen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.