Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mej. SA stry teen TB-stigma
3 Oktober 2018


Sy word tans as die mooiste vrou in die land beskou, maar op die oomblik is Tamaryn Green (24) van die Paarl se grootste fokus haar medemens en hul gesondheid.

Spesifiek tuberkulose (TB), want sy weet wat dit is om dié siekte te het, wat baie mense steeds as ’n “vuil siekte” beskou.

En al is baie oë op haar gerig om nes Demi-Leigh Nel-Peters die Mej. Heelal-kroon huis toe te bring, is haar visier op Suid-Afrikaners se welstand. Tamaryn is twee jaar gelede met TB ge­di­agnoseer, maar weens die stigma wat saam met hierdie siekte gepaard gaan, wou sy nooit hê mense moet daarvan weet nie.

Al was sy tot onlangs self ’n mediese student, was sy steeds skaam en bang mense sou vooroordeel en anders behandel. En omdat sy nie daaroor wou praat nie, moes sy dikwels vir familie en klasmaats lieg oor hoekom sy sleg voel en het dit veroorsaak dat sy langer gewag het voordat sy die regte sorg gekry het.

Nou met die stigting van haar Break the Stigma-veldtog hoop sy om meer bewustheid rondom die siekte en die emosionele uitwerking daarvan op pasiënte te skep. Sy voel as sy een mens se lewe ’n bietjie makliker kan maak en verhoed dat hulle soos ’n melaatse afgesonder word, het sy in haar doel geslaag.

Hoewel tuberkulose wel aansteeklik kan wees, is jy nie noodwendig vir altyd vir ander ’n gevaar nie. Maar omdat mense nie goed genoeg inlig is oor die toestand nie, maak hulle dikwels hul eie aannames en word die pasiënt in die proses onnodig benadeel. Dit is iets wat Tamaryn graag deur haar veldtog wil verander en sy voel die enigste manier hoe sy mense se houding teenoor tuberkulose gaan verander, is as hulle beter opgevoed is oor die toestand en wanneer dit ’n gevaar is.

Vir Tamaryn, met haar natuurlike saggeaardheid en liefde vir mense, was ’n internasionale titel nooit haar grootste motivering toe sy vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf het nie. Sy wou ’n verskil in mense se lewens maak, maar was nooit seker hoe sy dit gaan doen nie. Selfs nadat sy gewen het, was sy nie seker hoe sy ’n verskil gaan maak nie, maar sy het beslis nie gedink sy sou ooit oor haar stryd met tuberkulose praat nie.

“Toe ek siek was, was daar ’n handjievol mense wat geweet het van my diagnose. Dit was eintlik net my gesin en ’n paar mense by die universiteit. Ek wou nie vir my familie of vriende vertel nie, want ek het eerstehands gesien hoe mense en selfs versorgers tuberkulose-pasiënte behandel. Ek het wel vir ’n paar van my universiteitsvriende vertel, want ek het gevoel hulle sou dit beter hanteer as my vriende by die huis omdat hulle die siekte verstaan,” sê sy.

“Mense beskou oor die algemeen maar vir TB as ’n vuil siekte en iets wat jy slegs in vuil en onhigiëniese plekke optel. Mense veroordeel die persoon en dink sommer hulle is ook vuil en onbelangrik, maar TB is nie iets wat net sekere mense raak nie. Dit kan met enigiemand gebeur en ek was beslis nie in enige vuil plekke nie, dit is net een van die beroepsgevare waarvan jy as dokter bewus is, maar nooit dink met jou sal gebeur nie.”

DIAGNOSE

Tamaryn is met die dormante TB gedi­agnoseer en het geen van die normale simptome van hoes, gewigsverlies of nagsweet gehad nie. Sy het net ’n vergrote klier in haar nek ontdek, maar selfs met normale toetse het dit nie gewys sy het TB nie. Eers nadat hulle tydens ’n operasie die weefsel verwyder het en verder laat toets het, het dokters ontdek dat sy TB het.

Sy was aanvanklik geskok, maar het onmiddellik besluit sy sal dit self in die stilte hanteer.

“Dit was baie moeilik vir my en ek dink selfs vir my ouers (David en Ellirene Green) ook. Ek het steeds my klasse bygewoon en op my afdae het ek hospitaal toe gegaan en gehoop dat niemand my daar sien terwyl ek my behandeling kry nie,” sê sy.

“Ek het vir sewe maande tussen die hospitaal en klasse beweeg. Ek het ook baie komplikasies gehad omdat ek nie gerus het en die tyd gevat het wat ek nodig gehad het om te herstel nie. Die wond in my nek het infeksie gekry en ek moes ’n serp dra om dit weg te steek. Toe kry my lewer infeksie weens die pille en moes ek eers daarna laat kyk voordat ek weer op my behandeling kon gaan.”

Dit het Tamaryn emosioneel afgerem en selfs haar ouers het soms uit die bloute, soos die aand van haar 21ste verjaardag, net in trane uitgebars en emosioneel geword. Sy meen dit was omdat hulle net so emosioneel moeg was van al die bekommernis soos sy.

“Dit was maande en met elke komplikasie was daar ander simptome. Ek het naar geword, gewig verloor en moes toe uiteindelik my klasse los. Ek kon nie eksamen met die ander studente skryf nie en moes oor die Desember-vakansie my eksamens doen. Vir ’n over achiever soos ek, het dit gevoel asof ek myself en my ouers teleurgestel het. Dit was alles omdat ek nie van die begin af vir my dosente en ander wou vertel van my siekte nie en die ondersteuning gekry het wat ek nodig gehad het nie,” vertel Tamaryn openhartig.

Nou wil sy verhoed dat enigiemand anders deur dieselfde trauma gaan, maar die vrymoedigheid sal hê om daaroor te gesels. Weens haar TB moes sy ook in 2015 aan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie ontrek. Sy het daardie jaar vir die eerste keer ingeskryf, nadat sy die jaar vantevore deur die voormalige Mej. Suid-Afrika Rolene Strauss geïnspireer is. Rolene was self ’n mediese student toe sy die titel wen en later ook as Mej. Wêreld gekroon is, het Tamaryn laat besef sy kan steeds haar passie uitleef en ’n platform soos Mej. Suid-Afrika gebruik om selfs ’n groter verskil in mense se lewens te maak.

Tamaryn het vir die eerste keer besef dat dit meer as net ’n skoonheidskompetisie is en dat sy haar beroep en voorkoms kan gebruik as ’n manier om selfs meer mense te bereik as wat sy as dokter sou kon doen.

Voorheen het sy altyd die sterk vroue wat die Mej. SA-titel gewen het, bewonder, maar hoewel sy van kleins af aan ’n paar skoonheidskompetisies deel geneem het, het sy nooit voor Rolene daaraan gedink om deel te neem nie.

Volgens Tamaryn was sy nie eens bewus daarvan dat daar so baie skoonheidskompetisies bestaan nie. Sy het tydens die Mej. Suid-Afrika-kompetisie uitgevind van die verskillende kompetisies toe sy hoor waarin baie van die ander meisies deelgeneem het. Behalwe vir ’n skoonheidskompetisie by haar kerk, die gewilde Mnr. en Mej. New Orleans by haar hoërskool en die Mej. Drakenstein Distrik-kompetisie, het sy net aan een ander groot kompetisie deelgeneem.

Hoewel baie familie, vriende en mense in die gemeenskap altyd vir haar gesê het sy is pragtig en dat sy eendag ’n groot kompetisie soos Mej. Suid-Afrika kan wen, het sy nie regtig gedink dit is iets wat sy sou doen nie.

KOMPETISIES

Tamaryn wen ’n skoonheidskompetisie toe sy nog op skool was.

“Dit was lekker vir my om in skoonheidskompetisies by die skool of kerk deel te neem, maar dit was nie my passie nie. Ek wou ’n dokter word sodat ek mense kon help en ook omdat my pa nooit die geleenthede gehad het om dit te gaan swot nie en ek graag dit vir my en vir hom wou doen,” sê sy trots.

Volgens haar ouers was hulle verbaas toe sy vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie inskryf, omdat sy nooit regtig as kind ’n belangstelling in die skoonheidskompetisies getoon het nie. Hulle het nes die meeste families altyd saam gesit en dié skoonheidskompetisies op TV gekyk, maar nooit gedink een van hul eie meisiekinders sou deelneem nie.

“As ouers was ons angstig en bekommerd oor ons kind se veiligheid en welstand toe sy met TB gediagnoseer is. Ons was nie seker oor haar toekoms en hoe haar die siekte haar studies sou affekteer nie, maar alles het uitgewerk. Dit was vir ons onwerklik toe sy gewen het. Behalwe dat sy vinnig moes grootword, het haar persoonlikheid glad nie verander nie. Sy is dieselfde meisie wat voor ons grootgeword het,” sê pa David.

Op haar beurt sê Ellirene Tamaryn was nog altyd ’n kind wat geweet het wat sy wou doen en as sy op iets besluit het, het sy haar alles gegee om dit te laat gebeur. “Ons het geweet as sy daarop besluit het, sal sy nie toelaat dat enigeen haar van plan laat verander nie. Ons het besluit om haar te ondersteun en omdat sy nog altyd so ’n groot hart vir ander gehad het, het ons geweet sy sou ’n goeie Mej. Suid-Afrika wees. Sy het ’n passie vir mense en sal haar alles gee. Ek dink nie ons kan regtig in woorde verduidelik hoe trots jy as ouer is wanneer jy sien hoe jou kind ’n verskil in ander se lewens maak nie. Ons is so opgewonde vir haar,” sê sy.

Tamaryn en haar gesin was nog altyd baie na aan mekaar en doen graag alles saam. Hulle is haar grootste ondersteuners en die mense wat haar deur al haar moeilike tye dra. Tamaryn is die middelkind en sê sonder haar ouers en sibbe se ondersteuning sou sy nie deur haar studies, TB of haar nuwe ervaring as Mej. Suid-Afrika kon kom nie. Hulle beteken vir haar die wêreld en al sien sy hulle nie meer gereeld sedert sy Johannesburg toe getrek het nadat sy gekroon is nie, knyp sy altyd ’n tydjie af om hulle te sien wanneer sy wel in Kaapstad is.

“Dit was vir my ’n groot aanpassing om Johannesburg toe te trek en daar was baie dae wat ek net wou huil wanneer alles te oorweldigend vir my geword het. Ek verlang ook verskriklik baie, maar hulle verstaan dat dit nou my eerste prioriteit is en dat ek besig is. Maar hulle is baie trots en al is dit ’n uur, maak ek seker dat ek hulle sien wanneer ek in die Kaap is,” vertel sy. “ ’n Mens moet daardie tydjie vat om vir mense te laat weet dat jy nog dieselfde persoon is en steeds omgee vir jul verhouding. Soms, al is dit twee ure wat ek moet gebruik, sal ek al my vriende bel en uitvind hoe dit met hulle gaan. Dit laat die persoon goed voel en dit gee vir my ook daardie bietjie krag wat ek nodig het om aan te gaan en te doen wat ek moet.”

Volgens haar was al die aandag vir haar aan die begin baie vreemd. Sy was glad nie gewoond daaraan dat mense oor haar ’n bohaai maak en haar wil pamperlang en in die mooiste skeppings wou aantrek nie. Sy self is meer van ’n jeans-en-T-shirt-meisie en verkies om ’n berg te klim eerder as om op te dress.

MOES GEWOOND RAAK

Ek is heel eerste hier om my mense en my land te help en dit is wat vir my die belangrikstte is
Tamaryn Green

Sy begin ook lag wanneer sy erken dat sy ook aan die media-aandag gewoond moes raak en regtig moes leer hoe om met die media te kommunikeer. Maar sy sê trots dat dit nou al baie beter gaan.

Tamaryn erken dat die druk, veral aan die begin, vir haar baie was omdat almal ná haar kroning onmiddellik oor die Mej. Heelal-kompetisie begin gesels het en hul menings wou deel oor haar kanse om Demi-Leigh se opvolger te wees.

Volgens Tamaryn is dit ’n groot eer om haar land op ’n internasionale verhoog te gaan verteenwoordig, maar sy wil nooit hê mense moet die belangrike rol van Mej. Suid-Afrika vergeet nie.

“Ek is heel eerste hier om my mense en my land te help en dit is wat vir my die belangrikste is. Ek wil ’n verskil in mense se lewens maak en dit is hoekom ek dink alles net in plek geval het soos wat dit op die oomblik is. TB was nog nooit so baie in die nuus soos hierdie jaar nie en dit alles maak my opgewonde, want dit sê vir my God is besig om te werk,” sê sy.

“In alles wat ek doen, stel ek God eerste en laat ek toe dat Hy my lei. As dinge te veel raak, sal ek selfs tydens ’n vergadering vir vyf minute vra en dan buite iewers gaan bid sodat God my kan lei en my sal kalm maak,” vertel Tamaryn.

Met die hulp van God en inspirasie van sterk vroue soos haar ma en haar biologie-onderwyser wat vir haar geleer het hoe om selfversekerd te wees en te gaan vir dit wat jy in die lewe wil hê, hoop sy om ook nou ’n inspirasie vir ander vroue in Suid-Afrika te wees.

Haar storie wys ons ook hoe belangrik dit is om nie toe te laat dat enigiets jou terughou in die lewe nie – nie eens iets soos TB nie!

Meer oor:  Mej. Suid-Afrika  |  Tuberkulose  |  Tb  |  Tamaryn Green  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.