Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mel maak hart oop
5 September 2018

Toe die Amerikaanse sangeres Demi Lovato verlede maand ’n oordosis dwelms neem, het dit ons eie Melanie du Bois (voorheen
Felicity in die sepie 7de Laan) met ’n slag getref. Nie omdat Melanie, soos Demi, met middelmisbruik sukkel nie, maar omdat sy daai donker plek ken wat jou laat voel daar is nie meer hoop nie.

Ja, Melanie weet hoe dit voel om by tye op so ’n donker plek te wees dat dit moeilik is om te sien hoekom jy nog hier is en hoekom jy moet aangaan. Selfs al weet jy hier is mense wat jou oneindig liefhet en nodig het.

Demi het al openlik erken sy sukkel met drank- en dwelmmisbruik. Melanie (43) haal ’n paar lirieke uit Demi se nuwe liedjie “Sober” aan, want sy sê sy kan absoluut relate:

“And I’m sorry for the fans I lost who watched me fall again / I wanna be a role model, but I’m only human... / To the ones who never left me, we’ve been down this road before / I’m so sorry, I’m not sober anymore...”

Die laaste paar jaar het Melanie deur soveel diep waters gegaan dat dit ’n wonderwerk is dat sy nog staande bly.

Die laaste kere toe ons met haar gesels het, was in 2015 en toe weer in 2016.

In 2015 het Melanie haar geliefde susterskind Mikey (23) verloor en net vier dae later, het haar suster en Mikey se ma, Lucia Bernadine Wilson (46), haar eie lewe geneem. Die pyn omdat sy haar kind verloor het, was eenvoudig net te groot. Dit het Melanie verpletter omdat Lucia altyd “the life of the party” was – daardie een sonder wie ’n familiegeleentheid eenvoudig net nie dieselfde was nie. En nou sal elke familiegeleentheid ’n herinnering wees aan die onvulbare leemte wat haar dood gelaat het. Haar ouma aan moederskant, Stella Harris (88), is ook in Januarie vanjaar oorlede.

Dood is nie al trauma waarmee Melanie moes deal nie. Haar huwelik het ook verbrokkel en sy moes ’n egskeiding deur­maak. As vrou moes sy nie net haarself deur hierdie tyd dra nie, maar moes sterk bly vir Roxy (11), haar dogter, se onthalwe.

En toe kom ’n diagnose in 2016 wat haar wêreld geruk en haar lewe vir altyd verander het – sy het bipolêre gemoedsversteuring.

Sy moes onder meer vrede daarmee maak dat sy vir die res van haar lewe op medikasie moet wees om die chemiese wanbalans in haar brein te reguleer. En dat hierdie medikasie haar emosioneel “dood” (numb) laat voel in ruil daarvoor om te cope met ’n siekte wat haar sommige dae heeltemal lamlê en haar geliefdes beroof van die “regte Mel”.

HOEVEEL IS TE VEEL?

Sy was nog besig om sin van al die trauma te probeer maak toe haar kontrak vir haar rol as Felicity by 7de Laan nie hernu word nie. In ’n oogwink was sy nou ook ’n enkelma sonder ’n vaste inkomste.

Hoe baie kan een vrou verduur voordat sy knak?

Waar ons hierdie keer vir Melanie in Kaapstad ontmoet, waar sy ná ’n breuk van twee jaar uit die vermaakbedryf werk aan die nuwe kykNET-telenovela Arendsvlei, is dit ’n bittersoet reünie.

Sy groet met ’n drukkie en daardie mooi, warm glimlag wat altyd die son in enigeen se hart kan laat skyn. Dis egter dieselfde glimlag wat haar masker geword het en waaragter soveel pyn skuil. En hierdie keer verklap die lyne op haar gesig en ’n somberheid in haar oë ook ’n brose, gebroke siel. Die trauma van die afgelope twee jaar het sy tol geëis.

Sy erken met trane in haar oë: “Die afgelope twee jaar was dit breakdown after breakdown after breakdown. Ek is baie kwesbaar op die oomblik. Dit vat baie van my om hierdie onderhoud te doen”.

Dis hartverskeurend om haar só te sien, daarom het ons besluit om haar te respekteer en nie foto’s van haar tydens die onderhoud te neem toe sy op haar kwesbaarste was en kort-kort in trane uitgebars het nie.

Vir Melanie het haar bekendheid dinge nog moeiliker gemaak, want baie mense het verwag dat sy “soos ’n rolmodel moet optree en oor dit moet kom” omdat haar suster en Mikey se dood “immers ’n paar jaar gelede al gebeur het”. So asof daar ’n time limit is op hoe lank sy geregtig is om te treur en hul dood te verwerk. Mense besef nie altyd celebrities is ook net mens en dat hulle pyn nes die gewone mens ervaar nie.

“Met my suster se dood het ek beheer verloor. Dit het aan my gevat dat ek niks privaat kon hou nie, nie eens my pyn nie. Die dag toe ek Lucia se lyk moes gaan uitken, het iemand (by die lykshuis) vir ’n foto gevra en daar was mediafotograwe op haar begrafnis,” vertel Melanie.

Sy het ook baie druk op haarself gesit met haar siekte. “Ek was uitgesproke oor bipolar – dat dit net ’n siekte is en jy jou meds moet vat, maar ekself kon nie cope nie. Ek doen my motivationals en probeer mense help, maar ekself is in ’n donker plek. Ek het die afgelope twee jaar nie eens uitgegaan nie, want ek wou nie gejudge word nie,” maak sy haar hart oop oor die dele wat mense nie sien nie.

Sy raak manies, sê Melanie oor haar (geestes)gesondheid wat in ’n stadium só agteruitgegaan het dat sy vir tien dae nie haar medikasie gedrink het nie. “Ek was psychotic en kon nie eens onthou wat ek gedoen het nie. My psigiater het toe gesê ek is ’n gevaar vir myself,” vertel Melanie.

En ja, die selfmoordgedagtes teister haar, maar as dit kom, bel sy haar psigiater. Haar hart gaan uit aan vroue wat nie hierdie voorreg kan bekostig nie.

Wat die hantering van haar siekte nóg moeiliker maak, is hoe eensaam in haar stryd sy baie keer voel. Haar familie staan haar ontsettend baie by, maar Melanie weet ook haar ander suster, Tania, het haar eie uitdagings en hul ma deal met die verlies van haar eie ma se dood. Sy wil nie altyd op hulle afpak nie. Maar wat seerder maak, is die vriende – daai familie wat jy kies – wat intussen uit haar lewe verdwyn het.

“Dis amazing hoe baie vriende ek verloor het. Ek kan my vriende nou op my een hand tel. Ná alles waardeur ek is, het ek major trust issues en wil nie meer deur die pyn gaan van mense inlaat en dan verlaat hulle my in elk geval nie,” sê Melanie en klink amper moeg.

HAAR STAATMAKER

Maar deur alles, is daar die een persoon wat haar nog nooit in die steek gelaat het nie en dis haar Roxy. Vir die eerste keer helder Melanie se gesig heeltemal op en daardie mooi glimlag is terug.

“Roxy is ’n old soul en sal my kalmeer wanneer my anxiety attacks kom. Sy verstaan en as ma voel ek so skuldig. Maar sy is my hart se punt,” sê sy liefdevol.

Terwyl sy aan Arendsvlei werk, gaan sy vir tien maande in die Kaap bly en Melanie is dankbaar vir die breuk uit Johannesburg en alles wat daar gebeur het. Sy wou ook uit haar gemaksone kom en gaan die tyd gebruik om haar individualiteit en innerlike krag weer te vind. Sy is ook opgewonde om ’n ander tipe karakter in Arendsvlei te vertolk.

Ja, sy is deur diep waters en sommige dae is dit ’n stryd om selfs net ’n rede te vind om uit die bed uit te klim. Maar terwyl sy op haar reis van genesing is, soek Melanie niemand se bejammering nie, net empatie. Sy wil vir ander vroue wys jy hóéf nie altyd sterk te wees nie; dat dit oukei is om nié oukei te wees nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.