Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mening: Bemagtig vroue vir verandering
8 Augustus 2018


Vriend en kollega, Johann Maarman, skryf die ander dag op sosiale media, “sonder die vroue in my lewe, sal dit maar omtrent geneuk het. Hulle is my alles. Jy sal ons ook maar altyd saam sien. Hulle laat my op water loop.”

Tog dink nie alle mans só nie. Toe Helen Joseph, Rahima Moosa, Lilian Ngoyi en Sophie Williams op 9 Augustus 1956 met sowat 20 000 vroue ’n optog na die Uniegebou in Pretoria gehou het om teen paswette te betoog, het hul optog verandering gebring.

Hier het hulle gesing “Wathint’Abafazi Wathint’imbokodo” – losweg vertaal, raak aan ’n vrou en jy raak ’n rots. In 1994 ná demokrasiewording is 9 Augustus tot Vrouedag verklaar, met die verstane dat dit eer bring aan die opofferings van dié vroue, maar ook dat dit vroue eer vir die rol wat hulle as landsburgers speel.

Tog wonder ek, 24 jaar ná demokrasie, of vroue nog geëer word vir die rol wat hulle daagliks in die gemeenskap, maar veral in die lewe van hul gesinne speel. Hoewel die klem geskuif het van die destydse optog teen paswette, is dit vandag meer nodig om nie net op Vrouedag nie, maar elke dag te kyk na die vrou as ma, slagoffer van gesinsgeweld, teistering in die werkplek, geslagsgelykheid ten opsigte van salarisse, beroepe en geleenthede.

Vandag word vroue so dikwels emosioneel en fisies afgetakel dat dit as die norm aanvaar word. Die afgelope ruk lees ons gereeld van vroue wat wreed aangerand of doodgemaak word deur hul mans. Jayde Panayiotou, Susan Rohde en Gill Packham is almal deur hul eggenote vermoor.

Baie vroue weet steeds nie wat hul regte is nie, terwyl ander nog meer geweld vrees indien hulle regsoptrede sou oorweeg.

Vandag word vroue so dikwels emosioneel en fisies afgetakel dat dit as die norm aanvaar word.

Dit word vererger deur die nuwe Wet op Gesinsgeweld. Baie vroue verstaan nie dié wet behoorlik nie. Daar is wydverspreide nievoldoening aan dié wet, want gevalle van gesinsgeweld word nie behoorlik aangeteken nie.

Tot polisiebeamptes verstaan en pas self nie dié wet reg toe nie en as dit so aangaan, sal dié soort geweld nie behoorlik aangespreek word nie. Vroue word ook seksueel geteister en word in die werkplek teen gediskrimineer, veral wat salarisse en topposte betref.

Daar is steeds ’n verskil in salarisse van mans en vroue. In sommige gevalle is die vrou beter gekwalifiseerd as die man, maar haar salaris is minder. Dit wys dat SA nog ver ontbreek wat geslagsgelykheid betref. In Maart 2017 het ’n verslag van die rekenmeestersfirma Grant Thornton, aangedui dat vroue net 28% van senior bestuursposte in SA vul.

Al is die persentasie hoër as die vorige jaar, is daar steeds in die 13 jaar wat die peiling gedoen is nie veel verbetering op die 26% in 2004 nie. Maatskappye behoort heeltyd daaraan te werk om geslagsdiversiteit en -gelykheid in die werkplek te bevorder. Ons het te min vroue in bestuursposte.

Die verslag wys ook dat vroue steeds ondersteunende rolle, veral as direkteur van mensehulpbronne of as hoof van finansies vul. Daar is egter ’n stadige toename in die persentasie vroue wat die uitvoerende hoofde van ondernemings word. In 2017 is 10% van Suid-Afrikaanse uitvoerende hoofde vroue, teenoor die 9% in 2016 en 7% in 2015.

Totdat maatskappye en die regering optree om geslagsdiversiteit en -gelykheid in die werkplek aan te spreek, gaan dit moeilik wees vir vroue om ’n impak op verandering te hê. Vroue baklei steeds vanuit ’n posisie waar hulle geen mag het nie.

Almal wat die nuus volg, word byna daagliks blootgestel aan vergrype wat bekendes en ons leiers teenoor vroue pleeg. Dit is egter nie net mans wat vroue ontmagtig nie, vroue neem ook ander vroue se mag van hulle af weg. Vroue breek ook maklik ander vroue af en gun hulle nie die geleentheid om te groei nie.

Ons moet juis die sukses van ons susters vier en nie mekaar afbreek nie. As ons as vroue mekaar ophef, kan ons mure afbreek en sterker anderkant uitkom. Die punt is – staatsdepartemente moet wetgewing aanvaar en beleid ontwikkel wat diskriminasie teen vroue aanspreek en geslagsgelykheid bevorder. Gesondheidsorg- en ander diensverskaffers moet ook van gesinsgeweld bewus gemaak en opgelei word, sodat hulle die gevaartekens betyds kan raaksien en aanmeld.

Theresa Olivier is die adjunk-redakteur by Netwerk24.

Foto: Verskaf

Illustrasie: Ryan Carolisen


Die artikel verskyn in die 8 Augustus-uitgawe van Kuier-tydskrif. 


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.