Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
MENING: Bou met boere
5 September 2018
Ivor Price

In die hart van Ficksburg, aan die voet van die Imperani-berge in die Vrystaat, staan ek by ’n kamerdeur in ’n hospies wat deur die MD Foundation besit word. Ek is huiwerig om die kamer binne te gaan, al is ek daar op amptelike besoek as deel van my televisieprogram.

’n Man lê uitgestrek op die bed. Sterwend. Sy regterhand hang half soekend oor die bedreling, maar daar is niemand om sy hand vas te hou nie. Kort-kort kom ’n verpleegassistent verby om die sweet van sy voorkop af te vee. Vigs, fluister sy vir my in die verbygaan.

Skaars ’n halfuur vroeër het omtrent ’n honderd kinders my al singend by ’n laerskool ingewag. Hul skool word soos die hospies, ’n kliniek en ’n sentrum vir ekstra wiskunde- en Engelse klasse, betaal en bestuur deur boere van die plaaslike gemeenskap. Al dié dienste word gratis aangebied in ’n verafgeleë, landelike gebied wat lank reeds deur die regering vergeet is.

Ek sê dit nie hardop nie, maar die heeltyd wonder ek oor die boere se motiewe. Ek soek vir redes om hul uitsonderlike inisiatiewe (minstens in my kop) verdag te maak, maar al wat ek vind, is praktiese naasteliefde. Toe tref dit my: ek vertrou nie die boere nie, want as kind het my oorle’ oupa my vermaan om nooit ’n wit man te vertrou nie. Dit was tydens my hoërskooldae in die middel-1990’s dat hy op ’n dag opgemerk het dat die enigste goeie boer ’n dooie boer is.

In my reise deur die land word ek heeltyd met my eie wanopvattings gekonfronteer.

En van plaas tot plaas word ek verras deur weldoener-boere se toewyding tot projek Suid-Afrika. Ek reis letterlik op agterpaaie en kronkelpaaie na plekke waarvan die meeste mense stellig nooit sal hoor nie, en ek sien hoe boere hul winste gebruik om arm mense se lewens te verbeter. Ek weet nie wat andersins van die mense sou word nie.

Ek sê dit nie hardop nie, maar die heeltyd wonder ek oor die boere se motiewe.

Ja, dit is so dat baie van die wit, kommersiële boere se welstand oor geslagte heen opgebou is, maar die besluit om sosiale kohesie deur landbou te bevorder, bly ’n diep persoonlike een.

Só het ’n ander boer, Nick Serfontein, in die laaste 24 jaar reeds sonder enige erkenning van die regering al honderde miljoene rande belê in die ontwikkeling van swart boere. Die MD Foundation gebruik so te sê ál hul winste vir die opheffing van Ficksburg se weggooimense – en dit nadat hulle self al platgeslaan is ná verskeie tragedies, waaronder ’n plaasmoord, sekwestrasie en ’n verwoestende haelstorm.

Die onlangse openbare sittings oor grondhervorming sonder vergoeding het my egter opnuut laat besef dat ’n groot deel van ons land nog woedend is vir die einste mense wat hul kos voorsien.

Daar is geen twyfel dat grondhervorming noodsaaklik is nie, maar ons boere het nou verkeerdelik die teiken geword van die regering se traak-my-nie-agtige houding teenoor grondhervorming sedert die 1994-verkiesing. Trouens, pres. Cyril Ramaphosa het tydens die ANC se grondberaad in Mei vanjaar erken daar is baie swakpunte in die instellings verantwoordelik vir effektiewe regering.

Suid-Afrika het nou ’n unieke geleentheid om tydens die gronddebat ’n liefde vir ons landbouers en ook ’n waardering vir grond te kweek – eerder as om bloot die bestaande rasselyne te versterk. Dit is in elk geval ook ’n feit dat ons boere lank nie meer net wit is nie. Trouens, die helfte van byvoorbeeld die kaas wat vir Debonairs se pizzas gebruik word, kom uit die hande van ’n swart vrou, Jeanet Rikhotso, wat op 31-jarige ouderdom ’n enorme melkplaas in die Oos-Kaap bestuur.

Kom ons gebruik eerder ons kollektiewe krag om voedselproduksie te verhoog sodat ons uiteindelik minder vir ons kos kan betaal. Kospryse is hemelhoog en die realiteit is dat baie Suid-Afrikaners steeds op ’n hongerloon oorleef of eenvoudig snags op ’n leë maag moet gaan slaap. Die eintlike probleem waaroor ons behoort wakker te lê, is hoe om genoeg kos te produseer sodat almal kan eet.

Dink dus twee keer wanneer jy ons boere blameer vir die regering se traagheid met grondhervorming.

Meer oor:  Kuier  |  Ivor Price  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.