Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mening: ’n Pa in 'n kind se lewe
29 Mei 2019
Illustrasie: Ryan Carolisen

Toe ek nog ’n tjokker was, het my pa my orals saam hom gevat. Die hele Paternoster het ek saam hom deurkruis, met die beste van uitsig oor my hele dorpie, op die skouers van my pa.

En maak nie saak hóé Ma teen die karre geskop het nie, Pa het geglo dit is sy taak om ons aan al die moets en moenies van die lewe bloot te stel. Dus kon ek, terwyl ek hoog op sy skouers gesit het, al van ’n vroeë ouderdom af sien wie en wat my pa is.

Ongelukkig is dit in veels te veel situasies nie meer vandag die geval nie. Die statistieke rondom enkelouer-huishoudings sit in alle waarskynlikheid agter elke grys haar van my.

Volgens ’n studie van die Suid-Afrikaanse Instituut oor rasseverhoudings, bly sowat 39% van die land se kinders by hul ma’s. Nog méér scary: tydens die byna 990 000 geboortes wat verlede jaar in Suid-Afrika aangeteken is, was die pa’s se besonderhede by 61,7% van dié geboortes afwesig. Dit laat my wonder: waar is die pa’s? Gaan koop meer as 60% van pa’s in die land wraggies steeds seep?

Dit is glad nie rocket science dat ma’s die hoeksteen van gesinne is nie, maar pa’s speel ’n belangrike rol, veral in die opvoeding van seuns. Gaan kyk maar na hoe droewig die situasie op die Kaapse Vlakte is. Gaan kyk in sulke huishoudings hoeveel van die pa’s is in bendegeweld vermoor of sit weens bende-misdade in die tronk. Baie seuns word groot sonder dat hulle hul pa’s ooit geken het en bendes raak dan vir hulle ’n luxury waar hulle broederskap en vaderliefde kan ervaar. Hoe afgewater ook al dié gevoel mag wees.

Elke keer as ek ’n hofsaak moet gaan bywoon, val dit my altyd op hoe die langste lyne by die onderhoudafdeling van daardie hof is.

Dit is hier waar mammies in hul hordes rondstaan om hul kinders se pappies vir papgeld aan te gee. Dit laat my baie skaam as man voel, want wanneer het ons, die manlike spesie, dan só sleg geraak dat ons nie eens meer oor ons eie vlees en bloed worry nie?

Waar in die lewe het ons so skeef getrap dat ons kinders nie eens weet hoe ons lyk nie? Die dag toe ons hoor die meisie is swanger, toe gaan lay-buy ons vir onsself Harry Potter se kleed van onsigbaarheid. Mans genoeg om die daad te doen, maar duidelik nie mans genoeg vir die verantwoordelikhede wat met daardie daad gepaard gaan nie.

’n Kind het ook sy of haar pa nodig in hul lewe. Die ou wat soos ’n leeu moet brul, saam hulle op die grasperk rond kan rol en iemand wat moet maak of hy lekker smul aan die modderkoekies wat hulle gebak het. ’n Man wat ferm kan wees, sy stem dik kan maak, maar sag genoeg kan wees om elke eina-plekkie van hulle weg te soen. ’n Pa wat sy overall aantrek, sy level onder die bed kan uitsleep en sy kinders kan help om die perfekte lugkasteel te bou. ’n Pa wat getrou aan Mammie se sy kan staan en aan sy seun kan wys hoe ’n vrou behandel moet word en aan sy dogter kan wys hoe ’n vrou veronderstel is om deur ’n man getreat te word.

Bestaan daar nog sulke mans? Is hulle nie al weg met die heel eerste wegraping nie? Ek glo daar is nog pa’s daar buite wat hul gesinne op die hande dra. Ek wil ook glo daar kan nog méér pa’s wees wat vir ’n slag hul dinge wil laat staan en die Dêrra word wat hul kinders verlang en verdien. As mans hoef ons nie soos Tom Cruise deur ’n onmoontlike missie deur die lewe te gaan nie. Alles sal immers moontlik wees as ons dit vir ons kinders doen wat ons veronderstel is om te doen.

Vanjaar is my eerste Vadersdag sonder ’n pa. Ek sal nie hierdie jaar vir hom kan sê hoe baie hy vir my oor die jare beteken het en hoe ek elke les wat hy my geleer het, ter harte geneem het en nooit sal vergeet nie.

Maar ek kan iets vir my kinders beteken. Ek hoef nie die beste pa in die wêreld te wees nie, maar ek kan die beste pa vir húlle wees. So hoekom staan ons manne nie vir ’n slag saam en trek hierdie stigma-baadjie van sleg-pa uit nie? Kom ons begin hierdie Vadersdag. Kom ons raak weer die ou in die huis, die burgy in die stuk. Kom ons begin weer glo ’n huis is ook nie ’n huis sonder ’n pa nie . . .

Meer oor:  Kuier  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.