Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mening: Oppie troon met haar kroon
2 Oktober 2019
Shantal Moses

Om in vandag se dae ’n kroeskop te dra, moet jy hare op jou tande het. En geld. En tyd.

Dit sit nie in enigeen se broek om elke dag met ’n afro on fleek by die werk of skool op te daag nie. Daar is van die gelukkiges wat elke liewe dag met ’n wash and go kan regkom. Vir die res van ons is dit nie net harde werk nie, maar kos die maintenance van ’n kroeskop of natural hair ook baie geld.

Daarom kan ek nie verstaan waar kry mense die lewer (die vermetelheid) om jou vierkantig in die oë te kyk en vir jou te sê: “Nee wat, natural hair pas nie by jou nie.” Verskoon tog, wil jy miskien daai kwessie met my Maker uitklaar? Vra asseblief vir Hom hoekom Hy op dié draad besluit het.

Natuurlik kan jy nie grootmense só antwoord nie. Jy kan ook nie jou eie ma só antwoord nie. En dit is die een mens wat tog moet verstaan as jy jou natural haardraad wil embrace. Reg? Verkeerd! Dis juis diegene naaste aan jou wat kamma nie met die “nuwe jy” kan regkom nie. “Ek kan nie gewoond raak aan die hare nie. Jy het altyd sulke lang hare gehad wat so mooi uitgeblow was. Ek kan tog glad nie met die nuwe look van jou nie. Is dit nou fashion om dik hare te hê?”

Nou begin die les van my kant af. Dit is nie fashion of ’n styl nie. Dis my hare. Dis deel van wie ek is en ek wil dit nie verander omdat dit vir ander gemakliker gaan wees nie.

Niemand stel belang sodra ’n mens wil verduidelik nie. Daarom het ek empatie met die leerders van die Hoërskool Malibu in Blue Downs met hul onlangse hare-debakel en wens ek hulle het ’n hoof soos my hoërskoolhoof, meneer Johan van Straten, gehad. Vir iemand wat van die hoof van ’n all white school, skielik na ’n hoof van ’n multiracial skool gegaan het, dink ek hy het die hele change die beste hanteer. In standerd nege (amper 20 jaar terug) was ek een van die kandidate vir die daaropvolgende jaar se leerlingraad. Die hoof het my na sy kantoor geroep. Ek was asvaler as my normale asvaal geskrik. In die kantoor het my wit hoof my gevra: “Shantel, wat is relaxer?”

Ek was verstom. “Maak dié man ’n joke?” het ek gedink wat van kleins af ’n lojale relaxer gebruiker was.

“Bedoel meneer relaxer om jou hare glad te maak?” Ek was nie seker waar pas dit by die leerlingraad in nie.

“Ja, die bruin meisies sê heeltyd vir my dat hulle nie hul hare blond gekleur het nie, maar dat die relaxer dit só kleur.”

Daai tyd se relaxer het daai vuil streep gehad om sommer vir jou blonde highlights ook te gee. Gekleurde hare was teen die skool se gedragskode. Vir almal, wit en bruin.

“Dit is waar, meneer. Ek sal môre vir meneer ’n potjie bring dan kan meneer self sien wat is relaxer.” Maar die hoof was nie klaar nie. “Moet julle dit gebruik? Kan julle nie jul hare los soos dit uitkom nie?”

Hy het regtig nie verstaan nie. “Nee, meneer, want dan kan ons nie ons hare plat vasmaak nie.” Ek kry nou sommer weer nuwe respek vir my hoof. Hy wou verstaan hoekom is dinge soos dit is. Dis nou wel net hare, maar wie se hare is dit?

Leerders word verbind aan die skool se gedragskode en dit sluit in hoe hulle hul hare moet dra. Dis maklik om almal in dieselfde uniform te kry, maar jy kan nooit verwag om ’n 2a-haardraad op dieselfde manier as ’n 4c-draad vas te maak nie. Jy kan letterlik nie alle tipe hare oor dieselfde kam skeer nie.

En hoekom moet ons nog relaxer aan ons koppe smeer om soos ander te lyk? Dit is nie 30 jaar gelede toe mense se ras met ’n potloodtoets in die hare vasgestel is nie. Ons is ook verby die tyd toe dit offensive was om vir iemand ’n kroeskop te noem. Daar is nie meer ’n stelsel om ons te verhoed om te wees wie ons is nie.

Soos ons by die skool geleer word oor Hitler, die sprinkaan en algebra, dink ek ’n les oor die rol van hare in apartheid, moet ook plek in die kurrikulum kry. Die realiteit is dat almal nie dieselfde draad het nie, maar dat ons almal dieselfde respek verdien.

So by the way, dit is weinig dat jy ’n natural met vuil hare sal sien. Ons is te lief vir hare was omdat ons produkte so lekker ruik. Al kry ons nie dit nie altyd on fleek nie, dra ons dit met trots. Hoe tighter die krul, hoe beter. Dink volgende keer voor jy iemand op sy hare takseer.

Meer oor:  Kuier  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.