Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
MENING: Woorde maak seer
19 September 2018
Brenden Ruiter

My wit kollega kom eendag by die werk en vra vir my en ’n ander (bruin) kollega, hoe wil ons hê moet na ons verwys word. Kleurling? Bruin?

Dié kollega kom uit ’n dorp waar daar nie juis baie bruin mense was toe sy grootgeword het nie. Sommige plekke is soos daai. Daar waar ek grootgeword het, was nie Moslems nie. Die destydse televisie het ook nie veel gehelp nie, want ’n mens het net wit mense gesien. So ek verstaan en ek waardeer die feit dat sy vra hoe ons genoem wil word.

Ek is regtig nie ’n ou vir labels nie, maar as ek dan nou iets genoem moet word, laat dit maar bruin wees. Of die lekker een, kallid oftewel Coloured. Maar om vadersnaam net nie kleurling nie.

“Is dit dan nie dieselfde ding nie?” mag jy vra, maar dit is nie. As ek kleurling hoor, laat dit my dink aan ’n ou wit man wat nie weet wat om met my te maak of wat om my te noem nie. Bruin en kallid is woorde waarmee ek myself vereenselwig en wat ek self kies en daarom gemaklik is om genoem te word.

Net soos die woord kleurling verafsku ek ook die woord “blanke”. Ek wil nie te voorskriftelik wees nie, maar ek as ek ’n wit ou was, sou ek nie blank genoem wou word nie. Die konnotasies uit die verlede is nie positief nie.

Woorde is magtig. Die Bybel is vol waarskuwings oor die mag van woorde. Spreuke 12:18 sê: “Praat sonder om te dink, kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê.” Dít is waarin die uitdaging lê. Dink ons oor hoe ander mense voel voor ons iets sê? Soms is ons so kwaad dat ons net iets uitblaker sonder om twee keer te dink.

Selfs in ons huise moet ons woorde versigtig kies. Soms, tydens ’n stryery, kan ons ’n woord sê wat baie seermaak. Ek het al vreeslike pyn veroorsaak deur woorde te sê wat ek eerder nie moes nie.

Hoeveel van ons gebruik nie die afskuwelikste woorde wanneer ons dink ons is in ’n beskermde omgewing nie? Om die braai, in die kroeg, by die rugby, voor die televisie en selfs met ons kinders. Dit hoef nie eens oop en blote rassisme te wees soos die k-woord nie. Uitdrukkings soos “tipies”, “hulle” of “die volk”. Wie van ons doen dit?

Die afgelope weke het die land weereens besef hoe magtig woorde is toe ’n Suid-Afrikaner op ’n Griekse strand die gewraakte k-woord gebruik het. Binne dae ná sy uitspraak het Adam Catzavelos se familie hom uit die familieonderneming geskop, hy is sy kinders se skool verbied en is krimineel aangekla.

Erger nog is dat die onderneming dalk sy deure moet sluit omdat ander ondernemings vir wie hulle ’n verskaffer is, weier om met hulle sake te doen. Uiteindelik gaan al die werkers dalk hul werk verloor. Dit terwyl Adam besluit het om nie weer na SA terug te keer nie en sy familie ook later sal moet padgee. Al bogenoemde gebeur oor die ondeurdagte kwaadwillige gebruik van een woord.

Wat sal dit kos om hierdie land skoon te maak van die labels wat ons aan mekaar hang? Die realiteit is ons hede en ons toekoms is verweef met mekaar. Tensy jy een van die min rykes is wat kan bekostig om die pad oorsee te vat, is jy verplig om hier te bly en dit te maak werk.

As jy niks goed het om van en vir iemand te sê nie, bly stil.
Brenden Ruiter

So hoe gaan ons maak? Ons kan klein begin deur te vra wat ons nie weet nie. Is jy gemaklik as ek dit of dat doen? Hoe voel jy as ek dit of dat sê? Klein goed. Kom ons leer om mekaar te verstaan.

Madiba se hart was ook nie altyd witter as sneeu nie. Hy het gehaat, maar het besef haat is ’n aangeleerde emosie. Liefde is ’n emosie wat meer natuurlik kom. “Een van die dinge wat ek tydens die onderhandelinge geleer het, is dat alvorens ek myself verander, kan ek nie ander verander nie,” het hy gesê. Kom ek en jy gebruik dié jaar, die jaar wat Madiba se 100ste verjaardag sou wees, om klein veranderinge aan onsself te maak.

Die belangrikste van alles is, ons moet leer hoe om met en oor mekaar te praat.

Daardie ou waarheid is vandag nog geldig: “As jy niks goed het om van en vir iemand te sê nie, bly stil.”

*Brenden Ruiter is 'n voormalige Kuier-joernalis. Hy werk tans as joernalis by TygerBurger in Kaapstad.


Meer oor:  Brenden Ruiter  |  Kuier  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.