Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mishandelde vrou wys eks sy kry grade
2 Mei 2018

Haar man was ’n monster wat haar gereeld geslaan het en hy wou ook nie hê sy moes verder leer nie. Sy moes vlug . . .  Vlug vir haar, vir haar kinders, vir hul toekoms.  

Weeskind. Mishandelde vrou. Huishulp. Taxi-bestuurder. Doktor. Ma.

Dit is maar net ’n paar rolle wat Venicia McGhie (58) van Kaapstad in haar lewe moes speel. Waar sy in haar kantoor sit by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), met ’n wyse glimlag en oë wat speels skitter, kan jy amper nie glo wat Venicia al alles in haar lewe moes deurmaak nie.

Wat nog meer merkwaardig is, is hoe sy elke struikelblok in ’n geleentheid omskep het. Sy is ook nie van plan om ooit op te hou om haar drome na te streef nie. “Daar is nog te veel werk om te doen,” sê sy.

As kind het Venicia ’n gelukkige lewe gehad. “Ek was ’n tomboy,” lag Venicia. “My kinderjare was fun! Ons het boom geklim, wegkruipertjie gespeel en moerbeie geëet,” vertel sy. “My ma het altyd gesê ek is ’n gevaar vir ’n rok! Ek was glad nie ’n boeke-kind nie,” giggel sy ondeund.

“Die langste wat ek kon stilsit, was in die kerk en dis ook maar net omdat my ma so kwaai was.” Haar ma se dood het haar lewe verander. Haar rots is van haar af weggeruk. Twee jaar later is haar pa ook oorlede.

Op 16 was sy ’n weeskind. Ná haar ouers se dood, moes sy en haar sibbe by ’n antie in Potchefstroom gaan bly. Omstandighede het haar gedwing om vinnig groot te word. “My antie was ’n enkelouer met vyf van haar eie kinders,” vertel sy. Die tante het lang ure gewerk en was min tuis. Van haar ma se streng huishouding en koshuislewe, was Venicia nou in ’n omgewing waar daar nie juis reëls was nie.

Dinge loop skeef

Met dié nuutgevonde vryheid, het Venicia begin eksperimenteer met dinge wat eintlik nog nie vir haar beskore was nie. Sy moes ook in graad 10 met skool klaarmaak en begin werk om die kleiner kinders in die huishouding te help. Een van die dinge wat sy gedoen het, iets waaroor sy vandag nog spyt is, was om met ’n man tien jaar ouer as sy vriende te raak.

“Hierdie man het my alles geleer oor soen en seks en omdat hy my eerste boyfriend was, het ek gedink ek is lief vir hom, dat hy die beste ding was wat ooit met my gebeur het,” onthou sy. Venicia het nie toe besef sy speel met vuur nie en dat sy op ’n pad van selfvernietiging was wat haar jare lank sou bybly nie.

“My tante en my skoolvriende het my gedurig gewaarsku ek maak ’n fout, maar ek wou net nie hoor nie,” erken sy. Sy het haarself gesien as ’n grootmens en was vasbeslote om te trou, “onafhanklik” te wees en nooit weer terug te gaan skool toe nie. Min het sy geweet sy sou vir die res van haar lewe ’n student bly . . .

“Met net standerd 8 en geen werksondervinding nie, moes ek vat wat daar was,” erken Venicia. “Toe kry ek ’n pos as huishulp,” vertel sy. Maar Venicia was op soek na groter en beter. Sy was vir ses maande in hierdie pos, waarna sy ’n werk in ’n skoenfabriek gekry het. Haar loon was maar ’n skamele R12 per week.

“Daar was iets wat my altyd gedryf het, iets wat my gemotiveer het om myself te ontwikkel. Ek was nuuskierig met ’n onuitputbare honger vir kennis,” sê sy nadenkend.

In hierdie tyd het sy met haar eerste liefde getrou en ’n baba gekry. Venicia het altyd ’n sterk wil van haar eie gehad. “My ma het altyd gesê ons moet nooit dink ons is beter as ander mense nie en as ons kan, moet ons ander help,” vertel sy. “Dít het ek van my ma gekry, dink ek,” vertel sy terwyl die trane oor haar wange rol. Dis asof die hartseer nog vlak in haar hart sit, die verlange na haar ma nog diepgewortel.

“Ek wonder partymaal hoe my lewe sou uitgedraai het as my ouers nie so jonk oorlede is nie. Tog besef ek alles gebeur met ’n rede en God was by my, elke tree van my pad.”

Sy vertel mense sê baie vir haar sy was gelukkig in haar lewe, maar sy dink nie dis geluk nie. Sy het hard gewerk en die Here het ’n plan gehad. “Moenie worry oor hóé nie, doen dit net! Goed gaan in plek val,” meen sy.

Ná die skoenfabriek het sy in 1979 ’n administratiewe pos by Pukke (vandag Universiteit van Noordwes) gekry al het niemand gedink sy staan ’n kans nie. “Dis wat ek altyd vir my studente ook sê, moenie jouself in die voet skiet nie. Doen aansoek – al kry jy dit nie, dan het jy ten minste probeer. Of vra, iemand help jou dalk net. As jy te bang is, gaan jy uit mis.” Sy het elke dag haar bes gedoen en later die geleentheid gekry om ’n sekretariële kursus te voltooi.

“Om by die universiteit te werk, het my geïnspireer om verder te leer. Ek het besluit om ook my matriek deur die pos klaar te maak,” vertel sy. Al het Venicia voldag gewerk en saans geswot, het sy besluit om naweke ’n taxi-bestuurder te wees. “Dit was nie net ’n ekstra sakgeldjie nie, maar ek het dit geniet om mense rond te ry en na hul stories te luister.”

Haar man het egter nie haar nuwe stokperdjie goedgekeur nie. “Hy het gedink ek lê rond by ander mans. Dit het so erg geraak dat ek moes ophou net om die vrede te bewaar.” Op hierdie stadium het sy en haar man nog net een kind gehad, ’n dogtertjie, Lindie. Sy het besluit sy was nie gereed vir nog ’n kind nie en wou eers haar matriek klaarmaak. Dit het groot onmin tussen haar en haar man veroorsaak. Hy sou laat Vrydagaande tuiskom, dronk en reg vir baklei. Hy het deure oopgegooi, geskree en gevloek. Dan sou die geslanery begin.

“Partykeer het my dogter onder haar bed weggekruip en geweier om uit te kom tot die volgende oggend. Gelukkig het hy nooit aan haar geraak nie,” sê Venicia. Lindie het egter begin hakkel en die dokter het verduidelik dit is uit vrees vir haar pa en die situasie by die huis. “Ek kan my nie eens indink wat deur haar klein hartjie moes gaan wanneer sy haar pa moes hoor skreeu en vloek en haar mamma slaan nie,” prewel sy.

Mishandeling

Venicia het aan die begin probeer terugveg, maar gou besef hy is te sterk vir haar. “Partykeer het ek ontsnap en in die straat afgehardloop. Hy sou my dan volg met ’n mes in sy hand en my deur die buurt jaag,” onthou sy.

Hy het altyd ná die tyd om verskoning gevra en belowe dit sou nooit weer gebeur nie. Maar kort voor lank het hy weer ’n glasie geskink en die bakleiery en geweld sou weer begin. “Hy het nooit verander van streek nie,” vertel sy moedeloos. Soms, wanneer sy van aandklas af teruggekom het, het hy haar ondersoek om te kyk of sy saam met ’n ander man was.

Sy en haar seun, Earl-Ray, toe sy haar doktorsgraad vewerf het.

“My studies het ’n groot issue geword. Wanneer ek saans wou studeer, het hy die ligte afgesit en gesê, ‘Dis my huis en jy sal nie hier studeer nie,’ ” onthou sy. “Maar stubborn soos ek is, het ek besluit hy kan maak wat hy wil, ek gáán dit doen! Dis ’n opportunity!”

Sy het toe maar in die geheim tydens haar lunch uur en oor naweke by haar tante gaan leer. Haar man was egter vasbeslote om nog ’n kind te hê. “Deur my aan te rand het hy vir my gewys wie is baas,” sê sy terwyl die trane van onthou oor haar wange rol. Toe die dominee haar probeer oortuig dis haar plig as vrou, het sy besluit om in te gee en swanger te word. Maar weer het hy haar van egbreuk beskuldig en openlik gewonder of die kind syne is.

“Dit was die laaste strooi. Ek het planne begin beraam om êrens anders ’n nuwe lewe te begin,” sê sy met ’n blik van vasbeslotenheid in haar oë. Sy het daar en dan begin spaar, elke sent wat sy kon. Al was sy swanger het die mishandeling en bakleiery voortgegaan.

“Ek het besef ons enigste kans op ’n normale lewe, was weg van my man af. Dit moes ’n plek wees waar hy ons nooit kon vind nie, want hy het vir my gesê as ek hom ooit los, sou hy my vind, volg en doodmaak,” vertel sy met ’n bewerige stem. Sy het in die geheim hul klere en besittings begin pak. In Desember van 1985 het sy genoeg gespaar vir hul treinkaartjies Kaap toe, plus R300 om ’n nuwe lewe te begin.

“Op 13 Desember het ek alles wat ek ooit geken het, verlaat in die soeke van ’n nuwe lewe, ’n tweede kans,” sê sy trots. Só is hulle stilletjies weg uit Potchefstroom. Venicia het kort-kort oor haar skouer gekyk om seker te maak haar man sit hulle nie agterna nie. Sy was vreesbevange, maar vasbeslote.

“Ons het doodstil op die boonste rakke van die trein gelê totdat ons ver weg was,” onthou sy. By hul aankoms op Stellenbosch, het Venicia nie ’n siel in die Kaap geken nie. Al wat sy gehad het, was ’n stukkie papier in haar hand met ’n naam en ’n adres wat iemand by haar vorige werk vir haar gegee het.

Ek het besef ons enigste kans op 'n normale lewe, was weg van my man af. Dit moes 'n plek wees waar hy ons nooit kon vind nie, want hy het vir my gesê as ek hom ooit los, sou hy my vind, volg en doodmaak.
Venicia McGhie

“Ek het met ’n benoude hart aan die deur geklop,” onthou sy. “Ek het bloot vir die vrou gesê ‘Jy ken my nie, maar kan jy my asseblief help om blyplek te vind, want ek het weggeloop van my man af en ek probeer om vir my en my kinders ’n nuwe lewe te maak.’ ” Dis doodstil in die kantoor waar Venicia sit. Sy kyk by die venster uit en blaas haar neus, oorkom met herinneringe van daardie dag.

“Dit was ’n bestiering,” sê sy eindelik, “want sy het ons nie weggewys nie.” Venicia en haar kinders het daardie aand by dié wildvreemde barmhartige samaritaan oornag en sy het hulle die volgende dag gehelp om losies te vind. Haar huur was R200 vir die eerste maand en sy het besef met net R100 oor in haar sak, sal sy dadelik werk moet soek. Kort voor lank het sy begin werk by die NG Kerk-kantoor in Belhar.

Lindie was in die laerskool en Earl-Ray, toe net oor ’n jaar oud, in die crèche. Venicia het met die regshulp van UWK, die skeiproses begin. “Dit het amper twee jaar gevat en R30 gekos,” onthou sy. Die kerkkantoor, vertel Venicia, was goed vir haar. Dit was ’n veilige, liefdevolle omgewing en net wat sy op daardie stadium nodig gehad het. Maar die pakket het nie mediese fonds of behuisingsvoordele gehad nie en dinge het maar broekskeur gegaan. Venicia het geweier om ’n sent van haar eksman te vra. “Ek het drie, vier jobs gehad om kop bo water te hou.”

Sy het in hierdie tyd drie keer aansoek gedoen om administratiewe poste by UWK en die derde keer het sy die pos gekry. Sy het werk toe gestap van Belhar af om geld te spaar. “Maar ons was happy!” vertel sy. Met haar behuisingsvoordeel het sy ’n huis gekoop. “Ons het nie meubels gehad nie, maar ons was fine,” lag sy.

“Ek kan sien hoe die Here elke keer ingetree en gehelp het as ek Hom nodig gehad het. Dit is nou my beurt om ander mense te enable,” sê sy vasberade. Kort nadat Venicia by UWK begin werk het, het sy uitgevind personeellede kan verniet studeer. Sy kon haar geluk nie glo nie! Ná al haar salaris-aftrekkings het net ’n paar rand oorgebly vir kos. Daarom het sy ’n gym in haar garage saans begin – sy was die instrukteur. Verder het sy loseerders gehad, privaat tikwerk gedoen en ’n catering-besigheid begin.

In 1994 het Venicia haar huis verkoop en ’n stuk grond gekoop om hul droomhuis te bou. “Ek was ’n owner-builder,” sê sy trots. “In die oggende voor werk, het ek boumateriaal gaan koop en dit by die huis gaan aflaai,” lag die vrou vir wie niks onmoontlik is nie. Sy het eers die garage gebou en daar ingetrek saam met haar twee tienerkinders. Só het hulle stuk-stuk oor naweke die huis klaar gebou. “Ek worry nie eens hóé ek iets gaan doen, voordat ek besluit óf ek dit gaan doen nie. Ek weet alles gaan in plek val.” Dit is soos toe sy haar eerste motor gekoop het.

“Die kerkkantoor het hulle ou motors getender en toe sit ek ’n tender in. Toe kry ek my wit Toyota vir R4 000 sonder ’n sent in my sak! Eers nadat ek die tender gekry het, het ek plan gemaak om die geld te kry,” sê sy met ’n ondeunde glans in haar oë. “As ’n mens eers worry oor ‘Ek het nie dit nie’, gaan jy nie die opportunities raaksien nie,” waarsku sy.

Sy het gewag totdat haar dogter op hoërskool was voordat sy weer haar eie drome begin nastreef het om verder te swot. Haar eerste graad, waarvoor sy op 31, in 1991 begin studeer het, was ’n BA in Engels, Xhosa en Linguistiek. “Die eerste jaar was nag, maar ek het deurgekom!” sê sy trots. tot hoër hoogtes Venicia het elke dag gewerk en haarself opgewerk tot ’n fakulteitsbeampte, en elke aand klas geloop tot minstens tienuur, waarna sy vrou-alleen huis toe gestap het. Sondae het sy vir die hele week gekook sodat haar dogter saans net kos kon warm maak.

Ná haar eerste graad het die gogga gebyt en sy wou aanhou. Tien jaar nadat sy begin het, het Venicia haar meestersgraad behaal. Intussen het sy besluit om ’n dosent te word en het ook ’n onderwysdiploma voltooi. “Elke keer as ek my mind op iets sit, beplan ek dit, bid daaroor en doen dit,” verduidelik Venicia.

In 2000 het sy haar eerste dosente-pos gekry by die Vrystaatse Technikon en in 2002 het sy teruggekeer na UWK om betrokke te raak by die akademiese ontwikkeling van studente. Deesdae spog sy met ’n doktorsgraad wat sy in 2012 verwerf het en een van die lekkerste dinge vir Venicia, is dat mense nou luister as sy praat, skerts sy.

Sedertdien het sy al die gesogte Fulbright Scholarship in 2013 verwerf en oorsee klasgegee. Vandag is sy ook ’n senior dosent by UWK. pluk nou vrugte Venicia praat asof haar lewe maklik is, maar ’n mens kan sien sy het baie hard gewerk en baie opgeoffer om te kom waar sy vandag is. Daar was dae wanneer haar gemoed gebuk gegaan het onder die skuld, dat sy nie geweet het waar geld vir kos vandaan gaan kom nie.

Maar sy het altyd haar kop opgelig, vertrou en deurgedruk. “Party aande het ek glad nie geslaap nie,” onthou sy, “veral as daar take was, of toetse. Dan het ek deur die nag gewerk, my kinders sesuur wakker gemaak en reggekry vir skool en dan self werk toe gestap.” As teëspoed haar getref het, het sy nie toegelaat dat dit haar gees demp nie. “As iets nie die eerste keer werk nie, is dit oukei. Dit beteken maar net jy moet dit anders doen,” verduidelik sy.

Sy het ’n program by UWK begin wat behoeftige studente help met vervoergeld, kos en ander benodighede. Sy wil nie hê dat enigiets moet staan tussen iemand en die verwesenliking van hulle drome nie. Sy vertel haar lewensverhaal in haar boek, And there is a Living God, en word gereeld uitgenooi om vroue en jong mense toe te spreek en te motiveer om iets van hul lewe te maak. “Alle eer kom ons Hemelse Vader toe – Hy is inderdaad ’n lewende God,” sê Venicia.

Haar kinders is haar groot trots en hoewel sy hulle nie gedwing het om te swot nie, het Lindie haar doktorsgraad in natuurwetenskappe en Earl-Ray het onlangs sy meestersgraad in geografie behaal. Dat haar kinders gelukkig is, voel Venicia, is al die sweet en trane werd.

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.