Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Die groot vraag: Moenie té lank op hom wag nie
6 Maart 2019
langwag


Jy ontmoet iemand. Jy raak verlief.

Hy slaan jou asem weg, laat jou maag draai van opgewondenheid en laat jou droom oor hoe julle saam gaan oud word en kinders grootmaak. 

Ses maande gaan verby, ’n jaar, twee jaar, 10 jaar... En jy wag steeds vergeefs vir die dag wanneer jou prins op een knie gaan sak en jou gaan vra om te trou. 

Vir baie vroue is bogenoemde scenario al te bekend. Jy wil vir ewig saam met jou maat wees, maar beteken dit jy moet ’n leeftyd wag voordat hy jou vra? 

Elke verhouding ontwikkel en groei teen sy eie pas, maar as ’n verhouding vir jare en selfs dekades aangaan sonder dat daar tekens is dat die “groot vraag” gevra gaan word, moet die “wagtende” party maar handdoek ingooi? 

En of jy nou vir ’n ring hoop óf glad nie omgee nie, die onsekerheid kan stres op selfs die sterkste verhouding plaas. 

Volgens Susan Alistair, ’n kliniese maatskaplike werker en verhoudingkenner van Johannesburg, moet verskeie goed in ag geneem word wanneer dit by die huwelik kom. 

“Daar is baie faktore wat betrokke is by ’n verhouding en tyd speel ook ’n rol. Ouderdom en dinge soos die begeerte om ’n huwelik en kinders te hê, is van die grootste faktore wat die wag veral langer kan laat voel wanneer twee mense nie op dieselfde bladsy is nie. Soms wil die een trou, terwyl die ander nooit van plan is om te trou nie. Dalk wil jy kinders hê, terwyl jou lewensmaat glad nie kinders wil hê nie. Dit is alles gesprekke wat vooraf moet plaasvind om te bepaal of hierdie regtig die regte lewensmaat vir jou is – dit moet uitgeklaar word voordat jy aan ’n ring begin dink,” sê sy. 

Wag of nie?

Susan meen ook mense gee nie om om te wag wanneer hulle op skool of in hul twintigs verlief raak nie, want hulle is nog besig om hulself te ontdek en voel daar is nog baie tyd vir kinders. Dit is eers wanneer mense naby of oor 30 is dat hulle begin besef die tyd stap aan, veral as hulle dan nog nie getroud is nie of met ’n gesin begin het nie. 

“’n Mens ervaar al hoe meer dat jong vroue en mans langer wag voordat hulle besluit om te trou. Millennials (mense gebore tussen 1980 en 2000) is dikwels te besig om op hul loopbane te fokus, rykdom te bou, die wêreld te verken of om studenteskuld af te betaal dat trou en met ’n gesin begin nie vir hulle so dringend is nie. As jy na die statistieke kyk, is daar ’n duidelike tendens onder jong mense om later te trou en later met families te begin,” sê sy. 

Maar, beklemtoon sy weer, om die regte maat te vind wat by jou pas en wat dieselfde dinge uit die lewe wil hê, is iets wat van verhouding tot verhouding gaan verskil en iets wat van persoon tot persoon gaan verskil. Elkeen se verwagtinge en behoeftes is anders. 

Sasha Felix (38) van Eersterivier in die Kaap vertel sy het die man wat sy gedink het die liefde van haar lewe is, op hoër-skool ontmoet. Hulle het in matriek begin uitgaan en het ná hul studies oor hul drome, hope vir die toekoms en ’n familie begin gesels. 

Sy het altyd gedink hulle is op dieselfde bladsy, maar ná 10 jaar saam en op die ouderdom van 27 was daar nog geen teken van ’n verlowing nie.

“Aan die begin het dit my nie baie gepla nie, want ek het geweet dat ons nog jonk is. Maar toe ek amper 30 word, het ek begin voel dit is tyd en dat ek graag met ’n gesin wil begin. Ek het vir hom gevra of ons nie daardie jaar saam kan intrek nie. Hy het toe ingestem en dit is waar dinge ingewikkeld geraak het. Ons kon glad nie mekaar verdra nie en saambly het nie vir ons uitgewerk nie,” sê sy. 

“Ná 11 jaar saam het ons die verhouding beëindig. Dit was vir my baie moeilik en dit is nie so maklik om op die ouderdom van 30 iemand te ontmoet soos toe jy jonger was nie. Jy gaan minder uit, jy is nie op universiteit waar jy nuwe mense elke dag ontmoet nie en mense het al hul eie vriendekringe. Dit was baie moeilik, veral toe almal rondom my begin trou en ek gedink het ek gaan vir altyd alleen wees. Ek was kwaad vir hom en kwaad vir myself, maar gelukkig het ek op 35 iemand deur ’n vriendin ontmoet en ons was ná ’n jaar verloof en vandag is ons al amper drie jaar getroud met ’n dogtertjie.”

Roslin Edson, ’n sielkundige van die Oos-Kaap, sê daar is nie ’n maklike antwoord wanneer dit kom by die vraag van hoe lank jy moet wag nie. 

“Miskien wil jy al vroeg met ’n gesin begin sodat jy jonk en ’n hip ouer kan wees. In daardie geval is huwelik en kinders dalk gouer op die brein. Ander is weer onseker oor die huwelik en nie seker of dit vir hulle is nie. In sulke gevalle wag iemand gewoonlik en gaan langer met iemand uit om seker te maak dis die regte ding om te doen. Die beste wat ’n paartjie kan doen, is om as individue te besluit wat hulle uit ’n verhouding wil hê. Skryf dit op ’n papier neer en hou dit totdat jy eendag in ’n verhouding is,” sê sy. 

“Wanneer julle albei gemaklik is en vir ’n tydjie saam is, gesels dan ernstig oor wat elkeen wil hê en as daar dinge is waaroor julle nie saamstem nie, sou ek aanraai dat julle saam vir berading gaan of verhoudingklasse bywoon. Dit is ’n goeie manier om uit te vind hoe julle met die verskille kan werk en of julle tot ’n besluit kan kom wat almal gelukkig kan maak. Dit sal ook vir jou help om te besluit of die verhouding vir jou gaan werk of nie.”

Dit is ook belangrik dat niemand in die verhouding dit wat hulle werklik wil hê, moet opoffer deur te lank te wag nie, veral nie as jy nie meer gelukkig is nie.

Opofferings

Roslin sê verder sommige dinge is die wag werd en ander kan vereis dat jy opofferings moet maak. 

Miskien is jy gemaklik om drie jaar uit te gaan voordat julle die huwelik oorweeg, en miskien wil jy hê dit moet nie meer as twee jaar wees nie – praat dit uit met jou lewensmaat. Sy raai paartjies aan om te deel wat hul begeertes is en om na mekaar se perspektief te luister. 

“Maar jy moet nooit vir iemand ’n ultimatum gee nie – dis die vinnigste manier om ’n negatiewe gevoel oor jou verhouding te skep. En wie wil iemand dwing om by hulle te wees?

“Dit is ook belangrik dat niemand in die verhouding dit wat hulle werklik wil hê, moet opoffer deur te lank te wag nie, veral nie as jy nie meer gelukkig is nie. As die huwelik en gesin vir jou belangrik is, moet jy daardie gesprek met jou maat so gou moontlik hê,” meen Roslin. 

Daar is niks meer sielverpletterend as om jare saam met iemand te wees en om later uit te vind dat jy kosbare tyd op die verkeerde persoon gemors het en dat hulle nooit dieselfde dinge wou hê nie. So maak seker jy weet wat jy uit die lewe en ’n verhouding wil hê. En vat die pad as jy nie meer wil wag nie, want wie weet, dalk wag Mr of Ms Right tog vir jou…

Meer oor:  Kuier  |  Troukoors  |  Wag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.