Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
MY TAAL: Taal buite die boks
19 September 2018
Tsek
spookasem
bedoosd

Ek kom van die platteland waar die mense Afrikaans praat en Engels iets was wat ons op die televisie of oor die radio gehoor het en die taal was van ons nefies en niggies van die Kaap.

Selfs in die Anglikaanse kerk, wat die Engelse kerk genoem was, was daar in Afrikaans gepreek terwyl die liturgie in die Koningin se Engels gepraat-sing was. Ek het nie Kaaps geken waarna daar nou as Afrikaaps verwys word nie. Kaaps was negatief na verwys as kombuis-Afrikaans, ’n woord wat goddank nou sy bagasie afgegooi het en nou reg langs al die taalvariante op die voorstoep van kommunikasie sit.

In ons huis was daar standaard Afrikaans gepraat. Niemand het gewiet of ge-iet nie, en niemand was ge-djy nie. Grootmense was Meneer of Mevrou of antie Bettie of oom Jannie. As jy Moslem-familie gehad het, was hulle Tietie Fatima of Boeta Mogammat. Professionele mense soos onderwysers was u, en nie jy of jou nie. Elke keer as ons Kaapstad toe gekom het om by die familie te kom kuier, was ek verstom oor die vrolikheid en loslittigheid van Kaaps. En dis eers toe ek aan die Universiteit van Wes-Kaapland kom studeer het, dat ek met Afrikaans in al sy/haar glorie kennis gemaak het. Dis hier waar ek die intensiteit en waarde van ’n regte, egte lekker vloekwoord kom leer ken het. “Voertsek” het die “r” verloor en “voetsek” was soveel lekkerder. En die kersie op die koek was “tsek”. “Jou fôkkin moer!” was veel meer betekenisvol as ’n steriele “Jou moer”.

WOORDE ONDERMYN

Dis hier waar ek kennis gemaak het met die kwetsendheid van woorde; dat hoe mense praat, gebruik was om hul menswees the ondermyn. Hoe taal en woorde mense bedoosd het. In dosies geplaas het sodat hulle in apartheidsdose ’n voortbestaan moes maak. Hotnot. Kaffer. Halfnaat. Koelie. Meid. Teef. Moffie. Tuinjong. Kombuismeid. Masbieker. Slams. Kerrienaat. Wit. Swart. Bruin. Indiër. Dose vir almal. Bedoosd.

Die erfenis van Afrikaans is uiteenlopend en diep en mense vind in taal ’n holte vir die voet. As ek oorsee is, luister ek altyd uit vir iemand op die vliegtuig of trein of ’n restaurant wat Afrikaans praat. Dit laat my huil van verlange na ’n land wat so ’n ver pad geloop het en nog so ver moet loop. Ek verlang dan na plekke met name soos Tweebuffelsmeteenskootdoodgeskietfontein, Baardskeerdersbos, Keimoes, Pofadder en Tietiesbaai.

My mond water na melktert, koe’sisters, spookasem, stamp-en-stootsop, braaibroodjies, oumeid-onder-die-kombers, kaiings en kaalgatperskes. Ek wil melkskommel, brandewyn, vrotsop, boeber, moerkoffie en kondensmelktee drink. Ek wil blomme ruik van ranonkels, tjienkerientjees, stink afrikaners, kappertjies tot viooltjies. Ek smag na speserye wat lekker is op die tong soos hul name: tiemie, karamonk, borrie, kaneel en naeltjies.

Ek wil ’n pitbull besweer met ’n “Tsek!” as hy dit sou waag om my in Amerika te wil byt. En ek wil iemand in sy moer skop wat dit durf waag om ’n kind te mishandel en dan op sy gottabeentjie trap dat hy krul van die pyn. Ek wil saam met my ma Krismisklere koop, geskenke toedraai en vir Vader Krismis melk en soetkoekies onder die Krismisboom los terwyl die Krismisbands al singend deur die strate slenter tot in die vroeë oggendure.

Dan is dit Twiere Nuwejaar waar die Klopse loep en die ghoema geslat word en Maleierliedere soos “Rosa” deur die gange van ons Distrik 6-geheues eggo.

Nostalgie is ’n elikser. Dit laat alles beter voel. Dis ook waar vir Erfenisdag en wat elke bedoosde groep voel hul erfenis is. Kyk maar na die verskil tussen ’n koeksister en ’n koe’sister. Dit het net die weglating van die letter “k” gekos om die kloof tussen twee groepe en hul bakgewoontes te sement.

DEEL VAN MENSWEES

Mense skep hul eie woorde as ’n taal nie voorsiening maak vir die omgewing waarin dit leef nie. Toe ek ’n paar maande gelede die woord “bedoosd” op die program Tussen Ons, op kanaal 145 op DSTV geskep het, was ek verbaas oor die reaksie wat die woord ontlok het. Om mense in dose te sit. Te klassifiseer. ’n Tipe benepenheid. Dis ’n bywoord, nie ’n vloekwoord nie. Ek was in my dae ’n Afrikaanse onderwyser op die Kaapse Vlakte en is dus nie doof vir die feit dat die woord ook ’n erge vloekwoord is en dat die feministe dit soos ’n gatsby sou verslind indien ek dit sou waag om die verkleinwoord te gebruik as ’n byvoeglike naamwoord.

Maar ek is ’n Afrikaanse taalspreker en onderwyser en woorde soos doos met die positiewe, oorspronklike waarde is deel van my menswees en woordeskat. Die woord het op sosiale media mense aan die praat gesit. Die entrepreneursgroep Vannie Kaap, het dit op hul koffiebeker gedruk. Die skrywer van Elsiesrivier, Jeremy Veary, het in die Sondagkoerant Rapport, in ’n onderhoud met Hanlie Retief gesê hy meen dis die beste woord nog in Afrikaans.

Sjoe. So mense voel heel stout as hulle die woord gebruik en hulle weet sommige dink dis ’n vloekwoord en ander hou by die oorspronklike betekenis daarvan.

Dis juis as onderwyser by Excelsior Sekondêr in Belhar dat ek agtergekom het my leerlinge verwys na my as die juffrou met die doos en dan giggel hulle al te lekker. Die lekkerte het daarin gelê dat ons mekaar geleer het om die angel uit die woord te haal en die Afrikaanse woord gebruik het vir die boks snesies wat ek elke dag onder my arm gedra het as gevolg van my chroniese hooikoors en heeldag se geniesery. Ek kon dus niks sê as hulle so heerlik Afrikaans praat nie.

Wat sê jy?
Deel jou gunstelingwoord in Afrikaans met ons.
Stuur 'n WhatsApp na 0607840589, gevolg deur jou woord.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.