Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
'n Brief van Kay: The night before . . .
Kay Karriem

My liewe Kuier-mense,

Ons is op die vooraand van ’n baie groot gebeurtenis in die geskiedens van die mensdom en dis iets wat nie een van ons ooit sal vergeet nie solank ons leef nie. Dit sal ons verewig identifiseer as die generasie Suid-Afrikaners wat in 2020 saam op lockdown gegaan het.

Nes die mense vir die vorige generasie gevra het: Waar was jy toe Madiba vryelaat is?, gaan hulle eendag vir ons vra: Waar was jy op lockdown? En dalk belangriker nóg – met wie? Soos my vrind Ivor Price aanbeveel: Kies mooi met wie jy jou laaste aand voor lockdown deurbing, want jy gaan dit vir ewig onthou.

Die wêreld het oornag verander in ’n plek wat ons nie ken nie. Want die natuur het die reset button gedruk en ons kom wys hoe nietig is die mens. Italië se president huil oor al die burgers wat hulle verloor. Slagoffers sterf in isolasie. Ons almal begroet die dood alleen, maar dis ’n ander soort alleen dié. Jy lê op jou sterfbed en niemand kan naby jou kom of aan jou raak om ’n bietjie vertroosting te bring nie. En ek hoor hulle het nie meer plek vir begrawe nie . . . 

So, hier sit ek in my woonstel en wonder oor waar dit alles gaan eindig en wat dit alles beteken.

En ek is diep geworried. Ek worry oor my ouma en my ma wat in die kwesbaarste groep val. Ek gaan hulle ook nie sien nie, want ek het ’n week of wat gelede verkoue gehad en ek het net besluit die risiko is te hoog. Ek worry ook oor Suid-Afrika. (Hoe dankbaar is ons nie nou vir ons president nie, want ons almal weet dit kon baie erger gewees het!) Ek worry omdat ons so baie kwesbares het – die oues, die siekes en die armstes. Ek worry, want ek weet al maak Cyril wat, corona gaan sy tol op ons land en sy mense eis.

Maar ek is met die president – laat ons almal ons deel doen om die curve in sy maai te stuur, want elke lewe is kosbaar.

En dit beteken bly by jou bleddie huis!!!!!

Ek sou leliker vloek as ek kon, want ek is so bebloed van die moedswilliges wat nie wil luister nie. Wat gaan dit kos om tot hulle deur te dring? G’n wonner die prez het die army ingeroep nie!

Luister na die feite, fake news gaan ons dood veroorsaak. Die virus kan geklop word en in 80% van die gevalle herstel mense. En sommige weet nie eens hulle het dit gehad en klaar herstel nie. Maar feit is, tot jy getoets word, gaan jy nie weet of jy die virus het en dus aansteeklik is nie. En die toets kan in elk geval net wys jy was negatief die oomblik toe daai toets gedoen is. Dít (’n negatiewe toets) beteken ook nie jy kan nie net ’n dag later besmet (en dus aansteeklik!) word nie. So bly by jou bleddie huis!!!! 

Ja, ek is geworried, maar ek is ook dankbaar vir al die Suid-Afrikaners wat hul lewens op die spel plaas om my veilig en gevoed te hou. Ek dink nou aan die mediese en noodwerkers; die weermag, polisie, brandweer en selfs ook verkeerspolisie. Dankie vir jul diens en opoffering.

Ek dink ook aan die winkelwerkers en die skoonmakers en almal wie se bydrae tot ons land ons te maklik miskyk. Baie dankie ook vir jul diens en opoffering.

Ek dink ook aan die armes van ons land wat onder die mees kwesbaarste groepe is. Hulle gaan meer hulp as enigiemand nodig hê, so support die fund. Elke lewe is kosbaar en ons moet hulle beskerm.

Ek dink ook veral aan diegene vir wie dit moelik gaan wees om by hul bleddie huise te bly. (Ek probeer nie snaaks wees nie, ek re-enforce net die boodskap.)

Anyway,  ek dink ook aan my familielede wie se seer aan die binnekant sit wat niemand kan sien nie. Hulle voel dikwels alleen en lonely tegelyk. Ek kan net dink watter uitdaging lockdown vir hulle gaan wees. Ons moet moeite doen om ook na hulle uitreik, sodat hulle weet ons is daar vir hulle.

Een ding nou weer van corona, hy onderskei nie. Ras maak nie saak nie – nes godsdiens, geslag, nasionaliteit, gender, ouderdom (die feite is jongmense kan ook sterf weens die virus), rykdom of fame nie saak maak nie. Kyk dan nou net vir prins Charles en hy het bodyguards! Die virus kom vir ons almal . . . 

Ja, so terwyl ek by my bleddie huis sit (re-enforcement) en die brief tik, dink ek baie dinge. Die een ding wat my opval is hoe ’n groot aandagtrekker corona is. Ek het laas met 9/11 soveel CNN gekyk. En ek weet nog nie of dít ’n goeie of ’n slegte ding is dat die fokus nou op die virus is nie, maar dis ’n feit dat al ons aandag nou so op die pandemie gevestig is, dat al die gewone brandende kwessies op die agtergrond geskuif is. Maar moenie ’n fout maak nie, hulle smeul nog . . .

So dit het my laat dink of daar nie tog ’n silwer randjie aan hierdie donker wolk is nie.

So dit het my laat dink of daar nie tog ’n silwer randjie aan hierdie donker wolk is nie. Kyk nou net die misdaad. Ek hoop die criminals gaan ook nou op lockdown, sodat ons nie hulle en corona terselfdertyd moet vrees nie. Ek hoop ook geslagsgebaseerde geweld (gender-based violence) gaan op lockdown, want dit kan ek nie meer handle nie. Maar dan, as ek verder daaroor nadink, besef ek wat dit dan eintlik kan beteken – dat vroue en kinders in Suid-Afrika net heeltemal veilig is as ons in ons eie huise gevange is (En ek hoop regtig almal is veilig in hul eie huise!) Maar ek dink tog die prez moet note vat van dié goed, want dalk kry hy nuwe idees van hoe om die kwessies te takel wanneer ons deur corona is. En dis net ’n kwessie van wanneer, want this too shall pass en ons sál anderkant uitkom.

Gepraat van lesse leer. Corona het ons gedwing om oornag die manier te verander waarop ons leef en werk. Só het die Kuier-span in dae self goed uitgefigure waarvoor ons voorheen tot maande voor kon wag.

En gepraat van die Kuier-span. Hulle werk nou harder as voorheen om die tydskrif en ander materiaal na ons lesers te bring, want dis hoe ons julle van diens kan wees en kan wys ons is saam met julle.

Ek sê altyd vir die span, hulle is die mense met wie ek oorlog toe sal gaan. Nou is ons in ’n oorlog en ek kon nie dankbaarder gewees het dat ek die krisis saam met julle beleef nie. Corona bring die beste in ons as werkspan uit.

En dis die ander ding wat ek dink, terwyl ek by my bleddie huis is – corona gaan die groot ontbloter wees. Ek bedoel nou nie soos die ou omies wat mense flash nie, maar dat dit mense se ware kleure gaan ontbloot. Diegene wat panic buy en opgaar sonder om aan hul medemens te dink – ons sien jou. Diegene wat ander in gevaar stel omdat hulle nie wil hoor nie – ons sien jou.

Maar ons sien ook hoe gewone mense na mekaar uitreik en hier ’n spesiale shout out aan Gift of the Givers, wat klaar op die toneel is om hulp te verleen teen corona.)

En terwyl ek al die goed by my bleddie huis lê en dink, is ek dankbaar ons mense het nie hul sin vir humor verloor nie. Kyk, sommige van die memes is in swak smaak of glad nie snaaks nie, maar dit maak my lag en ek waardeer dit, want dit herinner my daaraan dat ek mens is en niks is meer menslik as lag nie. Soos die babaname wat ná lockdown gaan opduik, byvoorbeeld Coronicia en ook Covidia – aldus vrind Ivor. “En vir die diep Afrikaanse volk: Kovidiena (vir ’n meisie) en Kovidawid (vir ’n seuntjie),” gee hy raad. Ek geniet ook Nando’s  se advertensies baie. Daai’s nou regtig mense wat weet hoe om nie ’n crisis te waste nie.

Ek het nou nie eintlik sulke skerp jokes of raad vir julle nie, maar ek weet ons gaan dinge vir onsself (nie net vir lockdown nie, maar ook daarna) baie moeilik maak as ons nie hier en daar onsself ’n break gaan gee nie. Onthou, niemand weet hoe om hierdie te hanteer nie. Dis ons almal se eerste keer – haai, daar’s ons almal weer virgins! (My eie flou joke.) Maar dit beteken ons almal gaan langs die pad foute maak en nie weet wat om te doen nie. Maar dis oukei, want ons is almal in dieselfde boot.

En dan, terwyl ek by my bleddie huis is, wonder ek wat ek kan doen om te help (behalwe die fund mos nou). Ek het nog nie heeltemal die antwoord nie, maar ek weet geloof gaan ons hierdeur kry. En nie noodwendig godsdienstige geloof nie, maar ons geloof dat ons wel hierdie vyand sal oorwin en  anderkant sal uitkom. So, wat kan ek nou doen?

Ek kan bid. Ons kan bid. Die prez bid klaar.

Ek kan bid. Ons kan bid. Die prez bid klaar.

(Terloops, ek sien toe mos ’n berig dat nie een sogenaamde faith healer nog bereid was om ’n corona hande op te lê nie. Onthou wat ek vroeër gesê het, corona is die groot ontbloter…)

So kom laat ons bid. Ons almal, Christene, Moslems, Jode ensovoorts, want corona onderskei nie tussen gelowe of mense nie.  

En ons bid saam:

God seën Suid-Afrika.

Tot volgende keer,

K

* LEES OOK: MAAK SO OM JOU KUIER GERIEFLIK TUIS AANLYN TE LEES

Kuier

Meer oor:  Kuier  |  Corona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.