Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuier: 'n Dekade van stories
4 September 2019
kuier

Oor afgelope 10 jaar het ons ongelooflike hartseer en inspirerende stories gedek. Hier is ’n paar wat die span aangegryp het. 

Gharies se trots
Gharies se trots

Oorle’ an’ Grietjie van Gharies was op 85 nog ’n musieklegende van haar tyd en het vir ons die tydlose treffer “Lekker ou Jan” gebring. Sy kon kitaar, viool, konsertina en die mondfluitjie speel. Sy en Pieter van der Westhuizen, wat die optel-en-knyp-tegniek van kitaarspeel bemeester het, het vir jare saam lekker musiek gemaak. En wie kan stry met haar wyse woorde: “Ek hou van saamspeel en saamsing. Ek hou nie van lieg en skelmwees nie, want met waarheid kom gelukkigheid, vryheid en gemaklikgeit.”

Rus sag, an’ Grietjie. 

(29 Augustus 2012)

onmeetbare seer
Onmeetbare seer

 “Help my, Oupa. Help my...” was die laaste hartver-skeurende hulpkreet van Chantel van der Westhuizen (9) van Darling toe sy onder ’n trekker se wiele beland het. Haar oupa, Willem van der Westhuizen (62), het die trekker bestuur. Oom Willem het dadelik gaan hulp soek, maar met sy terugkeer was Chantel reeds dood. Hierdie dag sal altyd by hom spook, omdat hy agter die stuur was. Chantel was toe haar ma, Monique, se enigste kind, en sy was op pad om Chantel by die skool te gaan haal, toe sy die tyding kry. (23 Oktober 2013)

droom word waar
Droom word waar

Thirney Martin (19) van Gansbaai het openbare toilette skoongemaak vir ’n lewe toe ’n toevallige ontmoeting met ’n vreemdeling in daardie einste toilette haar lewe vir ewig verander het. Danksy daardie ontmoeting kry sy nou finansiële ondersteuning by mense (van so ver as die Midde-Ooste) wat sy van g’n kant af ken nie om toerisme by Boland Kollege se Stellenbosch-kampus te studeer en haar droom te bewaarheid. (10 Januarie 2018)

veg vir haar taal
Veg vir haar taal

Katrigwa (Katrina) Esau, of Ouma Geelmeid, kan nie lees of skryf nie en is een van ’n handvol mense wat nog die N/u-taal kan praat.
En al is dit die laaste ding wat sy doen, is sy vasbeslote om met een mens en een klik op ’n slag ’n verskil te maak, daarom het sy begin om die kinders in die Upington-omgewing in die Noord-Kaap te leer om dié skaars taal te praat. 
(3 Junie 2015)

tragedie op die treinspoor
Tragedie op die treinspoor

Die minibustaxibestuurder Jacob Humphreys het tien kinders hul lewens gekos toe hy oor ’n spoorwegkruising by Blackheath in Kaapstad gery en teen ’n trein gebots het. Hy het sy vonnis van agt jaar uitgedien en is nou weer ’n vry man.

(15 September 2010)

Anti-aborsie

Die storie van ’n verpleegster wat nog altyd mense wou help, maar nie met haarself kon saamleef nie omdat sy ná die wettiging van aborsie dit as deel van haar werk moes uitvoer, sal menige leser bybly. “Want in plaas van om kinders in die wêreld te bring, maak ek nou ’n einde aan hul lewe nog voor dit begin het,”  het die verpleegster toe gesê.

(3 Augustus 2011)

baas vannie plaas
Baas vannie plaas

Martiens Janse (toe 29) was ’n “plaasplant” genoem omdat hy op ’n plaas grootgeword het. Maar dis toe hy sy ma-triekafskeid in geleende klere bygewoon het dat hy homself belowe het hy sal eendag suksesvol wees. Hy het sy plaaswerker-werk met trots aangepak en in 2011 die Plaaswerker van die Jaar-kompetisie vir sy streek gewen.

(12 Oktober 2011)

klein Keisha se hel
Klein Keisha se hel

Keisha Gysman (7) van Port Elizabeth in die Oos-Kaap het ’n kankeragtige groeisel in haar gesig gehad en het daagliks ’n stryd teen die pyn gevoer. Haar storie het Kuier-lesers só aangegryp dat hulle hul harte oopgemaak het en broodnodige skenkings aan haar familie gemaak het. Keisha het ongelukkig ’n paar maande ná die storie gesterf.

(11 Maart 2015) 

Gesin van wonders

Die Damonse-gesin van Malmesbury in die Wes-Kaap, is regtig ’n gesin van wonders. Joseph Damonse is verlam gelaat in ’n ongeluk waarin sy vrou gesterf het. Joseph het egter weer leer loop en liefde gevind by Denielle Lategan. Maar toe word Denielle in ’n rooftog in die gesig geskiet. Sy het herstel, maar hulle het gesukkel om kinders te hê, maar sy het toe tog swanger geword. Die baba is egter vroeggebore en was boonop doof. Dié baba het egter later, wonder bo wonder, sy gehoor teruggekry.

(22 Junie 2011)

liefde sonder perke
Lefde sonder perke

Louisa Hobson (64) van Pretoria het vir Thembinkosie Matshimane (13) aangeneem. Met geboorte was Thembi se bene só erg misvorm dat sy regterbeen reguit langs sy klein liggaam opgeloop het en sy regtervoet gelyk was met sy skouer. Thembi is een van meer as 300 kinders na wie Louisa al gekyk het as deel van haar nie-regeringsorganisasie, Charlene’s Place of Safety, wat sy ná haar dogter se dood aan vigs geopen het. Volgens Louisa kon Thembi se MIV-positiewe ma nie na hom kyk nie, maar sy het hom met ope arms en baie liefde ontvang.

(21 Maart 2018)

Die reg(te) man

Gregory Derris is ’n blinde landdros wat ten tyde van sy Kuier-artikel by die Atlantis-landdroshof gewerk het. En hy is ’n ware inspirasie vir sy medemens. Gregory moes baie struikelblokke in sy lewe oorkom en moes omdat hy blind was, altyd harder werk om te bewys hy is bevoeg. En hy het. Hy het sy eie regspraktyk gehad en ná sy egskeiding het hy sy twee kinders alleen grootgemaak. Hy het ook drome gekoester om regter word.

(20 Mei 2015)

Doodspeletjie skok

Die verskynsel van seuns wat hulself verwurg terwyl hulle masturbeer sodat hul orgasmes meer intens is, het die hele Kuier-land geskok. Rochelle Barrish, wat die storie geskryf het, het ook ’n ATKV Mediaveertjie-toekenning hiervoor gewen. Hierdie storie het die sluier gelig oor ’n dodelike speletjie waarmee veral tienerseuns hulself besig gehou het. 

(9 Mei 2012)

'doodgeboelie'
‘D
oodgeboelie’

Melissa-Jade Plaatjies (16), ’n graad 11-leerder by Ashton Sekondêre Skool, het in 2015 selfmoord gepleeg omdat sy erg geboelie was en dit nie meer kon uitstaan nie. Sy het gif gedrink en haar ouers het haar hospitaal toe gevat. Sy is egter sonder behandeling terug huis toe gestuur en het vir twee weke gely voordat sy uiteindelik gesterf het. Kuier se fotograaf, Dale Fourie, het lank gesukkel om haar dood te verwerk.

(6 Mei 2015)

Busongeluk eis veertien

Die Rheenendal-busongeluk buite Knysna in die Suid-Kaap waar 14 skoolkinders en die busbestuurder hul lewens verloor het, het hierdie klein bosbougemeen-skap in stukke gehad. Nadat die hartroerende begrafnisse klaar was en die media pad gegee het op soek na die volgende groot storie, het hierdie gemeenskap met hul verskriklike seer agtergebly.

(14 September 2011)

Sprokiesliefde

As jy nooit in sprokiesverhale geglo het nie, het die storie van die verpleegster wat getrou het met die man wat haar seun se geskenkte hart ontvang het, jou anders laat glo. Nadat Sandy* se seun tragies in ’n motorongeluk gesterf het, het Bevan* sy hart gekry. Onbewus van hoe verweef hul wêrelde eintlik is, het Bevan eendag toevallig by Sandy* se voordeur opgedaag en kennis gemaak. Hulle het later verlief geraak. *Skuilnaam 

(13 Februarie 2013)

Siesa, seinsei Nellie!

Sensei Nellie, oftewel Petronella Kleinsmidt, het ’n klomp swart belts in karate en kon op die ouderdom van 72 (ten tyde van die onderhoud) nog enigiemand se wind uitskop. Sy het ook haar eie karateskool begin.

(1 Februarie 2012)

Kwaai lappies

Adv. Leslie Morris, ook bekend as Lappies, het hom op smokkeljaarts sinneloos gedrink. Niemand het gedink hy kan iets van sy lewe maak nie, maar Leslie het sy lewe omgekeer en homself as advokaat bekwaam.

(21 November 2012)

Meer oor:  Kuier  |  Stories  |  Kuier10  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.