Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
'n Egte connection
4 September 2019

Ek kan eerlik sê ek het the good, the bad en the sad beleef in my tyd as deel van die Kuier-span.

En so, as deel van my werk as bemarkingsbestuurder, het ek vir die eerste keer op ’n vliegtuig geklim en ook Sun City besoek. Ek het ’n gereelde stem op die radio geword en ook my 15 seconds of fame op TV gehad. Van ons land se bekendes soos Cass Abrahams, Shaleen Surtie-Richards, Karin Kortjé en Alistair Izobell het my op die naam geken.

Dit was “die goed”, maar ek het nie aan-vanklik gedink dit sou so goed gaan met die nuwe tydskrif nie. Skaars ’n maand nadat ek op 1 Mei 2010 by Kuier begin het, moes ek hoor die tydskrif loop die gevaar om gesluit te word as ons nie teen Kuier se eerste verjaardag in September 2010 die 20 000-merk in verkope haal nie. Gelukkig het dié swaard nie vir lank oor ons koppe gehang nie, want ons het daai merk in Mei 2010 verbygesteek toe ons die eerste keer vir lesers ’n CD (gratis) gee.

Ek het ook vinnig geleer Kuier moet na lesers uitreik, want ’n mens kuier nie met vreemdelinge nie. Só moet jy mense in jou lewe toelaat en jouself in hulle s’n, want hoe anders kan ons wil deel wees van mekaar se lewens as ons nie in mekaar se lief en leed kan deel en kan eerlik wees met mekaar nie?

As bemarkingsbestuurder was een van my grootste take dus om die span by die mense te kry. Só begin ons toe die Kuier Connections-toer. Met dié toer het ons na klein dorpe gegaan om die lesers te ontmoet en die tydskrif aan mense voor te stel. Die resep het gewerk, want op elke dorp het ons seker gemaak ons is connected met iemand wat die mense ken en seker kon maak die anties kom kuier saam.

Omdat die tydskrif nog so nuut was, was daar nie juis sprake van groot borge nie. En toe moes ons met besighede en kunstenaars saamwerk wat bereid was om opofferings te maak omdat hulle in die Kuier-droom glo. Só het Dik Tollie en die res van die Bakgat Boyz gratis saam met ons getoer vir die blootstelling. Dis toe dat “Waar’s jou nannas?” amper ons amptelike temalied op die pad geword het! Verder het ons staatgemaak op ons MC Anthea Fredericks om die regte connection te vind met die gehoor.

Dit was die begin van iets groots.

Elke jaar is meer events by die kalender gevoeg en al hoe meer lesers het gevra dat ons ook hul dorpe besoek. Die High Tea vir Moedersdag, Pienk Plesier, kookdemonstrasies met Cass Abrahams (my ander antie) en die Krismis-konsert het gevolg. Ons het toe ook deelgeneem aan feeste soos die KKNK en Suidoosterfees.

Die events het tot so ’n mate gegroei dat kaartjies blitsvinnig uitverkoop het. Dan moet ek tot lank ná die event persoonlik oproepe en e-posse beantwoord oor hoekom lesers nie kaartjies kon kry nie. Soms moes ek die hartseerste stories aanhoor oor hoekom dit noodsaaklik was dat hulle die event moes bywoon.

By Kuier is ek ook deur een van die hartseerste tye in my lewe. Ek onthou dit nog soos gister, toe ek en Ernie (Ernusta Maralack) in Johannesburg was om ’n onderhoud te doen met “my antie”, Shaleen Surtie-Richards. Daai einste oggend van 9 Julie 2012 het ek nog aan Ernie genoem dat ek nie in die Kuier-kantoor wou wees as ek die tyding oor my ma moet kry nie. My ma het kanker gehad.

Ons was op pad terug Sandton toe, waar ons die huurkar moes gaan drop, toe my pa my bel en vra waar ek is. Sy stemtoon en “dit gaan nie goed met jou ma nie”, het dit alles gesê, maar my vlug was eers sesuur die aand en dan sou ek seker eers teen nege-uur in Malmesbury kon wees. Ek was op die Gautrain op pad O.R. Tambo-lughawe toe, toe ek ’n boodskap van my broer kry wat ook vra “waar is jy?”. Toe ek antwoord dat ek later in die Kaap sal wees, het hy nog ’n boodskap gestuur. “Jy’s te laat” en toe breek my wêreld in stukke...

Ek moes net by die huis uitkom. Ek sal altyd dankbaar bly dat my pa-hulle vir my gewag het sodat ek my ma ’n laaste keer kon sien. Ek weet vandag dat ek baie pyn met my ma se siekte gespaar is. Sy het die pyn goed weggesteek en sou altyd sê “?’n mens hoef nie siek te lyk nie”.

die liefde seËvier

Ek is ’n week later terug werk toe waar ek  my alles ingegooi het in die reëlings vir ons vierde Pienk Plesier. Dis juis by dié event wat die span weer aan my gewys het wat dit beteken om deel van Kuier te wees. Die maand voor die event het hulle gesê hulle gaan my opveil vir ’n date met een van die anties. Op die dag van die event het ek seker gemaak ek gee vir twee vriendinne R1 000 elk om seker te maak ek gaan nie op ’n date waarop ek nie wil wees nie en tweedens, om seker te maak ek spat nie vir R50 nie!

Toe ek verhoog toe geroep word, was ek sommer nervous. Dit was toe al die tyd verniet, want ek is nooit opgeveil nie. Kuier het ’n kankerfonds ter ere van my ma gestig. Die gebaar was juis so spesiaal omdat ek geweet het daai eerste pienk tjek van R5 000 het uit Kay se eie sak gekom. Ek sou die main gesig agter die fonds wees en besluit vir wie ons elke jaar help. Ek dink dit was alles deel van my herstelpad om vrede te kon maak met haar dood.

Deur die jare het die Kuier-anties my al by die naam begin ken, want by elke event het ek die anties uitgesort en met hulle gesels en gelag. Hoewel ek vir jare geskimp het of hulle nie dogters het nie, want hulle kan mos sien ek is ’n ordentlike klong, het hulle my nooit aan een van hul dogters voorgestel nie.

Tot my laaste Pienk Plesier in 2015 by Ratanga Junction. Ek het ’n ander werk gekry en aangesien dit my laaste event was, kon ek drie songs sing vir die 1 000 vroue wat die event bygewoon het.

Voor ek weggetrek het met “Will you still love me tomorrow”, het ek nog geskerts dat ek dit eendag vir my trouvrou sal sing.

Ná my optrede het MC Anthea Fredericks vir die anties gesê dis my laaste event en dat ek nog steeds single is. Min het ek geweet in die gehoor sit ’n antie wat ’n ekstra kaartjie gehad het en haar dogter saamgesleep het na die event.

Die stars was egter nie aligned daai aand nie en ons het mekaar nooit by die event ontmoet nie. Ons paaie sou wel twee weke later kruis toe ons by dieselfde verjaardagpartytjie was.

Ek en my vriende was besig om ons lywe ’n lekker tyd te gee toe ’n meisie nader staan om my goeie vriend te groet. Sy kyk toe na my kant toe en vra of ek Llewellyn van die Kuier is. Ek moes toe pose vir ’n pic of twee (of drie), wat sy vir haar ma wou stuur. My goeie vriend het my ook aanmoedig om ná die partytjie met haar kontak te maak en op ’n date te gaan. Nou ja, the rest is history.

In September vanjaar is ek en Brigitte vier jaar bymekaar en ek is die trotse pa van ’n pragtige eenjarige dogtertjie. En of sy my gaan “Will you still love me tomorrow” hoor sing, sal ek later dié jaar weet wanneer ons ewige trou aan mekaar belowe en sy my die gelukkigste man gaan maak deur my wettige goose te wees.

Nie net het Kuier mý lewe verander nie – dit het deur die jare vir baie ’n vriendin oor kleurgrense en statusse geword, want almal kan hulself in Kuier sien. Deur die mense, vir die mense. Danksy almal se geloof en harde werk het Kuier gevorder tot die grootste Afrikaanse vrouetydskrif. Dis regtig “die baie baie goed” om te weet my harde werk en opofferings (om nie eens te praat van die al die gesmeek vir gunste, en voete-af-werk by funksies nie) het bygedra tot Kuier se sukses.

So dankie aan al my kollegas, sonder wie ek nie die Kuier-klong sou wees nie. Ons kuier het begin as vreemdelinge, maar deur dik en dun, letterlik die vet en die maer, het ons iets vermag waarop ons trots kan wees! 
Meer oor:  Kuier-Bemarking  |  Kuier  |  Kuier10  |  Kuier-Connections
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.