Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
'n Kop(pie) vir besigheid
4 September 2019
deidre mackenna

Toe Deidre Mackenna (32) in 2009 as grafiese ontwerper by Kuier begin werk het, sou sy nooit kon raai dat sy danky die tydskrif haar stem en roeping in die lewe sou vind nie. Sy was jonk, onervare en het pas die wêreld van werk betree, maar dis juis hier wat sy haar “big girl-skoene” aangetrek het.

Deidre (toe 22) was een van die lede van eerste Kuier-span en het tot 2011 voltyds by dié publikasie gewerk. Sy het eers net blaaie opgemaak, maar met haar kreatiwiteit en prettige persoonlikheid is sy later ook ingespan om kreatiewe leersessies vir kinders by skole aan te bied.

Sy’s tans ’n senior grafiese ontwerper by ’n maatskappy in die Kaap, maar het ook intussen haar eie besigheid, Hello Coloured Life, begin. Dié spontane vrou sê dis haar manier om hulde te bring aan die bruin gemeenskap en kultuur. Hello Coloured Life is ’n aanlynwinkel wat koppies met unieke coloured sêgoed op verkoop.

Volgens Deidre was die kantoorgees en die manier hoe dinge by Kuier gedoen word, baie anders. “By ander plekke moes jy altyd  dink voor jy praat omdat jy nie wou snaaks klink nie, maar nie by Kuier nie. Die mense in die kantoor het instrumenteel ’n bydrae gelewer tot my kultuur en het wie ek is en waarvandaan ek kom onvoorwaardelik aanvaar.” 

Sy lag voor sy vertel hoe lekker dit was om vir ’n tydskrif te werk wat mense wat soos sy lyk op hul voorblad gehad het.

Kuier was ’n game changer. Hier uit die bloute is nou ’n tydskrif waar bruin vroue op die voorblad pronk. En as jy dít sien, dan besef jy maar dan is daar mos niks fout met jou nie. Dit het die boodskap aan die samelewing uitgestuur dat ons onsself aanvaar nes ons is:  Ek is wie ek is en dit is nie nodig om die manier hoe ek praat of lyk te verander om ander mense te impress nie. Ek het myself aanvaar, so ander moet eenvoudig ook.”

Dit is hoe haar breinkind, Hello Coloured Life, in 2016 gebore is – uit selfaanvaarding en trots. Hello Coloured Life het begin as ’n blog waarin Deidre uiting kon gee aan haar emosies, maar dit het stadig maar seker ontwikkel in ’n full-on brand.

“As tiener het ek baie gesukkel om in te pas, om my stem te vind. Hello Coloured Life het vir my die geleentheid gebied om uiting te gee aan hoe ek voel en dinge waardeur ek gaan.”

Aanhouer wen

Sy het drie jaar gelede die maatskappy gestig, maar vertel die pad tot hier was glad nie maklik nie. “Dis klaar moeilik vir vroue om iets te begin, maar vir ’n bruin vrou is dit nóg moeiliker. Jy moet jou man kan staan en nooit opgee nie, want dis regtig net aanhouers wat wen.”

Sy sê sy het in die eerste jaar meer verlies gely as ’n wins gemaak. “Maar net omdat jy nie aan die begin kan sien waarvoor jy so hard werk nie, beteken dit nie jou besigheid groei nie. Jy kry jou brand daarbuite en opgee moet nooit ’n opsie wees nie.”

Deidre vertel voorts haar trotsste oomblik was die dag toe haar ma en pa die eerste keer haar koppies sien. “Baie van die sêgoedjies wat op die koppies gebruik word, is goed wat my ma altyd gesê het en om die trots op haar gesig te sien, is steeds vir my een van die hoogtepunte.”

Sy voeg ook by dat haar ma aan Alzheimers ly, maar die sêgoedjies laat die onthou opvlam. “Daar is niks wat my gelukkiger maak as om te sien sy herken die sêgoed nie. Die gevoel is onbeskryflik,” sê sy aangedaan.

“Begin net êrens. Al sien jy niks profyt nie, kap net aan. As dit lyk dinge kom nie na ’n kant toe nie en jy stagneer, hou net die groter prentjie in sig. Moenie net hard werk nie, werk slim ook.”

Meer oor:  Kuier  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.