Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Maak terte, soet of sout, vir elke tafel
15 Mei 2019

Óf jy nou ’n hoofgereg, bykos of ietsie soets wil maak − ’n tert is die antwoord! Dié terte is maklik om te maak vir van middagete tot teepartytjies. Deur Karen Hart

APPEL-EN-AMANDELTERT

(Lewer 1 standaard-grootte tert)

x
Appel-en-amandeltert

BESTANDDELE

Kors

  • 4 eetlepels botter
  • ¼ koppie strooisuiker (castor sugar)
  • 2 eetlepels van 1 geklitste eier 
  • 1 koppie koekmeel
  • 2 eetlepels amandels, fyngemaalVulsel
  • 100 g botter
  • ½ koppie strooisuiker (castor sugar)
  • ½ koppie amandels, fyngemaal
  • 1 eetlepel koekmeel
  • 1 eier, plus die eiergeel wat oorgebly het van die eier vir die kors
  • 1 – 2 Granny Smith-appels, in dun skywe gesny.

METODE

Kors:

Room die botter en suiker saam en roer die eier by.

Voeg die koekmeel en amandels by en meng totdat ’n sagte hanteerbare deeg vorm.

Maak ’n deegbal en draai dit toe in kleefplastiek.

Plaas dit in die yskas vir ten minste twee ure.

Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en voer ’n tertpan van ongeveer 23 cm in deursnee daarmee uit.

Prik die deeg met ’n vurk, bedek dit met bakpapier en giet bone daarin om blind te bak.

Bak die kors in ’n voorverhitte oond by 190 °C vir 13 minute.

Verwyder die bone en bakpapier en bak onbedek vir nog sewe minute. 

Vulsel:

Plaas die botter, suiker, amandels en koekmeel saam in ’n mengbak of voedselverwerker en meng goed.

Voeg die eier en eiergeel by en meng totdat jy ’n gladde mengsel het. Skep dié mengsel op die voorbereide kors uit en versprei egalig.

Pak die appel-skywe in ’n sirkel aan die binnekant van die korsrand.

Bak vir 30 – 35 minute in ’n voorverhitte oond by 190 °C. 

LEMOENTERT

(Lewer 1 standaard-grootte tert)

x
Lemoentert

BESTANDDELE

Tert

  • 3 eiers
  • 1 koppie suiker
  • 1½ koppies koekmeel’
  • n Knippie sout
  • 1½ teelepels bakpoeier
  • ¾ koppie melk3 eetlepels botterStroop1 koppie kookwater2 koppies suiker1 koppie vars lemoensap1 eetlepel lemoenskil, gerasper2 eetlepels botter

METODE

Tert:

Klits die eiers goed en voeg die suiker geleidelik by.

Sif die droë bestanddele eenkant en voeg dit by die eier-en-suikermengsel. Meng goed.

Verhit die melk en botter saam en roer by die deegmengsel.

Skep die beslag in ’n gesmeerde tertbord en bak vir 25 – 30 minute in ’n voorverhitte oond by 180 °C. 

Stroop:

Meng al die bestanddele vir die stroop in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Kook vir vyf minute.

Prik die tert met ’n vurk sodra dit uit die oond kom en giet die kokende stroop oor.

WENK: 

Bedien die tert met tuisgemaakte vla of gegeurde room as jy dit as poeding wil voorsit. Andersins kan jy dit netso warm of koud bedien.

TAMATIE-EN-BASILIEKRUIDTERT

(Genoeg vir 4 − 6)

x
Tamatie-en-Basiliekruidtert

BESTANDDELE

  • 1 x 400 g-rol bevrore skilferdeeg (puff pastry) ontdooi
  • 40 kersietamaties
  • 2 eetlepels olie
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 eetlepel strooisuiker (castor sugar)
  • ’n Handvol broodkrummels
  • 1 eier, liggies geklits
  • ’n Handvol vars basiliekruid-blare, gesnipper
  • 2 eetlepels olyfolie (opsioneel)

METODE

Gebruik ’n pan van ongeveer 20 cm in deursnee (met ’n handvatsel wat oondbestand is).

Plaas die tamaties in ’n enkellaag saam met die olie in die pan, sprinkel sout en peper en strooisuiker oor en braai oor matige hitte om effens te karamelliseer.

Sprinkel die krummels bo-oor. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak.

Plaas die deeg versigtig oor die tamaties en druk die rande effens in.

Verf die bokant van die deeg met die geklitste eier en bak vir ongeveer 20 minute in ’n voorverhitte oond by 200 °C.

Laat staan om effens af te koel. Giet die oortollige vloeistof af en plaas ’n bord bo-op die pan.

Keer die pan met ’n vinnige draaibeweging om sodat die tert met die kors na onder op die bord is en die tamaties bo-op.

As ’n paar tamaties rondskuif, is dit nie die einde van die wêreld nie.

Druk hulle netjies terug in plek. Sprinkel die gesnipperde basiliekruidblare en olyfolie oor die tert.

Geur met nog sout en peper na smaak. 

GEROOSTERDE UIETERT

(Lewer 1 groot tert van ongeveer 25 cm)

x
Geroosterde Uietert

BESTANDDELE

Kors:

  • 1½ koppies koekmeel
  • ’n Knippie sout
  • 6 eetlepels botter
  • Yswater

Vulsel:

  • 7 groot uie
  • 90 ml olie
  • 1¼ eetlepels balsemiek-asyn
  • 1 eetlepel strooisuiker (castor sugar)
  • 2 eiers
  • 1 eiergeel
  • 225 ml room
  • 225 ml melk
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 Koppie parmesaankaas, fyngerasper1 eetlepel tiemieblaartjies’n Paar tiemietakkies vir garnering

METODE

Kors:

Sif die koekmeel en sout saam.

Vryf die botter met jou vingerpunte in totdat dit soos growwe mieliemeel lyk.

Giet die yswater bietjie vir bietjie by en meng dit totdat jy ’n sagte, hanteerbare deeg het.

Bedek die deeg met kleefplastiek en laat dit vir 30 minute in die yskas rus. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en voer ’n 25 cm-losboom-quichepan daarmee uit.

Bedek dit met bakpapier en giet keramiekbone of gewone droë bone bo-op.

Bak dit in ’n voorverhitte oond van 200 °C vir ongeveer 13 minute. Verwyder die bone en bakpapier en bak vir nog sewe minute só onbedek.

Haal die kors uit die oond en hou dit eenkant om af te koel. 

Vulsel:

Skil die uie, maar hou die wortelkant heel.

Sny elke ui in agt wiggies en pak dit versigtig in ’n enkellaag op ’n bakplaat met ’n effense randjie.

Bedruip die uie met die olie en asyn en sprinkel die suiker liggies oor.

Plaas op die middelste oondrak onder die oondrooster wat op maksimum hitte is.

Rooster die uie vir ongeveer 20 – 35 minute of tot goud en sag.

Draai die uie versigtig tydens die roostertyd om.

Klits die eiers en eiergeel in ’n mengbak.

Klits die room en die melk by en geur met sout en peper na smaak.

Sprinkel die parmesaan oor die bodem van die voorbereide kors en rangskik die uie bo-op.

Giet die eiermengsel bo-oor en sprinkel die tiemieblaartjies oor die tert.

Bak vir ongeveer 35 – 40 minute in ’n voorverhitte oond van 180 °C.

Garneer met die tiemietakkies en bedien. 

HOENDERTERTJIES

(Lewer ongeveer 24 tertjies)

x
Hoendertertjies

BESTANDDELE

Kors:

  • 1½ koppies koekmeel
  • ’n Knippie sout
  • 6 eetlepels botter
  • Yswater

Vulsel:

  • 1¼ koppies cheddarkaas fyngerasper
  • 1¼ koppies gaar hoendervleis
  • fyngekap 1 kleinerige (of die helfte van ’n grote) rooi soetrissie
  • wit gedeeltes en pitjies verwyder en fyngekap1 kleinerige ui
  • fyngekap 2 eetlepels mayonnaiseSout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Kors:

Sif die koekmeel en sout saam en vryf die botter met jou vingerpunte in totdat dit soos growwe mieliemeel lyk.

Giet die yswater bietjie vir bietjie by en meng totdat jy ’n sagte hanteerbare deeg het.

Bedek met kleefplastiek en laat vir 30 minute in die yskas rus.

Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en gebruik ’n ronde koekiedrukker wat effens groter is as die holtes van die pan.

Voer die holtes van twee 12-gat-patty pan-panne met ’n deegsirkel en prik die bodems met ’n vurk.

Vulsel:

Meng al die bestanddele vir die vulsel saam en skep ’n eetlepel daarvan op elke deegsirkel.

Bak vir 30 minute in ’n voorverhitte oond by 190 °C.

Bedien warm of koud.

SOUTTERT 

(Genoeg vir 6)

x
Souttrert

BESTANDDELE

  • 4 snye witbrood, in blokkies gesny
  • 2 koppies melk
  • 2 koppies cheddarkaas, gerasper
  • 1½ koppies ham, in klein blokkies of repies gesny (sien wenk)
  • 2 eetlepels botter
  • 1 pakkie swoerdlose strepiespek, in stukkies gesny
  • 1 ui, gerasper
  • 4 eiers, geklits
  • 1 teelepel mosterd
  • 1 eetlepel vars pietersielie, gekap
  • 1 teelepel mosterdpoeier
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Plaas die broodblokkies en melk saam in ’n kastrol en verhit oor lae hitte.

Laat staan om af te koel en roer al die ander bestanddele by.

Giet die mengsel in ’n gesmeerde oondbak of tertbord en bak vir 35 – 40 minute in ’n voorverhitte oond by 180 °C. 

WENK:

Gaan na jou supermark se deli-toonbank en vra vir die hamsnippers wat oorbly wanneer hulle skywe sny. Baie van die supermarkte maak daardie snippers in pakkies op en verkoop dit só. Dis net so lekker en ’n kwart van die prys.

Jy kan ook Weense worsies of soutvleis in die plek van die ham gebruik. Hierdie tert is ewe lekker warm of koud. Jy kan dit ook as ligte middagete saam met ’n lekker slaai voorsit of in kleiner blokkies sny en as southappies by ’n teepartytjie bedien.

KOFFIE-SJOKTERT

(Lewer 1 standaardgrootte tert)

x
Koffie-Sjoktert

BESTANDDELE

Tert:

  • 6 eetlepels botter
  • 5 eetlepels bruinsuiker
  • 2 eiers
  • 1 koppie bruismeel (self-raising flour)
  • 4 eetlepels kakao

Stroop:

  • 1 eetlepel kakao
  • 2 eetlepels kitskoffiekorrels
  • 6 eetlepels strooisuiker (castor sugar)

1¼ koppie water

Versiering:

  • Versiersuiker (icing sugar)
  • Geroosterde neute (opsioneel), gekap

METODE

Tert:

Klits die botter en suiker saam tot romerig en voeg die eiers een vir een by.

Klits goed na elke byvoeging.

Voeg die bruismeel en kakao by en meng goed.

Giet die beslag in ’n gesmeerde tertbak. 

Stroop:

Meng al die bestanddele vir die stroop en giet dit oor die beslag.

Bak vir 50 – 60 minute in ’n voorverhitte oond by 160 °C.

Laat die stroop effens afkoel. Versiering: Sprinkel die neute en versiersuiker bo-oor.

WENK: 

Dié tert is heerlik op sy eie, maar as jy regtig dekadent wil wees, kan jy dit saam met styfgeklitste room of selfs roomys bedien.

APPELKOOSROOMKAASTERT

(Lewer 1 standaardgrootte tert)

x
Appelkoosroomkaastert

BESTANDDELE

Kors:

  • 1½ koppies koekmeel
  • ’n Knippie sout
  • 6 eetlepels botter

Yswater

Vulsel:

  • 1 blik kondensmelk
  • 1/3 koppie suurlemoensap
  • 2 eiers, geskei
  • ½ koppie roomkaas
  • 1 x 400 g-blik ingelegde appelkose, goed gedreineer en verpulp
  • 2 eetlepels suiker

METODE

Kors:

Sif die koekmeel en sout saam en vryf die botter met jou vingerpunte in totdat dit soos growwe mieliemeel lyk.

Giet die yswater bietjie vir bietjie by en meng totdat jy ’n sagte hanteerbare deeg het.

Bedek met kleefplastiek en laat vir 30 minute in die yskas rus. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak.

Voer ’n tertbord of losboom-quichepan daarmee uit.

Bedek met bakpapier en giet keramiekbone of gewone droë bone bo-op.

Bak in ’n voorverhitte oond by 200 °C vir ongeveer 13 minute.

Verwyder die bone en bakpapier en bak vir nog sewe minute só onbedek.

Haal uit die oond en hou eenkant om af te koel.

Vulsel:

Meng die kondens-melk en suurlemoensap en klits liggies tot dik.

Klits die eiergele. Voeg die eiergele, roomkaas en appelkoospulp by die kondensmelk-en-suurlemoensapmengsel.

Skep in die tertdop. Klits die eierwitte styf en voeg die suiker by terwyl jy dit heeltyd klits.

Skep die eierwitte bo-op die vulsel en versprei eweredig.

Bak vir ongeveer 10 – 15 minute in ’n voorverhitte oond van 180°C.  

Meer oor:  Kuier  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.