Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Nare eks
11 Julie 2018

Vigs-skok

Antie, ek het vir vyf jaar met ’n man uitgegaan en ons het ’n paar maande terug opgebreek. Nou het ek uitgevind ek is HIV positive. Ek het nooit met ander mans geslaap nie, so my eks het dit seker vir my gegee. Ek is so kwaad vir hom. Ek voel ek kan hom doodmaak as ek hom sien. Ek weet nie wat ek moet doen nie. woedend

Beste woedend

Ek is baie hartseer oor jou kwessie, maar ook woedend vir die vent wat met jou lewe gedobbel het. Indien hyself nie bewus was dat hy MIV-positief is nie, was dit uit pure onkunde. Jy sal hom moet vertel en hy sal vir toetse moet gaan. Indien hy bewus was en jou opsetlik aangesteek het, is hy ’n selfsugtige, gewetenlose monster. As jy bewyse het dat hy geweet het en nog altyd met jou geslaap het, kan jy hom hof toe sleep.

Praat kalm met hom en vra iemand om jou by te staan, want jy wil nie iets doen wat teen die wet is nie. Julle sal kliniek toe moet gaan vir berading. Daar ís anti-retrovirale middels beskikbaar wat die MI-virus intoom hou. Die diagnose is ook nie die einde van die wêreld nie, daar is mense wat al meer as tien jaar daarmee lewe. Sterkte!

Om die bos gelei

Antie, ek het verlede jaar met ’n man gechat. Hy het gesê hy is geskei en sy drie kinders bly by sy vrou. Toe ons uiteindelik ontmoet, het ons lekker gekliek en mekaar sommer warm gevry. Toe hoor ek hy is nog nie geskei nie en sy vrou en kinders bly nog by hom in die huis. Hy sê hulle is separated en hy wil met my ’n toekoms bou. Hoe kan ek hom vertrou nadat hy vir my so in my gesig gelieg het sonder om ’n oog te knip? verward

Beste verward

Ai, jou situasie is niks nuuts nie. Dis die ou storie van ons Evasgeslag wat so gou met ’n slap riem gevang word. Hoeveel keer lees ons nie in die koerant of hoor oor die nuus van die kuberliefde wat glad nie eindig in ’n happily ever after soos baie dit wil laat lyk nie?

Die feit is, jy ken nie die man nie, want met social media kan jy nie alles glo wat vir jou gevoer word nie! Hy is seker baie goed met die heuningkwas, want hy het ook agtergekom dat jy sy soetkoek gulsig opeet. Soos dit vir mý lyk, wil hy sy brood alkant gebotter hê tot voordeel van homself. Hy het jou soeke na liefde misbruik en dit moet stop.

Maak oop jou oë en skrik wakker. Jy weet nie wat tussen hom en sy vrou agter hul toe deure aangaan nie. As hy wou geskei gewees het, sou hy lankal ’n plan gemaak het. Laat die man uit jou lewe padgee en as hy ernstig is oor jou, sal hy terugkom met die bewyse van sy egskeiding. Maar moenie dat hy jou aan ’n lyntjie hou nie. Jy verdien baie beter as ’n man wat nie eerlik is met jou nie.

Lus vir baas

Antie, my baas is baie sexy en elke dag as ek hom sien, raak my bene lam. Hy is getroud, maar hy het al met ander vroue gejol. Hy flirt altyd met my en het eendag vir my gesê hy wens hy kan my net een aand vasdruk. Ek is so lus vir hom, maar ek wil nie my werk verloor nie. Wat dink Antie? vuurwarm

Beste vuurwarm

Luister nou mooi vir my – kry maar daai gedagtes uit jou kop! Die ding kan nie goed eindig nie en jy sal sonder werk sit terwyl hy met sy lewe aangaan. Boonop is hy ’n getroude man. Indien hy met ander vroue jol, moenie laat hy jou ook nog op sy lys aftik nie. Wat jy nou vir hom voel, is fisiese wellus wat nie verruil kan word vir integriteit, trots en selfrespek nie.

Hy gaan juis aanhou om jou eintlik seksueel te treiter, maar wees sterk sodat jy ten alle tye met trots verby hom kan stap en niemand iets slegs van jou kan versprei nie. As hy aanhou met sy streke, hou boek van alles en kry bewyse. Dan kan jy hom gaan aankla van sexual harass­ment. Geniet jou werk, maar hou jou baas op ’n afstand.

Meer oor:  Antie Val  |  Kuier  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.