Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Nooit te laat: Vrou trou vir die eerste keer op 67
5 Februarie 2020
Mary en Gareth Daniels van Port Elizabeth is dolgelukkig getroud.

Baie mense vier op die ouderdom van 77 dalk al hul 50ste huweliksherdenking, maar nie Mary en Gareth Daniels van Port Elizabeth nie.

Dié twee duifies het in Desember hul 10de huweliksherdenking gevier en sê hulle is nog netso verlief as die eerste dag wat hulle mekaar ontmoet het.

Soos die bekende teksvers uit 1 Korintiërs, hoofstuk 13 lui: “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles . . .”

Dit is presies hoe Mary Daniels (77), oftewel antie Poppie van Port Elizabeth, oor die liefde voel en om dié rede het sy ’n volle 67 jaar gewag voor sy uiteindelik voor die kansel gaan staan het. Tien jaar later is die bruid steeds stralend en glad nie spyt dat sy eers haar eggenoot in dié laat stadium van haar lewe ontmoet het nie.

“Ons liefde is anders as jong liefde, dit is ’n liefde wat die wel en weë van die lewe ken, een wat omgee en die welstand van mekaar in ag neem. ’n Soort liefde wat saam tee en beskuit geniet en ook saam pille drink!” En soos die gesegde lui “opposites attract” is dit presies dieselfde met hulle – antie Mary is skaam en beskeie en uncle Gareth is glad nie skaam nie en baie uitgesproke.

Mary, wat op Uniondale gebore is, was nog nooit voorheen getroud nie en het op die ouderdom van 67 vir die eerste keer in die huwelik getree. Sy lag skaam voor sy sê haar ouers was baie streng. “My ouers was baie streng en Christelik, so daar was nie tyd vir kêrels en sulke goed nie. Al was hulle streng, moet ek tog sê dat my kinderjare op Uniondale van die lekkerste was – ons het sommer nog tot op ’n baie laat ouderdom gespeel. Daai tyd was kindwees nog kindwees, niks grootmenshoudings en -dinge was geduld nie. En toe ek boonop in my twintigjare my lewe aan Here gee toe wy ek myself en my lewe aan Sy werk toe.”

Vind haar liefde

Het sy ooit beplan om te trou? “Nee,” antwoord sy eerlik. “Ek sal nie sê ek het nie iemand gesoek nie, maar dit was nooit vir my belangrik nie. ’n Mens moet maar die versoeking van die duiwel weerstaan.” Oor die aand wat sy die uncle ontmoet het, kan die stil antie nie uitgepraat raak nie. Sy lag voor sy sê sy sou nooit kon raai sy gaan daai spesifieke aand haar ridder op sy wit perd ontmoet nie (of eintlik haar ridder met die grys kop!).

“Ons as familie het besluit om vir my skoonsuster ’n verjaardagpartytjie te hou, ’n surprise party. En toe nooi ons die apostel van ons kerk en hy het vir Gareth saamgebring.” Die partytjie was in Heathfield in Kaapstad. Gareth was toevallig ook ten tyde van die partytjie in Kaapstad waar hy by familie gekuier het. Mary lag skaam wanneer sy praat oor die ontmoeting.

“Sy vrou is al toe meer as ’n jaar oorlede. Ek en hy het aan die gesels geraak en toe gesels ons sommer ’n hond uit ’n bos uit. Dit was liefde met die eerste oogopslag. Daar was die gevoel in my maag wat ek nie kon pluis nie en ek het eers later besef dit is waarvan jong mense praat wanneer hulle sê verliefdheid laat die gevoel van skoenlappers in jou maag!”

Ons is baie lief vir mekaar en dit is nie ’n liefde wat ek vir enigiets sal verruil nie. Net die dood sal ons tweetjies skei.

Dis Gareth (79) wat Mary stilmaak en laggend sê: “Nee Mary, vertel die volle storie!” Hy begin volstoom te vertel van die aand wat gelei het tot hul sprokiesverhaal. “Soos sy mos nou vertel het, was ek ook by haar skoonsuster se partytjie. En ek gaan sommer uit die staanspoor sê dat ek daai aand vir my ’n vroutjie gesoek het. Toe ek die lekker kos proe, wou ek weet wie die kos gemaak het. Hulle vertel toe vir my dis Mary. Net daar het ek geweet dat Mary my toekomstige vrou is. Hulle sê mos die pad na ’n man se hart loop deur sy maag!” Gareth kraai van die lag oor sy stuitige grappie.

Volgens hom het hy en Mary toe afgespreek om in die sitkamer te ontmoet om te gesels. “Ek het nie nog doekies omgedraai nie. Die partytjie was die Sondagaand en ek moes die Woensdag weer terug uit die Kaap na Port Elizabeth. Toe val ek sommer met die deur in die huis en sê vir haar ‘Ho’rie, Mary, ek is opsoek na ’n vrou en ek wil hê jy moet my vrou wees. Ek gaan my nommer los en jy kan vir my oor ’n maand bel om te sê wat jou antwoord is.” En die res was soos die spreekwoordelike frase lui “geskiedenis”.

’n Maand later het hy die oproep gekry dat hy die jawoord gekry het. Gareth is steeds so opgewonde soos die eerste dag toe hy die nuus gekry het. “Ek kon dit nie glo nie en het gespring van opgewondenheid. Ek het onmiddellik plan gemaak om na Kaapstad te vertrek sodat ek met my vroutjie kon trou en haar terug kon bring na ons huisie hier in die Baai. En nou lewe ons salig en lekker!”

Gareth het drie kinders en Mary een dogter en hulle kom almal goed oor die weg. Hoewel Mary nooit gesoek het na ’n man nie, erken dié antie tog dat sy nogal by tye eensaam was, maar dit was nooit vir haar ’n probleem nie.\

Foto: verskaf

“Dit is mos maar menslik om alleen te voel – daar is tog nie ’n mens op die aarde wat vir my kan sê dat hulle nie al op een of ander stadium alleen gevoel het nie. Dit is vir my nou baie lekker om my dae en stories te deel met iemand. Dit was aanvanklik vreemd en dit het ’n tydjie gevat om aan iemand anders in my spasie gewoond te raak, maar nou is dit heel lekker. Ons doen alles saam.”

Dié twee staan elke oggend voor vyf op en dan eet hulle ontbyt. “Ons doen baie vrywillige werk saam en wanneer ek ry, dan is sy links voor! Ons is baie lief vir mekaar en dit is nie ’n liefde wat ek vir enigiets sal verruil nie. Net die dood sal ons tweetjies skei. As jy jou dae met iemand deel, is dit net soveel meer betekenisvol veral as jy weet dat die persoon net die beste vir jou wil hê.” Antie Mary beaam haar man se stelling liefdevol: “Ja, tot die dood ons eendag skei, sal ons mekaar liefhê . . .” Dié twee se storie is ’n bewys dat dit nooit te laat is om die liefde van jou lewe te vind nie!

Meer oor:  Inspirasie  |  Verhouding  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.