Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuier se nuushoogtepunte: Als wat uitstaan van 2019
11 Desember 2019
Nuushoogtepunte


Vanjaar was propvol gebeure wat almal  aan die gons gehad het. Hier is van die hoogtepunte. 

'n Hele tien jaar

Op 28 September 2019 word Kuier se tiende verjaardag luisterryk gevier met ’n spesiale konsert in die Artscape-teater. Almal wat iemand is, kom wens dié geliefde vriendin sterkte toe vir die volgende dekade.

Politiek in SA

SA stem op 30 Mei 2019. Die ANC wen 57,5% van die stemme (4,65% minder as in 2014); die DA kry 20,77% (1,36% minder stemme); en die EFF wen 10,79% van die stemme (4,44% meer stemme). Ná die verkiesing word Cyril Ramaphosa verkies tot president en kondig ’n nuwe kabinet aan, van wie meer as die helfte vroue is.

• Die DA wen die verkiesing in die Wes-Kaap, waarna Helen Zille uittree as premier. In Oktober bedank Mmusi Maimane as DA-leier en Zille keer terug as voorsitter van die federale raad.

Sport

Pieter-Steph du Toit word aangewys as Wêreldrugby se Speler van die Jaar, Rassie Erasmus as die Afrigter van die Jaar en die Springbokke as die Span van die Jaar. Faf de Klerk se Springbroekie steel ook die kollig ná die eindstryd.

• Die Protea-netbalspan eindig in Junie vierde by die Netbal-wêreldbekertoernooi in Engeland en die verdediger Karla Pretorius is die Speler van die Toernooi. In Oktober wen die Proteas die Afrikabeker.

• Die Protea-krieketspan beleef ’n teleurstellende wêreldbekertoernooi. Hulle wen drie van hul nege wedstryde en eindig sewende. Ná ’n gelykop-uitslag in die eindstryd word Engeland aangewys as die wenner omdat hulle die meeste grenshoue in die eindstryd geslaan het.

Banyana Banyana, Suid-Afrika se vroue-sokkerspan, neem in 2019 die eerste keer deel aan die wêreldbekertoernooi, maar wen nie een wedstryd nie. Die VSA word wêreldbekerkampioene met ’n oorwinning van 2 – 0 oor Frankryk.

Tennis: Jeff Coetzee (42) van Suid-Afrika is die afrigter van Juan Sebastián Cabal en Robert Farah (Colombië), wat die 2019 Wimbledon-mansdubbelspeltitel wen.

Motorsport: Die renjaer Lewis Hamilton (Engeland) wen sy sesde Formule 1-wêreldtitel.

Die Springbokke word op 2 November die derde keer, dié keer onder leiding van kaptein Siya Kolisi, die trotse eienaars van die Webb Ellis-trofee. Suid-Afrika word die enigste span wat nog nooit in ’n wêreldbeker-eindstryd geklop is nie.

Vaarwel

• In 2019 neem ons afskeid van ’n paar groot name in die vermaaklikheidswêreld. Johnny Clegg word te ruste gelê en mense oor die hele wêreld treur oor die Wit Zoeloe se heengaan.

Paul Eilers, die veteraan-akteur en -regisseur, wat onder meer bekend is vir sy rol in Vyfster, sterf in Junie. Ons groet ook vir Danny Keogh, nog ’n veteraan van die rolprent- en TV-wêreld.

• Oud-Springbokke Chester Williams en James Small, die vleuels in 1995 se wêreldbeker-wenspan, sterf binne ’n paar maande van mekaar.

Weer

* Groot dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Noordwes en die Oos-Kaap ly al jare lank onder ’n vernietigende droogte. KwaZulu-Natal word in April én November getref deur reusevloede en tornado’s wat groot verwoesting en lewensverlies veroorsaak.

• In Afrika saai die sikloon Idai groot verwoesting in Malawi, Mosambiek en Zimbabwe, en later veroorsaak die sikloon Kenneth ook groot skade in Mosambiek.

• ’n Reusebrand in die Amasone woed só buite beheer dat die hulp van Brasilië se weermag ingeroep word.

• Tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi trek die tifoon Hagibis deur Japan en veroorsaak die ontruiming van miljoene mense en die dood van tientalle.


Vermaak

• Die Ndlovu-jeugkoor onder leiding van Ralf Schmitt neem deel aan America’s got Talent en haal die eindronde, waar hulle Whitney Houston se “Higher Love” sing.

• Die beste nuus vir Brittanje is die geboorte van Prins Harry en Meghan se eersteling, Archie. Toe dié drie Suid-Afrika in Oktober besoek, wen hulle harte oral waar hulle gaan – en almal oe! en aa! oor dié oulike prinsie.

• Emo Adams, die nuwe aanbieder van die speletjiesprogram Noot vir Noot, neem oor by Johan Stemmet, wat 43 seisoene lank die aanbieder was. Emo bied ook Maak my Famous aan.


In Augustus word Zozibini Tunzi (25) van Sidwadweni in die Oos-Kaap gekroon as Mej. SA en verteenwoordig SA by die Mej. Heelal-kompetisie. Sasha-Lee Olivier, wat tweede kom, is SA se deelnemer aan die Mej. Wêreld-kompetisie.

Top dog

Busby Adam, ’n boerboel van Mitchells Plain buite Kaapstad, is amptelik die top dog in die wêreld! Elke jaar word die beste boerboele in die wêreld gekies om teen mekaar mee te ding by die jaarlikse Internasionale Boerboel Show en Expo.

Busby Adam (90 kg)het toe 333 plaaslike en internasionale honde vir die titel uitgestof. Lloyd de Villiers (38) wat al langer as agt jaar met honde teel, sê dit is vir hulle ’n groot eer, maar dit is harde werk wat beloon is. Lloyd is die eerste bruin hondeteler wat met hierdie gesogte titel wegstap. “Om ’n tophond te hê, moet jy alles dophou. Adam mag nie meer as ’n 100 kg weeg nie, so ons kan nie enige kos vir hom gee nie. Ons gym ook twee keer ’n week,” sê Lloyd.

Snaakse nuus

Hugo, bel die polisie! Dié video wat in Pretoria-Noord geneem was, het twee families gewys wat in ’n straatgeveg betrokke geraak het. Vuiste het geklap, hare is getrek en ’n man met ’n kunsbeen het uit die huis gehardloop om ’n motor agterna te sit. Dit was egter die kommentaar van die buurvrou wat die video gemaak het wat skreeu, “Hugo, bel die polisie!” en “Julle is huurders hier, Maandag is julle uitgesit!” wat die koek gevat het. Skreeusnaakse memes en liedjies met dié woorde het gevolg.

Die “opstanding” In Februarie het ’n video die rondtes gedoen waarin pastoor Alph Lukau van die Alleluia Ministries International Church ’n man, Elliot Moyo, “opwek” uit die dood tydens ’n kerkdiens. Nadat dit as ’n scam ontbloot is, het Lukau dit ontken en vertel die familie het die kis kerk toe gebring en Moyo het geleef. Hy het toe glo net vir Moyo gebid en hy het self “opgestaan”. Twee vroue is later in hegtenis geneem vir hul aandeel in die “opstanding”.

Marelize Nóg ’n video wat soos ’n veldbrand versprei het, was dié van ene Marelize wat met haar fiets in rugbypale vasry. Dié keer was dit die kommentaar van haar teleurgestelde ma: “My f*k, Marelize”, wat mense laat skater het en sosiale media het gegons. Snaakse memes en selfs klere met dié woorde het gou die lig gesien.

Meer oor:  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.